Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Gru-moord ruk almal
4 April 2018
Die slagoffer, Sandra Malcolm.

Dit klink soos ’n toneel uit ’n gruwelfliek: ’n Bejaarde vrou word herhaaldelik met ’n mes gesteek waarna haar kop en ledemate afgesny en haar maag oopgesny word tot haar ingewande buite hang. As dit maar net ’n toneel uit ’n fliek was . . .

Maar dít is wat op 18 April 2015 met die 74-jarige ouma, Sandra Malcolm, in haar huis in Lakeside, naby Muizenberg in die Kaap, gebeur het.

Toe ’n verdagte sowat ’n week ná haar moord vasgetrek is, het nóg ’n skok gewag. Niemand sou ooit kon dink dat ’n fyngeboude 18-jarige jong vrou vir dié wreedaardige moord in hegtenis geneem sou word nie.

Sheree Prince (nou 21), oorspronklik van Citrusdal, sowat 170 km noord van Kaapstad, is aangekeer nadat forensiese getuienis haar met die misdaadtoneel verbind het.

Die straat op Citrusdal waar Sheree grootgeword het.

En toe wou almal weet hoe so ’n jong meisie wat op die oog af ordentlik en beskaafd voorkom, Sandra, oorspronklik van Skotland, so wreed kon vermoor?

Hoewel daar aanvanklik plaaslik oor die moord berig is, het dit nie die hoofnuus gehaal nie. Maar dit het nie oorsese media gekeer nie. The Scottish Sun het Sheree as ’n “skaamtelose byl-maniak” beskryf wat Sandra “geslag” het, terwyl die Britse The Sun haar as “koelbloedig” en die aanval as “barbaars” beskryf het.

Hierdie beskrywings is ver verwyderd van die prentjie wat Sheree se geskokte familie, skoolvriende en bure op Citrusdal van haar skets. Volgens hulle “sou sy nooit eens ’n vlieg kon seermaak nie”.

Sheree het einde Februarie vanjaar in die Kaapse Hooggeregshof erken sy het Sandra met ’n mes gesteek en toe haar ledemate afgesny.

Die hofsaak is verskeie kere uitgestel en het vir byna drie jaar gesloer terwyl die hof probeer vasstel het of Sheree toerekeningsvatbaar is en dus vervolg kon word.

Sheree toe sy jonger was.

’n Paneel van kenners van die Valkenberg-psigiatriese hospitaal, het bevind sy kan wel verhoor word en was ten volle bewus van die gevolge van haar dade. Sheree is verlede maand uiteindelik skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade (dit beteken die hof het beslis daar was ’n mate van beplanning betrokke), hoewel haar regsverteenwoordiger aangevoer het dat sy nie Sandra se huis betree het met die opset om moord te pleeg nie. Vonnisverrigtinge begin na verwagting op 19 April.

In haar pleitverduideliking wat in die hof voorgelees is, sê Sheree sy het by haar ma in Citrusdal gebly, maar besluit om Muizenberg toe te gaan omdat hulle “’n slegte verhouding” gehad het. Voor sy in Muizenberg aangekom het, was sy egter eers in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte nadat ’n man haar ’n lift en slaapplek vir die aand aangebied het. Die volgende oggend het sy by ’n huis in Mitchells Plain ingebreek en verskeie goedere en geld gesteel. Daarna het sy van dié geld gebruik om ’n taxi te vat na Muizenberg waar haar oom en antie bly.

Wat het gebeur?

Ek het toe albei haar arms afgesny en probeer om haar bene af te sny, maar kon dit nie heeltemal verwyder nie. Ek het toe ’n byl gebruik om dit af te kap.

Sheree het skuld ontken op ’n tweede aanklag van inbraak wat verband hou met die voorval in Sandra se huis. Volgens Sheree het sy oor die huis se heining en toe deur ’n oop venster geklim om by Sandra se huis in te kom.

Sheree se vingerafdrukke is egter op gebreekte diefwering gevind. Volgens Sheree het Sandra op die bed in die kamer gelê en gedreig om die polisie te bel. Sheree het na bewering aan Sandra gesê sy soek hulp met haar voet wat vroeër gebrand het toe sy warm kos daarop laat val het. Sandra het haar toe na die kombuis gevat waar sy vir haar Savlon en water gegee het.

Volgens Sheree het Sandra ook vir haar toast en tee gemaak. Luidens Sheree se pleitverduideliking het sy ’n mes gegryp en gedreig om Sandra te steek toe laasgenoemde sê sy gaan ’n ambulans bel.

