Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Inspirasie: Ontmoet nuwe hoof van Agri SA
29 Oktober 2020

Om seker te maak 58 miljoen Suid-Afrikaners het kos, is ’n 24-uur-per-dag-werk. Daarom het die hele land onlangs ’n sug van verligting geslaak toe Christo van der Rheede (56) as die nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA aangestel is.

Dit is die eerste keer in dié 116-jarige organisasie se bestaan wat ’n man van kleur dié leisels in die hand het. Christo is op die sendingstasie Goedverwacht in die Wes-Kaap gebore. Vandag woon hy en sy vrou, Merlyn, in Pretoria.

“Ons het aan die begin agter die bed weggekruip as die donderweer kom slaan,” lag hy uitbundig. Dit is moeilik om te dink ’n laerskool-musiekonderwyser staan nou aan die hoof van een van die belangrikste liggame in Suid-Afrika. Maar tog het hierdie ervaring, en eintlik sy hele lewe, hom toegerus vir hierdie belangrike verantwoordelikheid.

“Onthou nou, Agri SA is ’n verhoudingsbesigheid. Jy moet ’n verhouding het met die boere op die grond, met die regering, alle publieke en private leiers. Musiek en die vermoë om mense bymekaar te bring deur middel van koorsang kan mense in ’n rigting neem waar hulle in harmonie sing, en dit het vir my ’n wonderlike vermoë gegee om mense ook op ander vlakke bymekaar te trek in harmonie.”

As kind wou Christo ’n wetenskaplike of ’n wêreldberoemde konsertpianis word. Hy vertel in sy huis was daar altyd musiek en sy pa, ’n koorleier, het vir hom van al die groot musikante geleer. “Almal wat in die huis gekom het, het kom klavier speel of daar was koorsang of musiek. Van kindsbeen af was daar ’n baie sterk gemeenskapsin en ’n sin vir nasiebou, vir reg en geregtigheid – om hierdie goed wat ons uitmekaar uit hou, daai grense oor te steek en vir mense te sê ‘kom ons vat hande en sit die verskille opsy’. Want ons as mens het mekaar nou meer as ooit tevore nodig.”

Christo vertel sy oupa het ’n plaas en ’n winkel gehad en vandaar het hy nog altyd ’n groot liefde vir die natuur gehad en ook geleer van besigheid. “Ek dink die saadjie was daar geplant en ná ’n paar jaar in die onderwys wou ek gaan kyk hoe lyk die besigheidswêreld.” Christo het daarna onder meer ’n meestersgraad in publieke beleid en adminis-trasie verwerf en vir die groter deel van sy indrukwekkende loopbaan in uitvoerende bestuursposisies baanbrekerrolle gespeel wanneer dit kom by die regruk van opvoedkundige, kulturele en besigheidorganisasies.

Ruk land reg

“Die wetenskap, die musiek en die besigheidswêreld kom bymekaar omdat die musiek die harmonie verteenwoordig, besigheid verteenwoordig vir my die winsgewendheid, werkskepping en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar die natuur (of die wetenskap) herinner my daaraan dat alles wat ons doen, altyd volhoubaar moet wees. Ons kan niks doen ten koste van die natuur nie.”

In ’n tradisioneel wit wêreld het Christo sy vermoë om verhoudings te bou, tot sy voordeel gebruik. “Aan die begin was daar ’n vreeslike vasklou aan hoe dinge gedoen is in die verlede, maar met die hulp van mense soos ou Theuns Eloff en ’n klomp groot wit sakeleiers, kon ek verbasend maklik in daai omgewing aanpas.”

Vir Christo het die landboubedryf geweldig getransformeer oor die laaste paar jaar. “Baie mense het hande gevat om landbou na die volgende vlak toe te neem. Dis krities, want ons is ’n groeiende bevolking en as dit nie vir landbou was gedurende die lockdown nie, sou ons mense op grootskaal honger gely het. Dit is vir my belangrik dat almal moet besef dat sonder landbou is ons land gedoem.”

Ons moet nou ’n welvarende, vreedsame Suid-Afrika begin vestig wat ’n tuiste is vir almal, met een doel voor oë – om mekaar van diens te wees.
Christo van der Rheede

Hy verduidelik daai pligsbesef is deel van landbouers se DNS. “Ons kan nie toelaat dat mense ons boere op een of ander wyse se integriteit en toewyding so ondermyn nie.”

