Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Die lig van hoop (Slot)
29 Oktober 2020

Lauren se oë rus op Kyle terwyl sy aan haar melkskommel slurp. Sy kan nie ’n woord hoor nie. Haar gedagtes speel heeldag met haar. Dit vra vrae wat sy nie antwoorde voor het nie.

Sy verskuif haar blik en staar by die venster uit na die koffiewinkel oorkant die pad. Die werknemers is nog besig om die materiale weg te dra. En dan gaan die lewe aan . . . ’n Sug glip uit. Dit voel vir haar haar lewe het tot ’n einde gekom. Sy weet nie hoekom sy saam met Kyle gegaan het nie. Haar brein besef dat sy nie by die huis wil wees nie.

Layton, haar pa, is net te veel om mee te deal! Sy weet hy het haar nodig, maar sy het vir hom ook nodig. Haar trane val op die tafel. Vinnig vee sy dit af en weier om op te kyk toe Kyle dit agterkom.

“Ek is fine,” sê sy voordat hy kan vra. “Jou ouma? Wanneer is sy oorlede?” verander sy die onderwerp. Hy maak sy keel skoon. Sy hart is nog nie reg om haar vraag te beantwoord nie. Hy haal diep asem en kyk by die venster uit. Heeldag het hy homself besig gehou om nie daaraan te dink nie. Hy wou glimlag. “Uhm, so 20:00 gister . . .”

Hy sluk diep. “Sy het ’n hart nodig gehad, maar daar het nie ’n skenker gekom nie. Sy is by die huis dood.” Lauren hou sy hand vas. Sy bloedrooi oë weier om na haar te kyk. Sy wens hy kan ophou om so hartseer te lyk. Haar asem jaag effens. Hy gee ’n vinnige glimlag. “Sy was blind, nè?” wil sy weet. Hy knik en kyk vraend na haar. “Ek het haar gesien voor my ma se dood. Met ’n kierie en ’n groen trui.”

“Was sy by die hospitaal?” Lauren knik. “Omtrent hoe laat? Ek weet nie van haar wat weg van die huis af was nie. En Ouma kon nie sonder haar kierie loop nie.” Lauren besef iets. “Nege-uur . . .” “Sy was alreeds daai tyd dood. Is jy seker jy het haar gesien?”

Sy moes geweet het dit gaan dom klink. Sy skud haar kop en waai haar hand. Kyle kyk by die venster uit na die materiale wat uitgedeel is. Die motorbestuurder lê steeds in die hospitaal. Daar is bevind dat hy dronk bestuur het. Hy wonder of Lauren dít weet van die man wat haar ma van haar af weggeruk het.

Later die dag stap Lauren by die hospitaalkamer in. Die masjien tiet-tiet langs Hayden, haar broer, se kop. Sy pols klink baie sterker as vroeër. ’n Sweempie geluk verskyn op haar gesig. Kyle staan by die deur. Sy wou alleen gaan, maar hy het teen die karre geskop. Hy wou net sien hoe dit met Hayden gaan. Haar hand klou aan syne vas. ’n Soen land teen sy voorkop. “Hei, klakous!”

Sy glimlag. “Jy sal moet wakker skrik. Ek het jou nodig, Hayden. Daddy het jou nodig.” Die trane wil opspring, maar sy weier. “Hy cope nie. Al die geld gaan vir drank en ek weet nie meer wat om te doen nie! Hy is so hardkoppig!”

Kyle stap nader. “Mammie is nie meer met ons nie . . . Sy het seker opgehou om te baklei of soos baie mense sal sê, was dit haar tyd.” Sy sug. “Ek moet seker nou gaan. Ek mis jou, Boeta.” “Word gou gesond, broe’, ” sê Kyle en volg Lauren af in die gang. Lauren en Kyle stap in stilte langs mekaar. Vir die eerste keer in sy hele lewe voel dit nie ongemaklik nie.

