Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Depressie en antidepressante
12 November 202


Soos die jaar einde se kant toe staan, begin al hoe meer Suid-Afrikaners besef hierdie jaar was nou nie juis “20 plenty” soos ’n mens gehoop het nie. Inteendeel, dit was een van die rofste en onbeskofste jare wat die meeste mense nog ooit beleef het.

’n Nasionale steekproef wat deur ’n bekende farmaseutiese maatskappy gedoen is, het bewys wat almal reeds weet – dat daar ’n noemenswaardige toename in sielkundige en emosionele spanning onder Suid-Afrikaners was as gevolg van die Covid-19-pandemie.

Pandemie vererger dit

Abdurahman Kenny, ’n geestesgesondheidportefeuljebestuurder by Pharma Dynamics, vertel baie mense wat voorheen spanning goed hanteer het, sukkel nou vreeslik. “Meer as die helfte (53%) van die mense wat deelgeneem het aan die steekproef, het óf hul werk verloor, óf ’n pay cut gevat, of moes noodgedwonge ’n besigheid toemaak.

Altesaam 56% het erken hulle ervaar baie meer spanning as voor die pandemie.” ’n Skokkende 81% het hulself begin vergryp aan ongesonde kos; 65% erken hulle het hul gesondheid afgeskeep; 49% voel angstig; 44% sukkel om te ontspan; 20% het hulle vergryp aan alkohol; en 22% het begin om antidepressante of anti-angs-medikasie te gebruik.

Abdurahman verduidelik simptome van depressie en angs sluit in moegheid, irritasie, sukkel om te konsentreer, rusteloosheid, ’n gevoel van verlies, eensaamheid en hopeloosheid. “Die feit dat amper die helfte van die mense wou uitreik na ’n terapeut vir hulp, maar nie kon nie as gevolg van ’n tekort aan geld of toegang, wys net weer die dekades van afskeep van gesondheidsorgdienste in ons land. As gevolg van die grootte van die probleem gaan die meeste van hierdie probleme sonder behandeling voort.”

Diegene wat die grootste risiko het, is ouer mense, frontline-werkers, tieners, vroue en dié wat reeds voor die pandemie met depressie geworstel het, voeg hy by. ’n Ander studie deur Ipsos, ’n internasionale marknavorsingsagentskap, het gewys 40% van Suid-Afrikaanse vroue voel angstig (teenoor die 32% mans). Volgens Shanaaz Sukhrai, ’n life coach van Johannesburg, sukkel vroue ook nog met skuldgevoelens.

“Baie vroue sukkel steeds om hul mans te vra vir hulp met huistake en sukkel om ’n balans te vind tussen hul loopbaan, hul huwelik, hul kinders en huiswerk. En daar is ook nou die spanning oor die virus en ekstra finansiële bekommernisse, wat in baie gevalle lei tot angs en depressie.”

Kry nou al hulp

Linda Bouwer, ’n Johannesburgse ma van drie, lag as sy dink hoe sy vir jare gesukkel het. “Weet jy wat, as daar nou een ding is wat ek deesdae oor en oor vir myself sê, is dit: ‘Hoekom het jy so lank gewag? Hoekom het jy so lank in silence ge-suffer?’”

Linda het vroeër hierdie jaar begin besef alles is nie pluis in haar binneste nie en nadat sy so depressief geword het dat sy letterlik nie kon opstaan nie, het sy hulp gesoek en drink tans antidepressante. “Ek weet dis nie ’n magic cure nie en dat ek dit vir altyd sal moet drink, maar die punt is dit wérk. Ek voel soveel ligter, soveel meer in staat, dat ek eintlik nie weet hoe ek ooit vantevore gecope het daarsonder nie. Dit was eintlik so onnodig.”

Prof. Renata Schoeman, ’n psigiater en hoof van die MBA in gesondheidsorgleierskap aan Universiteit Stellenbosch se sakeskool, stem saam dat die pandemie definitief mense se geestesgesondheid aangetas het die afgelope paar maande. “Daar was ’n beduidende toename in angs en gemoedsteurnisse, veral depressie. Dit het te doen met die toenemende spanning waaraan mense blootgestel is, veral bekommernis oor die siekte, om van die huis af te werk, wat ’n baie stresvolle ondervinding kan wees en derdens die finansiële impak van die pandemie.

