Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Joernalis vertel hoe bipolar geliefdes raak
15 April 2021


Wanneer mense my vir die eerste keer ontmoet, ervaar hulle my as ’n spontane, lewenslustige, ekstrovert – ’n oop boek vol energie. Maar agter my breë glimlag en uitspattige lag skuil ’n donker geluk-steler wat jy nie met die oog kan sien nie. Depressie en bipolêre gemoedsteuring . . .

Dit beteken ek het min of geen beheer oor my emosies nie en dit ry gedurig wipplank. Ek kan vinnig op my perdjie spring en alles en almal kan my soms irriteer.

Tarren-Lee Habelgaarn voordat sy hulp gekry het. Sy sou enige plek en tyd begin huil.

Dan is ek ook geneig om waaghalsig op te tree. Dan is daar tye wat ek emosieloos voorkom en net alleen wil wees. Ek sukkel ook dikwels met selfmoordgedagtes. Mense wat sukkel met hul mental health, voel dikwels asof hulle alleen die stryd moet aansê en dat niemand werklik hul stryd verstaan nie.

En al is dit inderdaad jóú fight, kan dit ’n vernietigende uitwerking hê op jou verhoudings met die mense naaste aan jou. Ek en my geliefdes was geen uitsondering nie. Ek worstel sedert 2012 met depressie toe ek my tweede jaar op universiteit begin het. Ek het joernalistiek geswot en deeltyds vir ’n gemeenskapskoerant gewerk.

My werk het my van tyd tot tyd genoop om gevaarlike woonbuurte te besoek. Op ’n dag het die ergste gebeur toe rowers my by ’n verkeerslig aanval en ’n vuurwapen teen my kop druk. Dit het vir maande ná die voorval by my gespook, totdat ek heeltemal beheer oor my emosies verloor het. Boonop was ek in die bestek van drie maande in drie motorongelukke.

My ouers en kollegas kon sien iets is fout, maar hulle het nie geweet hoe om my te help nie. Toe alles net te veel raak, het ek vir die eerste keer ’n sielkundige gaan sien en is met PTSD (posttraumatiese stresversteuring) en angstigheid gediagnoseer. Ek was ook vasgevang in ’n depressiewe episode. My sielkundige wou my in ’n kliniek laat opneem, maar ek wou nie.

Ek was bang oor wat mense sou sê en ek was veral bang oor wat my ouers sou dink. My ma het nie gedink die behandeling is nodig nie en my pa het gemeen dis alles net in my kop. Daarna was ons verhouding vir ’n tyd lank ongemaklik, want ek wou nie wys wanneer ek sukkel nie. Om eerlik te wees, was ek destyds verlig dat ek nie kliniek toe is nie, “want daai is mos vir mal mense”.

En daai is nie ek nie! Ek was egter op antidepressante (pille vir angstigheid) en my sielkundige sessies het gehelp sodat ek ná vyf maande se behandeling vir die volgende agt jaar sonder enige medikasie of sielkundige behandeling oor die weg kon kom.

Ek het al hoe meer oor my dood begin fantaseer en my geliefdes en vriende weggestoot. Dit het my ouers baie bekommerd gemaak.

2020 verander alles

Toe kom 2020 en verander my lewe handomkeer. As sosiale mens het ek my vryheid en die sosialisering met ander mense verskriklik baie in die grendeltyd gemis. Ek het dit gehaat om in die huis vasgekeer te wees, veral toe ons met lockdown ook nog van die huis af moes werk.

Boonop word my familie toe die een ná die ander met Covid-19 gediagnoseer en selfs ek het baie siek geword (maar nie weens Covid nie). Dit was ’n moeilike en vreesaanjaende tyd. Die kersie op die koek was Augustus laasjaar toe ek my werk verloor het. Dít terwyl ek ook in ’n baie moeilike romantiese verhouding was.

Weer het my emosies my versmoor. Ek het nie meer moeite gedoen om my hare te kam of om mooi klere aan te trek nie. Ek het gewig opgetel en niemand in ons huis kon my emosies hanteer nie.

Die een dag het ek met almal gelag, die volgende dag moes almal wye sirkels hom my loop. Dis moeilik om saam met iemand te woon wat met ’n geestestoestand worstel. Jy haal al jou deurmekaar emosies op die mense rondom jou uit.

Eerstens omdat jy nie weet wat om daarmee te maak nie en tweedens omdat dit net makliker is om iemand anders daarvoor te blameer as om te erken dat die probleem by jou lê. Ek en my familie het baie gestry.

