Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Leerder grawe grafte vir inkomste
1 April 2021


Gustav Appels (19) se Facebook-blad sê die volgende oor hom: “Ek is alleen, liefdevol, hardwerkend en op die leerlingraad by Hoër- skool Parkdene en ‘I’m a Jesus follower’.”

Dié jong leier van Borcherds op die Suidkusdorp George weet dat die lewe nie op hom wag nie en dat Covid-19 almal armer maak. Daarom het hy uitgegaan om gedurende die afgelope Desember-vakansie ’n deeltydse werk te kry sodat hy van sy skoolgeld vir 2021 kan betaal en sodoende die finansiële druk by die huis kan verlig. Hy het ’n werk by Bas oftewel Burial Assistance Services gekry wat begrafnisdienste in die omgewing van George en rondom verskaf.

“Ek het nie omgegee watter werk dit was nie, die belangrikste was om vir die nuwe skooljaar te spaar en ook om die ander uitgawes by die huis en vir Ouma te help betaal,” sê Gustav.

Covid-19-begrafnisse

Dié indrukwekkende jong man met sy vriendelike geaardheid het by Samuel Juba, eienaar van Bas-begrafnisdienste, aansoek gedoen vir werk. Samuel het dadelik potensiaal in die knaap geëien en hom aangestel.

“Dit was moeilik gedurende die Covid-tyd, maar ek het net my kop neergesit en gewerk. Die ergste was om die families van die dooies te sien wat stukkend was van die pyn. Ek sou hulle bly aankyk en jammer kry, veral as die diens verby is en hulle wegstap vanaf die grafte,” vertel Gustav.

Volgens hom was dit erg om te sien hoeveel mense gedurende die tweede vlaag van Covid-19 gesterf het. “Dit was baie emosioneel, want dit kon my familie gewees het,” sê Gustav wat sy ouma Hendrieka se oogappel is. Tog sê hy hy wou nie eens dink dit kon sy ouma wees nie, want “ons is gelowige mense wat alles in God se Hand laat en ons bid die heeltyd vir beskerming.”

Gustav vertel voorts: “In die tweede vlaag van Covid was daar omtrent elf grafte ’n dag waarna ons moes omsien, dan moet ons manne opdeel om die kiste in die grafte te kry. Dit was baie bedrywig gewees, veral oor naweke.”

Ek wil my stories deel, sodat hulle (ander jong mense) kan dink hoe hulle hul gemeenskap ook vir ander beter kan maak.

Hy noem hy het geen opleiding gekry nie. Hy het by die ander werkers geleer en hard gewerk. Hy moes grafte toegooi, grafte grawe nog lank voor die begrafnis plaasvind, opvullings van bestaande grafte doen en nuwe grafstene plant. Volgens Samuel moet Gustav geprys word vir sy harde werk, goeie karakter, deursettingsvermoë en hoe baie hy geleer het in die moeilike wêreld van begrafnishou. Gustav moes die Covid-19-begrafnisse met handskoene en die hele beskermende uitrusting aan behartig.

“Sodra hy die kis in die afkatrolmasjien gesit en nóg voor die ondernemer dit laat sak het, het Gustav gaan ontklee en die klere in ’n spesifieke rooi sak gaan gooi om te vernietig. Dit was en is moeiliker as die gewone omstandighede om onder te werk.”

Gustav werk glo steeds vir dié begrafnisdienste oor naweke of wanneer sy skoolverpligtinge dit toelaat. Hy kon met die geld wat hy verdien het van sy skoolgeld van R300 betaal, geld gee vir sy sopkombuis, Bread of Life, en het sy ouma wat ’n pensionaris is, by die huis gehelp.”

Ouma sy pilaar

Ouma Hendrieka Jacobs se bors swel van trots as sy aan haar geliefde kleinseun se goeie werke in die gemeenskap dink. Sy sit vandag langs hom. “Ek sien hoe Ouma se trane val soos sy hier sit, maar dis oor sy baie trots is op my. Maar eintlik is baie mense trots op my in die gemeenskap,” sê die nederige dog selfversekerde Gustav.