’n Mens moet by die basics begin. Jy moet gesond en gebalan-seerd eet, genoeg slaap en gereeld oefen.

“Antidepressante is eintlik ’n los term vir die verskeie medikasie wat voorgeskryf word vir byvoorbeeld die verskillende angssteurings en depressiewe gemoedstoestande,” verduidelik sy. Volgens haar is die mees algemene tipes antidepressante “SSRI” of selektiewe serotonien heropname-inhibeerders. Die grootste voordeel van antidepressante, verduidelik Schoeman, is dat dit help met jou gemoedstoestand en met angstigheid. “Nie net die emosionele simptome van angs, depressie en geïrriteerdheid nie, maar dit kan ook jou slaappatroon en eetlus weer herstel en dan ook help met motivering, dryfkrag en al die ander goed wat aangetas word tydens depressie en angs.”

Soos met enige ander medikasie, kan antidepressante newe-effekte hê. “Die SSRI’s (algemeenste), kan aanvanklik naarheid of gastro-intestinale ongemak veroorsaak, maar dit gaan verby. Party mense sweet ’n bietjie meer of droom helderder. Daar is ook dosis-afhanklike newe-effekte, maar dit is genadiglik skaars, soos veranderings in gewig of seksuele behoeftes.”

Wanneer dit kom by die gebruik van antidepressante, kan jy nie sommer net jouself diagnoseer en begin pille sluk nie. “ ’n Mens moet by die basics begin. Jy moet gesond en gebalanseerd eet, genoeg slaap en gereeld oefen – minstens vyf keer per week vir 30 minute lank. Maar ek sou versigtig wees om allerhande ander natuurlike rate te probeer volg. Oorsee word St John’s Wort (’n plantjie met geel blomme) algemeen gebruik vir depressie, maar hulle het baie goeie produkte op die mark, maar daar is nie regtig ander natuurlike rate wat werklik werk nie,” verduidelik Schoeman.

’n Ma en ouma van die Strand buite Kaapstad, Beverly Jones* (45), praat onder ’n skuilnaam, want sy wil nie hê mense moet weet sy is nie die ystervrou wat sy voorgee om te wees nie. “Ek sukkel my hele lewe nog met my gemoed, maar die Here weet, hierdie jaar het amper my gat geskop. Ek is die enigste een wat werk in ons huis, maar ek het bloeddruk en suiker en om elke dag job toe te gaan, is nie maklik nie. Party nagte lê ek wakker en die sweet tap my af terwyl my hart in my keel klop, so worry ek oor môre. Maar wat kan ’n mens doen? Ek het nie geld vir kopdokters nie en behalwe vir dit, wat sal die mense sê?” erken sy. Vir Schoeman is die sogenaamde “stigma” van hulp soek vir jou gemoedstoestand ’n probleem. “Party mense is nie bewus daarvan dat hulle sukkel met angs of depressie nie. Of hulle is bang om te erken hulle sukkel, is ’n teken van swakheid en dat mense teen hulle sal diskrimineer.”

Dis belangrik om van goed soos alkohol weg te bly en terapie by te woon. Abdurahman sê alles is darem nie doom en gloom nie. “Dit is vertroostend om te sien 33% van die respondente (wat aan hul studie deelgeneem het) het by familie en vriende troos gaan soek en oefening ’n daaglikse prioriteit gemaak om negatiewe gedagtes te beveg.

Terwyl 40% tot nou toe by die huis gebly het, begin 26% stadig, maar seker terugkeer na normale aktiwiteite, wat belangrik is,” sê hy. Een ding is seker, dit is baie belangrik dat mense meer openlike gesprekke het oor emosionele probleme, veral angs en depressie omdat dit eintlik so ’n algemene probleem is. Dit is nodig om dié siektetoestand beter te verstaan en só seker te maak dat mense bereid is om die medikasie, wat daar is om te help, gebruik en dit reg te gebruik. *Skuilnaam

KRY HULP

As jy swaar dra aan jou corona blues en nie weet wat om te doen nie, kan jy Pharma Dynamics se opgeleide beraders kontak op hul gratis hulplyn – 0800 205 026 – van agtuur soggens tot agtuur saans.

Vir nog bystand besoek www.letstalkmh.co.za.

Meer oor:  Gesondheid  |  Depressie  |  Kuier  |  Antidepressante  |  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.