Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kinnear-saak: Top cop se vrou maak oop
29 Oktober 2020
Nicolette Kinnear


Vir landsburgers was hy die man wat gesorg het dat geregtigheid sal geskied. Vir mense in die kriminele onderwêreld was hy een van die grootste bedreigings. Vir joernaliste die kalm ondersoekbeampte en speurder met die grinnik wat altyd met dossiere onder die arm geloop het. Vir die gemeenskap en jeug was hy ’n steunpilaar.

Vir sy kinders die beskermer en liefdevolle pa en vir sy vrou die liefde van haar lewe . . . Dít was lt.kol. Charl Kinnear (52) wat op 18 September 2020 koelbloedig vermoor is.

Só het die media oor die saak berig.
Só het die media oor die saak berig.

Sy sluipmoord is ’n dolk in wetgehoorsame Suid-Afrikaners se harte. Dit is een wat koue rillings langs menige se ruggrate afgestuur het en gesorg vir groot opskudding en omstredenheid in die land se regstelsel. Dié top cop was ’n bevelvoerder van die teenbende-eenheid in Kaapstad wat verskeie prominente figure in die kriminele onderwêreld ondersoek het. Hy was inderdaad soos ’n hond met ’n been – as hy eers gebyt het, het hy nie weer laat gaan nie. En toe word hy koelbloedig vermoor. Vol lood gepomp, helder oordag, voor sy huis in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte.

Zane Kilian (39) van Gauteng, wat na bewering as debt collector werk en ’n tracking-diens lewer, is op 22 September in verband met die moord op Charl gearresteer en het reeds in die hof verskyn. Volgens Netwerk24 staan hy tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord en die onregmatige onder-skepping van kommunikasie (tracking van ’n selfoon).

Hy het Charl se foon glo meer as 1 000 keer getrack. Netwerk24 berig verder Kilian se regs- verteenwoordiger voer aan hy “is ’n geregistreerde private speurder en dat hy geen wet oortree het, sou hy Kinnear se selfoonseine nagespoor het soos wat die staat beweer nie”. Kilian se borgtogaansoek was teen druktyd nog nie suksesvol nie. Luidens berigte ondersoek die Valke die saak verder.

Opreg & geliefd

Charl se koelbloedige moord het tergende vrae laat ontstaan: Hoekom was die kolonel nie beskerm nie en deur wie is hy vermoor? Om hierdie vrae beantwoord te kry, was baie moeilik, want bitter min mense na wie Kuier uitgereik het, is bereid om oor die saak te praat. Van hulle sê prontuit hulle is bang.

Teen hierdie tyd is Charl Kinnear se storie al in verskeie media gedek, maar Kuier wou self die gordyn wegtrek voor die media-opskrifte, want dit blyk asof die stof net nie wil gaan lê nie. Charl Kinnear is dood, maar dis asof hy en die belangrike werk wat hy gedoen het, steeds uit die graf uit praat. Sy vrou, Nicolette (47), weier ook dat hy net nog ’n statistiek word. Sy sal vir haar man praat noudat hy nie kan nie. Daarvoor het hy te veel van sy lewe vir sy werk opgeoffer vir dít om net ’n stille dood te sterf . . .

Met Kuier se aankoms by die Kinnears se familiehuis word ons gegroet deur gewapende wagte wat ons na binne vergesel. Een van die gesin se honde lê amper verslae voor die hek terwyl die ander een stertswaaiend na buite wil hardloop terwyl hy knaend met sy neus op die sypaadjie ruik. Later vertel Nicolette dat hulle sedert Charl se sluipmoord sukkel om hom binne die hekke te hou. “Ek dink hy ruik vir Charl en hy soek na hom. En hy hardloop nie ver nie, net tot waar die voorval gebeur het.” 

Ten spyte van haar innerlike pyn en hartseer kry Nicolette dit reg om te glimlag wanneer sy praat oor haar “liefie”. In ’n in- diepte onderhoud deel sy wat haar man vir haar beteken het. Hulle was vir 36 jaar saam. “Charl was vir my ’n groot teddiebeer. Sagmoedig en liefdevol. By die werk was hy weer streng. Hardgebak. Sy werk het dit van hom vereis.” In die huis is foto’s van haar man oral te bespeur. Die klomp blomme op ’n tafel is ook ’n stille, dog kleurvolle getuienis dat medelye steeds instroom vir die familie. ’n Groot foto van Charl staan op ’n esel in ’n vertrek. Onder die esel is die boots wat hy jare terug gedra het.

