Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Glimlag breed: Tandartse gee ou nuwe stel tande
26 November 2020


Nadat hy vir jare met net sewe tande oor die weg moes kom, glimlag John Meiring (51) van Hanover Park op die Kaapse Vlakte, deesdae van oor tot oor nadat hy onlangs ’n splinternuwe stel tande geskenk gekry het.

“Ek voel baie, baie bly omdat ek nou tande het. Ek kan nou smile en lag en al die dinge,” lag John uitbundig. Hy het saam met die bekende Kaapse sjef Fatima Sydow, wat in Lansdowne woon, in een van haar kosvideo’s verskyn en is só raakgesien deur die sangers Robin Pieters en Craig Lucas se tandartse!

Sukkel sonder tande

Fatima sê sy ken vir John al amper tien jaar en hy is ’n bekende gesig in hul crescent. “Hy doen odd joppies hier rond in die tuine. Hy hou ook al die elemente en skurke uit die pad uit, so hy protect vir ons ook. Hy kyk agter almal.” Sy vertel John woon saam met sy suster en broer in Hanover Park.

“Sy ma is oorlede, wat hom baie swaar getref het.” John het in graad 3 of graad 4 skool verlaat. Dit is duidelik dat John oor die jare baie diep in Fatima se hart gekruip het. Sy probeer altyd vir hom ’n werkie gee as sy hom sien rondstaan sodat hy iets kan verdien. “Ek het hom eendag gevra wanneer is sy birthday.

VOOR

Toe vertel hy skaam hy kan nie onthou nie, want hy het dit so lanklaas gevier. Ek het hom gesê ‘bring jou book of life’, want hy kan mos nie self lekker lees of skryf nie,” vertel sy.

Van toe af dokumenteer en post Fatima goed oor John se lewe op sosiale media. “Dis net om hom ’n bietjie te encourage en ook om vir mense te wys die mense daarbuite is nie net gesigte wat struggle nie. Hulle het ’n storie, emosies, drome . . . Hulle pyn is nie minder significant as ons s’n nie.”

Oor die jare het John amper al sy tande verloor. “Dit was nie lekker nie, jong. Ek het ’n bietjie gesukkel met die lewe,” erken hy. Vir Fatima was John die ideale persoon vir hierdie projek saam met die tandartse. “Hy is so sweet, so behulpsaam, so gaaf, sagmoedig en vriendelik. Ek meen, hy sal nie my tjommie wees vir al die jare as hy nie so ’n lekker man van karakter was nie.

“Kyk, ek maak mos kosvideo’s en baiekeer sê ek vir John en sy vrind hulle moet kom eet,” gaan Fatima voort. “Eendag het hy weer hier kom eet, toe maak ons lekker jokes met mekaar op video, want ons is sulke goeie vrinne. Toe sien ek hier val die kos dan nou uit (sy mond uit) deur die gaps. Toe sê ek vir hom: ‘John, wees versigtig. Ek het gaps gehad. Ek het nie tande gehad nie en veral as jy noodles eet, voel dit die noodles gly by jou keel af en jy gaan choke. So, die noodles gaan by jou keel afgly of uit jou gaps val’,” lag sy.

Dit was juis in dié video dat die tandarts dr. Ryan Muller van Jason Sam Dentistry in Bergvliet in die Kaap, wat ’n groot aanhanger van Fatima se YouTube-kanaal is, die eerste keer vir John gesien het.

Ryan en Jason saam met John en sy vriendin, Fatima Sydow.

Tandartse help

Daarna het nog ’n video gevolg. “In die tweede video het ek niks gesê nie, maar die kos het weer uitgeval, want dis groot gaps,” verduidelik Fatima. Dít het Ryan en dr. Jason Sam laat voel hulle wil vir John help. Hulle het dadelik vir Fatima gebel om die proses aan die gang te sit. “Ek het nog nooit vir John so emotional gesien soos toe ek dit vir hom vertel het nie,” onthou Fatima.

My favourite ding van tande hê, is dat ek nou weer monkey nuts, biltong en hoender kan eet . . . Die tande laat my baie anders voel. Verligting en sulke goed.

