Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kliprand: Hele dorp isoleer weens Covid-19
22 Julie 2021


Niemand kan die verwoestende gevolge van Covid-19 vryspring nie. Nie eens wanneer jy op ’n klein, afgeleë plattelandse dorpie woon nie . . . En noudat die land amptelik ’n verwoestende derde vlaag van die virus beleef, is almal op hete kole en wonder wanneer hulle of iemand na aan hulle platgetrek gaan word deur die virus, of erger nóg sterf as gevolg daarvan.

Die angstigheid is byna verlammend, maar dit is die harde werklikheid wat onlangs vir Kliprand, ’n dorpie in die Matzikama-munisipaliteit in die Wes-Kaap, getref het.

Dié hele dorpie, 150 km ver van die naaste buurdorp met so 250 inwoners en 60 huishoudings, moes in Junie noodgedwonge in isolasie gaan nadat amper 12% van die dorpie se bevolking positief getoets het vir Covid-19. Dit het soos iets uit ’n sci-fi fliek gevoel, maar dit was die werklikheid en was vir almal ’n nare herinnering dat Covid-19 nog lank nie homself uitgewoed het nie. Teen druktyd was die inwoners van die dorpie nog afgesny van die buitewêreld . . .

Daar was geen selfoonopvangs nie en slegs ’n handjie vol inwoners het wifi wat hulle in staat stel om met mense buite die dorp te kommunikeer. Vir 15 maande het die gemeenskap dit reggekry om die virus vry te spring, maar die derde vlaag van die virus het die gemeenskap skielik en hard getref. Dit het soos ’n yskoue hand om hul kele gespan met die versmorende vrees dat hulle gaan sterf sonder dat iemand na hulle sal uitreik om hulp aan te bied. In dié vreedsame en afgeleë dorpie het die inwoners nie eens maskers gedra nie.

Die kinders het buite gespeel en die mense het by mekaar se huise gekuier. Binne die bestek van ’n week het die realiteit van die pandemie hulle getref – drie mense het enkele dae ná mekaar gesterf en 30 mense, onder wie vier kinders, het positief getoets. In ’n desperate poging om hul lewens te red, het die gemeenskap self die hele dorpie onder kwarantyn geplaas en waar kinders voorheen in die strate gehol en inwoners oor en weer by mekaar gekuier het, was die stil strate nou ’n getuienis van die verwoesting wat deur die virus agterlaat is.

Die inwoners is dit egter eens: Hoewel dinge nou stadig, maar seker terugkeer na normaal, was dit ’n harde les, een wat die gemeenskap nader aan mekaar gebring het, maar tog ook die erns van die situasie laat besef het.

Reik uit vir hulp

Arrie Cloete, die skoolhoof op die dorp, is die een wat na die buitewêreld uitgereik het om hulp te vra. Hy het besef daar sal vinnig ingetree moet word anders gaan die hele dorpie en sy mense vergaan. Hy sê daar was beperkte hulpbronne beskikbaar en dit het dit nóg moeiliker gemaak om die virus te hanteer.

“Ons het besef dat ons iets drasties sal moet doen en dit is hoekom ons as die inwoners onsself onder kwarantyn geplaas het. Omdat ons dorpie so klein en geheg is, was almal op die een of ander manier in kontak met iemand wat positief getoets het.”

Volgens Arrie kon hulle aanvanklik mekaar support met die nodige hulpbronne tot hul beskikking, maar hulle het vinnig besef dat dit nie volhoubaar gaan wees nie en dit is hoekom hy uitgereik het vir hulp. “Ons was almal bang omdat ons nie geweet het wat om te verwag nie. Die hulpbronne het al hoe meer beperk geraak en ons moes noodgedwonge vra om hulp sodat ons kon oorleef.”