Dit is asof hulle die stilte nodig het. Lauren se gedagtes dwaal weer na Faith toe. Alles is so deurmekaar. Hoe meer sy uitvind, hoe meer onbeantwoorde vrae duik op. ’n Vrees oorspoel haar skielik. Daddy. Buite hardloop Lauren in die huis. Kyle draf agterna, al weet hy nie waarvoor sy hardloop nie. Hy kyk om hom rond of daar nie dalk ’n skurk is nie, maar sien niemand.

Lauren bars by die deur in en roep na haar pa. Hy is nie in die voorkamer nie, ook nie in die kombuis nie. Sy loer by die badkamer in, maar daar is steeds nie ’n siel nie. Die kamer! Sy stoot aan die deur, maar dit is gesluit. Sy loer deur die sleutelgat. Al wat sy sien, is skoppende voete. Lauren skree en skel haar pa terwyl sy die deur probeer oopkry. Kyle help haar. Hulle stamp en stamp en stamp . . . Die deur vlieg oop. Kyle hardloop af om ’n mes te kry. Lauren sny die tou los en haar pa val roerloos op die vloer.

Lauren klap haar pa, maar hy weier om wakker te skrik. Kyle sê haar om CPR te doen. Haar bewerige hande sê alles. Hy vat oor en sê sy moet die ambulans bel. Sy weet nie eens meer wat die nommer is nie! Sy hardloop vinnig sy om die blaai op die yskas te kry. Alles staan stil. Sy probeer alles in haar vermoë om vinniger te beweeg. Haar foon val flenters op die grond.

Sy wil skree, maar dit gaan te veel tyd mors. Haar pa se foon lê op die koffietafel. Sy gryp dit, maar daar is ’n wagwoord op. Lauren staan met haar hande in haar hare. “Lauren! Lauren!” roep Kyle. Die eerste ding wat sy sien toe sy in die kamer kom, is Faith wat op die bed sit en vir haar glimlag. Sy staar na die vrou. Met trane in haar oë kyk sy na Layton wat in Kyle se arms lê.

Toe sy weer na die bed kyk, waar sy gesit het, is sy weg. Lauren val op haar pa neer toe sy sien sy oë gaan oop. Kyle gee vir hom water en groet haar by die deur toe sy vir hom vra om hulle alleen te los. Sy bedank hom en druk hom lank. Vir ’n oomblik voel sy veilig, maar sy stoot hom saggies weg en glimlag. Hy stuur alle sterkte na haar kant toe. Lauren gooi die deur hard toe, toe sy haar pa voor die yskas sien. Hy gooi vir hom ’n glas whiskey en drink dit met een sluk. Die woede is sigbaar toe hy na haar kyk.

Sy is nie in die bui om met hom te skel nie, maar hy dryf haar daarnatoe. “Wat het jou besiel, Daddy?” Hy sug. “Ek wil nie daaroor praat nie!” “Jy wil nie daaroor praat nie? Jy wil nie daaroor praat nie?” Sy lag sarkasties. “Wel, ek wil! Jy is deesdae so vasgevang in jou drank dat jy nie eens besef dat Hayden jou nodig het nie! Mammie het jou nodig om na ons te kyk!” Sy wil-wil huil. “Ek kan nie meer nie. Ek weet dit is moeilik vir Daddy om ’n vrou te verloor . . . Dink net jy kan weer ’n vrou kry, maar ons gaan nie weer dieselfde ma kry nie . . .”

Hy sug. “En ek nie dieselfde vrou nie, Lauren. Jou ma was my alles.” Sy speel met haar vingers. “Ek hoor Daddy wil die man dagvaar.” “Hy het alles van my gevat. Ek gaan alles van hom vat!” Lauren spring woedend op. “Geld gaan haar mos terugbring, nè? Of wil jy drank daarmee koop? Sy vrou gaan hom skei, sy ouers wil niks met hom te doen hê nie en hy lê op sy sterfbed. Dink jy nie hy is genoeg gestraf nie?”

