Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Getuienis: Polisieman kry nuwe doel ná vergruising
1 April 2021


Vandat hy op 19 jaar aangerand en beroof is, was Lyndall Ockhuis (32) van Kuilsrivier in die Kaap, vasbeslote om ’n polisieman te word sodat hy kon help om die land te beskerm teen die euwels van gangsterism. Maar ná ’n klopjag het Lyndall so ampertjies die gebruik van albei sy bene verloor en moes hy, met die genade van Bo, ’n nuwe, selfs meer uitdagende droom vir sy lewe vind.

“Die aanvanklike polisie-opleiding was nie so rof nie, maar my droom was om deel te word van die bende-eenheid en dís nou waar ek ware polisiewerk kon leer, kon sien en ervaar wat dit werklik beteken om ’n polisieman te wees, as’t ware, veral wanneer dit kom by skietery en moord.” Lyndall erken om hier te werk, verander die hele wyse waarop jy die lewe sien en ervaar.

“Jy is nie bang nie, want daar is te veel adrenalien en jy werk met ’n groep mense wat opgelei is en wat jy kan vertrou. Maar by jou gesin . . . Al die goedjies wat jy gesien het deur die loop van die dag – dit bou mos op. Jy probeer normaal optree, maar soos die jare aangaan, begin jy half skrikkerig word. Jy voel vulnerable, selfs bang. As jy na ’n restaurant toe gaan, sit jy met jou rug teen die muur sodat jy alles om jou kan sien. As jy huis toe ry, ry jy verskillende paaie. As jy mense wat jy toegesluit het, tegemoet kom, is dit maar ’n moeilike konfrontasie . . .”

Lyndall pas nadat hy deur die dak geval het.

Dit is nie net die vrees vir konfrontasie nie, maar ook omdat ’n mens as polisieman weet wat daar buite aangaan, dat jy nie meer altyd veilig kan voel nie. “Jy raak so skepties oor alles omdat jy so baie misdaad elke dag sien, dat jy weet dit kan enige tyd met jou of jou familie gebeur. Jy is ten alle tye op jou hoede en probeer een stappie voor wees, maar dít brand jou uit.” val deur die dak Op ’n koue winterdag in Junie 2018, moes Lyndall ’n gewapende verdagte agternasit in Delft op die Kaapse Vlakte ná ’n onwettige geskietery.

“Hy het op die dak van ’n leë huis wat gesluit was, geklim met my agterna. Met die gejaag het die asbesdak meegegee. Ek het dwarsdeur, vuurwapen in die hand, geval tot op die grond.” Lyndall het beide sy enkels en maermerries vergruis met die val. “Ek het die slag (van sy bene wat breek) gehoor en gevoel alles knak, maar ek kon nie my bene beweeg nie. Ek het geweet iets is fout, maar kon op daardie stadium niks voel nie. Die adrenalien is mos maar hoog,” verduidelik hy.

Lyndall was van die fiksste ouens op die taakmag en as dit gekom het by op dakke klim en oor mure spring, was hy die een wat voor gevat het. “Ek was heel kalm, al het ek geweet dis baie erger as wat ek voorgee, want ek wou nie hê my kollegas moes paniekerig raak nie.” In die ambulans op pad na die hospitaal, waar hy vier operasies moes ondergaan, het Lyndall sy bewussyn verloor nadat hulle sy stewels oopgeknip het.

“Toe ek daai twee golf balls sien waar my enkels was, en hier by my maermerrie waar die been so uitsteek, het ek con-sciousness verloor.” Maar dit was eers toe hy sy vrou, Mandy (31), by die hospitaal sien, dat hy vir die eerste keer die verskriklike pyn van sy vergruisde enkels en maermerries begin ervaar het.

“Dis alles goed en wel om ’n soldaat-mentaliteit te hê voor jou kollegas, maar toe ek haar sien, toe kom al daai pyn gelyk. Obviously as jy iemand sien vir wie jy lief is, kom jou vulnerable side uit. Ek wil amper sê dis sielkundige pyn wat sommer so saam ingeskop het.” Lyndall was vir sowat ’n maand in die hospitaal, waarna hy oorgeplaas is na ’n rehabilitasiesentrum.