Ook die skool, waar Arrie hoof is, het vir tien dae gesluit. “Vier van ons leerders het toe positief getoets en vir veiligheidsredes moes ons die skool sluit.” Arrie vertel dat die inwoners se gemoedstoestand baie laag was. “Dit is daai onsekerheid oor wie volgende gaan sterf. Teen daai tyd het daar toe al reeds drie mense gesterf en 30 lede uit die gemeenskap was positief. So, daar was rede vir vrees.” Dit is veral die begrafnisse wat vir die gemeenskap so swaar was.

“Die begrafnisse van die drie oorledenes was baie swaar omdat die families en vriende nie regtig kon closure kry nie. Indien jy ’n diens wou bywoon, moes jy op afstand staan en toekyk. Daar was nie toegelaat om grond op die kis te gooi soos tradisioneel in ons gemeenskap gedoen word nie. Almal was bang vir wat die dag van môre gaan inhou, want hulle was nie seker of hulle môre sal sien nie. Die leuse op die dorp was om veilig te bly en te bly klou aan hoop. Ons het geglo ons sal die ding kan oorkom met ons Redder. En nou kom ons almal uit kwarantyn, op pad na herstel”

Hele dorp in isolasie

Ds. Pedro Oktober, ’n dominee op Vredendal, sê hy het by van sy lidmate gehoor van die situasie op Kliprand. Dit is ook hoekom die dominee ’n pleidooi op Facebook geplaas en om hulp vir die klein dorpie gesmeek het.

“Arrie het ’n boodskap aan ons gestuur wat lees: ‘Help asseblief. Die dorpie is in isolasie’ en dit is die boodskap wat die rondtes begin doen het. Dit het vrees onder lidmate begin saai omdat baie van hul ouers en ander familie op die dorpie woonagtig is.” Kliprand het geen selfoonopvangs nie en die dominee het met Arrie begin kommunikeer via Whats-App-boodskappe en voice notes.

“Nog nooit in die afgelope jaar, sedert Covid ons getref het, het ek al gehoor van ’n hele dorpie in isolasie nie. Wat meer kommerwekkend was, was die feit dat Kliprand so afgesonder is. Die eerste gedagtes wat by my opgekom het, was wie gaan die mense kos gee as die hele dorp in isolasie is? Waar gaan hulle medisyne kry? Hoe gaan hulle oorleef sonder die basiese?”

Ds. Pedro Oktober het gehelp om hulp te soek vir Kliprand se mense.

Na aanleiding van dié worstelende vrae, het die dominee toe met Arrie in aanraking gekom. “Daai tyd was die dorpie nog nie in isolasie nie, maar sterk op pad daarheen. Dit was om en by mid-Junie. Drie mense het toe al gesterf en ses ander was positief. En die gevalle was vinnig aan die toeneem.” ’n Massa-toetsing is toe op die dorpie gereël.

“Altesaam 30 mense, onder wie vier skoolkinders, het toe positief getoets. Die skool moes hul deure sluit en kort voor lank moes die Kaap Agri-winkel en korporasie ook sluit, want van hul werkers het positief getoets. Dit het beteken die inwoners het nou geen toegang tot die nodigste meer gehad het nie – geen toegang tot kos of krag. Niks.” Dié winkel is die enigste winkel op die dorp wat die mense van die broodnodigste kon voorsien. Selfs die mense op Kliprand het na die inwoners van Vredendal, sowat 150 km ver, uitgereik om hulp.

“Ek het daagliks bood-skappe gekry van mense wat vra om hulp en ek persoonlik ken die pad na Kliprand. Ek het immers vir 23 jaar Sondae daarheen gery. Dit is ’n slegte pad, grondpad en meer as twee ure se ry na die naaste dorp. Daar is nie ’n apteek nie en daar is nie ’n ander winkel nie. Almal het ook nie voertuie nie en die kostes beloop omtrent R400 indien iemand jou na die dorp moet neem. Dit is geld wat daardie mense nie het nie.” Dis toe dat die dominee die Facebook-plasing gedoen het wat die erns van die situasie verduidelik het.