Layton gaan sit langs Lauren en dink ’n oomblik. Hy weet geld gaan nie sy vrou terugbring nie, maar dit gaan hom help met die finansies. Die feit dat hy sy ouers, vrou en kinders verloor het, sê baie. Hy sal dit nie kan oorleef nie! Sy oë rus op Lauren wat steeds op ’n antwoord wag. Hy maak sy arms oop. “Kom hier.” Sy haat haarself toe sy na hom toe beweeg. Die drankreuk irriteer haar neus, maar sy ignoreer dit. Hulle hou mekaar lank vas.

Die veiligheid omvou hulle albei. Lauren bars uit in trane. Sy kan steeds nie glo God het haar so teleurgestel nie. Haar hart hoop hy gaan opmaak vir wat hy weggevat het. Layton wil by haar weet hoe dit met Hayden gaan en sy vertel hom. “Oor Daddy se boek?” Hy knik vraend. “Wat as Daddy miskien oor óns skryf? Mammie se dood . . .” Sy voel of daar ’n ton van haar skouers afgeval het. “Never mind.”

“Nie nou nie. ’n Ander dag dalk.” Layton kry ’n oproep van die hospitaal. Sy staan op en gaan badkamer toe. Haar rooi oë vang haar refleksie. Mense sien haar as Hayley se ewebeeld. Sy streel oor haar wang. Die bleekheid het verdwyn, maar die rooiheid het oorgevat. Sy sug en smeer room aan.

“Mammie, ek mis jou!” Sy bars weer uit in trane. “Here, hou asseblief daai klakous veilig, ’seblief? Sy glimlag en vee haar trane af. Layton klop aan die deur. Toe sy dit oopmaak, sien sy hoe Hayden pleit om die toilet te gebruik. Sy hoor hoe Hayley op hulle skree . . . “Dis die hospitaal.” Sy kyk vraend na hom, te bang om opgewonde te word.

“Hayden is wakker!” By die hospitaal hardloop Lauren in die gang af. Sy spring op die bed en druk hom vas. Hayden kla oor die pyn. Die dokter stel voor dat sy hom spasie moet gee. Sy glimlag breed en druk hom weer. Layton bars uit in trane. Hayden kan nie help om ook te huil toe hy nie sy ma sien nie. Lauren omhels hulle en gee haar trane die reg om te vloei.

“Here, U het my soveel keer teleurgestel, maar ek wil dankie sê dat U my broer gered het. Mammie is in ’n beter plek. Kyk mooi na haar,” bid Lauren saggies. Sy voel ’n koue rilling by haar ruggraat af en kyk om. Die groen trui verdwyn om die hoek. Lauren loer by die deur uit. Faith waai en verdwyn. Met groot oë staar sy na die plek waar Faith gestaan het.

Skielik duik ’n glimlag op. Dankie, Faith. Dankie, Here. Layton se foon lui weer. Hy gee dit vir Lauren. Vraend vat sy dit en stap by die deur uit. “Hei, Lauren.” Sy ken die stem. “Ek bel van my ma se foon af. Sy was al een wat jou pa se nommer gehad het. Jou foon is af.” “Hei, Kyle. My foon moet mos die foonhospitaal besoek.” Hulle lag. “Hayden is wakker!”

Sy kan nie help om opgewonde te klink nie. “Dis great!” Hy wil uit sy vel uitspring. “Ek wou jou vroeër sê . . . Ek like jou, Lauren. Ek weet die boeliery was die verkeerde manier om jou aandag te kry. Dis net . . .”

Die foon val amper uit haar hand uit. “Ek sou seker ook van jou gehou het, maar iemand wat sulke toxic gedrag het en hul belangstelling só wys, is nie vir my nie. Ek het nou te veel om mee te deal.” In daai oomblik besef Lauren sy is gelukkig om nog te kan lewe, al het soveel goed die afgelope tyd in ’n nagmerrie ontaard. Daarom sal sy net die beste vir haar kies en altyd hoop vir die beste. Dis wat haar ma sou wou hê

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.