Dié band tussen ouma en haar kleinseun is besonder liefdevol, vanweë hul manier om altyd staande te bly as die lewe se golwe woed en geliefdes kom haal. Gustav se pa is vroeg dood en sy ma, Corné, het gesukkel om na hom om te sien. Hy het op ’n driejarige ouderdom by sy ouma en oupa, Abraham, gaan woon. Abraham is sowat nege jaar gelede oorlede, wat ’n baie moeilike tyd vir die gesin was.

Gustav en ouma Hendrieka het ’n hegte band.

“Ek en my ma gesels nog, maar ons het nie die beste verhouding nie. Ons probeer daaraan werk.” (Gustav het ook ’n boetie van 14 en ’n sussie van 16.) “My ouma was ’n baie besige persoon, maar het nie haar werk voor haar kinders of kleinkinders gegooi nie. Ná my oupa se dood was dinge baie moeilik vir Ouma, maar ons as gesin het deurgedruk tot Ouma weer op die been kon kom.

“Dit was altyd net lekker by Ouma. Sy het my geleer hoe om tuin te maak, te bak en te kook – al die goed wat vroue normaalweg doen,” sê hy. Gustav was in Heidedal Primêr op laer-skool. “Die eerste dag van graad een het Ouma saam met my skool toe gestap.” In sy laaste jaar op laerskool (graad 7) het hy prefek geword en kon almal sien hy is ’n ware leier.

Vandag is Gustav op die leerlingraad van sy hoërskool. Volgens hom het die skool eers geweet van sy werk by die begrafnisdienste ná ’n storie wat in die media verskyn het. Gustav sê hy is nie besonder sterk in akademie nie, ook nie swak nie. Sy guns-telingvakke is toerisme, geskiedenis en godsdiens. Die uitdagings wat Covid-19 meegebring het, was tog ’n uitdaging vir die leier wat bereid is om groot te droom.

“Verlede jaar se skoolganery was moeilik vir my en ek daar was tye wat ek gedink het ek gaan dit nooit maak nie. Die jaar het so lank gevoel en ek het eintlik soms gedink ek wil net opgee. “Covid het al die aandag gekry, ’n mens kon nie eens regtig op jou skoolwerk konsentreer nie. Ons het ook nie rekenaars om aanlyn klas te gaan nie, ons maar kon darem notas gaan afhaal vir selfstudie, wat ons later moes inhandig.”

Begin sopkombuis

Tydens die streng 21-dae-inperking wat later langer geword het, het Gustav dadelik die nood van honger kinders in sy gemeenskap raakgesien en het hy die sopkombuis, Bread of Life, begin. Hy het die geld gebruik wat hy as skoolgeld gespaar het en vir sy matriekafskeid om die sopkombuis te begin. Ouma Hendrieka het ook van haar pensioengeld vir die sopkombuis gegee.

Verder het Gustav donasies uit die gemeenskap gekry wat hom en sy ouma met die sopkombuis wou ondersteun. Aanvanklik het sy sopkombuis klein begin. Dit het later so gegroei dat hulle 200 – 300 kinders en volwassenes tydens die streng inperking gevoed het, maar nou bedien hulle 100 – 120 mense. Hy werk ook saam met Gregory Noble, ’n bekende musikant in die gemeenskap, wat fondse vir die sopkombuis insamel en bestuur.

“My groot droom is om die sopkombuis uit te brei en meer met jong mense te werk. Ek wil my stories deel, sodat hulle kan dink hoe hulle hul gemeenskap ook vir ander beter kan maak,” sê Gustav.

“Al wat ek nog wil sê, is dat jy nooit moet opgee in dít waarin jy glo nie. Al sê mense hoeveel keer “nee” vir jou, gaan op jou knieë en glo dit gaan gebeur. As jou droom jou nie bang maak nie, is dit nie ’n ware droom nie. As jou droom jou bangmaak, weet jy dit is ’n ware droom. So, droom groot.”

Vir nou spaar hy vir ’n pak vir sy matriekafskeid en wil hy eers in die verkeersdiens werk, voor hy ’n prokureur of advokaat word. Dié jong man ken van hard werk en met sy aansteeklike wil om te lewe en ywer om sy gemeenskap te help, is sukses duidelik op sy horison!

Meer oor:  Kuier  |  Ware Inspirasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.