Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Huiskoop? Raad om kop te hou in die pandemie
15 april 2021

Toe die Covid-19-pandemie verlede jaar in Suid-Afrika uitbreek, het eiendomskenners gevrees die impak daarvan op die huismark gaan verwoestend wees. Die teendeel het egter gebeur. Die mark vir verkopers én kopers blom nou, maar vir verhuurders lyk dinge egter nie te goed nie.

Die verhuringsmark blom nie soos die verkoopmark nie. Meer as een uit vyf huurders, oftewel 20,9%, was einde 2020 agterstallig met huurgeld. Dít is volgens die verhuringsagentskap PayProp. Die syfer styg egter selfs tot 25,4% in Noordwes terwyl die Wes-Kaap op 18% die laagste persentasie agterstallige huurders het.

Goeie huurders wissel baie volgens die prysklas waarin hulle huur. Prysklas word deur jou inkomste bepaal. Mense wat vir minder as R3 000 per maand huur, is die swakste betalers. Volgens PayProp is die beste huurders dié in die huurklas van R7 000 tot R12 000. Mense trek swaar weens die pandemie wat baie hul werk gekos het of gesorg het vir laer inkomste.

Sukkel met huur

PG van der Linde, ’n beleggingsbestuurder by Seeff-eiendomme, sê huurpryse het negatiewe groei getoon die afgelope jaar. Die rede is omdat sekere huurders besluit het om te koop oor die lae rentekoerse.

Ander huurders kan eenvoudig nie huur bekostig nie en daarom het die aanvraag na huurhuise gedaal. Hy sê die middelklas verhuringsmark is die swaarste hierdeur getref. PG sê ook hoewel die aanvraag na huureiendom redelik konstant gebly het, moes hulle ’n hele paar huurders afkeur weens swak betalingsrekords.

Jacqui Savage, nasionale verhuringsbestuurder vir die Rawson-eiendomsgroep, sê die verhuringsmark is swaar deur getref deur die pandemie. Die groep sien baie huurders wat nie hul paaiemente kan betaal nie. Sy sê landlords het vinnig aangepas deur die beste van ’n slegte situasie te maak en sal eerder hul huurgeld laag hou, as wat hulle dit verhoog en goeie huurders verloor.

Sommige huurders kan eenvoudig glad nie meer hul huurpaaiement bybring nie. Maya van Rooy* (39) was ’n kantoordame by ’n motorverkoopsagentskap in Klerksdorp in Noordwes.

In Augustus verlede jaar is sy ontslaan toe die onderneming vir wie sy gewerk het hul werkers moes verminder. Haar landlord het haar twee maande nadat sy haar werk verloor het, gehelp deur haar van huurgeld, R5 500 per maand, kwyt te skeld terwyl sy ’n ander werk soek. Sy sou dié huurgeld later weer moes terugbetaal. Toe sy nié werk kon kry nie, moes sy haar eenslaapkamerwoonstel in ’n kompleks opgee. Sy het teruggetrek na haar ouers in Potchefstroom, en soek steeds werk. “Dis regtig moeilik en pla my dag en nag. Ek kan nie bydra tot my ma-hulle se huishouding nie,” sê Maya.

Sy praat onder ’n skuilnaam omdat sy baie skaam voel oor haar situasie. Rentia Smith is ’n Vanderbijlparkse eiendomsagent. Sy het ook haar eie eiendom wat sy verhuur vir ’n ekstra inkomste. Haar eiendom is gemik op die laer- en middelklas-inkomstegroep. Vir háár het die pandemie ’n nagmerrie veroorsaak. Verskeie huurders van haar kon maande lank nie hul paaiemente bekostig nie en sy moes hulle eenvoudig akkommodeer.

Drie gesinne wat by Rentia huur, werk in die taxi-staangebied waar hulle verskillende kleinondernemings het. Vir maande lank kon taxi’s (en busse) glad nie ry nie en het hierdie gesinne dus geen inkomste gehad nie. “Ek het nie ’n keuse gehad as om die bank te nader, my eie betalings uit te stel, en dié gesinne se paaiemente vir daardie drie maande te verlig nie,” sê sy. Sy moes ook planne maak om ander huurders, wie se salarisse gesny is, te help deur nie hul jaarlikse huur te verhoog nie.