“Mense van heinde en verre het hulp verleen en ingegryp om die lot van die mense te verbeter. Dit was regtig daai ding van as ons as nasie saamstaan, kan ons enige berg oorkom. Daar was weer hoop, want die inwoners kon sien daar is mense wat omgee. Mense wat wil hê dat hulle die stryd moes oorwin,” sê ds. Oktober.

Ook die organisasie Gift of the Givers het uitgereik na die mense op die dorp en pakkies afgelewer sodat die mense kon voortbestaan. Ds. Oktober vertel hy het eendag, gedurende die kwarantynperiode, saam met die polisie deur die strate van die dorpie gery. “Dis ’n baie klein dorpie met net vier strate. By elke huis waar ons verbygery het, het die mense verslae buite hul huise in die sonnetjie gesit. Almal vasgevang in hul eie gedagtes. Elk worstel op sy eie. Niemand het eers met mekaar gepraat nie.” Ds. Oktober het van die polisievangwa se mikrofoon gebruik gemaak om die mense te bemoedig. Volgens hom was daar ’n algehele gevoel van depressiwiteit en moedeloosheid.

“Ek het sommer ’n algehele gebed gedoen sodat die mense weer na hul geloof kon gryp. Wanneer ’n mens in dié situasie is, is dit maklik om in ’n donker gat van moedeloosheid te veral. Dit is tye soos dié waar mense herinner moet word om aan te hou hoop en aan te hou veg. Toe ek begin preek en bid het hulle stelselmatig een vir een begin opkyk en jy kon sien daar is weer hoop in hulle oë. Hulle het weer moed geskep om voort te gaan.”

Die dominee brei uit dat die gemeenskap onkant gevang is deur die virus. “Hulle het dit nie verwag nie. Hulle was van mening dat die virus nie hul dorpie sou kon bereik nie. Skielik moes hulle aanpas en isoleer. Iets wat hulle sedert die begin van die pandemie nooit moes doen nie. Op klein dorpies is dit baie maklik vir sulke situasies om handuit te ruk omdat mense maklik mekaar blameer. Dis makliker om vinger te wys as om verantwoordelikheid te vat vir jou eie aksies, maar die gemeenskap was in rou. Daar was nie tyd of krag om vinger te wys nie. Almal moes hul deel bring om hierdeur te kom.”

Die organisasie Gift of the Givers het pakkies met noodsaaklikhede aan die inwoners oorgehandig.

Geliefdes sterf

Sanita Watt (30) het haar geliefde mamma, Katriena (68), gedurende dié tyd aan die dood afgestaan. Katrina was die eerste inwoner van die dorp wat weens Covid-19 gesterf het. Sy het op 11 Junie die stryd verloor.

“Voor Covid aan ons deur kom klop het, was my ma siek. Sy het hartsiekte en asma gehad. In Maart het die dokter haar gediagnoseer met chroniese brongitis en longemfiseem. Sy het ook onderliggende diabetes gehad. So, sy was ’n siek mens en haar immuunstelsel blootgestel.”

Volgens Sanita het hulle nie geweet hulle het ’n positiewe geval in hul huis nie. Dis eers ná haar ma se afsterwe dat Sanita uitgevind het sy is ook positief. “Ek het geen simptome getoon nie en dit is hoekom dit vir my so ’n skok was toe ook ek positief toets. Dis so seer om ’n ma te verloor, maar ek glo en vertrou dat die seer beter en draagliker sal raak. Ons mis haar nog elke dag.”

Sanita sê sy is dankbaar vir die Here dat die dorpie nou uit isolasie is. “Ons weet nou om meer versigtig te wees en ons was baie bang. Ons het nie geweet wat om te verwag nie en ons het nie geweet hoe om die situasie te benader nie. Dit was bitter moeilik. Tog het ons oorleef.” Hendriko Ockhuys (30) het ook sy pa, Hendrik Ockhuys (75), aan die dood afgestaan. Hendriko vertel hartseer sy pa het op 14 Junie afgesterf.

Ons het besef dat ons iets drasties sal moet doen. Omdat ons dorpie so klein en geheg is, was almal op die een of ander manier in kontak met iemand wat positief getoets het.

