Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ingrid Paulus takel boelies
18 Februarie 2021
 Die gewilde aktrise Ingrid Paulus.


Toe Ingrid Paulus (43) dit verlede jaar in ’n Facebook-post duidelik maak dat sy nie meer boelies gaan duld wat haar voorkoms afkraak en die lelikste goed van haar te sê het nie, het sy vir die eerste keer in 20 jaar vir haarself opgestaan.

Want dié keer was dit Ingrid self wat aangeval is en nie Vanessa, die karakter wat sy in die sepie 7de Laan vertolk, nie. En hierdie keer was sy ook die ma van twee dogters vir wie sy moes wys dis nie oukei dat mense oor jou loop nie.

En vir Ingrid is dit nou belangriker as ooit dat haar dogters, Skye (16) en klein Hannah (1), van jongs af leer “as vroue het ons ’n stem wat ons moet gebruik” en dat hulle hul eiewaarde (self-worth) moet besef.

Volgens haar moet jy nie toelaat dat ander dit vir jou bepaal nie, want dis hoe boelies hul afbrekende kloue in jou slaan. En dis juis belangrik vir ouers van skool-gaande kinders om attent te wees op die tekens dat jou kind geboelie word of dat jou kind die boelie is, want die impak daarvan op die slagoffer, soos Ingrid al self ervaar het, is pynlik. Deesdae maak sosiale media dit ook soveel makliker vir boelies om iemand by te kom.

Sê haar sê

Toe Ingrid daardie Facebook-post skryf, wou sy uiting gee aan jare se seer wat veroorsaak word deur mense, wat gewapen met ’n selfoon in die hand, net skietgoed afvuur en nie omgee hoe seer dit haar maak nie.

Sy wou dit van haar afkry en het daarna nie te veel getob daaroor nie, maar haar post het viral gegaan. Dit was meer as 4 000 keer gedeel en het 1 600 kommentare gekry met mense wat Ingrid se “enough is enough” laat eggo het. Sy het toe nie net haar eie mag teruggevat nie, maar ook vir soveel ander mense wat geboelie word, die moed gegee om hul eie stories van pyn te deel en nie meer in stilte te ly nie.

Sy het terselfdertyd ook gewys dat sosiale media sy voor- en nadele het, maar dat jy kan kies of jy jou platform vir goed of sleg gaan gebruik. “Alle boelie-stories raak my.

Die Ingrid van 20 jaar terug sou waarskynlik selfmoord gepleeg het as dit wat nou met my gebeur het, met haar gebeur het. Maar ek is nou ’n ma, ek is ouer en weet jy moet opstaan vir jouself. Emosioneel is ek ook hierdie keer in die regte mindset om dit te kan doen,” vertel Ingrid. Haar stemtoon is sag, maar beslis. “Vir 20 jaar het ek stilgebly. As jy iets oor Vanessa wil sê, is dit fine, maar as dit oor Ingrid en my familie gaan, gaan ek iets sê.”

Ingrid lyk ongelooflik ná Hannah se geboorte amper presies ’n jaar gelede, maar sê sy het glad nie gedurende of ná haar swangerskap gefokus op haar gewig nie. Sy wou eenvoudig net haar swangerskap en baba geniet. “Daar was nie ’n eetplan of enigiets in terme van my gewig nie. Ek wil ook net my liggaam celebrate soos wat dit is, want dit het my so lank gevat om myself te aanvaar soos wat ek lyk. Ek starve nie myself nie en geniet net die lewe en aanvaar myself en is lief vir myself soos wat ek is.”

En dis met hierdie kalmte, nuutgevonde self-awareness en ek-vat-nie-nonsens-houding dat Ingrid die volgende hoofstuk in haar lewe met vuur en dankbaarheid aanpak. Sy is in haar veertigs weer ’n “nuwe mammie” en werk tans nie net voor die 7de Laan-kameras nie, maar sit ook in die regisseurstoel van tyd tot tyd. Sy is ook ’n ambassadeur vir Project Braveheart, ’n anti-boelie-organisasie. Al hierdie rolle kom met hul eie stel verantwoordelikhede en eise, maar Ingrid sê rustig: “Ons as vroue operate when push comes to shove”.

Haar oulike babadogter, Hannah.

Baie veranderings

En hiervan kan Ingrid getuig omdat sy en haar gesin, manlief, Denver Vraagom (49), en hul twee dogters, die afgelope jaar ’n hele paar veranderings ondergaan het nadat Denver en Skye vir ’n ruk in die Kaap en sy in Johannesburg gewoon het vir werk.

Ingrid het op 6 Februarie verlede jaar in die Kaap geboorte geskenk aan Hannah en vir ’n rukkie hier by Denver en Skye gewoon voordat sy en Hannah later alleen terug is Johannesburg toe omdat Ingrid moes terugkeer na die 7de Laan-stel. Skye was toe nog in die skool in die Kaap.

