Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Jou kind: Hier is hulp om jul roetine te behou
18 Februarie 2021


Baie werkende ma’s gee sekerlik op Maandagoggend 15 Februarie ’n groot sug van verligting wanneer staatskole landwyd uiteindelik vir die nuwe skooljaar heropen, want dit beteken die lewe kan darem ’n klein bietjie na ietwat normaal – ouers werk toe en kinders skool toe – teruggekeer sodat hulle darem net hul gesonde verstand kan behou.

Maar die “normaal” waaraan ons gewoond was, is nou net ’n vae herinnering. Die realiteit is dat die “nuwe normaal” nou ons ware “normaal” geword het. Ná die uitstel van skole se heropening, is baie ouers dalk by die punt waar hulle net nie meer kan nie en net wil hê hul kinders moet weer in ’n roetine kom.

Dit was veral moeilik vir werkende ma’s om die kinders heeldag, aldag by die huis te hê aangesien hulle van die huis af moes werk te midde van die onsekerheid van wanneer skole ooit (en in watter formaat) gaan heropen. Boonop moes hulle ook rekening hou met die pandemie en watter invloed ’n derde of selfs vierde vlaag op hul kinders se veiligheid gaan hê en dalk ook kan lei tot strenger inperkingsmaatreëls. Wat dan?

Roetine & struktuur

Vir die eerste paar maande van die inperking was dit vir mense lekker om van die huis af te werk – jy kon meer tyd met jou geliefdes en kinders spandeer. Baie het egter nou ’n punt bereik waar balans ’n taai tameletjie geword het.

Gelukkig het Nikki Bush, bekroonde spreker, skrywer en ’n ouerskapkenner van Johannesburg, ’n interim game plan vir ouers en kinders uitgewerk om hul gesonde verstand gedurende dié tyd te behou.

Dié kenner sê prontuit dis tyd om goeie ou roetine toe te pas om tot ’n mate beheer te herwin asook om naweke en weekdae van mekaar te onderskei. Jenine Jooste (38) van Blackheath naby Kuilsrivier in die noorde van Kaapstad sê reguit sy sit met haar hande in haar hare weens haar huidige situasie. Sy het twee kinders (8 en 10) wat albei tans by die huis is.

“Natuurlik was dit aan die begin lekker, want ons kon lekker aktiwiteite doen as familie, maar ek het nou ’n punt bereik waar ek nie meer kan nie.” Dié ma vertel haar kinders bly honger en haar werkslading raak al hoe meer.

“Baie mense is afgelê waar ek werk en natuurlik moes ons wat oorleef het, ook nou hul werk doen. Nou moet ek heeltyd voor my rekenaar of op die telefoon sit en die kinders verg ook al hoe meer aandag.” Sy erken sy moes seker al ’n roetine uitgewerk het, maar dis makliker gesê as gedaan. “Ek kan dit net nie regkry om in roetine te kom nie. Ons eet in die oggende ontbyt en daarna plak ek my voor my lessenaar neer. En net wanneer ek in vergaderings moet gaan, begin die twee baklei. Ek dink ook die kinders is gefrustreerd en moeg van mekaar. Dit is ’n aanhoudende bakleiery.”

Volgens Nikki is roetine en die struktuur van ’n dag belangrik omdat dit ’n gevoel van voorspelbaarheid skep wat weer gevoelens van veiligheid bevorder. “Stel ’n paar basiese reëls in plek, aangesien ouers weer begin het, maar die kinders nog nie terug is skool toe nie.”

Sy verduidelik wanneer sy van roetine praat, verwys sy na wat gedoen moet word, wanneer dit gedoen moet word, hoe dit gedoen moet word en wat van beide ouers en kinders verwag word. “’n Gereelde roetine is ook ’n vorm van dissipline en stel dus grense. Dit hou alles bymekaar en om dié rede voel almal vei-liger en meer in beheer. Dit is ook nodig vir kinders om te weet wanneer jy werk. Dit is hoekom jy hulle kan blootstel aan screen time veral wanneer jy werk. Op dié manier fokus hulle op waarmee hulle besig is en jy kan sodoende fokus op jou werk.”

