Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kortverhaal: Slot - Geheime van gister
29 April 2021


Denique het ’n knop in haar keel. Haar pa, Donovan, bied die vreemde man wat by hul huis opgedaag het ’n glas Coke aan, maar niemand nooi hom sitkamer toe nie. Shanique, haar ma, wil graag weet wat hy soek en wie hy is.

Sy kyk na Denique en gewaar die bekommernis. Haar hart klop vinniger. “Hy soek jou, Shanique,” sê Donovan. Hierdie woorde aktiveer Denique se nuuskierigheid, maar sy kan ook nie help om skuldig te voel nie. Sy het geweet en nie vir Donovan gesê nie. As haar lewe net anders kon uitdraai . . . Sy wens sy het nooit die brief gelees nie.

Met haat staar sy na hom. “Ek is Jordon. My ouers is in ’n karongeluk oorlede,” sê die diep stem. Denique se wenkbroue skiet op. Sy bejammer hom glad nie. Hy wil haar ma steel om sy lewe volledig te maak. Haar hart klop onbedaarlik. Sy kan nie meer wag nie! Wie is hy? Shanique droog haar hande af. “Oukei, hoe help ek?” Hy gee ’n brief vir haar.

“Dié brief sê jy is my biologiese ma.” Die woorde laat Donovan en Denique geskok. Dit is die laaste ding wat albei van hulle verwag het. Shanique beweeg nie. En dan meteens en met trane in haar oë druk sy haar seun vas. Sy het so lank gewag! Denique kan nie help om te wonder hoekom haar ma dié kind van haar weggesteek het nie. Is hy die een van die briewe of wag daar nog ’n skok op hulle?

Donovan weet nie hoe om die situasie te hanteer nie. Hy probeer sy humeur beteuel, maar hy kan nie. Om die woede te versteek, bars hy by die deur uit. “Nou maak alles sin!”

Met trane in haar oë staar Denique na Shanique. “Jy is nie so lief vir my en Daddy soos jy jou weggesteekte seun het nie!” “Dennie, moenie jou simpel hou nie! Ek was te jonk en is gedwing om hom te laat aanneem. Jy weet nie hoe dit voel as ’n deel van jou êrens is, maar jy ken hom nie. Dis elke dag ’n marteling.” Denique skud haar kop.

“Hoekom het jy dit in die eerste plek weggesteek? Hoekom! Kyk wat het jy aan Daddy gedoen! Hoe moet hy jou ooit weer vertrou?” Jordon wil loop, maar Denique ver-skreeu hom. “Dié is mos jou ma! Nou bly!” Denique storm by die voorhekkie uit en loop in Jade vas. Hy gewaar die trane en bied aan om haar bekend te stel aan die omgewing.

Die gras is dalk weggebrand, die son te warm, die bome te vaal en die stof maak dalk haar tekkies vuil, maar Ceres is nie so sleg soos sy gedink het dit sou wees nie. Hulle gaan sit by die dam. Haar gedagtes skiet na Jordon. Dit is nie sy skuld nie, maar sy kan nie help om hom te haat nie. As hy net weggebly het, sou dinge anders gewees het. Sy dink weer.

As Shanique in die eerste plek vir hulle gesê het, dan sou hulle die situasie beter kon hanteer. “Dankie dat jy my gehelp het.” Jade gooi klippies in die dam. Sy glimlag en knik. ’n Sug ontsnap. Sy weet nie wat om te doen! Haar hart breek verder. “My ma het toe nooit ’n ander ou gehad nie.” Hy wag vir haar om verder te praat. “Ek het ’n halfbroer.” Hy kyk na sy skoene.

“Ek het ’n klomp broers en susters. Wil jy ’n paar hê?” Hulle glimlag. “Soms moet ’n mens dit net aanvaar, al ken jy hulle nie eens nie.” Hy sug swaar. “My pa het my ma geskei vir sy ander vrou. Ek voel sy sal sy ander kinders bo-oor my kies omdat ek anders is.” Hy druk sy brille reg. “Het jou ma jou pa verneuk?” vra hy. “Nee, dit was way voor ons,” antwoord sy.

“Ek hoor wat sê jy oor jou ma. Jade, moet nooit jouself blameer vir ander se besluite nie. Mense kom soms in jou lewe net om te vat en dan los hulle jou stukkend.” “Wow! Jy ken my naam?” Sy wys na die balkie op sy hemp. Hy haal dit af. “Wel, Denique, jy kan bly wees jou ma is nie só nie. Ek dink jy moet haar vergewe. Imagine hoe sy moet voel. Al die jare voel.”

Terug by die huis het Denique afgekoel en kry vir Donovan in die garage. Die vaal motor is weg. Hy plak ’n soen voor haar kop en hou haar styf vas voor hulle instap. Hulle ontdek ’n figuur wat met haar rug na hulle sit.

