Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Geheime van gister
1 April 2021


Op dié Paasfeesoggend, wel ’n paar minute voor middag, voel Denique soos ’n skilpad wat twee doppe dra. Sy trek die kombers oor haar kop. Die sonstrale loer deur die gleufie van die gordyne. Sy gooi die kombers weer af. Hoekom is die son so onbeskof?

Sy kan nie wag vir winter nie! Die reëndruppels wat koel teen haar vel afgly. Die wind wat deur haar krulle wapper. Die wolke wat die son versteek. ’n Dun stem ruk haar na die werklikheid. “Dennie! Maak klaar,” hoor sy haar ma, Shanique, skree. Dan hoor sy haar pa, Donovan: “Sonnebloooom!” As dit nie vir hom was nie, sou sy steeds op Swellendam, by Kelly, gewees het!

Nou is sy hier op ’n dorpie wat haar nog nooit aangeraak het nie. Donovan moes Ceres toe trek vir werk. Denique het by haar antie Debbie op Swellendam gebly terwyl sy die kwartaal voltooi het. Hulle het nog al die jare daar gebly en sy wou nie trek en haar lewe agterlaat nie. Die blomme en bome laat haar so nies, sy kan dit nie meer verdra nie.

Die grondpaaie laat haar tekkies aaklig lyk. Sy is miserable hier. Ceres is nie ’n plek vir haar nie. Sy loer deur die venster en gewaar die vuurwarm sonstrale. Sy sweer dit kan nie wag om haar vel te verniel nie. Dit is steeds seer en styf gebrand van by die swembad lê soos in die movies. Movies lieg! Die son vermoor jou vel! Sy stap kombuis toe en help met die kos terwyl Donovan die tafel dek.

Shanique skep op, kyk na haar gesin en glimlag. Die stilte irriteer vir Denique. Ander jare het die kinders die huis omgekeer. Hulle sou haar mal maak. Die tieners sou rugby en krieket speel. Álles is net té anders. Aan tafel staar sy na die kerrievis, hot cross buns, oondgebraaide aartappels, slaai en weet nie wat nog nie. Die verskillende geure laat haar maag grom, maar sy mis steeds antie Debbie se tuisgebakte brood.

Sy mis Cayley se soet stem wanneer hulle sing. Sy mis om met haar neefs te baklei. Maar sy weet dis vir almal se beswil dat hulle eerder apart is. Liewer nou as vir ewig. ’n Mens weet nie waar die corona-virus wegkruip nie. Haar hart brand vir die woord van God, maar sy weet hulle moet groot groepe mense vermy. Nou is dit net hulle. Skielik besef sy sy moet dankbaar wees al wil sy nie in hierdie plek wees nie.

Ten minste het hulle nog mekaar én kos om te eet. Denique glimlag toe sy na haar ma kyk. “Hoe proe die vis?” “Lekker. Ek kan proe antie Debbie het vir Mammie geleer.” Die afgelope tyd het sy iets opgemerk. Iets is anders omtrent haar ma. Sy is so skrikkerig. Het iets gebeur waarvan hulle haar nie gesê het nie?

Die Dinsdagoggend duik ’n glimlag op toe sy haar spieëlbeeld sien. Die nuwe skoolklere is glad nie so sleg soos wat sy gedink het dit sou wees nie. Sy maak haar bruin krulle vas en borsel haar edges plat. Sy moet haar energie spaar vir die skool en sy vreemde leerders wat maak asof sy die eerste nuwe leerder by hul skool is. Denique groet haar ouers en trek ’n gesig toe hulle haar soen.

Donovan bied vir haar ontbyt aan, maar sy vat dit nie. Shanique weet nie waarvandaan haar dogter die hardkoppigheid gekry het nie. Donovan vra vir Denique om koffie te maak. “Daddy weet seker die son skyn 135 °C buite?” Sy gooi vir haar ’n glas melk. “As oordrywing ’n siekte was, was jy op jou hospitaalbed,” sê Shanique glimlaggend. “Ek wil net kyk of jou brein nog werk.” kom Donovan deur. “Jy lyk so dood en . . . Donker.” Sy gelag dreun deur die vertrek. “Mammie!” Sy klink vir haarself soos ’n sesjarige.