Nicolette tel die skoene op en verklaar sonder huiwering: “Dié is groot skoene om te vul en ek glo nie daar is ’n mens wat dit kan doen nie.” Charl se kollegas het dae ná sy afsterwe sy boots kom vra en dit blink gepoets terwyl hulle voor sy hek wag hou. Oor haar uitgesprokenheid rondom haar man se sluipmoord en die gebrek aan beskerming, vertel Nicolette eerlik dat niks nou haar situasie gaan verander of haar man sal terugbring nie, maar dat sy veg vir ander wat hulself nog nie in dié bootjie bevind nie.

“Daar is nog goeie polisiemanne daarbuite wat hard werk om die skuldiges aan die kaak te stel. Ons moet nou veg vir hul beskerming.” Die aanval wat op 18 September Charl se lewe geëis het, was nie die eerste aanval op sy lewe nie. Volgens bronne het Charl in 2019 ’n beëdigde verklaring van 59 bladsye opgestel oor die verrotting van korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en dit aan die nasionale polisiebestuur en die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) gestuur.

Opod het glo die dokument aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur. Daar het egter niks van die ondersoek gekom nie. Dit is ook gedurende dié tyd dat die eerste sluipmoordpoging uitgevoer was. Nicolette vertel dat hulle gelukkig nog daai tyd polisiebeskerming buite hul huis gehad het. “Daar was altyd die gerugte van die lysie waarop Charl se naam was. Ek dink ’n mens besef die erns daarvan, maar jy neem ook die besluit om jou nie gyselaar te laat hou deur kriminele nie.”

Terwyl die gesin in die huis was, het hulle ’n commotion buite gehoor. Twee verdagtes is toe aangekeer met twee handgranate. Nicolette vertel baie mense vra hoekom hulle as gesin steeds in Bishop Lavis woonagtig was, wetend wat die gevare rondom hulle is. “Charl was ’n gemeenskapsman. Hy wou die strate van Bishop Lavis vir die kinders beveilig. En dit is hoekom ons hier aangebly het. Ons het hier grootgeword. Ons is deel van die gemeenskap en dra die belange daarvan op ons hart.” Sy vertel dat haar man ’n liefde gehad het vir die gemeenskap en veral die jeug. “Dit is hoekom hy besluit het om ook sokker af te rig. Hy was lief daarvoor om jong mense se lewens te bevorder en te verbeter en op dié manier kon hy dit regkry. Ook in sy werk as polisieman het hy geslaag om die wêreld ’n beter plek te maak. My man het nie verdien om só te sterf nie. Al wat ons wil hê, is dat geregtigheid moet geskied.”

Charl se polisiepet word by die begrafnis aan Nico
Charl se polisiepet word by die begrafnis aan Nicollette oorhandig.
Lede van die SAPD dra Charl se kis.
Lede van die SAPD dra Charl se kis.

Dáárdie dag

Die dag van haar man se afsterwe is een wat vassteek in Nicolette se kop. Sy was by die werk toe sy die gevreesde oproep ontvang het. “My seuns het my gebel en gesê dat hul pa geskiet is. My kop was deurmekaar en my kollegas moes my huis toe bring.” Nicolette sê die 10 minute tot by die huis het gevoel soos ’n ewigheid.

“Ek onthou dat my seuns my aanhoudend probeer bel het en gedurende een van die oproepe het hulle verklaar: ‘He’s gone, Mommy’. ” Volgens Nicolette wag jy as ’n speurder se vrou maar altyd vir daardie oproep, maar niks sal jou regtig daarop voorberei nie. “Toe ek hier kom en hom daar in die kar sien, het die realiteit tot my deurgedring. My man is weg.” Sy het haar seuns toegelaat om by hul pa se liggaam te sit totdat dit verwyder is. “Hulle het ’n baie hegte verhouding gehad en ek moes hulle toelaat om vrede te maak daarmee.”

Dié hartseer ma sê haar hart het gebreek toe sy sien hoe haar kinders met hul pa praat en by sy liggaam bid. “Dit was hul manier van afskeid neem. Hulle het ook aan hom belowe dat hulle hier sal wees vir my. My kinders is nou vaderloos en ek weet nie hoe ek die lewe sonder my man gaan aanpak nie. Party mense sê mos ’n mens moet dit dag vir dag vat, maar ek vat dit maar elke halfuur vir halfuur. Die Here sal my hierdeur dra,” sê sy terwyl sy liefdevol na die foto van haar man kyk.