Op haar beurt sê Chevron Galant (32) van Stellenbosch sy werk van die huis af, maar sy het die rol van ma én onnie onder die knie. “Aanvanklik het ek ’n bietjie gesukkel om alles te balanseer, maar ek moes iets uitwerk om dinge vir my en die kinders (7 en 10) te vergemaklik.” Dit is ’n gelukkige Chevron wat vertel hoewel daar soms haakplekke is, is dit niks wat sy nie kan hanteer nie.

“Ek maak hulle soggens om 7:30 wakker en dan eet ons almal 8:00 ontbyt. Daarna kan hulle vir ’n uur doen wat hulle wil en dan begin ek my regmaak vir werk. Voor ek met my werk begin, deel ek hul daaglikse takies uit. Ek sit ook vir hulle elkeen snacks uit waaraan hulle kan peusel indien hulle voor etenstyd honger raak. Hulle kan my eers weer 12:30 pla wanneer dit tyd is vir middagete.”

Sy vertel wanneer die twee ’n bietjie geïrriteerd raak met mekaar, moet hulle ’n timeout doen. “Die een moet dan na hul kamer gaan en daar sy ding doen, terwyl die ander een in die TV-kamer is en dit werk. Hulle graviteer later self weer na mekaar, want ek dink ook hulle besef dit is lekkerder om saam te werk as ’n span as alleen.”

Berei goed voor

Nikki meen ook dis belangrik om vir kinders kosblikkies te pak omdat hulle jou op dié manier nie onnodig sal pla wanneer hulle honger is nie. “Ouers moet ook probeer om weer gereelde slapenstyd en opstaantyd in te stel. Ons liggaamsklok floreer eintlik van reëlmaat en beide ouers en kinders het baie slaap nodig om ’n normale dag die hoof te bied, om nie eens te praat van ’n ‘Covid-dag’ wat gevul is met die gebrek aan sekerheid, verskuifde skoolheropendatums, sterftes en vrees nie.”

Nikki volhard daarby dat niks beter is as struktuur en roetine om jou huishouding weer reg te ruk en aan die gang te hou nie. “Moenie vir die kinders belowe dat dinge terug gaan keer na normaal nie. Gebruik die vergelyking van ’n roller coaster ride – soms op en dan af, maar dit gaan wel tot ’n stilstand kom.”

• Besoek gerus Nikki Bush se webtuiste by nikkibush.com vir haar volle tienpunt-plan.

’n Gereelde roetine is ook ’n vorm van dissipline en stel dus grense. Dit hou alles bymekaar.

Kopkrap oor skool

Intussen het daar groot kommer by ouers, onderwysers en kenners ontstaan oor die ekonomiese impak van die pandemie en of dit nodig is om vanjaar soveel geld op duur skryfbehoeftes en skooluniforms te spandeer gegewe die veranderde omstandighede.

Met dié dat skole amper ’n maand later heropen, worstel baie ouers met vrae soos of dit nodig is om duur skryfbehoeftes te koop of moet hulle nie eerder belê in tablets en slimfone nie?

Prof. Jonathan Jansen, internasionaal bekroonde kenner in die onderwysveld en tans verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, sê skole en die departement van onderwys moet nie verdere spanning op ouers se reeds gespanne begrotings plaas nie. “Hulp moet nou liewer gebied word in verband met data en toestelle. Dit is tans die belangrikste en enigste verdelingslyn tussen bevoorregte en minderbevoorregte leerders.”

Hy brei uit dat eksklusiewe face to face onderrig iets van die verlede is. “Aanlyn onderrig is hier om te bly. Dis iets wat aangebring was deur die pandemie, maar daar sal toekomstige pandemies wees en om nie voorbereid te wees daarop nie sou onverantwoordelik wees.”

Jo-Ann Eksteen (51) van Eersterivier in die Kaap is al vir langer as 30 jaar in die onderwys en sê hoewel aanlyn onderrig die norm gaan word, gaan dit moeilik wees. “Waar ek skool hou, kan baie ouers nie eens daagliks ’n brood bekostig nie, wat nog te sê van data en slimfone. Daar is kinders in ons skole wat soms nie eens ’n pen het om mee te skryf nie.”

Sy erken die blootstelling aan tegnologie sal tot voordeel van almal wees, veral die jong mense. “Die vraag is net hóé daardie brug oorkom gaan word.”

Meer oor:  Dissipline  |  Kuier  |  Inperking  |  Ouerskap  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.