Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Man voorsien mense van kos en boeke
10 Junie 2021


Toe Jason de Vries (30) in Mei verlede jaar op Facebook smeek om kos en hulp, het hy nie in sy wildste drome gedink dat dit juis sy swaarkry sou wees wat die swaarkry van ander sal verlig nie.

Dié man van Happy Valley op die Kaapse Vlakte, het soos duisende ander in die hartjie van hard lockdown sy werk verloor en sy hongerte het hom gedryf om op sosiale media bakhand te staan om die mae van sy familie te vul.

’n Skenking van R10 000 het nie net ’n ommeswaai in Jason se lewe beteken nie, maar ook in dié van vele ander. Sedertdien maak dié jong man dit sy werk om armoede te verlig ten spyte van die houe wat die lewe al na sy kant toe gegooi het. Met die intrapslag kom ’n mens onmiddellik agter dat Jason self ’n paar storms van sy eie moes trotseer en dis juis om dié rede dat hy voel dis sy roeping om ’n verskil te maak in die gemeenskap.

Jason het gedurende die inperking ’n food drive begin, waar hy kospakkies aan behoeftiges uitdeel en hy bestuur ook ’n voedingskema vanuit sy woning in Happy Valley. Hy het intussen ’n gedeelte van sy woning omskep in ’n biblioteek waar kinders ook hul breinkos op die regte tyd kan kry. Jason vertel hy ken van swaarkry en dit is hoekom dit vir hom so belangrik is om terug te ploeg in sy gemeenskappe.

Toe hy jonk was, was sy verhouding nie goed met sy ma en haar boyfriend nie. “Op die ouderdom van 16 het ek die huis verlaat omdat ek nie meer in daardie omstandighede wou wees nie. Ek het nêrens gehad om heen te gaan nie en het op die straat gaan bly. Ek ken van honger gaan slaap, ek weet wat dit is om jou laagste punt te bereik, in die koue te slaap en daai hongerpyne weg te bid.”

Dit is hoekom dit vir Jason so moeilik was toe hy verlede jaar sy werk verloor het. “Ek wou nie teruggaan na daai plek in my lewe nie. Ek het hard gewerk om te verseker dat my kinders nie dieselfde pad moet stap as wat ek moes nie.” Jason is die pa van twee kinders. Hy is intussen ook in die proses om nog ’n kind aan te neem wat voorheen in die bos gebly het met haar ma. Dié barmhartige samaritaan is ’n spray painter by trade en met sy werksverlies het hy nie geweet waar sy hulp vandaan sou kom nie.

Sy koskaste was leeg en dit het gelyk of daar geen lig aan die einde van die donker tonnel was nie. In ’n laaste desperate poging het Jason ’n inskrywing op Facebook geplaas waarin hy om hulp gesmeek het. “Ek was op my laagste. My koskaste was dolleeg en ek het nie ’n sent op my naam gehad nie. Om te sukkel, is een ding, maar om honger te gaan slaap, is iets heeltemal anders. Om te weet dat jy nie vir jou familie brood op die tafel kan sit nie, is iets wat enige man tot die uiterstes kan dryf.”

Jason het ’n deel van hul huis omskep in ’n biblioteek en hy bedryf ook ’n voedingskema; die kinders kom om boeke te lees; en hulle kan ook hul huiswerk daar doen.

Deel sy seëninge

Ná die post het Jason verskeie donasies en kospakkies ontvang. Ook ’n skenker uit die buiteland het Jason gekontak. “Hy het aan my ’n boodskap gestuur en gevra waarvoor ek geld benodig. Toe ek hom inlig, het hy ’n R10 000 gestuur. Die geld was vir my gestuur sodat ek vir twee of drie maande my gesin kon onderhou, maar toe ek die geld ontvang, het ek besef dat ek dit moes terugploeg in die gemeenskap.”

Jason het oor die saak gebid en besluit om die daaropvolgende dag kospakkies te maak en dit aan bejaardes in minderbevoorregte gemeenskappe uit te deel. “Dit is altyd die kinders en bejaardes in ons gemeenskappe wat die meeste ly. Ja, my koskaste was leeg, maar dit was belangrik vir my om seker te maak dat ek iemand anders se lewe ’n bietjie beter kon maak.”

Volgens hom was dit die Here se manier om hom te seën sodat hy ander kan seën. “Ek was verbaas, want dit was baie geld. Nadat ek nagedink het wat ek daarmee moes doen, het ek besluit om dit op ander te bestee. Ek het vir myself gesê dat dit God se seën is en Sy manier is om vir my te sê om die behoeftiges by te staan.”

Voor Jason sy oë kon uitvee, was die geld op en sy eie koskaste steeds leeg. “Ek het weer die man gekontak om hulp en hy wou weet waar die R10 000 is. Ek het hom vertel wat ek met die geld gedoen het en sonder om enige verdere vrae te vra, het hy nóg geld gestuur. En nóg. Tot op hede het hy meer as R100 000 gestuur om die lewens van ons mense te vergemaklik.”

Begin biblioteek

Behalwe kospakkies aan bejaardes uitdeel, bestuur Jason ook ’n voedingskema vir kinders vanuit sy huis. Dit is ook hier waar hy agtergekom het die kinders het baie meer nodig as net kos. “Wanneer ’n mens daar staan en na hulle luister, kan jy sien dat hulle meer benodig. Hulle het meer as net maagkos nodig. Ek het gevoel hulle het breinkos nodig.”

Iemand het ’n bakkie vol boeke aan Jason geskenk. “Die man oorkant die pad het my net eendag geroep en gevra of ek nie kinderboeke wil hê nie. Hoe toevallig is dit?” Hy is opgewonde oor die feit dat die skenking op so ’n gepaste tyd gekom het. “Ek het ’n gedeelte van ons woning omskep in ’n biblioteek en wanneer die kinders vir hulle kossies kom haal, kan hulle klaar eet, hul huiswerk doen en ’n boek lees.”

Ja, my koskaste was leeg, maar dit was belangrik vir my om seker te maak dat ek iemand anders se lewe ’n bietjie beter kon maak.
Jason saam met mense vir wie hy gehelp het met skenkings.

Jason se oë blink wanneer hy vertel hoe lekker dit is om te sien hoe die kinders die kos en biblioteek geniet. “Dit is nie altyd maklik nie omdat dit maar moeilik gaan met skenkings, maar wanneer jy die kindertjies se gesiggies sien en hul gelag hoor, besef jy dis die moeite werd en jy staan dan die volgende dag op en doen dit weer. Sukkel-sukkel, maar waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.” Jason is tans in Johannesburg omdat hy ’n werkie daar gekry het as spray painter. Sy verloofde en ma bestuur tans die voedingskema en biblioteek in sy afwesigheid. “Ek kon nie anders as om die stap te neem om ’n inkomste te genereer nie.

Die kinders moet eet en die geld moet van iewers kom. Sodra die job klaar is hier, sal ek terug wees waar ek hoort, maar vir eers moet ek harde klippe kou om te verseker daar is steeds kos vir die kinders en bejaardes.”

Hy is hoopvol dat die werk wat hy tans in sy gemeenskap doen, iemand anders sal inspireer om ook terug te ploeg. “Of jy een of tien mense se lewens verander, dit maak nie saak nie, maar begin net êrens. Jy weet nooit hoeveel lewens jy kan aanraak deur net jou hand in jou eie sak te steek en terug te gee nie. Wanneer ’n mens met ’n oop hart en hand lewe, sal ook jou hande gevul word.”

Enigeen wat skenkings wil maak, kan Jason kontak by 065 919 8397.

Meer oor:  Ware Inspirasie  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.