Charl se jongste seuns, Casleigh (19) en Carlisle (24), is steeds verslae oor hul pa se afsterwe. Terwyl dié twee oor hul geliefde Daddy gesels, kyk hul ma met liefdevolle en beskermende oë soos net ’n ma kan. Dis Carlisle wat in ’n rustige, maar verlangende stemtoon vertel dat sy pa ’n man van min woorde, maar baie gaaf en liefdevol was. “Die persoon wat hy by die werk was en die persoon wat hy by die huis was, het hemelsbreed van mekaar verskil.” Dié twee onthou daardie dag toe hul pa koelbloedig voor hul huis vermoor is, asof dit gister was.

Met een bemoedigende kykie van sy ouer broer begin Casleigh vertel wat daardie dag gebeur het. “Ek het in my pa-hulle se kamer gelê, aan sy kant van die kooi. Soos oudergewoonte het Carlisle se foon gelui en ek het gehoor dit is my pa wat hom bel en sê hy moet sy kar uittrek sodat my pa kan intrek.” Charl Kinnear het dit nooit tot in sy huis gemaak nie, want ’n paar sekondes ná dié oproep is hy vyf keer geskiet terwyl hy in sy voertuig voor sy huis gesit het. Vir ’n rukkie haal Casleigh diep asem terwyl hy sy hand oor sy gesig vryf. Dis asof hy beelde wat voor sy geestesoog afspeel, wil wegvee. “Ons het na buite gehardloop en my pa in die kar sien sit. Geskiet. Hy was weg.”

Carlisle sê die ergste van die tragedie is dat hul pa nooit weer by die deur sal instap nie. “Ons harte is seer. Ons roetine was elke dag dat hy inkom en dan sou hy ’n koppie tee soek. So dit is of jy maak of jy slaap sodat jy nie die een is wat die tee moet maak nie of jy sit die ketel aan wanneer jy hoor hy is buite. Ons gaan nooit weer vir hom ’n koppie tee kan maak nie . . .”

Ook Casleigh vertel dit is soggens vroeg dat die verlies van sy pa hom die diepste tref. “Ek en my pa het elke oggend saam opgestaan. Ons was dan saam in die kombuis besig terwyl ons koffie en ontbyt geniet het. Ek is nou soggens alleen in die kombuis. My pa is nie meer daar om saam met my te gesels of raad te gee nie. Niks is meer dieselfde nie en dit voel net konstant of daar iets missing is. Ons verwerk nog alles en vat dit maar een dag op ’n slag.” In ’n besoek aan die gesin enkele dae ná Charl se moord het Bheki Cele, die minister van polisie, aan die media erken die onttrekking van beskerming beskryf kan word as ’n noodlottige oordeelsfout.

Verrotting reik ver

News24 berig Cele het toegegee dat dinge “nie gedoen was soos hulle moes nie”. “Soos dit nou lyk, lyk dit op die oog af asof ons die kolonel as die polisie gefaal het. Ons kon dinge beter gedoen het en ons glo dat daar dinge is wat ons veronderstel is om te doen wat ons nie gedoen het nie,” het hy gesê. Cele het bygevoeg die onttrekking van die beskerming sal ondersoek word. Die laaste vergadering wat hy met Charl gehad het, was slegs twee dae voor sy moord.

Volgens die minister het hulle ’n operasie in die Wes-Kaap bespreek. Een wat glo die kriminele onderwêreld sou oopvlek. Julian Jansen, ’n gesoute joernalis en spesialis-verslaggewer by Rapport, sê ons het nie die einde van polisiemoorde, soos dié van lt.kol. Charl Kinnear, gesien nie. Hy het die Kinnear-saak vir Rapport gedek. “In die spervuur is beslis polisielede en ondersoekbeamptes, ook geldgierige en magsbehepte lede van die onderwêreld en bendes, maar meer tragies: wetsgehoorsame burgers en sakemanne/-vroue, wat die onreg en uitbuiting van hul gemeenskappe, deur dié booswigte, aan die kaak wil stel.

Ons harte is seer. Ons roetine was elke dag dat hy inkom en dan sou hy ’n koppie tee soek. Ons gaan nooit weer vir hom ’n koppie tee kan maak nie . . .

Enige persoon wat hierdie magsgroepe, wat meestal ten minste twee kan wees, se ‘werkverrigtinge’ sou wou of kon omverwerp, en dan ook relatiewe sukses begin behaal, skryf myns insiens al aan sy of haar doodsertifikaat.”

