Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Pasop en toets vir tuberkulose
15 April 2021


Terwyl die hele wêreld op hol is oor Covid-19, is tuberkulose (TB) steeds stil-stil besig om lewens uit te wis. Tuberkulose is steeds wêreldwyd een van die grootste oorsake van sterftes en na raming gaan dié sterftes met 26% toeneem omdat minder mense op die oomblik weens die pandemie met TB gediagnoseer word.

Luidens ’n verslag deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) in Mei verlede jaar, is sowat 47 500 TB-toetse per week voor lockdown afgehandel, en slegs sowat 24 000 gedurende lockdown. Dit is 48% minder.

Die skrikwekkende ding is, TB laat Covid-19 soos ’n verkoue lyk wanneer dit by sterftes kom. Volgens die Copenhagen Consensus Centre kry ongeveer 450 000 Suid-Afrikaners jaarliks TB, van wie 270 000 ook met MIV lewe.

Om en by 89 000 mense sterf jaarliks as gevolg daarvan – dit is 10 mense elke uur! Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) tel Suid-Afrika ook onder die toptienlande met die grootste TB-las. Mayo Clinic in Amerika beskryf tuberkulose as ’n potensieel aansteeklike siekte wat hoofsaaklik jou longe aantas.

Dit is ’n bakterie wat versprei word deur klein druppeltjies in die lug deur middel van ’n gehoes of ’n genies, spoeg, lag of selfs gesels en sing. Tekens en simptome sluit in ’n hoes wat langer as drie weke duur, koors, chills, onverklaarbare gewigsverlies, moegheid, nagsweet en as jy bloed hoes, borspyn ervaar, sukkel om asem te haal, pyn het as jy hoes en ’n verlies aan eetlus.

Myrna Sachs van Alexander Forbes Health Management Solu- tions, verduidelik TB kan gediagnoseer word deur veltoetse, ’n X-straal of deur ’n monster te neem van die area wat vermoedelik besmet is en dit onder ’n mikroskoop te bestudeer.

“Sommige TB-diagnoses is moeilik om te maak (veral by mense wat MIV-positief is) en kan vereis dat behandeling begin selfs voor die diagnose bevestig is.” Uit gesprekke wat Kuier met kliniekverpleegsters gehad het, blyk dit egter asof die corona-virus TB-pasiënte nóg banger gemaak het en die voortsetting van behandeling ’n probleem is.

Behandeling

Esmerelda Jantjies* (48) is ’n Kaapse klinieksuster wat onder ’n skuilnaam praat omdat sy nie mediese inligting mag deel nie. “Mense kom steeds nie in vir toetse nie, want hulle is te bang hulle kry corona ook terwyl hulle hier is. Die ander ding is, daar is steeds ’n stigma rondom TB – as jy dit het, is jy ‘vuil’. So baiekeer kom pasiënte net in as hulle by die dood se deur draai, en dan is dit ongelukkig in elk geval te laat.”

Valerie Jones (42)*, ’n verpleegster in Johannesburg, voeg by nóg ’n probleem is die behandeling. Sy praat om dieselfde rede as Esmerelda ook onder ’n skuilnaam. “Nou met Covid kom haal die mense nie hul medikasie nie, en dit help natuurlik niks. Maar selfs voor die pandemie was behandeling ’n probleem. Pasiënte kom ’n keer of wat en dan sien jy hulle nie weer nie. Ek verstaan, want dit kos geld en tyd af by die werk om by die kliniek uit te kom, maar jy dobbel met jou lewe met ’n slegte stel kaarte in jou hand.”

Nou met Covid kom haal die mense nie hul medikasie nie, en dit help natuurlik niks. Maar selfs voor die pandemie was behandeling ’n probleem.

Volgens die Copenhagen Consensus speel armoede ’n groot rol. Mense is minder geneig om hulp te soek en behandeling te voltooi en ’n slegte dieet kan ook jou kanse op herstel verminder. Volgens hul verslag kan TB-behandeling in totaal tussen R2 500 en R115 000 kos tot die pasiënt gesond is. En dit sluit nie in as jy nie kan werk nie omdat jy te siek is nie, wat nóg ’n groot las op arm gesinne is.

Die druk op die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel is net so enorm – om TB-sterftes met 90% te verminder, sal Suid-Afrika sowat R5 biljoen per jaar ekstra uit die sak jaag. Myrna verduidelik TB word gesien as ’n voorgeskrewe minimum voordeel (pre- scribed minimum benefit) deur mediese fondse.

