Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Beurs gee hoop vir bruin meisies
18 Februarie 2021


Hulle streef daarna om die lewens van bruin meisies regoor Suid-Afrika te verbeter. Om hulle te bemagtig, te befonds en op te voed, en die belangrikste, om hulle te leer om hulself te versterk, hul stem te gebruik in die samelewing en om mekaar op te bou en nie af te breek nie.

Dít is hoe Geraldine Engelman (57), oorspronklik van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte, die For Coloured Girls Bursary Foundation, beskryf. Sy is een van die stigterslede en dryfkrag agter die organisasie juis omdat sy self die uitdagings as ’n bruin meisie vetterig ken. Met die intrapslag is dit duidelik dat Geraldine nie ’n vrou is wat doekies omdraai nie.

Sy sê bruin vroue moes vir veels te lank aan die agterspeen suig en dis hoekom dit vir haar so belangrik is om verandering in die lewens van veral bruin meisiekinders te bring. Uit persoonlike ervaring weet sy om bruin te wees, is opsigself ’n struikelblok, en om ’n vrou te wees soveel meer so.

Sy vertel geesdriftig dat sy as kind nooit regtig eintlik ingepas het nie. “Ek het nie die tipiese description van ’n coloured meisie gehad nie – ek is donker van kleur met ’n bril en needless to say het ek nie gladde hare gehad nie. As gevolg hiervan het ek vir een of ander rede nie baie vriende gehad nie. Indien meisies my in hul vriendekring sou toelaat, moes ek eers hul huiswerk vir hulle doen.”

Geraldine, wat 25 jaar gelede Johannesburg toe verhuis het, meen dit is juis om dié rede dat sy al haar aandag op haar skoolwerk en politiek toegespits het. “Ek het vroeg al besef dat die enigste ding wat my in die lewe gaan help, is om te leer. My neus was konstant in die boeke.”

Sy het ook aan ’n trade union movement behoort en was aktief by die politiek betrokke. “In graad 11, ek kan nie presies onthou watter jaar dit was nie, was daar riots en ek was meer in die politiek betrokke as by skoolwerk en toe druip ek.” Sy lag lekker voor sy sê dat die nuus haar tot in haar diepste wese geskok het. “Ek kon dit eenvoudig nie glo nie. Ek? Druip? Nee! Opgee was egter nie ’n opsie nie en die daaropvolgende jaar het ek maar net weer my sakkie gepak en gedruk vir punte.” Geraldine se ma en pa het geskei toe sy in graad 4 was en haar pa het haar alleen grootgemaak.

“Dit is ook hy wat my geleer het knowledge is power en hy is die een wat my aangemoedig het.” Sy onthou ook een onderwyser wat haar onder haar vlerk geneem het. “Sy het potensiaal gesien in my skrywe en aangeraai dat ek Engels op hoër graad moet neem. Sy het letterlik my mentor geword en ek glo dit is hoekom ek in my matriekjaar ook harder gewerk het. Ek weet regtig nie wat ek sonder daai vrou sou doen nie.”

Ná sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy weer by die politiek betrokke geraak. “Dit het my weer die geleentheid gebied om te reis. Ek was na die buiteland en oral in Suid-Afrika.” Jare later het sy toe as shop steward in ’n fabriek begin werk. “Ek het sommer dag- en nagskof gewerk en dan net sekere dae afgevat om te rus. Tot vandag toe weet ek nie hoe ek dit reggekry het nie, maar ek het.”

Dit is ’n program waar ons nie net finansieel nie, maar ook emosioneel en fisies met die meisies werk.
Die meisies wat deel is van die program, kry ook hulpbronne soos rekenaars.

Voorsien hulpbronne

Ná jare se afsloof het Geraldine uiteindelik genoeg geld gespaar om vir haar eie studies te betaal. Sy vertel trots hoewel sy eers etlike jare ná matriek universiteit toe kon gaan, het dit haar nie minder opgewonde laat voel nie.

“Ek het Adult Education by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer en het ná klas ook gewerk net sodat ek my studies verder kon befonds.” Dit is omdat Geraldine weet hoe moeilik dit is om uiteindelik graad te vang dat sy besluit het om die For Coloured Girls Bursary Foundation te stig.

“Die organisasie is in Oktober 2019 begin. Dit is iets wat ek lankal wou begin het, maar daar was uiteindelik meer tyd op hande om my aandag daaraan toe te spits.” Só baie glo sy aan die foundation dat sy haar hand diep in haar eie sak gesteek het om dit te befonds.

“Ek het in Augustus verlede jaar (2020) my werk verloor en die geld gevat en dit in die meisies belê. Ek is tans die enigste belegger, maar ons kry donasies en het onlangs 10 laptops van Food Lover’s Market ontvang wat die kinders ontsettend baie gaan help.”

Die doel van For Coloured Girls Bursary Foundation is om ondersteuning en hulpbronne te bied aan meisiekinders van graad 8 tot graad 12 wat in minderbevoorregte bruin gemeenskappe woon. Die ondersteuning en hulpbronne word gebied in die vorm van mentorskap, leer- en ontwikkelingsinisiatiewe, sielkundige en finansiële hulp vir diegene met die potensiaal en passie om hul akademiese kwalifikasies te bevorder.

Dit is ’n organisasie sonder winsbejag en is 2019 gestig met twee ander stigterslede, Lwandle Tshabalala en Olivia Erasmus, wat albei ’n passie en belang het om te verseker dat die jeug na sukses streef en die beste hulpmiddels en hulpbronne het om hulle te help om hul doelwitte te bereik. Geraldine verduidelik die grootste dryfveer agter die organisasie is om generational curses te verbreek.

“Vir veels te lank moes ons meisiekinders ná skool gaan werk omdat hulle nie kon bekostig om te gaan studeer nie. Hulle moes hul drome opgee om vir hul gesinne te sorg. Ons wil daai siklus verbreek. Jy kan steeds gaan werk en vir jou gesin sorg ná jy jou drome nagejaag het en die nodige kwalifikasies ontvang het.” Dan verklaar sy trots: “Dit is ’n program waar ons nie net finansieel nie, maar ook emosioneel en fisies met die meisies werk. Ons leer jou bestuur, om te gaan vir papsmere en wanneer en hoe om te apply vir universiteit. Ons dek alles omdat ons vir ons meisiekinders die geleentheid wil gee om hulself op alle vlakke op te voed. Om trots te wees op wie hulle is en waarvandaan hulle kom.”

Doen aansoek

Die aansoeke om deel te wees van die For Coloured Girls Bursary Foundation, het reeds in November oopgemaak en sluit vandeesmaand. “Doen aansoek – jy sal nooit weet indien jy nie probeer nie. Ons aanvaar aansoeke van regoor die land, of jy nou in Port Elizabeth, Johannesburg, Bloem of Kaapstad is. As jy uit ’n agtergeblewe gemeenskap kom, kwalifiseer jy om gekies te word.”

Daar is tans 10 meisies deel van die program en Geraldine hoop dat die getalle nog sommer geweldig gaan groei. Met ’n glimlag wat van oor tot oor strek, sê Geraldine: “Jou omstandighede en waar jy nou is, kan nie bepaal waarheen jy op pad is nie. Ja, dis ’n cliché, maar dis die reine waarheid. Moenie jou drome beperk net omdat iemand vir jou sê jy droom te groot nie. Jy ken jou vermoëns en as jy dit droom, kan jy dit beslis doen!”

Meer oor:  Bemagtigingskema  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.