In sy ervaring is die Suid-Afrika wat die media uitbeeld en dit wat werklik op die grond aangaan, twee verskillende plekke. “Mense is werklikwaar besig om hande te vat. Daar is samewerking en wedersydse vertroue op grondvlak. Ja, hier en daar is daar nog gevalle van rassisme, maar oor die algemeen is ons al baie ver af in die pad as ander lande wanneer dit kom by diversiteit. As ons hierdie in ’n ongelooflike land wil verander, moet ons begin hande vat en mekaar die nodige respek betoon.” Vir hom lê die land se grootste probleme eerder in misdaad.

“Ons moet hierdie probleme begin aanspreek eerder as om met mekaar besig te raak. Plaasaanvalle vind plaas op wit, bruin en swart boere en plaaswerkers. Dis onaanvaarbaar en dit mag nie gebeur nie. Net so die aanvalle van bendes op die Kaapse Vlakte, die taxi-oorlog, politieke aanvalle in KwaZulu-Natal, verkragtings van babas . . . Liewe vaderland! Waarheen is ons op pad as ons hierdie dinge toelaat?

“Dis een ding vir die president om ’n nuusbrief uit te bring, maar ons wil aksie sien op grondvlak! Ons kan nie meer toelaat dat mense wegkom met moord nie. Dat mense wat deur die staat betaal word, nie hul werk doen nie . . . Polisiestasies moet 24 uur ’n dag beman word en die publiek beskerm – dan gaan die publiek begin hande vat met die polisie. Maar hoe kan jy hande vat met iemand wat korrup is? Dieselfde met skole, munisipaliteite en in hospitale – dis nonsens!

“Hulle moet van mense ontslae raak wat nie hul werk doen nie en die beste mens vir die werk aanstel, of jy nou pienk, groen, wit of geel is,” gesels Christo passievol. “Die beste mense verlaat ons land omdat hulle nie meer veilig voel nie. Besef niemand ons is besig om op ’n helse ramp af te stuur nie?” Nog iets wat hom warm onder die kraag het, is grondonteiening sonder vergoeding.

“Jy kan mos nie ’n werkende plaas by iemand vat sonder om vir hom iets te gee nie. En al die korrupsie wat daarmee gepaard gaan, kaap die hele proses wat kan lei tot grootskaalse verhongering, soos in Zimbabwe. Wat baie mense nie besef nie, is al wat ’n goeie boer doen, is sy goed pak en weer gaan boer in ’n ander land. Jy kan nie iemand van die straat af vat en van hom of haar ’n boer maak nie. En as ons hierdie geslag boere verloor, gaan ons groot probleme hê.

“As grond net links en regs uitgedeel word, maar daar is nie boere met kundigheid nie, het ons baie groot moeilikheid vorentoe. Die boere doen eintlik die staat ’n baie groot guns deur kos te produseer en tydens lockdown het hulle duisende mense gevoer uit hul eie sakke. Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste vlakke voedselsekerheid, ’n gesofistikeerde verspreidingsnetwerk en die goedkoopste kos ter wêreld.”

Volg die here se pad

Wanneer jy iemand met soveel passie en wysheid hoor praat oor kwessies wat ons almal kwel, kan jy amper nie help om te hoop dat sy pad hom tot in die parlement sal lei nie.

“Die Here het ’n pad vir ons almal en as jy Hom nie gehoorsaam nie, sal jy gestraf word. Ek sal nou maar eers werk aan hierdie taak wat Hy vir my gegee het en dan die volgende een met passie en ywer aandurf. Of dit is om president te wees, kan ek nie nou sê nie,” verduidelik hy opreg. Vir hom is dit eerder belangrik dat mense vir hulself begin sorg en opstaan.

“Ons moet nou ’n welvarende, vreed- same Suid-Afrika begin vestig wat ’n tuiste is vir almal, met een doel voor oë – om mekaar van diens te wees.” Vir Kuier-lesers is sy boodskap: “Skud die slagoffer-mentaliteit af. Kom bymekaar as ‘n gemeenskap en skep eie welvaart. Die geheim is ekonomiese organisasie – sit jul geld bymekaar en belê in klein besighede, koop ’n plaas . . . Begin om jul eie ding te doen. Moenie so afhanklik wees van die staat nie. Tweedens: ons kan die verlede blameer vir alles wat verkeerd is, maar die toekoms is in jou eie hande . . .”

Meer oor:  Kuier  |  Christo Van Der Rheede  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.