Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Rys uit die as
19 Augustus 2021

Miriam is dadelik helder wakker. Haar hart klop dawerend. Sy wag. Iewers blaf ’n hond. Dan is dit onnatuurlik stil. Daar hoor sy dit weer. ’n Geskuifel, gekerm, gefluister . . .

Stadig steek sy haar hand uit na haar selfoon langs die bed. Haar bewende vingers vroetel tevergeefs aan die foon. Toe hoor sy dit duidelik: iemand wat kerm by die agterdeur. Dis ’n huilende vrou wat tussendeur smeek.

Miriam sluip huiwerig-bewerig gang af, deur die kombuis, agterdeur toe. Sy trek die gordyntjie stadig weg en loer. Voor die agterdeur staan twee donkergeklede mans wat ’n maer, gehawende en verflenterde vroutjie ondersteun. Sy kerm en hou haar groot buik vas. Miriam los die gordyn en spring terug in die kombuis waar sy in klein sirkeltjies om en om loop en fluister.

Dis beslis die mense wat op die ashoop bly. Dit het John nou van sy geheul met die mense wat op die ashope bly! En nou dat hy weg is, sit sy met die gevolge van haar oorlede man se barmhartigheid. “John, moenie met hulle praat nie. Moenie geld, sinkplate of kartondose uitdeel nie. Hulle gaan aanhou om ons lastig te val. Ek het van die begin af gesê hierdie is ’n lieflike huis, maar ’n eiendom so naby ’n stortingsterrein? Dit gaan ons duur te staan kom.” Só het sy altyd gekyf.

Maar John het sag geskerm: “Ons bly hier omdat ons ’n verskil kan maak . . .” Sy loer weer, versigtig. Die gekerm word harder. Dan sien sy die plas water op die stoep en die kermende vroutjie wat, half gebukkend, nou alleen is.

“Oukei, John, ek sál haar help,” sê sy. Miriam pluk die agterdeur oop en beduie vir die vroutjie sy kom nou. Sy storm terug, gryp ’n ou kombers en twee handdoeke uit die kas. Sy en die wildvreemde, kramende mensie ry drieuur in die oggend Steve Biko-hospitaal toe. Die strate is bang-stil, miskolle lê skelm in die laagtes. En die mensie op die agtersitplek hou nooit op kreun nie. Soms hoor sy: “So sorry . . .”

Miriam sit vooroor, styf teen die stuurwiel en sê: “Moenie sorry sê nie. Toemaar, amper daar, amper!” By die hospitaal word sy vinnig gehelp. Die trollie met die hygende vrou verdwyn vinnig by ’n gang af. Sy verduidelik wat gebeur het en gee haar selfoonnommer en adres. Toe wag sy.

Ná ’n uur vra sy of sy kan gaan kyk hoe dit gaan. By die kraamsaal groet suster Anoona haar. Miriam verduidelik hoe die vrou voor haar deur beland het. “Sy gaan lank in kraam wees, mevrou, dis haar eersteling. Ons het ’n bietjie gesels.”

“Noem my asseblief Miriam. Kon jy enigsins agterkom hoe sy in dié haglike omstandighede beland het?” Anoona kyk af na haar hande. “Haar naam is Aneesa Anenyasha, God het genade. Haar tweede naam het vannag waar geword, Miriam, want jy was genadig. Sy en haar man het Suid-Afrika toe gekom uit Namibië, op soek na ’n beter toekoms.

Haar man was ’n kok en het ’n goeie werk gekry. Hulle het in ’n woonstel in Centurion gehuur. Kort nadat sy swanger geraak het, is haar man een laataand ná werk naby die restaurant waar hy gewerk het, doodgesteek vir sy selfoon en R200. Aneesa was uitgelewer, sy moes die woonstel prysgee. Sy kon nêrens werk kry nie. Ná vier maande en baie sukkel, beland sy op die ashoop, waar weerlose vroue misbruik word en . . .

En selfs deur rowers gebruik word om hulle te help om mense te beroof.” Miriam word yskoud. Sy fluister bewend: “Ek moet ry. Laat weet my asseblief hoe dit met haar gaan. My selfoonnommer is by ontvangs.” Sy jaag terug deur die donker strate. Toe sy die voordeur oopsluit, weet sy dat haar vrese waar is. Die eerste teken is dat die televisie weg is. Die buurman kom dadelik toe sy bel en die polisie kom neem haar verklaring af. Die bure bly by haar tot die eerste lig vat-vat aan die horison.

“Jy maak nooit weer vir vreemdes die deur oop nie, Moeder Teresa,” sê haar ontstelde buurman, Timmy. Sy antwoord nie, groet net en gaan lê met haar oë wyd oop. “Wat anders kon ek doen, John? En ek mis jou, my man,” fluister sy.

Toe bel die kraamsuster. Die kleintjie is toe gebore, maar hulle sal beslis langer in die hospitaal moet bly. Terwyl Miriam eet, vertel die radio dat die vinnige verspreiding van Covid-19 die regering noodsaak om almal vir ’n tyd in te perk en dit tree spoedig in werking. Die volgende oggend lui die foon vroeg. Anoona vra angstig of Miriam weet waar Aneesa en die baba is, want hulle het verdwyn, waarskynlik weggeloop.

“Daardie baba is baie swak, Miriam,” sê sy. Jammerte klop sag aan Miriam se hart. Aneesa, God is genadig, dink sy. Toe sy haar buurman bel en vra om die ashope te gaan fynkam, sê Timmy ferm dat hy nie na iemand kan soek wat hy nog nooit gesien het nie. “En ons moet ons regmaak vir ’n lang inperking. Die polisie sal al die haweloses bymekaarmaak en na ’n veilige plek neem, so dink nou aan jouself.”

