Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Journaling: Skryf en verwerk jou gevoelens
7 Januarie 2020


Om ’n joernaal te hou, is nie iets wat jy net doen om tyd te verdryf nie. Vir baie mense is dit ’n manier om hul stres te verlig en hul emosies te verwerk. Vir ander bied dit broodnodige gehaltetyd op hul eie met hul gedagtes. Kenners meen wanneer jy jou gedagtes en emosies neerskryf, is jy besig met ’n proses van selfrefleksie en organisering. Jy kry dus meer duidelikheid oor ’n situasie en jy is jou eie klankbord.

Wanneer jy dan met ’n vriend of familielid praat, het jy reeds oor die saak gedink en het jy meer duidelikheid oor verskeie opsies in ’n spesifieke uitdaging. Dit kan ook aan mense die geleentheid bied om hul eie stem te vind in omstandighede waar hulle baiekeer nie gehoor voel nie. Porcha Gordon (40) van Kaapstad sê sy journal al van kindsbeen af en sielkundig het dit haar al gehelp om baie struikelblokke te oorkom. “As kind was ek baie teruggetrokke en al waar ek myself kon wees, was wanneer ek skryf. Ek het selfs ’n song book gehad met lirieke van liedjies wat vir my betekenis gehad het. Ek pen al my gedagtes neer.”

Sy verduidelik voorts die hou van ’n joernaal help haar geweldig om stres te verlig en haar emosies te verwerk. “Ek kon al menige oplossing vir my probleme vind as ek lees wat my pla. Ek het in 2017 kanker gehad en terselfdertyd deur ’n traumatiese egskeiding gegaan. Ek was verpletter en het gevoel niemand verstaan nie. Om joernaal te hou, het my gehelp om te onthou wat ek moes doen en dit was ’n uitlaatklep vir my diepste rou emosies wat ek met niemand kon deel nie. Dit het gevoel ek praat met ons Liewe Vader en die antwoorde het somtyds vanself gekom.”

Journaling het my deur ’n baie moeilike 2017 gehelp toe ek op die punt gestaan het van selfmoord.

Porcha sê die hou van ’n joernaal het haar die geleentheid gebied om selfondersoek te doen en sodoende aan haarself te werk. “Ek journal oor alles – my emosies en vrese. Deesdae met tegnologie is alles vinnig en op die slimfoon kan ’n mens enigiets denkbaar doen, maar ek verkies die outydse neerskryf van gedagtes. Ek het altyd ’n swart boekie in my sak wat ek ook gebruik wanneer ’n reseppie in my kop opkom. Dit help ook sodat ek nie alles so oordink nie, want sodra my gedagtes neergepen is, voel ek stukke beter, dis soos om vir iemand te vertel van my denke en wat my pla.”

Derine Louw, ’n kliniese sielkundige van Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad, sê die sielkundige voordele om ’n joernaal te hou, is uiteenlopend. “Vir sommige mense gee dit ’n kans om die warboel in hul kop te orden en vir ander gee dit weer die geleentheid om hul kreatiwiteit te ontdek. Mense hou joernaal op verskillende maniere – van daaglikse gestruktureerde dagstukkies en refleksies, tot breinkaarte en tekeninge. Die grootste voordeel is sekerlik dat jy tyd met jou gedagtes en emosies spandeer, in ’n poging om jouself beter te verstaan en te leer uit ervaringe.”

Sy verduidelik wanneer ons oor ons ervaringe skryf – hetsy positief of negatief – is dit asof ons ’n baie deurmekaar kantoor regpak en sin maak van lewensgebeurtenisse. “Dit help ons om ons emosies beter te reguleer omdat ons die situasie of probleem agterna kon deurdink. Om terug te kyk in ’n joernaal, kan jou ook die geleentheid gee om te sien watter uitdagings jy al oorkom het en watter belangrike lewenslesse geleer is.”