Alles het boonop in lockdown gebeur en sy erken dit was baie moeilik dat haar gesin so verdeel en ver van mekaar was in ’n tyd toe die Covid-19-pandemie families uitmekaargeskeur het. “Met die harde lockdown was dit tyd vir my en Hannah om terug te keer Johannesburg toe. Ek het teruggetrek na my ma en dit was ’n groot aanpassing, maar die huis was vol mense wat gehelp het met Hannah,” voeg sy dankbaar by.

Al was dit net sy wat teruggekeer het met Hannah, was Ingrid in die bevoorregte posisie om ’n goeie ondersteuningsnetwerk van familie en vriende te hê, wat haar baie gehelp het. Ingrid het in die week by haar vriendin en mede-7de Laan-aktrise, Hildegardt Whites, en haar gesin in Johannesburg gewoon sodat sy nader aan die werk was, terwyl Hannah by haar ma in Pretoria agtergebly het.

“Dit was terrible met Denver en Skye in die Kaap. Dit was vir my baie moeilik sonder my man en my kind. Veral met die Covid-ding was dit erg dat hulle so ver was. Ons het elke liewe dag ge-FaceTime en ek het geleer om social media goed te gebruik waarvan ek voorheen nie eens geweet het nie,” vertel Ingrid van hierdie uitdagende tyd.

Die verlange het onuithoudbaar geraak en Ingrid het eendag net rondgery op soek na ’n nuwe blyplek vir haar en haar hele gesin. Sy het ’n huis gekry waarvan sy hou en dadelik vir Denver gebel en gesê sy kan nie meer sonder hom en Skye lewe nie en dat hulle moet terugtrek Johannesburg toe.

En in November verlede jaar, was Denver en Skye daar en hul gesin was weer herenig, soos wat dit moet wees. Ingrid klink salig en gelukkig wanneer sy byvoeg: “Dit was vir ons ’n oorbegin, ’n nuwe hoofstuk . . .” En Ingrid, wat op 42 vir die tweede keer ma geword het, is steeds in verwondering dat Hannah werklik hier is.

Kuier het juis in Mei verlede jaar die eerste openbare foto’s van Hannah gewys met Denver wat fotograaf gespeel het. “Hannah doen alles. Sy loop, klim op goed, leer praat en raak vies as ons te stadig reageer op haar. Ek het net gisteraand (dag voor die onderhoud) vir Denver gesê: ‘Kan jy glo ons het ’n baba in die huis?’ Dis ’n heel ander energie en dit voel soms so onwerklik,” voeg sy gelukkig by.

Ingrid vertel, Skye wat netso bly is om terug te wees in Johannesburg, is baie betrokke by Hannah en as ma is dit vir haar een van die mooiste goed om te sien hoe dié twee sussies, die 15-jaar-ouderdomsverskil ten spyt, se band versterk. “Soggens gaan Skye na Hannah toe en dan steek Hannah arms uit (vir Skye om haar op te tel). Ander kere vra Skye dat ek Hannah na haar kamer toe bring en dan speel hulle,” vertel Ingrid.

Ingrid saam met haar man, Denver Vraagom, oudste d
Ingrid saam met haar man, Denver Vraagom, oudste dogter, Skye, en Hannah.

Veg teen boelies

In ’n tyd waar soveel mense hul geliefdes weens Covid-19 verloor, is Ingrid ook ongelooflik dankbaar dat sy hierdie spesiale oomblikke met haar gesin kan beleef en dat sy nog die mense naaste aan haar het. Dít is wat vir haar saak maak. Dit is hoekom dit vir haar verstommend is dat mense in ’n tyd soos hierdie nog die tyd en krag het om lelik te wees met ander. En dis veral wanneer vroumense mekaar afkraak dat dit Ingrid ontstel, want vir haar is daar belangriker goed in die lewe.

“Dit maak seer as hierdie kommentaar van vroue afkom, want ons ken die druk wat reeds op ons geplaas word oor hoe jy lyk. Ek maak meisiekinders groot, so toe ek opstaan teen die boelies, was dit nie net vir myself nie, maar ook vir ander, want dis nie net oor my wat mense iets sê nie,” sê sy.

Ingrid vertel sy het al aaklige stories gehoor van mense wat hulself seergemaak het omdat hulle geboelie word. Daarom is dit vir haar belangrik dat ouers en volwassenes oor die algemeen besef hulle moet die voorbeeld vir kinders stel oor hoe jy met jou medemens moet omgaan. Want, meen sy, as jy as volwassene sê van mense wat jy wil en ander seermaak, kan ’n 15-jarige byvoorbeeld ook dink dis oukei om dit te doen.

“Kommunikasie is baie belangrik. Die kinders sien by die huis dis oukei om dit of dat te doen. Ouers moet baie bewus wees van hul eie optrede. Die boelie en hul slagoffer moet ook ’n gesprek hê (om uit te vind hoekom dit gebeur),” sê Ingrid. Dit is hoekom sy betrokke geraak het by Project Braveheart, wat haar gekontak het kort nadat haar post viral gegaan het. Dié organisasie fokus op bewusmakingswerk van cyber-bullying en enigiets wat verband hou met boelie. Dis vir Ingrid ’n hartsaak en sy is bly sy is betrokke.