“Ek doen dit eerder sodat ek my goeie huurders behou, as wat ek huur met R1 000 verhoog en iemand kry wat nie kan betaal nie, of glad nie ’n huurder kry nie,” verduidelik sy. Rentia skets ook ’n ander prentjie. “Ek het gesien hoe mense ’n huis koop omdat hul besigheid ’n groot kontrak iewers gekry en hulle skielik geld in die bank gehad het. Dit was nie lank ná die koop nie, en hulle kon nie meer die paaiement bekostig nie. Op die ou einde het hulle die huis in die verhuringsmark gesit en self weer ’n huis gaan huur teen ’n baie laer paaiement.”

Wat Rentia sien gebeur het, laat ’n mens wonder of dit verlaagde rentekoerse ten spyt, ’n goeie idee is om te koop of te huur? Veral omdat die pandemie alles in onsekerheid dompel en werksekerheid nie gewaarborg is nie.

Moet jy nou koop?

Teen 7% is die rentekoers die laagste wat dit in jare was. Dít beteken jy behoort makliker ’n huislening te kry mits jou banksake reg en jou betaalrekords goed is. Baie mense wat nooit voorheen kon koop nie, sal dit nou kan doen.

Jacqui sê dit is veral mense in die R7 000 tot R11 000 huurklas, wat nou die kans aangryp om te koop. Sommige banke is ook geneig om in dié tyd 100% banklenings aan eerstekeerkopers te bied. Dit beteken dat jy nie ’n deposito hoef te betaal nie. Máár dit beteken ook dat jou rentekoers dan ’n bietjie hoër sal wees.

So, oppas, sê Rhys Dyer, hoof van ooba-huislenings. Maak seker jy kan dit bekostig voordat jy koop. As jy kyk na 0% teenoor 10% deposito op ’n R1 miljoen-huis, is die terugbetaling R7 753 per maand versus R6 978 met ’n 10% deposito. Dit klink dalk nie na ’n woeste verskil nie, maar oor 20 jaar teen 7% rentekoers sal jy R186 071 meer betaal het sonder ’n deposito as dié wat aan die begin hul 10% neergesit het.

Wees prakties en laat jou verstand die besluit neem, en nie jou hart nie.

David Jacobs, streekbestuurder vir verkope vir die Rawson-eiendomsgroep, sê rentekoerse is op ’n rekord laag, en daar is meer eiendom as gewoonlik op die mark om uit te kies. Dus is dit nie ’n slegte tyd om te koop nie. Hy waarsku egter dat huiskoop een van die grootste finansiële commitments is wat jy ooit sal maak en as jy die meeste uit jou belegging wil kry, jy ten minste vyf tot tien jaar moet vasbyt as jy koop. Maak daarom 100% seker jy doen die regte ding.

Die eerste stap in ’n slim besluit is om te weet wat jou finansiële beperkinge is, sê David. Die eerste stap is natuurlik om vooraf goedgekeur te word vir ’n huislening. Dit is maar net die begin. “Baie mense neem aan die syfer wat die bank jou gee, is die price tag waarvoor jy kan mik. In realiteit moet jy mik vir iets wat bietjie onder daardie maksimum syfer is.

Om eiendom te koop is stresvol genoeg. Dit is nie nodig om nog jou finansies te oorlaai deur elke sent af te knyp in die toekoms om die lening te betaal nie. Behou liewer ’n bietjie finansiële ruimte vir ingeval jy een of ander geldelike probleem ervaar in die toekoms, of as jy dalk jou paaiemente vinniger wil afbetaal, kan jy ’n bietjie ekstra insit elke maand,” sê David.

David se ander raad is:

Weet waar jy koop: Vind ook soveel moontlik uit oor die area waar jy wil koop. Kyk na skole, werksgeleenthede, misdaadsyfers en winkels. Die regte area maak ’n groot verskil as jy eendag weer jou eiendom wil verkoop of verhuur.

Weet wat jy koop: Geen huis is perfek nie, maar kyk dubbeld en kyk selfs nóg ’n keer voordat jy koop. Laat doen liewer ’n professionele huisinspeksie voordat jy die kontrak teken.

Kyk na goed soos nattigheid, strukturele skade, ’n lekkende dak en so meer. Hou emosie uit die koop: ’n Pragtige huis mag dalk maak dat jy compromise op die area en die inspeksie sommer heeltemal skip.

Jy kan dalk ook fantastiese eiendomme miskyk omdat jy wag vir jou “unicorn”-eiendom wat eenvoudig nie in jou prysklas bestaan nie. “Wees prakties en laat jou verstand die besluit neem, en nie jou hart nie,” sê David. Die klimaat om jou huis te besit, lyk dalk nou gunstiger, maar dit bly steeds ’n groot finansiële besluit, so doen jou huiswerk én berekeninge voor jy koop . . .

* Skuilnaam

Meer oor:  Kuier  |  Eiendom  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.