Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gesondheid: Spreek verslawing nóú aan
1 April 2021


Denise Arendse* (54) van Boston, Bellville in die Kaap, werk al jare van die huis af en is op die oog af ’n gebalanseerde, gelukkige mens. Sy loop egter met ’n donker geheim rond.

Haar drankprobleem is besig om in so ’n mate handuit te ruk dat sy nie weet hoe sy dit veel langer kan wegsteek nie. Vir jare kon sy daarmee wegkom om saans een of twee drankies te drink. Maar deesdae stop sy selde by vyf of ses – iets waarmee sy kan wegkom, omdat haar man ná ’n harde dag se werk vroeg gaan slaap. Daarmee saam het sy skielik ná jare ook weer die drang ontwikkel om te dobbel.

Haar man is salig onbewus daarvan dat sy gereeld by GrandWest ’n draai gaan maak. Nou vreet haar gewete haar nie net op oor sy nie meer haar dranklus kan beheer nie, maar ook omdat sy in net twee weke ’n maand se swaar verdiende inkomste op ’n dobbelmasjien gemors het. En haar groot vrees is dat sy “uitgevang” gaan word.

Daarom dat sy net op voorwaarde van anonimiteit haar verhaal vertel het – hoewel sy in haar agterkop weet net ’n rehab gaan haar uiteindelik red. Verslawing kan baie vorme aanneem – drank, dwelms, kos, dobbel, seks, selfs shopping en rekenaarspeletjies, sê Adrie Vermeulen, nasionale koördineerder van die Suid-Afrikaanse nasionale raad vir alkoholisme en afhanklikheid van verdowingsmiddels (Sanca).

En baiekeer is daar – soos met Denise – ook ’n kruisafhanklikheid, wat beteken dat iemand ’n chemiese afhanklikheid soos alkoholisme sowel as ’n gedragsafhanklikheid soos dobbelary kan hê. In so ’n geval moet albei aangespreek word omdat die een die ander een voed. Feit is: Verslawing begin as ’n keuse, maar hierdie keuse word jou geleidelik ontneem hoe langer jy daarmee aangaan.

En juis omdat verslawing nie deur blote wilskrag beëindig kan word nie, sal sondebelasting – wat die minister van finansies onlangs aangekondig het met gemiddeld 8% vir drank en sigarette sal verhoog – nie werklik ’n impak hê op mense wat aan substansgebruik-versteurings ly nie, sê Sanca.

Uitwerking op vroue

Interessant genoeg, is vroue dikwels moeiliker behandelbaar as mans omdat hulle met soveel bagasie by rehabs aankom, sê Adrie. Weens kindertrauma is hulle meer kwesbaar as mans vir afhanklikheid.

Trouens, ’n skokkende 80% van alle vroue wat by Sanca om hulp aanklop, was volgens haar die slagoffer van seksuele mishan-deling. Vroue moet dit ook ter harte neem dat daar definitiewe stadiums is wanneer hulle weens hul hormone kwesbaar is vir middelmisbruik.

Tieners: Meisies van hierdie ouderdom is baie bewus van hul liggame en sal verslankingsmiddels begin gebruik of selfs ’n dwelm soos tik as hulle hoor dat dit hulle gewig kan laat verloor.

Vroue wat pas geboorte geskenk het: Hulle self-medicate baiekeer vir onbehandelde nageboortelike depressie, dikwels met iets wat aanvaarbaar is in die samelewing soos drank, oor-die-toonbank- of voorskrifmedikasie. Pynpille met ’n kodeïen-basis of sinusmedikasie is baie gewild, terwyl verslawing aan ’n gewilde hoofpynpoeier ook dikwels voorkom, sê Adrie. “Ons dink dit het te doen met die hoër vlakke van kafeïen en parasetamol wat ’n effek gee wanneer dit saam met iets soos Coke ingeneem word.”

Menopouse: Dis belangrik om te ont-hou vroue is anders aanmekaargesit as mans en dat hul metabolisme anders werk as dié van ’n man. “Ons kan fisies vinniger verslaaf raak as ’n man aan dieselfde middel,” waarsku Adrie. En dit affekteer vroue anders. “Baie jong meisies wat op kokaïen, heroïen, nyaope of tik is, het probleme met hul menstruele siklus.”

Maar by dit alles is dit van die allergrootste belang dat verslawing gesien moet word vir wat dit is: ’n Mediese siekte wat behandel, maar nie genees kan word nie. “Dis nié ’n swakheid nie. Dis nié ’n teken van ’n swak karakter nie. Dis nié iets wat gestraf moet word nie,” sê Sanca op die blad wat inligting verskaf oor ’n aanlyn verslawingskongres wat van 21 – 23 Julie vanjaar gehou gaan word (www.addiction.org.za). Waninligting rondom verslawing word dikwels in fluistertone versprei.