As vroue het ons ’n stem wat ons moet gebruik.
Ingrid

“Maiveen Boeheme is die dryfkrag agter Project Braveheart en het hierdie NPO gestig omdat sy ook ’n slagoffer van bullying was. Die doel van die projek is om ’n omgewing te skep waar enigeen kan opstaan teen afknouery en alles wat daarmee gepaardgaan. Ek is ontsettend verheug om ’n ambassadeur en deel te kan wees van Project Braveheart,” sê Ingrid.

Sy raai ook enigeen wat geboelie word of as jy iemand ken wat geboelie word, aan om ’n e-pos te stuur na info@projectbraveheart.co.za. Omdat sy weet wat aangaan en dit self ervaar het, maak dit ook vir Ingrid bang dat sy meisiekinders grootmaak in ’n tyd waar sommige mense niks daarvan dink om iemand anders, van agter ’n skerm, af te breek en te verneder nie. Maar sy glo daar is iets wat ouers daaraan kan doen.

“Ons meisies moet hul waarde ken. Daar is waarde aan wie ons is en hoe ons lyk. Ek sê altyd vir Skye: ‘Verbeel jou hoe vervelig dit sou gewees het as ons almal perfek was en dieselfde gelyk het.’ Pa’s van meisies moet ook hierdie gesprekke met hul dogters hê en hul waarde bevestig,” sê Ingrid.

Sy meen voorts ons as ouers is so skerp gefokus daarop om ons kinders te beskerm, terwyl kinders tog in staat is om op hul eie bene te staan as ons hulle die ruimte gee om hulself te vind en te leer om hulself te laat geld. Sy voel ouers moet dalk meer fokus op positive reinforcement. Maar weg van dinge wat verkeerd is in die wêreld, is Ingrid se hart gevul met soveel dankbaarheid omdat dit andersins baie goed gaan met haar.

“Ek en Denver kry amper elke dag boodskappe van so en so wat oorlede is weens Covid, daarom is my familie en dié wat lief is vir my, wat regtig saak maak. Ek het nog my man, my kinders, my ma, my twee susters en boetie en my vriende.”

Ingrid Paulse
Ingrid Paulse

Op die stel

By die werk gaan dit ook goed, want Ingrid werk ook nou agter die Laan se skerms. Hieroor sê sy dis ’n skill wat sy nie gedink het sy het nie. “Toneelspel is my eerste liefde, maar ek wou ook dit (regiewerk) doen. Ek het opleiding gedoen daarvoor, maar dit gelos, want as jy nie woorde leer nie, script jy. Nou doen ek albei en is mamma tussen-in. Denver is self ’n regisseur en hy help my baie.”

Ook hierdie is vir haar ’n nuwe, opwindende hoofstuk omdat 7de Laan vroeër vanjaar hul 5 000ste episode gevier het en Ingrid vanaf die eerste episode deel was van hierdie gewilde Afrikaanse sepie. Sy lag voordat sy sê die plan was nooit om so lank te bly nie, maar sy voel baie geseënd om al vir so lank deel te kon wees daarvan.

“Ek dink ’n sepie soos 7de Laan kan vir mense daai lig in hul lewens wees waar hulle vir ’n rukkir net kan fokus op iets anders en as gesin kan saamkyk en die nostalgie geniet.”

SABC2 het ook onlangs aangekondig dat 7de Laan vanaf 5 April slegs drie dae per week (Maandae tot Woensdae) en nie meer vyf dae per week, uitgesaai gaan word. Dis om plek te maak vir ’n nuwe Afrikaanse telenovela wat Donderdae en Vrydae ook in die 18:00-tydsgleuf uitgesaai gaan word. 7de Laan se publisiteitspan het kykers egter in ’n verklaring verseker dat hulle steeds “relevante, leersame en vermaaklike inhoud kan verwag”.

Ons meisies moet hul waarde ken. Daar is waarde aan wie ons is en hoe ons lyk.
Ingrid

Die sepie beloof voorts storielyne vol “inspirasie, humor, drama en liefdeskonneksies wat jou aan die praat gaan hou”. Ingrid erken sy is so ’n bietjie hartseer dat hulle nou net drie dae per week op die kassie gaan wees, maar sê dit gaan haar nie keer om haar beste te lewer nie. Ja, Ingrid se bord is vol en sy erken sy het ook soms dae waar sy nie weet of sy kom of gaan nie. “Maar dis hoekom ek weer sê God het ons vroue iets spesiaal gegee, so laat ons daar wees vir mekaar en mekaar opbou en nie afbreek nie . . .”

* Foto’s: Zikhona Mnyani en verskaf

* Stilis: Ashlin Naundorf

* Hare: Izelle Bodenstein

* Grimering: Elzette van der Schyff

* Bykomende bron: www.southafrican.com

Meer oor:  Ingrid Paulus  |  Kuier  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.