Volgens Julian is die ander tragedie, soos byvoorbeeld polisiemoorde, die infiltrasie en houvas van die bende- en onderwêreld, op die piramide van beroepe. Hy meen ’n mens kan met sekerheid sê op die betaalstaat van die onderwêreld is regslui, polisielede, staatsamptenare, rekenaarghoeroes, bankbeamptes, selfs sportlui. “Ons praat hier van professionele mense, baie wat die hoogste sport in hul onder-skeie beroepe behaal het. Die vergoeding vir hierdie korrupte poelbewoners is hoë aansporing of bloot afpersing, byvoorbeeld indien die persoon nie sou saamwerk nie, sy of haar familie leed aangedoen kan of gaan word. “Inligting na die onderwêreldleier of bendebaas kom óf deur ’n gesofistikeerde netwerk óf bloot iemand wat uit doodsangs ‘soos ’n kanarie sing’, ” verduidelik Julian.

Hy voeg by dat korrupte polisielede die vrot is wat uit die appel gesny moet word. Hy sê dit moet vir wetgehoorsame burgers ’n naar kol op die maag wees wanneer hulle besef dat polisielede nie vertrou kan word nie. “Die verrotting, aanvaar ek, is diep. Dat dossiere wegraak, getuies geïntimideer word, dít is skynbaar ’n nuwe normaal.”

En dan stel Julian die tergende vrae waarmee amper almal worstel: “Hoekom moes lt.kol. Kinnear eers doodgeskiet word voordat die politici en polisie-hoës daadwerklik optree teen korrupte lede? Ook, hoe lank voordat dié aksie dalk ook in die niet verdwyn en ons weer by square one is? Wat is die volhoubaarheid van die huidige arrestasies van skynbaar korrupte polisiehoës? Laasgenoemde gearresteerdes wys dat korrupsie tot aan die bopunt van die piramide, die voedselketting, strek. Dis uiters onrusbarend.”

Oor of hy bang is dat hy sy lewe met sy beriggewing ook in gevaar stel, sê Julian: “Joernaliste moet onverskrokke kan beriggewing doen, sonder vrees of favour. Let wel: nié roekelose beriggewing nie. Ons kan nie selektief berig, byvoorbeeld korrupsie in die kerk is nie anders as korrupsie in die polisie nie. Netso is die beriggewing van die verkragting van mans en vroue, nie minder belangrik as bendeverwante moorde nie. Joernaliste wil vir seker in alle opsigte geregtigheid sien. Netso wil ons sien dat persone wat skuld het aan Kinnear se dood, voor die hof gebring en regverdig verhoor en die skuldiges gestraf word.”

Carlisle en Casleigh
Carlisle en Casleigh was by die huis toe hul pa vermoor is.

Steunpilaar verloor

Graham Lindhorst, die voorsitter van die Bishop Lavis-gemeenskapspolisiëringsforum, sê Charl se afsterwe is ’n groot verlies vir die gemeenskap en SA. Hy sê die gemeenskap treur saam met die Kinnear-familie.

“Ons het die steunpilaar in ons gemeenskap verloor. Die mense weet nou nie watter kant toe en vir wie om te vertrou nie. Die gemeenskap ween omdat hulle die een polisielid, wat hulle voel hul belange volkome op die hart gedra het, verloor het. Hy het seker gemaak dat geregtigheid sou geskied en nou weet ons nie meer nie. Die toekoms lyk donker.”

Volgens Nicolette het Charl se moord die land by ’n T-aansluiting gebring. “My man was een wat nie korrupsie geduld het nie. Haat is ’n sterk woord, maar dit is presies hoe hy gevoel het daaroor – dit het hom laat rooi sien. Misdaad, bendes en die onderwêreld was ’n doring in sy vlees en hy sou alles in sy vermoë doen om die skuldiges aan die pen te laat ry. Daar moet nou besluit word om die korrupsie yuit te roei. As land moet ons nou as een entiteit saamstaan en veg vir wat reg is.” Dié moord op een van SA se top cops is duidelik een wat baie emosies laat opvlam het, dis een te veel omdat die tentakels van korrupsie oënskynlik verder en dieper strek as wat ons ooit kon dink. En net die toekoms en uitkoms van die ondersoek sal bepaal of geregtigheid sal geskied . . .

Meer oor:  Kinnear-Moord  |  Kuier  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.