Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Poppie se geheim
18 Februarie 2021


Brümilda sit rusteloos voor in die wiskundeklas. Haar oë is gerig op die tikkende horlosie op juffrou Maree se lessenaar terwyl haar voete ritmies beweeg op die maat van die pen wat sy op haar bank slaan.

Dis die laaste periode van die dag en sy kan nie wag vir die geluid van die skoolklok om in haar bakoortjies te weergalm nie. Sy wil oudergewoonte vinnig genoeg by die skool wegkom om na die bekoorlike staaltjies van haar boesemvriend, antie Poppie, te gaan luister.

Staaltjies oor antie Poppie se opwindende kinderjare wat haar wegvoer na ’n ander dimensie en haar laat vergeet van die wêreld wat op haar skouers rus. Sy het antie Poppie ontmoet deur Boet, die opsigter wat by die weeshuis werk. Boet het elke middag koffie gaan drink by antie Poppie en Brümilda het altyd saamgepiekel en die twee is sedertdien boesemvriende. Die plooie op antie Poppie se gesig vertel hul eie stories.

Stories wat haar lewe oor die jare opsom en in ’n raam sit om ’n beter prentjie oor haar te skilder. Nes Brümilda lei antie Poppie ’n eensame lewe. Haar man is ’n paar jaar gelede oorlede, haar kinders kom kuier weinig en Brümilda is in ’n weeshuis tuis sedert haar ma aan kanker dood is toe sy net vyf jaar oud was. \

Die dag van haar se ma dood spook nog gereeld by haar. Dit voel soos gister toe sy haar ma se hand vasgehou het en sy met elke asemteug al hoe minder asem begin kry het totdat die engele, soos Brümilda altyd sê, haar kom haal het.

Brümilda het al baie gehoor van haar pa, maar sy het hom nog nooit fisies of selfs net ’n foto van hom gesien nie. Hy het glo gaan seep koop net voor haar geboorte. Of altans dis wat Boet sê, maar hy wil ook nie te veel onthul nie.

Maar antie Poppie en Brümilda se lewens word glad nie deur selfbejammering gekenmerk nie. Inteendeel, antie Poppie is nog baie lewenslustig en positief ten spyte van die slegte tyding wat haar onlangs getref het. Agt maande gelede is sy met demensie gediagnoseer. Alhoewel sy nog kan kommunikeer en ’n bietjie hardkoppig is, skop die vergeetagtigheid soms in.

Wat as antie Poppie my glad nie meer onthou nie? Wat as antie Poppie in ’n tehuis moet gaan bly, te swak om na haarself om te sien, dink Brümilda terwyl sy ophou om met die pen op haar bank te slaan en begin om met haar dik vlegsel te speel. Meteens lui die skoolklokkie. Brümilda slaan die werkboek wat op haar bank lê, vinnig toe en druk dit in haar sak. Sy is gereed om soos ’n dwarrelwind by die klas uit te storm en na die bus toe te jaag wat die leerders huis toe neem.

“Klas, julle mag maar verdaag en moenie vergeet dat ons môre ’n klastoets skryf nie. Julle almal beter die toets slaag anders gaan daar moeilikheid wees,” sê hul juffrou terwyl sy van haar stoel agter haar lessenaar opstaan. Brümilda is vinnig by die klas uit op pad na die bus toe om haar sitplek heel voor in die bus te verseker. Die bus stop met ’n gedreun voor antie Poppie se huis. Sy sit in ’n wipstoel met ’n gehekelde kombers wat oor haar bene gegooi is. Sy het dit by Boet gekry as ’n geskenk vir haar 70ste verjaardag.

“Antie Poppie! Antie Poppie!” skree Brümilda luidkeels uit die bus en hardloop na haar toe die deure van die bus oopgaan. “Jy sê nie eens bye nie!” skree Brandon uit die bus terwyl die deur van die bus toegaan en hy onophoudelik hoot totdat hy ’n reaksie uit Brümilda kry. Brümilda draai om en waai met beide hande vir hom en die kinders in die bus.

“Sien julle môre,” skree sy. “Hoe was jou dag by die skool? Het jy enige nuwe maats gemaak waarvan ek nie weet nie?” vra antie Poppie met ’n krakerige stem terwyl sy na Brümilda kyk wat voor haar staan met haar hande langs haar sy, hare wat wild staan amper só asof sy deur ’n weerligstraal geskok is en ’n skoolrok en skoolskoene wat asvaal is van die stof.

“Ag, dis sommer net same old, same old. Die wiskundeperiode was weer lekker boring en soos gewoonlik was juffrou Maree wéér op my case. Ek kan ook niks reg doen in haar oë nie. Maar nou genoeg van my, hoe was antie Poppie se dag? Ek’s seker dit was meer exciting as myne,” sê Brümilda.

“My dag was oukei . . . Niks interessants het gebeur nie,” sê antie Poppie, maar sy klink nie oortuigend nie. Brümilda kom agter iets is nie pluis nie en gaan sit op die stoep langs antie Poppie. Sy trek haar skoolrok ’n bietjie af om haar boude ten volle te bedek. “Antie Poppie, in al die tye wat ek vir antie Poppie kom kuier ná skool, het ek antie Poppie nog nooit so bleek gesien nie. Is alles oraait? Voel antie Poppie siekerig?” vra Brümilda bekommerd.