Dít, vertel hy, was die donkerste dae van sy lewe. “Realiteit het hard ingeskop ná die dokter my meegedeel het ek sou nooit in my lewe weer kon hardloop nie, dat ek met ’n kruk sal moet loop vir die res van my lewe.”

Hierdie wete het vir Lyndall, wat ’n positiewe en entoesiastiese mens is, in ’n diep depressie gedompel. “Ek kon nie eet of slaap gedurende my tyd in die sentrum nie. Dit was vir my soos ’n tronk. Ek kon nie my vrou of my twee kinders, Mia (13) en Kian (7), in die oë kyk tydens besoeke nie. Vir my het dit gevoel asof ek hulle teleurstel, want ek was my vrou se beskermer en my kinders se held. Wat nog om te praat van al die mense op die Kaapse Vlakte wat ek misluk het omdat ek nooit weer operasionele dienste sou kon verrig nie.”

’n Sielkundige by die sentrum het vir Lyndall pille voorgeskryf, maar hy het geweier om dit te drink. “Ek het amper elke aand gehuil. Dit het gevoel asof depressie diep binne in my gedagtes wortelgeskiet het.” “Ek was kwaad, man. Ek het selfs vir God bevraagteken, want hoekom moes dit met my gebeur? Hoe kon Hy dit toelaat? Ek het my alles gegee – in ’n stadium selfs 20 kg verloor sodat ek die beste polisieman wat ek kon wees, wees. En hier lê ek nou, ’n gebroke man en moes vir agt maande in ’n rolstoel wees . . .”

Daar is penne in sy bene.

Staan weer op

Een oggend het Lyndall egter opgestaan en vir homself gesê: “Jy sal jou hart moet sterk maak, jou mense het jou nodig. Ek het basies opgegee en dit was nie regverdig teenoor my familie nie.” Stadig, maar seker het hy begin besef, ja, hy sal nooit weer kan hardloop nie, nooit weer dieselfde impak op die Kaapse Vlakte kon maak nie, maar hy lewe nog, en het ’n pragtige vrou en twee lieflike kinders wat hom liefhet.

“My hele uitkyk oor die lewe het in daardie oomblik verander. Ek kon opgee, maar ek het as’t ware ’n besluit geneem om my hart sterk te maak sodat ek ’n groter impak op die Kaapse Vlakte kan maak op ’n manier.”

Dit is juis Mandy wat vir Lyndall, wat ook baie hou van skryf, aangemoedig het om in te skryf vir ’n kompetisie by die Cornerstone Institute, waar hy ’n beurs gewen het om aanlyn sy sosiologie graad te verwerf. Die inskrywing moes gaan oor hoe jy ’n positiewe impak in jou lewe gemaak het. Dis nou al meer as twee jaar sedert Lyndall se besering en hy het pas sy vyfde operasie ondergaan.

Lyndall, sy vrou, Mandy, en hul kinders, Mia en Kian.

Hy werk steeds as ’n polisiebeampte en doen tans lessenaarwerk. Sy plan is egter om, sodra hy sy graad voltooi het, die nuwe kennis te gebruik om die wortel van die kwaad in die Kaapse Vlakte te begin uitroei, veral onder die jeug – om hulle te inspireer en te help om ’n lewe anderkant gangsterism te kan bereik.

Hy verduidelik sy pyn is gemiddeld ’n vier, behalwe soggens en saans, wanneer dit so by ’n agt draai. Sommige dae is steeds moeilik, veral as hy fisiese aktiwiteite met sy kinders wil doen, of saam met sy vrou wil gaan stap, maar hy maak elke dag bewustelik van voor af die besluit om positief te wees, of hy nou lus is of nie. “Nee, ek kan nie meer hardloop nie.

Ja, ek loop met krukke. Maar my hart is vol liefde en vreugde! Die een deur het toegegaan, maar met die genade van die Almagtige het daar ’n venster oopgegaan. Om te swot, was nie iets wat ek ooit sou kon droom ek sou doen nie, maar die Here het ’n ander plan met my gehad. Ek weet wat voorlê, is net goeie dinge. Solank die hart nog klop, kan ons positief voortgaan met ons lewens se stories – een dag op ’n slag.”

Meer oor:  Kuier  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.