Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Op soek na krummels (vervolgverhaal)
10 Junie 2021


Dit is net ná middernag toe Michelle haar kantoor verlaat. Sy werk nie gewoonlik so laat nie, maar moes noodgedwonge bly om ’n belangrike voorlegging gereed te kry vir die volgende dag se vergadering. Die direkteure gaan daar wees en alles moet seepglad verloop.

Michelle is al tien jaar by die maatskappy en hierdie is die maak-of-breek-geleentheid na die boonste vloer. Die ondergrondse parkeerarea is leeg en doodstil. Dit is net haar motor wat daar staan, reg in die middel.

Sy stap en die klik-klak van haar hakkieskoene eggo deur die parkeerarea. Klik-klak, klik-klak tot sy uiteindelik haar motor bereik. Sy voel angstig en benoud, want die leë parkeer-area maak haar skielik bang. Sy sukkel om haar motorsleutels uit haar sak te kry en toe sy dit het, val dit uit haar hand. Sy buk versigtig en tel dit op.

Toe sy die sleutel wil indruk om oop te sluit, sien sy ’n figuur reflekteer in die venster. Voor sy kon skree, word haar mond toegedruk, sy sukkel en stry, maar die een is te sterk. Sy probeer om die hand van haar mond af te kry, maar al haar pogings is nutteloos. Sy huil en mompel deur die hand om haar asseblief nie seer te maak nie, maar dit is duidelik dat die aanvaller daar is vir net een rede. “Ek is die Gingerbread Man.” Haar oë raak groot, want sy herken die stem. Sy huil nog harder en harder.

Sy weet wie die Gingerbread Man is. “Ek is jammer. Ek is jammer. Sy het ons gedwing om só te wees, asseblief, Ju. . .” Voor sy haar sin kon voltooi, voel sy net die warm bloed wat by haar bors afstroom. Haar keel is gesny van oor tot oor. Michelle struikel toe die Gingerbread Man haar los. Sy gryp na haar keel, maar die sny is te groot en sy kan nie die bloed stop nie. Net voor haar oë toegaan, sien sy die man se gesig, en sowaar dit is hy.

Hy gooi ’n wit roos in haar plas bloed en stap weg. Terwyl hy stap, haal hy ’n notaboekie uit met ’n pen en trek ’n streep deur ’n naam in die boekie. *** Hoekom doen hy dit? Hy is 55 jaar oud, 35 jaar in die diens. Wat het hy om te wys? Nóg ’n oggend van alleen wakker skrik. Dit is seker beter só. Dit gee hom meer tyd om aandag te gee aan werk en daar is ook dan niemand wat wonder of hy vanaand huis toe gaan kom nie. Só dwaal die gedagtes deur speursersant Marlon Cloete se gedagtes.

Terwyl hy nog so sit en dink, lui sy foon. “Môre, Bossie, tyd om in te val. Ek stuur die adres en kry jou daar. Koffie? “Jansen, jy weet ek ken nie hoe die foonstorie werk nie. Sê net die adres. En ja kry vir my koffie. Dankie.” “Ja, jou fossiel. Dit is in die ondergrondse parkeerarea van die De-Molen-Thys-gebou. Ou honde wil ook niks leer nie, nè?”, kom dit laggend van speurder Mervin Jansen, Cloete se regterhand, kollega en vriend. Hulle is nou al tien jaar saam in die geveg teen misdaad en lei ook die span van die moord-en-misdaad-afdeling.

“Ja, ja, meneer-weet-alles, kry jou daar en onthou, koffie swart en bitter.” Cloete trek ’n pak klere aan, klim in sy ou Toyota en trek weg. “Jansen, praat met my,” por hy aan toe hy op die toneel kom. “Bossie, dit is Michelle Pietersen. Sy werk hier op die 19de vloer. Blykbaar het sy laat gewerk en die aanvaller het haar hier ingewag. Die arme meisie het nie ’n kat se kans gestaan nie. Haar keel is afgesny en niks anders is gevat nie, so die moontlikheid dat dit ’n rooftog was wat verkeerd gegaan het, kan ons uitskakel. Dit is duidelik ons aanvaller wou haar doodmaak, maar daar is nog iets . . .”

Hy hou ’n sakkie in die lig en wys na die wit roos met bloed: “Lui dit dalk ’n klokkie?” “Ja, ja, ja, die Sandra Smith-moord so ’n paar weke terug. Ook ’n wit roos en ook met ’n skerp voorwerp keelaf gesny.” Cloete probeer meer onthou van die Smith-saak om te kyk of nog goed dalk ooreenstem. “Jansen, kry die Smith-lêer en kry al die bewysstukke van hierdie toneel. Ek kry jou by die lykhuis.”