Volgens Sheree het Sandra probeer om die mes by haar af te vat. “Ek het haar een keer in haar bors gesteek en toe val sy grond toe. Ek wou gaan, maar het gesien hoe sy probeer om op te staan. Ek het haar toe vermoor deur haar kop met die groot mes af te sny.”

Volgens Sheree het sy toe probeer om die slagoffer se lyk op te sny. Sy het ook vir haar pa ’n boodskap van Sandra se foon af gestuur waarin sy gesê het sy is in groot moeilikheid en hom om hulp gevra het. “Ek het toe albei haar arms afgesny en probeer om haar bene af te sny, maar kon dit nie heeltemal verwyder nie. Ek het toe ’n byl gebruik om dit af te kap.”

Volgens Sheree het sy die slagoffer se torso (bolyf) in ’n asblik buite die huis gegooi en haar arms en bene in ’n swart plastiekdrom. “Ek was moeg en wou in die huis slaap,” vertel Sheree. Sy het egter die huis verlaat met ’n handsak en ’n paar besittings wat sy dae vroeër by die huis in Mitchells Plain gesteel het. Hoewel Sheree aangevoer het sy het die oorledene net een keer gesteek, het die lykskouingsverslag bevind Sandra is herhaaldelik (24 keer) gesteek.

Sheree se pa, Ernest Adonis, is bedroef oor die koers wat sy dogter se lewe ingeslaan het.

Kuier het Sandra Malcolm se familie vir kommentaar genader, maar hulle het gesê hulle gaan eers ná haar vonnisoplegging kommentaar lewer. Kort ná haar moord, het ’n buurman Sandra in ’n nuusberig as “vriendelik” beskryf. Ons weet dus nie watter tipe mens die slagoffer was nie, maar wanneer jy kyk hoe Sheree haar in haar pleitverduideliking beskryf, kom Sandra voor as ’n gawe vrou wat bereid was om ’n vreemdeling te help. Daarom is dit nog meer onverstaanbaar hoekom Sheree iemand wat haar wou help, sou vermoor en dan nog op só ’n grusame wyse haar lyk vermink het.

Ongeloof

Hannie Petro van Citrusdal wat soos ’n tweede ma vir Sheree is, sê sy kan nie glo dat Sheree moord kon pleeg nie.

Sheree is ’n paar dae ná die moord na haar pa, Ernest Adonis (50), se huis op Citrusdal. Sy is ’n paar dae daarna op dié dorp in hegtenis geneem. Terwyl lewenslange tronkstraf haar in die gesig staar, is haar vriende en familie op haar tuisdorp nog in totale skok en ongeloof dat sy só iets kon doen.

“Nie Sheree nie,” sê talle van haar bure in Suikerboslaan in die skilderagtige dorpie wat met berge omring is. Jy kom gou agter dat hulle ’n hegte gemeenskap is. Almal ken vir almal en gee werklik om vir mekaar. Dis hoekom niemand ’n slegte woord oor Sheree te sê het nie. Hulle beskryf haar as “’n stil, vriendelike kind wat nie ’n vlieg sou seermaak nie”.

“As sy probleme gehad het met iemand by die skool, het sy altyd na my toe gekom en my gevra om met hulle te praat,” vertel Ernest. Hy lyk bedroef en hartseer terwyl hy oor sy enigste dogter praat. Hy sê toe sy huis toe gekom het ná die moord, het sy niks vir hom daaroor gesê nie. Volgens hom het sy vir hom gesê die boodskap wat sy vroeër aan hom gestuur het om hulp te vra, was oor haar voet wat gebrand het.

Toe hy egter ’n paar dae later uit die werk kom, het sy broer vir hom gesê Sheree word by die polisiestasie aangehou. Toe hy daar kom, het hulle hom vertel van die moord. “Ek het gesê dit kan nie waar wees nie. Sheree doen nie sulke goed nie. Sy is nie so ’n mens nie. Sy was nog nooit vir aanranding of enigiets in die moeilikheid nie.”

Die polisie het, volgens hom, sy selfoon gekonfiskeer om vas te stel of hy betrokke was by die moord en vir haar “advies gegee het oor hoe om die vrou dood te maak”. Ernest glo egter steeds nie sy dogter het alleen die moord gepleeg nie, want vir hom is “daar te veel dinge wat nie sin maak nie”, soos dat sy die diefwering met ’n groot klip gebreek het.