“Antie Poppie weet tog antie Poppie kan met my oor enigiets praat. Nè? Ek mag dalk te jonk wees om te verstaan, maar ek luister graag,” sê Brümilda met soveel hartseer en onsekerheid in haar oë. Antie Poppie se trane lê vlak in haar oë en sy speel angstig met haar vingers. Sy kan Brümilda nie in die oë kyk nie al probeer sy hoe hard.

Brümilda kom dit agter en maak haar keel skoon en wag vir antie Poppie om haar te vertel wat aangaan, maar sy kan nie ’n woord uit haar kry nie. Dit voel wéér soos die dag toe haar ma afgesterf het en verskeie gedagtes hardloop deur haar kop. Sy staan van die stoep af op, vat antie Poppie aan die hand en gaan sit voor haar terwyl sy haar hand streel.

“My hele lewe lank het almal my verstoot en vertrap, maar antie Poppie was altyd daar toe ek iemand nodig gehad het. Antie Poppie was nooit te besig om na my gekerm te luister nie en noudat antie Poppie iemand nodig het om mee te praat, wil ek graag daar wees om na antie Poppie te luister en antie Poppie te ondersteun. Laat my net toe om dit te doen, asseblief?” vra Brümilda smekend.

Antie Poppie draai haar gesig na Brümilda. “Ek’s nie siek nie, maar daar is wel iets wat jy moet weet.” Brümilda se oë rek en sy kan voel hoe haar hart al hoe vinniger klop. “Wat’s dit, antie Poppie?” vra Brümilda bang vir dít wat sy nou gaan hoor. “Ek’s jou ouma!” sê antie Poppie. Brümilda lag in ongeloof en kyk antie Poppie vreemd aan. “My ouma? Ek ken nie my oumas nie. En hulle is mos dood, dan nie?” vra Brümilda geskok. “Jou pa se ma is dood, ja, maar nie jou ma se ma nie. Ek is jou ma, Cindy, se ma.”

“Maar hoe?” vra Brümilda. “Ek en jou oupa het gesukkel om swanger te raak met ons eerste kind en toe ons uiteindelik swanger raak, wou ons jou ma met alles binne in ons teen hierdie bose wêreld beskerm. Maar somehow het ons gefaal en sy het toe swanger geraak van ’n ouerige man. Ek en jou oupa kon dit net nie aanvaar nie en ons het toe besluit haar ’n ultimatum te gee. Óf sy gaan vir ’n aborsie of sy vat die pad . . .” vertel antie Poppie met hartseer in haar stem.

“En sy het toe besluit om die pad te vat . . .” sê Brümilda saggies. “Ek’t uitgevind jy’s my kleinkind deur ’n brief wat sy aan my geskryf het net voor sy dood is. Sy’t jou as ’n quirky kind vol lewe met dik vlegsels beskryf. Ek sien so baie van haar in jou. Die manier hoe jy praat, loop, glimlag . . . Dis alles sy.” Brümilda lag met trane in haar oë. Sy wou nog altyd meer weet oor haar ma en nou lê antie Poppie dit alles mooi vir haar uit. “Nou hoekom het antie Poppie my nou eers gesê? Ons is dan al so lank vriende?” vra Brümilda verward.

“Toe ek drie jaar gelede na dié dorp toe trek, op soek na jou, wou ek lankal oop kaarte met jou speel. Ek’t net nie genoeg moed gehad om vir jou die waarheid te vertel nie, maar toe die dokter vanoggend sê my gesondheid is besig om agteruit te gaan, het ek vir myself gesê dis nou of nooit. En as jy kwaad is vir my, verstaan ek heeltemal. Ek’t vir jou gelieg en jou ma verstoot,” sê antie Poppie en die trane blink in haar oë. Brümilda sit haar hande in antie Poppie s’n en kyk haar in die oë met ’n skewe glimlag.

“Al daai was tussen julle en my ma. Ek is hartseer dat ek nooit die kans gekry het om ons almal saam as familie te hê nie, maar ek het al vir antie Poppie leer ken. En as my ma julle vergewe het, het ek geen rede om kwaad te wees nie. Ek kan nooit kwaad wees vir antie Poppie nie. Ek’s te bly ek kon antie Poppie ontmoet en amazing memories saam met antie Poppie maak. Kom ons vergeet van die verlede en kyk vorentoe,” sê Brümilda.

Antie Poppie kan nie glo wat sy hoor nie. Dis die beste nuus wat sy in ’n lang tyd gehoor het en nie eens die uitslae wat die dokter vanoggend gedeel het, kan hierdie spesiale oomblik bederf nie. Sy glimlag vir Brümilda en sê vir haar met ’n swaaiende wysvinger die volgende woorde: “O, en voor ek vergeet, van nou af is dit ouma Poppie vir jou en nie antie Poppie nie,” grap sy. Hulle lag al te lekker saam en omhels mekaar.


Wil jy R750 verdien ?
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.