Die dag voor die inperking begin, ry sy terug van die koswinkels af met ’n swaargelaaide kattebak. Die pad loop verby ’n spruit waar sluipslapers se rokies steeds smeekseine opstuur. Mense met harte en stories en baie smart, dink sy, en hulle is nog nie verskuif nie. Dan sien sy haar: Aneesa sit teen die skuinste naby die pad met ’n pap lyfie in haar arms. Miriam, hê genade, fluister sy vir haarself. Toe sy aftrek, vlieg Aneesa op en probeer vlug, maar Miriam roep ferm: “I want to help you, please!” Aneesa steek vas en draai om. Hulle stap mekaar huiwerig tegemoet.

“Ek is jammer. My baba is nie oukei nie.” “Hoekom is jy dan weg by die hospitaal?” “Ek is so jammer. Daai mans . . . Ek het geweet hulle help my nie net vir my nie, maar dat hulle jou dalk sal besteel. Ek het gedink die polisie sal my optel en my baba vat.”

“Jy hoef nie bekommerd te wees nie. As jy wil, sal ek jou help. Wil jy teruggaan hospitaal toe? En as jy wil, kan julle by my kom bly. Die polisie het klaar die mans gevang en van my goed gekry,” sê Miriam. By die hospitaal is Miriam verlig dat Anoona aan diens is.

“Anoona, ek sal vir hulle ’n kamer gereed maak vir die inperking. Bel my wanneer ek hulle kan kom haal.” Laatmiddag leun Timmy oor die draad-heining en bekyk die gewerskaf by die buitekamer. Tuingereedskap wat daar gestoor is, word na die dubbelmotorhuis toe gedra. Ná John se heengaan is daar net een motor. Timmy sug. “Wat máák jy, Miriam? Moenie vir my sê jy het haar opgespoor nie, nee! Sy was medepligtig . . .”

“Se voet, Timmy! Sy is misbruik. En ons is almal medepligtig aan die armoede, as jy nou mooi daaroor dink. Kom help my eerder, asseblief. Nou-nou val die heining om as jy so teen hom lê.”

Toe Aneesa en haar seuntjie ’n week later opdaag, is daar ’n bed en die kamer is uitgeverf. Daar is babakleertjies en doeke. Miriam prakseer ’n bababed in ’n boks. Timmy kom bekla daagliks sy lot oor die heining. Sy probeer troos, maar wat sê ’n mens? Timmy het by aftrede die helfte van sy pensioen en ál sy spaargeld in ’n boetiekbottelstoor belê en toe kom die Covid-19-verbod op drankverkope. Teen die einde van die eerste inperkings, is sy depressie so diep soos die holte wat hy reeds in die heining afgedruk het.

Een middag sug hy weer diep oor die heining. Onder die kareeboom langs die huis het Aneesa vuur gemaak in John se braaidrom. Sy maak roosterkoek. Ranganai slaap. Toe kom sy singend na hom met twee pakkies in waspapier toegedraai.

“Dis vir jou, Timmy, omdat jy gehelp het om die kamer reg te maak,” sê sy vir hom. Timmy vertel vir almal in die buurt van die heerlike roosterkoek. Spoedig kom haal die hele straat se mense roosterkoek. Hulle bied aan om te betaal en Aneesa beplan om groente in die agterplaas te plant vir heerlike roosterkoekvulsels.

Tydens die soveelste verbod op die verkoop van drank, vertel Timmy vir Miriam dat sy lot beseël is, hierdie verbod gaan hom heeltemal kelder. “Ai, Timmy! Ek is so jammer. Dis . . . Dis interessante woordspeling met die woord ‘kelder’, hoor!” Maar Timmy se lag gaan oor in ’n snik. “Jammer, Timmy . . .”

“Wat sê ek vir my siek vrou? Hoe gaan ek ons medies kan bekostig, Miriam? Ek het alle hoop verloor . . .” In die skadu van die groot karee begin Aneesa vuur maak vir roosterkoeke. Toe sê Miriam : “Ek het nie vir jou raad nie, buurman, maar ek weet wat John sou gesê het.” “Hy was altyd positief, so sê maar, watter raad sou hy gehad het?” Dis lank stil.

Toe sê Miriam sag: “’n Mens wat hoop géé, verloor nie hoop nie.” Drie weke later klop Timmy met blink oë aan Aneesa se kamerdeur met ’n besigheidsplan en opsoek na ’n vennoot. Ses maande later staan Miriam vir die hoeveelste keer saam met talle ander in ’n lang tou in die parkeerarea van hul inkopiesentrum. Daar staan ’n ou bus, kleurvol geverf. Dis die bestel- en betaalpunt.

Onder ’n groot sambreel, bak Aneesa saam met ’n ander vrou roosterkoek op die braaidrom. Nog twee mense is in diens geneem. Timmy en Aneesa het hulle by die ashoop gekry. Dis mense wat sy graag wou help, want hulle het haar daar bygestaan en probeer beskerm teen die rowers. Aneesa glimlag breed agter haar masker toe sy vir Miriam sien.

Sy gee vir haar die roosterkoek en sê: “Volgende Woensdag kom jy na my woonstel vir ete. Ons moet ’n house warming hou! En dis ook om dankie te sê vir jou goeie hart, my vriendin.” “Opwindend! Ek sien jou dan. Lief jou!” sê Miriam en loop haastig na haar motor toe sodat sy nog haar roosterkoek warm kan eet by die huis.


Wil jy R750 verdien ?
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Kortverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.