“Die klip is te groot vir haar om te kan optel. Ek dink sy word gedreig om stil te bly,” spekuleer Ernest. Hy en sy vrou, Sandra Adonis (56), Sheree se stiefma, het haar een keer in die Pollsmoor-gevangenis besoek.

“As ek haar vra hoe dit gaan, sê sy dit gaan all right. Sy het altyd gevra wanneer maak die saak klaar en wanneer sy huis toe kan kom. Dan sê ek vir haar ‘praat net die waarheid’.” En as sy vir die res van haar lewe in die tronk moet sit? “Ek sal haar ondersteun en besoek as dit so kom. As hulle vir haar die straf moet gee . . . Ek vertrou net op die Here dat die saak ligter sal word,” sê Ernest en kyk dan by die venster uit soos hy regdeur die onderhoud doen.

Vertrou op die Here

Sandra is ewe hartseer oor haar stiefdogter wat haar om hulp gevra het met haar besoek in die tronk. “Sy het gevra ek moet haar help. Toe sê ek ek kan nie vir haar help as sy nie verder wil praat nie. Toe kyk sy vir my en sê ‘pas my pa op’. Sy was ’n baie lieflike kind. Ek sal haar altyd ondersteun deur dik en dun. Al praat die mense ook nou swak goed van haar. Tot vandag toe glo ek nie daai kind het dit gedoen nie. Ons is seergemaak. Ons is hartseer, maar ons sal daardeur kom. God sal ons help om daardeur te kom.”

Ernest vertrou ook op die Here om sy kind deur te dra. “Die mense moenie oordeel nie. Dit hang van die Here af. Hy besluit self wie beoordeel en wie gestraf moet word. Almal maak foute.”

Kuier het ook probeer om met Sheree se ma te praat, maar sy wou geen kommentaar lewer nie. Almal met wie Kuier egter gepraat het, sê Sheree was nooit weer dieselfde nadat sy in 2014 op 17 vir breinvliesontsteking (meningitis) behandel is, maar dit toe nie gehad het nie. Sy het wel die siekte op vyf jaar opgedoen en behandeling daarvoor ontvang.

Toe sy in 2014 begin hoofpyne en blou kolle op haar arms kry, is sy weer daarvoor behandel. ’n Week daarna het die uitslae egter getoon dat sy nié hierdie keer breinvliesontsteking gehad het nie. Anneline Fortuin (52), ’n buurvrou, sê sy het vir Sheree se ma gesê sy moet haar dokter toe vat. “Ek kon sien haar kop is nie meer reg nie.

Haar gedrag by die skool het verander en ek as buurvrou het gesien die kind is nie dieselfde nie.” Sheree het skool gelos en volgens Anneline het sy toe die heeltyd op die dak in die warm son gelê. “As jy haar gegroet het, kyk sy net asof sy dwarsdeur jou kyk. Sy was nie meer normal nie. Ek glo haar brein het seergekry met die behandeling (vir breinvliesontsteking). Ek het vir haar ma gesê die kind is nie reg nie,” vertel Anneline.

Sheree se skoolvriend en buurvrou, Abramicia Ockhuis (21), het ook haar vreemde gedrag (ná die tweede breinvlies-episode) opgemerk. Abramicia en Sheree het altyd saam in die pad gespeel. Volgens haar het Sheree later met verkeerde mense betrokke geraak. “Sy was soos iemand wat depressie gehad het. Sy kon nie stilsit nie. Ons sou in die klas sit dan sou sy opstaan en sê ‘ek gaan nou loop’. Dan loop sy.” Selfs met haar vreemde gedrag was sy volgens dié wat haar geken het, “steeds nie gevaarlik nie”.

Hannie Petro (53), nog ’n buurvrou en soos ’n tweede ma vir Sheree, vertel sy het haar lief asof sy haar eie dogter is. Sy is na aan trane terwyl sy verduidelik hoe sensitief Sheree was. “As iemand haar geslaan of selfs net hard met haar gepraat het, het sy gehuil. Sy sou niemand leed aandoen nie.”

Sheree het sowat ’n maand voor die moord Kaap toe gehike nadat sy en haar ma stry gekry het. Drie weke daarna, het geskokte inwoners in plaaslike koerante oor die moord gelees. Volgens die gemeenskap was dit Sheree se eerste keer in die Kaap en hulle wonder nou hoe sy geweet het om daar uit te kom.