Die laaste sonstrale skyn deur die bloedrooi gordyne. Daar is geen reuk van gekookte kos of skoonmaakmiddels nie. Denique laat sak haar kop en hou haar pa vas. Die trane rol oor Shanique se wange. Haar mond bewe. Sy het nooit gedink hierdie dag gaan aanbreek nie, die dag wanneer haar gesin uitmekaargeskeur word nie. Sy kan nie haar lewe sonder hulle voorstel nie.

Die duiwel kan soms onnodig wees! Haar skouers hang. Sy dank die Here vir die veiligheid van haar seun. Op die oomblik wens sy net dinge kon anders wees, maar wat gebeur het, het gebeur en daar is niks wat sy daaraan kan doen nie. Hy is volwasse en sy is nie spyt sy het hom aan daai gesin geleen nie. Haar gedagte dwaal weer rond.

Sy het haar gesin teleurgestel en daar is nie medikasie daarvoor nie. Sy haal stadig diep asem. As hulle net kan huis toe kom sodat sy kan weet húlle is veilig. Hul uitbarstings vreet aan haar. Sy moet hulle gaan soek! Toe sy opspring, staar die twee na haar. Die hartseer verminder dadelik. Sy wil hulle omhels, maar dit lyk nie asof hulle dit gaan toelaat nie. Sy is effens van balans af.

Met tranerige oë staar sy na hulle. Denique wil haar vashou, maar die haat hou haar terug. Donovan weet nie wat hy moet doen nie. Dit is steeds vir hom ’n skok. “Donovan en Dennie, ek is só jammer ek het julle gebreek,” haar stem kraak. “Ek hoop julle kan my tog vergewe.”

Denique stap weg, maar besluit om liewer op die bank te gaan sit. Stadig draai sy om na die twee figure. Sy kan die begeerte in Donovan se oë sien om sy vrou vas te hou. Shanique bewe effens. Denique haat dit om haar ma só te sien. “Wat het gebeur?” wil Donovan weet. Sy is effens verlig. “Ek was 15 toe ek uitvind ek is swanger.

Ben, Jordon se pa, en sy gesin het getrek om hulle die vernedering te spaar. My familie wou my wegstuur. Ben het belowe hy sal daar wees, maar hy was nie toe my pa my uitgesmyt het nie.”

Haar trane loop. “Die eerste twee aande het ek tussen vullis geslaap en toe het ’n vriend se ma my ingeneem. Ons het besluit op aanneming. Dit was moeilik om hom te laat gaan; om so ’n besluit so jonk te neem. Dit het gevoel asof ek hom weggooi. Ek was ook maar net ’n kind. Hulle moes my vasmaak aan die bed toe hulle hom wegvat. Ek kon hom nie eens sien nie, dus het ek elke keer briewe geskryf wat hy in my drome gelees het.” Sy stap nader aan Donovan.

“Julle is nog die beste wat met my gebeur het! Dennie, met jou geboorte kon ek nie help om jou styf vas te hou nie, want ek was bang hulle gaan jou wegvat. Ek het gedink Jordon is in my verlede, maar die waarheid kom altyd uit.”

“Hoekom het jy net nie vir ons vertel nie?” wil Donovan weet. “Ek was bang julle gaan my weggooi soos my familie. Ek was bang ons bond gaan nie dieselfde wees nie. Ek wou julle nie verloor nie,” antwoord sy.

“En kyk wat het hierdie geheim gedoen, Shanique,” hy haal diep asem. “Jy moes eerlik in die eerste plek gewees het.” “Ek weet . . .” Sy staar na die vloer. “Om eerlik te wees, ek wil graag vir Jordon leer ken, want hy is netso ’n vreemdeling vir my soos hy vir julle is. Mag ek?” “Weet Jordon hoe jy gevoel het met die dag van sy geboorte?” wil Denique weet. Sy skud haar kop.

“Nee, hy het kort ná julle geloop. Hy het sy nommer gegee.” “Bel hom. Hy moet weet,” sê Denique. Sy staar vraend na hulle. “Is julle seker?” “Ja, ek meen, dit het voor ons gebeur en jy verdien dit, Skat, veral ná alles waardeur jy moes gaan. As jy hom gaan leer ken, gaan ons ook, want ons gesin het ’n unbreakable bond,” sê Donovan. Hulle lag en omhels mekaar. Shanique bars uit in trane.

Denique wil nie haar ma verloor nie en om vir Jordon te aanvaar, is al manier om haar te hou. Ten minste cheat haar ma nie. Daar is ’n plekkie vir nog een. Vir Jordon. “Mammie, ek is lief vir jou,” sê Denique. “Bel nou vir Jordon!” Donovan sit die musiek aan en dans met sy vrou en kind. “Here, ek prys U,” sê Shanique.


Wil jy R750 verdien?
E-pos ons by kuier@kuier.co.za met KORTVERHAAL in die onderwerplyn. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer kry jy R750.
Meer oor:  Kuier  |  Vervolgverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.