Katriena Watt het gesterf weens Covid.
Hendrik Ockhuys het ook gesterf.

“My pa het aan diabetes gely, maar hy was nooit in die bed siek daarmee nie. Voor sy sterfte het my pa gekla van griepsimptome. Ons het gedink hy het griep, maar hy was nie in die bed siek daarmee nie en dit is hoekom ons nie gedink het daar was rede tot kommer nie.” Volgens Hendriko was sy pa net vir vier dae siek.

“Die Maandag van sy afsterwe was die eerste dag dat hy regtig swak geword het. Dit is eers toe dat ons besef dit was dalk nie griep nie. Hy het daardie dag gesterf en dit was vir ons so ’n groot skok omdat daar nie ’n lang siekbed was waar ons onsself kon voorberei vir sy dood nie. Ons het ook nie gedink die griep wat hy het, eintlik Covid was nie. Ek meen die dood is sleg en dit tref ’n mens altyd hard, maar omdat hy so ’n mooi en vol lewe gelei het, gee dit ons op ’n manier vrede in ons harte. Hy was ons alles gewees. Hy was ons hero en ons steunpilaar.”

Intussen is die skool, die winkel en die korporasie op die dorp heropen. Leensie Lotter, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Weskus-distrik, sê altesaam 114 Covid-19-toetse is op die dorpie gedoen. Altesaam 30 daarvan was positief.

“Die Wes-Kaapse regering se gesondheidsdepartement het nie opdrag gegee dat skole en winkels moet sluit nie. Dit was ’n vrywillige besluit van die mense self as ’n voorsorgmaatreël om die moont-like verspreiding van die virus te stop,” sê Leensie.

Volgens haar was nie een van die 30 gevalle akuut nie. “Dit was ook nie nodig vir hospitalisasie nie. Die bestuurspan het die situasie deurgaans dopgehou en sou ingryp indien nodig. Inwoners was ook noukeurig dopgehou om te verseker dat hulle tydige mediese hulp ontvang indien dit nodig sou wees.”

Dis ’n baie klein dorpie met net vier strate. By elke huis waar ons verbygery het, het die mense verslae buite hul huise in die sonnetjie gesit. Almal vasgevang in hul eie gedagtes.

Die Kliprand-gemeenskap tydens hul gebedstap.

Gee samewerking

Op 27 Junie het die gemeenskap van Kliprand ’n gebedstap op die dorpie gedoen om hul dankbaarheid te wys en lof aan die Here te betuig. Ds. Oktober herroep Psalm 22:20 – 23 wanneer hy dink aan die gemeenskap se dankbaarheid. “En U, Here moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde. Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van U Naam getuig.”

Hy brei uit: “Kliprand is gesond. Kliprand het Covid oorwin. Geen verdere lewensverliese nie. Geen meer positiewe gevalle nie. Op Saterdag 26 Junie 2021, was die kwarantynperiode van 10 dae verby. Die dorpie is genees en tot sy volle glorie herstel. Ons kan net Here loof en prys.” Tog waarsku Ds. Oktober dat inwoners nou meer versigtig as ooit moet wees.

“Ons moet onthou om ten alle tye ons maskers te dra, ons hande te sanitise en sosiale distansiëring toe te pas. Ons is midde die derde golf en dis erger as tevore. Dit is nou die tyd om te luister en wetgewing te handhaaf. Ons kan die ding oorwin indien almal net hul kant bring en hul deel doen. Ja, geloof is die ding waaraan ons moet vasklou, maar geloof sonder aksie, is niks.”

Dan sê Arrie, die skoolhoof, hoopvol: “Ons stap nou die pad na genesing. Dinge was moeilik en daar was tye waar ons gedink het ons sal dit nie maak nie, maar hier is ons nou. Sterker as tevore en meer bedag as ooit . . .”

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en verskaf

Meer oor:  Kuier  |  Kliprand  |  Pandemie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.