Tyd vir jouself

Jeremy Dietsiso (27), ’n onderwyser van Blackheath in die Kaap, sê sy reis met journaling het begin toe hy op skool was. “Ek was in graad nege en ons het dit geleer in die Afrikaans-klas. Sedertdien het ek die waarde van journaling besef. Ná ’n moeilike dag is dit journaling wat my help reflekteer en om sodoende tot ’n sekere mate ontslae te raak van die dag se stres en angs.”

Hy vertel hy skryf oor sy dag se aktiwiteite en maak daardeur ook gebruik van die Bybel. “Dit gee my rigting wanneer ek bid en alles neerpen. ’n Diepe refleksie. Journaling het my deur ’n baie moeilike 2017 gehelp toe ek op die punt gestaan het van selfmoord. Toe die dokter antidepressante aan my voorskryf, het ek daai pille netso gevat en in die drein gegooi by die huis en dit was gebed en my daaglikse journaling wat my staande gehou het.”

Jeremy sê as hy nou terugkyk na sy geskrewe woorde van 2017 besef hy opnuut weer dat hy deur diepe waters is, maar dat hy dit gemaak het. “Vandag, drie jaar later, as ek na stukkies van daardie tyd lees dan kan ek regtig sê die pad was moeilik, maar ek het dit gemaak. Ek stel voor elkeen begin journal. Al begin jy met twee sinne elke aand. Begin net. Gebruik dit om aan jouself te werk, vir jouself.”

Om ’n joernaal te hou, kan ’n baie belangrike en nodige geleentheid wees om tyd met jouself deur te bring. Derine sê voorts jy moet met jou huismense deel dat hierdie jou tyd is om ongesteurd eenkant te wees en skeduleer dit in jou daaglikse roetine. Wees kreatief – selfs vyf minute is voordelig. Maak seker jy skryf in ’n plek met ’n stil en rustige atmosfeer. Maak vir jouself ’n lekker koppie tee of koffie of skink ’n glas wyn.

Wanneer ons ’n rustige atmosfeer skep om onsself in uit te druk, gee ons ons gedagtes vrye teuels. Daar is nie ’n resep of ’n regte manier om te joer-naal nie. Sommige dae sal jy bladsye vol skryf en ander dae een of twee sinne. Om joernaal te hou, help dat die emosies nie opkrop nie en daar dus minder spanning binne ons opbou. Jy kan ook jou geliefdes leer dat dit nie selfsugtig is om na hulself om te sien nie en dan te doen wat hulle kan om ander by te staan nie. Onthou jou joernaal is jou gedagtes en emosies – bêre dit op ’n plek waar jy weet dit is veilig en buite bereik van diegene wat jy nie sal wil hê moet dit lees nie, meen Derine.

Voordele

Volgens Positive Psychology se webtuiste is die hou van ’n joernaal vir enigiemand wat kan skryf. “Dit is ’n vorm van selfuitdrukking wat mense kan ophef en bemagtig. Deur net woorde op ’n bladsy te plaas, sal waarskynlik nie help om jou probleme te laat verdwyn nie, maar effektiewe journaling bied voordele wat jou help om jou probleme beter te hanteer.”

Daar is glo ’n klomp bewyse daarbuite oor die voordele en positiewe uitkomste van joernaalskryf. “In die algemeen dui die bewyse op die doeltreffendheid van joernaalskryf om mense te help om hul emosies te identifiseer en te aanvaar, hul stres te hanteer en die simptome van geestesongesteldheid te verlig.

Dit beïnvloed ook jou fisiese en sielkundige welstand,” luidens dié webtuiste. In ons gejaagde samelewing, voel mense skuldig om tyd op hulself te spandeer, maar onthou dit is belangrik dat jy na jouself ook omsien om sodoende daar vir ander te kan wees. Eie tyd help jou om weer asem te skep en die wêreld in die oë te kan kyk en dit is presies wat journaling jou kan bied!

Meer oor:  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.