Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Keer kwale: Raad vir mans oor issues wat pla
10 Junie 2021


Mans is geneig om kwale en pyne te ignoreer, veral wanneer dit voel asof dit ernstig kan wees, hoewel hulle dit nie sommer sal erken nie . . . In ’n 2015-studie deur die South African Men’s Health Society het hulle bevind Suid-Afrikaanse vroue leef gemiddeld ses jaar langer as mans. Volgens die studie is daar verskeie redes hiervoor, maar een van die belangrikstes, is omdat vroue mooier na hulself kyk en meer aandag aan hul gesondheid skenk.

“Kom wat wil, ek het nie tyd vir siekwees nie,” vertel Marlon Willemse (42) van Kaapstad. “My vrou karring heeldag aan my om vir check-ups te gaan noudat ek in my midlife is, maar ek het baie ander beter dinge om met my tyd te doen. Maar ja, ek kan voel die ouderdom begin so saggies in my ore fluister.”

Vir prof. Mutambirwa, hoof van die urologie-departement van die Dr. George Mukhari akademiese hospitaal in Pretoria, is dit niks vreemd om te hoor nie. “Baie mans se gedrag is meer riskant en hulle is minder geneig om mediese hulp in te roep. Inteendeel, vroue is vyf keer meer geneig om hul dokter te besoek as mans,” verduidelik hy.

Volgens ’n 2017-studie deur Statistieke Suid-Afrika is diabetes, long- en asemhalingsiektes, tuberkulose, vaskulêre siektes, hartsiektes, bloeddruksiektes, kanker en MIV/vigs die grootste oorsake van sterftes onder bruin mans. Baie van dié siektes is voorkombaar, of ten minste medies behandelbaar, as mans net bereid is om vir meer check-ups te gaan, meen mediese kenners. Kuier het gaan ondersoek instel oor van die grootste gesondheid-issues wat manlief kan aftakel.

Seksuele disfunksie

Teen 40 het amper 40% van alle mans al een of ander soort seksuele disfunksie ervaar. Dit kan insluit ’n afname in sy libido (sekslus), premature ejaculation of die onvermoë om ’n ereksie te kry. “Hierdie is ’n kwessie waaroor mans nie graag praat nie en sal gewoonlik eers allerhande ander verskonings en redes oorweeg voor hulle die bul by die horings pak,” vertel dr. Pienaar.

“Die vermoë om seks te kan hê, hang af van jou brein, hormone, senuwees en die penis se bloedtoevoer. Daar kan verskeie oorsake wees vir erektiele disfunksie, insluitend diabetes, prostaatkanker, rook en vaskulêre siektes.” Die behandeling hang af van die oorsaak, maar kan medikasie insluit, asook prostese.

Diabetes

“Dis skokkend dat minstens 24 Suid-Afrikaanse mans daagliks sterf as gevolg van diabetes-verwante komplikasies. Baie van hierdie mans ly aan tipe 2-diabetes, wat vermy kan word deur ’n gesonde leefstyl,” meen dr. Pienaar. “Vermy ongesonde kos. Oefen minstens 30 minute per dag. Bestuur jou gewig en as jy ’n familiegeskiedenis van diabetes het, besoek jou dokter.”

Hartsiektes en beroertes

“Hartsiektes is een van die grootste doodsoorsake onder mans regoor die wêreld, en is baie keer voorkombaar deur ’n gesonder leefstyl, wat ’n gebalanseerde dieet en oefening insluit,” verduidelik dr. Pienaar.

Ongeveer 130 Suid-Afrikaners sterf daagliks aan ’n hartaanval en vir elke vrou wat sterf, sterf twee mans. Baie van hierdie sterftes is egter onnodig. Beroertes eis ongeveer 240 mense per dag in SA. “Jy kan jou kanse op hartsiektes verminder deur jou bloeddruk en cholesterol te bestuur, jou gewig dop te hou, gesond te eet, minder te drink, op te hou rook en minder te stres,” is dr. Pienaar se raad.

Depressie

“Die ou swart hond is ’n groot bedreiging vir mans, veral omdat hulle sukkel om dit te erken en hulp te soek. Studies wys mans is vier keer meer geneig om selfmoord te pleeg as hulle met depressie worstel,” verduidelik Helandie Uys, ’n sielkundige van Oos-Londen.