“Toe ek hom gesien het, het ek net besef met dit wat ek en Jason doen, kan ons iets goeds vir John doen en vir hom sy glimlag teruggee,” vertel Ryan (35). Dié gedugte span het John se oorblywende tande getrek en onmiddellik vir hom kunstande (hulle trek die tande en plaas die vals tande op dieselfde dag) gegee in samewerking met Deon Valentine van Roots Dental Laboratory.

Die hele proses kos sowat R10 000 onder gewone omstandighede, maar vir John was dit ’n vroeë en enorme Kersgeskenk. “Om net na John te kyk voor die tan- de . . . Sy oorblywende tande was aan teenoorgestelde kante in sy mond. Sy byt was so uit ná al die jare sonder tande dat sy kakebeen amper diagonaal toegemaak het. Dit was amper glad nie funksioneel nie en ’n mens kon sien hy kon nie behoorlik eet nie,” verduidelik Jason (27).

“Maar meer as dit, kon ’n mens sien dit tas sy menswees aan. Hy wou nie praat nie en as hy gelag het, het hy sy hand voor sy mond gehou.” Jason vertel hul missie is om terug te gee aan die gemeenskap en hulle span graag saam met liefdadigheidsorganisasies, veral wat fokus op kinders, om mense weer te laat glimlag. Hulle het ook ’n mobiele tandheelkunde-kliniek. Fatima het haarself daaraan toegewy om elke Dinsdagaand sesuur vir ses weke vir John tandarts toe te vat vir die behandelings.

“Hy het gehuil toe hy die tande uiteindelik insit. Later het hy my vertel hy kan nie onthou wanneer laas hy iets kon kou nie. Alles proe nou different. Dis amper soos hy nou weer gebore is en alles weer van voor af proe.”

Só lyk John se nuwe tande.

Oor sy tande vertel John se beste vriend, Ibrahim: “Ek is so happy vir hom. Hy is ’n baie goeie ou vir my, my vrind. Ek kan nie vir julle explain hoe happy ek is vir sy part nie. Sy smile wat hy het, maak ’n groot difference. Ek weet nie of hy dit sien nie, maar ek sien dit. Sy smile is sy hele gesig vol. Hy moet altyd sê dankie, vir die Here.”

Voor sy tande het John nooit gesmile, nie, want hy was te skaam. “Vir die eerste week nadat hy sy vals tande gekry het, was sy lippe so gewoond daaraan om sy mond weg te steek, dat hy amper vergeet het, hy het gesukkel om te glimlag. Hy het nie meer geweet hoe nie,” sê Fatima en voeg by deesdae kan sy sommer van 50 meter in die pad af sien hoe John smile!

“Sy postuur, hoe hy praat, alles is sommer anders deesdae. Hy staan regop. Hy is ’n nuwe man.” eet weer smaaklik Fatima verklap daar is ’n vrou van wie John hou, maar hy het nooit die vrymoedigheid of selfvertroue gehad om met haar te gesels nie. “Nou is hy so verlief en hy smile die hele tyd! Sy hou nou ook van hom, maar dis nog net die begin . . . Hulle bok nou nog,” vertel sy opgewonde.

“My favourite ding van tande hê, is dat ek nou weer monkey nuts, biltong, hoender, gravy en mash potatoes kan eet,” vertel John met ’n groot glimlag. Die ding wat hy die meeste gemis het toe hy nie tande gehad het nie, was om goed soos appels en lemoene te kon kou. Die nuwe stel tande het sy lewe heeltemal verander.

“Dis baie different. Die tande laat my baie anders voel. Verligting en sulke goed.” Oor Fatima het John net goeie goed te sê. “Antie Tima is baie lief vir my. Sy het vir my die tanne gekry. Sy het vir my gebid, vir my gehelp vir werk en sulke dinge. Ek is net happy!” Hy kan nie wag om weer sy gunstelingdis van Fatima, juis die noodles wat hom gehelp het om tande te kry, te eet nie, gevolg deur haar liplekker trifle.

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.