By die lykhuis is dit maar koud en donker, voel alewig asof daar dood in die lug hang. Dit gee hom altyd koue rillings as hy daar inkom, dink Cloete terwyl hy homself so ’n skud gee. Hy loer-loer so onder die lakens en trek sy gesig skeef, want wat hy sien, is onaangenaam. “So Dokter, wat kan jy my vertel? Jy sê mos alle lyke vertel ’n storie. Wel ek is reg vir ’n storie.”

“Laat my werk maar ’n grap is vir jou Cloete. In elk geval, hierdie liggaam van Michelle en die een van Sandra vertel definitief dieselfde storie. Die snywond aan die keel van beide was met dieselfde voorwerp toegedien, van regs na links van agter af wat aandui dat ons aanvaller regs is. Daar is geen tekens van ’n geveg nie. Ek kan ook sê dat dit ’n baie skerp mes is wat gebruik was. Verder is daar geen ander bewyse, geen bloed onder die naels en geen hare of iets om te toets vir DNS nie.” “Dankie, Dok, laat weet as jy nog nuus het.”

Cloete loop na sy kantoor toe met beide lêers en dink daar is geen ding soos ’n toeval nie. Is daar ’n reeksmoordenaar in hul midde? Hy skud sy kop terwyl hy dít by homself wil weet. Nee, antwoord hy homself in sy gedagtes, want daar is geen spesiale ooreenkomste tussen die twee nie. Die een is blond en die ander ’n brunet, tog is dit blykbaar een persoon wat vir hul dood verantwoordelik is. Hy sit by sy lessenaar en sien vir Jansen aankom met ’n effe glimlag op sy gesig.

“Ek dink ek het iets. Ek het die twee dames se name deur die databasis gesit en siedaar, daar is wel ’n verband. Beide van hulle is oudleerders van Arend Hoër en hulle was vriende.” Hy gooi ’n boek neer op die lessenaar en daar is dit: ’n foto van die twee meisies in die jaarboek. Hulle is saam met nog drie ander meisies op ’n groepfoto met die opskrif: “Rose van Arend Hoër 1996”.

Hy het ook ’n lêer by hom van ’n arrestasie van 1996. “Beide Michelle en Sandra was deel van ’n groep meisies wat in 1996 gearresteer is vir oproerige gedrag ná ’n gekuier by ’n vriend se huis. Blykbaar het hulle ’n leerder rondgepluk en verneder.

Daar is selfs sprake dat hulle die leerder onaangename take laat uitvoer het, natuurlik ten aan-skoue van talle partygangers en leerders. Dit is hoe hulle in die sisteem beland het. Die leerder het nooit na vore gekom nie en daar was ‘geen’ getuies nie. Die staat het die saak laat vaar.” Jansen sak terug in die sitplek by Cloete se lessenaar en wag vir sy reaksie. Cloete sug en lê agteroor.

Hy draai sy stoel in die rondte en tik sy vingers op die lessenaar. “Die meisies in die foto, is hulle dieselfde meisies wat gearresteer was?” Hy gryp na blaaie op sy lessenaar en lees vlugtig die een ná die ander. “Ja . . . Hoekom? Het jy iets daar?” vra Jansen heel opgewonde wetend dat Cloete soos ’n bloedhond nou ’n snuf in die neus gekry het.

“Ek dink ek het iets beet . . . Lees daardie name vir my,” sê hy terwyl hy ’n pak lêers uit sy laai uithaal. “Dit is Sandra Smith, Michelle Pietersen, Violet Strauss, Paula Viljoen en Nanette February.” “So wragtig. Kyk hier. ’n Lopende saak van vyf jaar gelede, ene Paula Viljoen was gevind in haar woonstel.” Cloete staan op en kyk grootoog na die papier in sy hand. “Wat is dit? Praat met my.”

Jansen raak terselfdertyd angstig en nuuskierig. “Hoe kon ons dit mis? Mejuffrou Paula Viljoen se keel was afgesny en al wat op die toneel uitgestaan het, was ’n wit bloedbevlekte roos . . .” Hy sit die papier stadig op die lessenaar neer en vryf oor sy mond met sy ander hand. “Bossie, dink jy . . .” “Ja, Jansen, lyk my ons dames in hierdie groep is teikens, en ons jagter is nog nie klaar nie. Kry die kontakbesonderhede van Violet Strauss en Nanette February. Ons moet hulle vind voor hý dit doen . . .

* Gaan Jansen en Cloete betyds tot die redding kom van die oorblywende vroue in die groep? Net die tyd sal leer of hul jare se ervaring genoeg is om ’n verskil te maak in dié saak. Lees die slot van hierdie verhaal in die uitgawe van 24 Junie 2021.


Wil jy R750 verdien ?

E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer kry jy R750.

Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.