As hulle met my probeer gesels het of raad wou gee, was ek altyd gereed om iemand te hap. Jy raak baie defensive, al weet jy jy is verkeerd. Ek het gevoel hulle judge my en wou niks daarvan hoor nie. My jonger suster het die ergste deurgeloop en ek het haar dikwels verbaal afgebreek en beledig.

Ek is nie trots daarop dat ek my familie so seergemaak het nie, maar ek het min beheer oor my emosies gehad. Ek het al hoe meer oor my dood begin fantaseer en my geliefdes en vriende weggestoot. Dit het my ouers baie bekommerd gemaak, juis omdat ek so ’n sosiale mens is.

Tarren-Lee is nou op ’n beter plek in haar lewe.

Kry hulp by kliniek

Ek het eendag net onophoudelik begin huil en besluit om weer my sielkundige te gaan sien. Ná twee sessies is ek met erge depressie en angs gediagnoseer. Weer is die idee van ’n kliniek voorgestel en hierdie keer was ek so desperaat om beter te voel, dat ek nie omgegee het wat mense van my dink nie.

Ek het laasjaar een Vrydagoggend in Oktober “verdwyn”. My ouers het my by ’n psigiatriese kliniek in Claremont in die Kaap gaan aflaai en ek het almal behalwe my ouers se nommers geblok. Ek wou nie aan mense verduidelik hoekom ek so stil is nie. Ek was skaam, maar het geweet ek het die hulp nodig en was drie weke lank in die kliniek.

Daar het ons daagliks individuele sessies, groepsessies, kreatiewe sessies en oefensessies gehad. Ons het baie meditasie gedoen en elke sessie was daarop gerig om jou weer gemaklik in jou eie lyf te maak. Die doel was om jouself weer te leer ken en lief te hê. Jy leer ook hoe om negatiewe emosies te identifiseer en agter die ware kap van die byl te kom. Ek was aan die begin baie verskimmel en het myself eenkant gehou. Ek het glad nie met mense gesels nie en in die eerste week net uit my kamer gekom om ’n sessie by te woon of om te gaan eet.

In die eetsaal het ek ook op my eie gesit. My selfvertroue was weg en dit het ’n rukkie gevat voordat ek mense begin vertrou het. My psigiater het my toe ook met bipolêre gemoedsteuring gediagnoseer. Ná drie weke in die kliniek het ek beter, maar bang gevoel. In die kliniek is jy saam met mense wat verstaan waardeur jy gaan, maar buite moet jy die stukke van jou lewe probeer optel en jou toestand aan jou geliefdes probeer verduidelik, terwyl jy self nog onseker is.

My ma was veral verbaas deur die bipolêre diagnose. Sy het eendag vir my gevra wie dit veroorsaak het en of dit beteken dat ek mal is. Ek het net gelag en verduidelik dat ek soms baie depressief raak en ander tye weer te opgewonde.

Die medikasie wat ek gebruik, help dat my hormoonvlakke konstant bly, sodat ek nie te depressief of te opgewonde is nie. Hoewel ek meer na my ou self gelyk het toe ek die kliniek verlaat het, beteken dit nie my depressie is in my drie weke daar genees nie. Depressie is iets waarmee ek steeds sukkel en ek gebruik op die oomblik daagliks ses kalmeerpille (tranquillisers), twee pille vir die bipolar, ’n slaappil en ’n antidepressant.

Ek sien weekliks my sielkundige en het by ’n ondersteuningsgroep vir mense met geestestoestande aangesluit. My verhouding met my familie is deesdae baie beter. Hulle ondersteun my ten volle en doen wat hulle kan om my te help. Ons check baie meer in met mekaar en gesels meer oor hoe ons voel.

Maar dit is ook ’n aanpassing vir hulle, veral omdat ek steeds dikwels my humeur verloor en hulle soms voel asof hulle my nie kan aanspreek as ek onredelik optree nie. Die afgelope paar maande het vir ons almal geleer dat dit belangrik is om openlik met jou geliefdes te kan gesels; te respekteer dat almal nie dieselfde is nie en dat jou ervaring nie altyd iemand anders se ervaring gaan wees nie.

Maar bo alles – hê mekaar lief en wees geduldig. Ja, dit is baie werk om seker te maak dat jy geestelik gesond is, maar met die regte hulp en ondersteuning kan jy ’n vol en normale lewe lei.

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.