Hoewel daar geen sprake van dwelmgebruik in haar pleitverduideliking is nie, meen vriende en familie dat sy wel tydens haar laaste tyd in Citrusdal op tik was. Haar pa het haar nooit op heterdaad met dwelms betrap nie, maar sê haar gedrag was nie dieselfde nie en dat sy bevriend geraak het met mense wat op tik was. Hulle weet egter sy het definitief sigarette gerook.

Nadat sy op vyf breinvliesontsteking opgedoen het, het dokters haar ma gewaarsku dat sy nooit mag rook of dwelms moet gebruik nie. Dit sou verdere skade aan haar brein aanrig, vertel Ernest en al die ander mense met wie Kuier gepraat het.

Wat die kenner sê

Prof. Dap Louw, ’n buitengewone professor in forensiese sielkunde en kriminologie met meer as 40 jaar se ervaring, het sy indrukke van die saak gegee hoewel hy nie Sheree ondersoek het nie.

Volgens hom is daar geen bewyse dat daar ’n verband tussen misdaad en breinvliesonteking is nie, want die oorgrote meerderheid van mense wat al dié siekte opgedoen het, pleeg nie misdaad nie. Hy sê dis glad nie ongewoon vir vriende en veral ouers om na ander moontlikhede as die rede vir iemand se optrede te gryp nie.

“Dis vir hulle so ’n skok en onaanvaarbaar dat hulle gryp na ’n tasbare, sigbare verklaring sodat dit eintlik nie die kind se skuld is nie. Dis die breinsiekte se skuld of dis die maats se skuld.” Hy sê dis algemeen dat mense wat die skuldige ken, nie glo dat hy of sy dit gedoen het nie. “Dis baie moeilik om presies te weet wat hierdie kind se geestestoestand op daardie spesifieke stadium was. Dis baie algemeen dat mense sê hulle kan dit nie glo nie.”

Louw meen haar optrede voor, tydens en ná die moord dui daarop dat sy ’n gebrekkige gewete het. Die wyse waarop die moord gepleeg is, is ook baie kommerwekkend vir hom. “My ervaring van mense wat sulke dade pleeg, is dat daar ’n gebrek aan ’n gewetensfunksie is. Sy het ingegaan met die doel om iemand te bedrieg deurdat sy haar seer voet as verskoning gebruik het. Dis ook belangrik wat daarna gebeur het. Jy sou van ’n persoon met ’n sterk gewetensfunksie verwag om heeltemal verswelg en oorweldig te wees van skuldgevoelens, skaamte en totale ongeloof oor wat hulle gedoen het en dit uitgeblaker het aan iemand en gesê het ‘help my’. In plaas hiervan het sy probeer om dit te verdoesel.”

Al wás sy onder die invloed van dwelms tydens die moord, meen Louw dit ont-neem haar nie van enige verantwoordelikheid nie. Sy was nugter genoeg om ’n boodskap aan haar pa te stuur. En al was sy op dwelms tydens die moord, was sy daarna nugter en het toe steeds nie opgetree soos jy van iemand verwag wat nounet so ’n daad gepleeg het nie, meen Louw. “Almal kan foute maak, maar wat baie belangrik is, is hoe jy jou foute daarna hanteer.”

In sy ervaring is dit “hoogs uitsonderlik” vir ’n vrou om so ’n wrede moord te pleeg. Oor die algemeen is vroue se aandeel in moorde baie laer as dié van mans, maar wanneer ’n vrou wel ’n moord pleeg, is dit selde so afgryslik soos hierdie een. “Veral die opsny van ’n lyk is uiters seldsaam onder vroue. Daar was al sulke gevalle, maar dis baie min in vergelyking met mans.” Sheree se pa en stiefma beplan om haar voor die vonnisoplegging in die tronk te besoek.

En terwyl haar familielede en vriende nog probeer sin maak daarvan dat sy dalk die res van haar lewe in die tronk kan deurbring, kan hulle haaar ten minste besoek. In sterk kontras, moet Sandra Malcolm se familie dit verwerk dat hulle nooit weer hul ma en ouma sal sien nie.

As iemand haar geslaan of selfs net hard met haar gepraat het, het sy gehuil. Sy sou niemand leed aandoen nie.

Foto’s: Dale Fourie, Peter Abrahams/Son en verskaf

Bykomende bronne: Netwerk24, Son

Meer oor:  Sandra Malcolm  |  Kuier  |  Sheree Prince  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.