“Dit beteken jou mediese fonds moet betaal vir die diagnose, behandeling van die siekte asook die bestuur daarvan. “Hulle kan jou egter na ’n staatsfasiliteit verwys indien hulle toegang tot sekere dienste kan verseker. Jou mediese fonds kan bybetalings vereis as jy na ’n mediese sentrum van jou keuse wil gaan, maar hulle kan nie weier om jou te dek nie.”

Dr. Jo Barnes, ’n epidemioloog by die Universiteit Stellenbosch se departement vir globale gesondheid, verduidelik ’n mens moet versigtig wees wanneer jy mortaliteitdata (sterfte) bekyk. “Die grootste kategorie van alle sterftes in Suid-Afrika, by verre, is eintlik ’n inskrywing genaamd ‘ill-defined causes of death’. Die tweede grootste is ‘nie-natuurlike oorsake’ wat goed insluit soos aanranding, motorongelukke en ander ongelukke.”

Sterftes

Volgens haar is tuberkulose egter die grootste natuurlike oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, volgens die mees onlangse amptelike statistieke. “Dit is egter gebaseer op 2016-data. Maar, die TB -data is kommerwekkend omdat die gevalle nie altyd aangeteken is nie. Ongelukkig is dit ook die geval met sterftes as gevolg van Covid-19, so daar is baie meer waarvan ’n mens nie weet nie.

Die Mediese Navorsingsraad beraam daar is tussen 3 Mei 2020 en 28 Januarie 2021 meer as 125 000 mense dood aan Covid-19 (teen druktyd was die amptelike sterftesyfer net so oor die 50 000). Dit is dus baie moeilik om enige gevolgtrekking te bereik op die oomblik, gegewe die tekort aan bevestigde en akkurate inligting.”

Eintlik is tuberkulose ’n behandelbare siektetoestand, mits dit vroegtydig gediagnoseer word. “As ’n mens so daarna kyk, is TB-sterftes hoofsaaklik ‘onnodig’, ” meen dr. Barnes. Die probleem is egter dat MIV/Vigs diagnose en behandeling bemoeilik. Verder hang vroeë diagnose af van toeganklike en bekwame gesondheidsdienste en in Suid-Afrika is die druk van die Covid-19-pandemie tans swaar op mediese instansies.

Covid-19 het sover ’n verwoestende impak gehad op die hoeveelheid mense wat getoets word vir TB en behandeling kry. Selfs in die lig van die pandemie en die omvattende uitdagings wat dit veroorsaak, is dit kardinaal vir jou en jou mense om uit te kyk vir die simptome, hulp te soek en behandeling te voltooi. Amper alle TB-sterftes is onnodig en kan vermy word deur vroeë diagnose en konsekwente behandeling. Moenie toelaat dat hierdie onnodige silent killer amok in jou lewe veroorsaak nie.

* Skuilnaam

10 Feite oor tuberkulose

• Ongeveer 10 miljoen mense wêreldwyd is in 2019 besmet met TB, maar slegs 5% tot 15% het siek geword.

• TB is ’n aanmeldbare siekte. Dit beteken elke diagnose word geregistreer om akkurate statistieke te handhaaf.

• Die meeste mense wat met TB besmet word, word nie siek nie. Dit kan vir jare in jou liggaam wees sonder dat jy siek word.

• Enigiemand kan TB kry, maak nie saak hoe oud of jonk, watter geslag of ras jy is nie.

• TB kan ’n infeksie enige plek van jou liggaam veroorsaak (soos jou brein, maag en bene) en nie net jou longe nie.

• ’n Mens het ’n hoër risiko om siek te word van TB as dit onbehandeld bly, jy jonger as vyf jaar oud is en jy verminderde immuniteit het as gevolg van byvoorbeeld MIV of dwelmverslawing.

• TB vereis konsekwente behandeling van minstens ses maande om genees te word.

• Inkonsekwente behandeling kan lei tot TB-bakterie wat weerstandig is teen behandeling. Dit is hoekom dit so belangrik is om jou behandeling te voltooi.

• Weerstandige TB is baie moeilik om te behandel en lei ongelukkig tot baie sterftes.

• Suid-Afrikaners ontvang sedert 1973 TB-inentings by geboorte.

* Foto: Gallo Images/Getty Images

* Bykomende bronne: https://bit.ly/3lT5jRg; https://mayocl.in/39dRyYo; https://bit.ly/3tVMsb5; https://bit.ly/3vVRmXD

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Tuberkulose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.