“Simptome sluit in diep hartseer, angs, geïrriteerdheid en ’n gevoel van hulpeloosheid. Ek wil mans aanmoedig om met iemand te gesels wat jy vertrou as jy só voel. Moenie huiwer om ’n dokter te gaan sien nie en om medikasie te neem, is nie ’n teken van swakheid nie.” ’n Gesonde leefstyl, gereelde oefening en genoeg slaap sal ook baie help.

Ingroeihare

Wanneer mans skeer, kry hulle gereeld ingroeihare. Dit is wanneer die haartjie terugkrul en in die vel ingroei. Dr. Pienaar se raad is om ’n warm stort te vat voor jy skeer om die haartjies sag te maak. Gebruik ook ’n dik skeerroom en moenie jou vel uitrek terwyl jy skeer nie. Skeer in die rigting waarin jou baard groei en hou ’n koue, nat lap teen jou gesig wanneer jy klaar is. Dis nie ongewoon vir mans om hul gesondheid-issues te ignoreer nie, maar op ’n stadium moet jy besef jy is eintlik nie invincible nie. Pas jouself op. Hierdie is nou een keer waar bang Jan, kan lei tot dooie Jan . . .

Haarverlies

“Ongeveer die helfte van mans ervaar effense haarverlies teen 35 en teen 45, meer as 70%! Teen 50 is baie mans redelik bles. Daar is ’n paar maniere om haarverlies te behandel soos medikasie en chirurgiese opsies, maar die meeste mans aanvaar op die ou einde maar hul lot,” sê dr. Louw Pienaar, ’n algemene praktisyn van Johannesburg.

Prostaatprobleme

Die prostaat is onder ’n man se blaas en geheg aan sy penis. Algemene issues, volgens dr. Pienaar, is onder meer ’n vergrote prostaat, wat ’n normale deel van die verouderingsproses is. Dit kan lei daartoe dat ’n man sukkel om te pee. Behandeling hang af van die man en die erns van die simptome en kan chirurgie insluit. “Prostaatkanker is die tweede algemeenste kanker by SA mans (ná longkanker).”

Volgens hom word vroue al van jongs af geleer om gereeld selfondersoek te doen en gereeld dokter toe te gaan vir scans, maar baie min mans is bewus van die risiko’s van prostaat- of testikulêre kankers, of dat hulle hulself gereeld moet laat check. “Dis baie gevaarlik as dit nie behandel word nie, maar kan heel suksesvol bestuur en selfs genees word as dit vroeg gevang word.”

“Man-flu”

“Hoorie, nè, dié man van my kan houe vat as hy boks, swaar goed dra – wanneer dit by manly stuff kom, hou niks hom terug nie. Maar verkoue, slat vir hom om. Hy draai by die dood om as hy begin nies,” skaterlag Letitia (39), Marlon se vrou. Hy het vroeër vertel hy het nie tyd vir siek wees of lus om vir check-ups te gaan nie. 

“Mans is geneig om sieker te voel wanneer hulle griep of verkoue het. Of hulle werklik sieker is of erger simptome ervaar, is moeilik om wetenskaplik te bewys,” is al wat dr. Pienaar oor die onderwerp wil sê.

Snork

Volgens dr. Pienaar snork ongeveer 44% van alle mans – baie meer as vroue. Dit kan wees as gevolg van die posisie waarin jy slaap, medikasie, alkohol en sekere onderliggende mediese toestande. “Dit kan ook ’n teken wees van slaap-apnee, waar die slaper vir kort periodes ophou asemhaal. As jou partner jou pla, maak vir hom ’n afspraak by die dokter om seker te maak die oorsaak is nie ernstig nie.”

Checklist vir ’n lang, gesonde lewe

• Hou op rook.

• Handhaaf ’n gesonde gewig.

• Oefen gereeld.

• Eet gesond.

• Check jou bloeddruk, cholesterol en suiker.

• Besoek jaarliks jou dokter vir ’n check-up.

• Screen gereeld vir prostaatkanker.

• Doen gereeld selfondersoek.

• Soek hulp as jy af voel.

* Illustrasies: Ryan Carolisen

* Bykomende bronne: https://www.brainforestcenters.com/news/what-are-the-most-common-mens-health-issues; https://www.statssa.gov.za/publications/P03093/P030932017.pdf

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.