“Hoekom het Mammie dié uncle gekies om my pa te wees?” “Vir agtien jaar het ek opgeskeep gesit met jou verveligheid. Dis nou jou beurt,” grap Donovan. Haar oë rus op Shanique. “Dink Mammie Daddy Donovan is ’n goeie pa?” “Hou op my betrek by julle onbenullighede,” sy dink kamma ’n oomblik, “maar hy is ’n perfekte pa.” Shanique en Donovan soen mekaar en lag.

Vir Denique is dit irriterend. Op pad skool toe kan sy kan nie haar lewe met ’n man en kinders voorstel nie. Hoekom wil sy ’n gesin hê as sy leesboeke het? Leesboeke wat haar op verskillende reise vat. Sy sien haarself as ’n handvol. Haar gedagtes word onderbreek deur vier seuns wat om ’n ander seun warrel. Dit lyk glad nie vrolik nie. Hy word gestoot.

Al wat hy op die oomblik kan beskerm, is sy skoolsak, maar dit word ook van hom weggegryp. Toe hy daarna uitreik, word hy weggestamp. Sy bril tref die grond. Die donkerkop wil daarop trap. Denique haal diep asem om ontslae te raak van die woede. Sy wil nie in die selle opeindig nie, maar sy kan ook sien hoe ’n seun se lewe vernietig word nie. Dit bring soveel herinneringe terug.

“Los hom!” Sy gee die seun se rugsak vir hom. Donkerkop lag en stoot haar weg. Sy kantel en staar emosieloos na hom. Dít is een van die redes hoekom sy vir ses maande woedebeheerklasse moes loop. Sy dink dis steeds onregverdig vir mense om haar lewe onnodig hel te maak. Haar oë rus kalm op die ander drie. Jade, die seun wat hulle rondstamp, wonder hoeveel breinselle die meisie verloor het. Hy sal dit nie waag om hulle te onderbreek nie. Al wat hy wil doen, is vlug. Vlug van hierdie onmanierlikheid van mense. Hy wil ontplof, maar dit gaan nie die moeite werd wees nie. Sy spiere is te min om almal aan te vat.

“Los hom,” sê Denique weer. Hulle lag. “Los hom,” sê Donkerkop dan in ’n dun stemmetjie. Dit irriteer haar as uitgegroeide tieners steeds ’n brein het van sesjariges. Donkerkop klap die bril uit Denique se hande en beveel haar om dit op te tel. Sy sal dit definitief doen, maar onder die bevel van ’n looser nie, nooit! Hier sal sy dringend iets moet doen.

Een van twee dinge kan gebeur: as sy dit los, word hulle albei vir die res van die jaar aangeval of sy sit haar voet neer en hulle is vry. “Hoekom tel jy dit nie op nie?” vra sy terwyl sy om hom loop. Jade word yskoud. Niemand het nog ooit gewaag om só met Lionel te praat nie. Die eerste vier letters in sy naam sê alles . . .

Hy weet sommer dadelik sy is nie van Ceres nie. Hy sal nie verbaas wees as sy ’n vreemde spesie is nie. “Ek wag, seun.” Sy wys na die bril. Hy stoot haar weg, maar sy staan stewig. Sy weier om toe te laat dat hy oor haar loop. Verbasend staar die vyf seuns na die hardkoppige meisie. ’n Glimlag duik op toe Lionel na die plank gryp. Hy maak gereed om haar te slaan, maar sy keer en stuur ’n vuis deur. Jade skrik effens. Die ander seuns val haar aan. Dit lyk asof sy kantel, maar die woede oorspoel haar en sy baklei.