En dít het nie net ’n negatiewe invloed op die algemene publiek se opinie oor verslawing nie, maar stigmatiseer dit ook, sê Sanca. “Daarom is dit van die grootste belang om die gesprek aan die gang te kry sodat mense net so gemaklik is om oor verslawing te praat as oor enige ander versteuring of siekte.” Joe van der Berg, besturende direkteur van die Bowl Community Centre in Worcester in die Boland, stem heelhartig hiermee saam.

By dié sentrum word drank- en dwelmverslaafdes op ’n buitepasiëntbasis gehelp. Hulle klop hier in die Wynlande hoofsaaklik vir drankverslawing aan, sê hy, maar wat hom kwel, is dat baie vroue huiwerig is om vir hulp te kom juis weens die stigma wat daaraan kleef. In sy omgewing is daar baie vroue wat drink omdat hulle tuis abuse word, sê hy. Sy boodskap aan hulle is: Dis niks om oor skaam te wees nie. Ons is hier om te help. En oor die jare het hy agtergekom as vroue eers hul kop daarop gesit het om te herstel, hulle sterker is as die mans en nie so maklik terugval nie.

Dis nié ’n swakheid nie. Dis nié ’n teken van ’n swak karakter nie. Dis nié iets wat gestraf moet word nie.

Ook oorerflik

En, ja, daar is iets soos ’n verslawingsgeen wat oorgeërf kan word, hoewel die meeste mense nie sal weet hulle het dit tensy hulle duur genetiese toetse laat doen nie. Baie mense weet egter maar te goed dat daar in hul familie ’n geneigdheid tot verslawing is of dat hulle oor die algemeen fisies meer kwesbaar is. Maar al hét jy dit oorgeërf, kan jy steeds gesonde besluite neem, soos so baie mense doen wat gebore word in families met byvoorbeeld ’n geneigdheid tot hoë cholesterol of obesiteit, benadruk Adrie.

“Die geen ontneem jou nie van jou veggees nie.” Omgewingsfaktore speel ook ’n rol by verslawing. Mense wat grootword in ’n omgewing waar daar ’n amperse kultuur van aanvaarding is wat verslawing betref – soos groot dele van die Kaapse Vlakte – is meer geneig om ’n afhanklikheid te ontwikkel, sê sy. En in ’n disfunksionele huis is daar ook ’n groter kans op middelmisbruik om aan die omstandighede te ontsnap. Maar uiteindelik kan enigiemand ’n afhanklikheid ontwikkel, ongeag klas, ras, geslag, seksuele oriëntasie, kultuur of opvoeding.

“Almal van ons het ’n kruk wat ons gebruik om deur moeilike tye te gaan. Party s’n is net gesonder as ander s’n. Of hulle kan dit beter beheer,” benadruk Adrie. Onder die gevaartekens is dat jy meer van die substans gebruik as wat jy inderwaarheid wil, soos juis met Denise die geval is. Dis omdat ’n mens later ’n toleransie opbou, wat beteken jy moet ál meer gebruik om dieselfde effek te kry.

Nog ’n gevaarteken is riskante gedrag, soos om laat in gevaarlike areas in te gaan om dwelms of drank te kry of middels te gebruik wat onderliggende mediese toestande kan vererger. Dis ’n lang proses om uit verslawing se kloue te ontsnap omdat dit ’n progressiewe siekte is. Om uit die verslawende omgewing te kom, beteken ’n totale lewenstylverandering.

En jy moet aanvaar dit gaan vir die res van jou lewe ’n daaglikse stryd wees. Daarom is die steun van medici en terapeute wat oor die regte kennis beskik asook familielede, vriende en selfs kollegas wat nie bang is om daaroor te praat nie, van die allergrootste belang, sê Adrie. Rehabilitasiesentrums die land oor kan mense help om beheer te neem, hul selfrespek terug te kry en ’n normale lewe te lei – selfs al is dit ná ’n paar relapses.

* Skuilnaam

Waar kry ek hulp?

• Sanca (landwyd): 076 535 1701; e-pos sancanational@telkomsa.net; www.sancanational.info (al 12 sentrums vir binnepasiënte en 20 vir buitepasiënte is hier gelys).

• Wes-Kaap: www.facebook.com/SANCA-Western-Cape-345701705873583

• Wes-Kaapse rehabs: westerncape.gov.za/directories/facilities/736

• Narcotics Anonymous: 0861 00 6962; www.na.org.za

• Alcoholics Anonymous: 0861 435 722; www.aasouthafrica.org.za

• Al-Anon (hulle bied ondersteuning vir familielede) 0861 252 666; www.alanon.org.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.