Met ’n paar vuishoue en skoppe, tref hulle die grond. Dit los haar en Donkerkop alleen. Die tyd van bejammering is verby. Lionel stuur ’n vuis deur, maar hy het sy energie gemors. Dis mis! Haar vuis land onder sy ken. Hy gee ’n paar treë terug. Toe sy hom weer slaan, val hy. Die seuns hardloop weg. Denique skud haar hande af en kyk tevrede na Jade. Met ’n vrolike glimlag, tel sy die bril op en hou dit in sy rigting. Hy trek ’n gesig. “Is jy van jou kop af?!” Haar wenkbroue skiet op. “Oh, wow!” Hy staar steeds na die bril in haar hand.

“Daai mense gaan my vermoor as hulle my alleen sien en . . .” “Ek is seker ek het diere gesien en by the way, ’n dankie is welkom.” “Jy verwag ek moet dankie sê en dit nadat jy my lewe verder hel gemaak het!” “Oukei, ek sien wat hier gebeur. Jy kon nie teen dáái diere opgestaan het nie, maar jy kan teen iemand wat jy weet jou nie sal seermaak nie?” Sy haal diep asem. “Weet jy wat?”

Sy gooi die bril op die grond neer. “Gaan vlieg in jou . . .” Sy storm weg. Die skooldag vlieg verby en haar bloed kook steeds. Op pad huis toe dink Denique aan die hope huiswerk en die son steel alreeds haar energie. Sy kan nie glo sy het nie vriende gemaak nie. Sy het een, maar hy is ’n ondankbare snotkop! Haar skouers hang toe sy by die deur instap. “Hoe was jou eerste skooldag?” wil Donovan weet.

“Hoekom lyk jy só?” “Disagreement. Ek vertel Daddy later.” Sy stap kamer toe. Die dag was té lank! Sy was mal oor skool, maar nou voel sy om skool te los. Die leerders het na haar gestaar asof sy van ’n ander planeet af kom. Sy wens Kelly was by haar. Versigtig gaan sit sy op die bed. Vir die eerste keer in haar hele lewe kon sy ’n oog toemaak in ’n vreemde huis. Sy blameer die moegheid.

”Dennie!” hoor sy haar ma roep. “Maak klaar! Die winkels wag nie vir jou nie!” Denique stap sleepvoet na die sitkamer. Al wat sy wil doen, is slaap! Sy vat die karsleutels by haar ma, maar Shanique gryp dit terug. “Mammie, kan ek ry?” “Nee!” Sy klim in. Denique sug. “Maar Daddy laat my ry.” “Lyk ek vir jou soos jou pa? Klim in.”

Denique klim in, maar moet weer uit toe haar ma sê: “Gaan haal gou my bril asseblief. Dis in my kassie.” Denique maak die kassie se deur oop en dit kap teen iets wat effens onder die bed uitsteek. Dis ’n boks. Sy haal die bril uit en sit dit op die bed. Sy tel die boks op en haal die oop slotjie af. Daar is ander papiere en ’n brief in.

Sy begin lees: Liefste engel. Ná al die jare wat vinnig verby gesweef het, dink ek steeds aan jou. Ek wens elke dag om jou weer te sien. Wat ek aan jou gedoen het, was verkeerd, ek weet, maar ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek is al getroud en het ’n wonderlike dogter, maar sonder jou voel my lewe onvolledig. Ek vra God elke dag om jou te bewaar en te beskerm. Hy antwoord my gebede.

Dít weet ek. Daar gaan nie ’n dag verby wat my hart nie na jou verlang nie. Jy is myne en jy sal altyd myne bly. Ek is lief vir jou en sien uit daarna om weer saam met jou te wees. Liefde Shanique xxx Sy hoor die hooter, sit die brief terug, gryp die bril en hardloop uit.

In die kar kan sy nie haar ma in die gesig kyk nie. Wie se brief is dit? Dit kan nie vir haar pa wees nie, want hy haat die troetelnaam “engel”. *Moenie deel twee in die uitgawe van 15 April misloop nie. Gaan Denique die moed bymekaarskraap om haar ma te konfronteer oor die brief?


Wil jy R750 verdien ?
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.