Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kraamstres: Maak só tydens die pandemie
18 Februarie 2021


Swangerskap is veronderstel om ’n vreugdevolle tyd van afwagting en opwinding te wees, nie net vir die paartjie nie, maar ook vir hul familie en vriende.

Maar sedert Covid-19 sy kloue in die mensdom geslaan het, is baie swanger vroue beangs oor watter risiko’s dalk vir hulself en hul ongebore pienkvoet voorlê. Daar is ook baie onsekerheid oor hoe die pandemie dalk die kraamproses verander het.

Wees gerus! Deur jou dokter se raad te volg en ’n paar ekstra veiligheidsmaatreëls in plek te sit, kan jy ’n gesonde, gelukkige (maar dalk effens meer eensame) swangerskap ervaar terwyl jy jouself en jou ongebore kind teen die dodelike virus beskerm. Abigail Bruintjies (33) van Atlantis buite Kaapstad het in Januarie vanjaar gekraam.

Haar pad tot daar was ’n bietjie meer dramaties as wat sy verwag het. “Ek was beslis ’n bietjie banger met Covid en baie versigtiger terwyl ek swanger was, soos om geen besoekers te ontvang nie. Die kraamproses was ook baie moeiliker as voorheen en die feit dat ’n mens met ’n masker moes kraam, was nogal erg. Ek wou myne afhaal, maar moes dit weer opsit. Die pyn maak ’n mens mos benoud, man!”

Sy vertel verder by die hospitaal en selfs daarna, kon sy geen besoekers ontvang nie. Die hospitaal was baie streng en indien iemand vir jou iets wou bring, moes hulle dit by sekuriteit los. Gelukkig was al die drama die moeite werd elke keer as sy in haar seuntjie, Charleston, se blink ogies kyk! Elsa Lisseth (35) van Lenasia in Johannesburg se swangerskappad het nóg ’n wyer draai geloop.

Terwyl sy swanger was met haar dogtertjie, Rose, is sy gehospitaliseer nadat sy Covid-19 opgedoen het. “Ek onthou nie veel van wat in die hospitaal gebeur het nie. Ek was die meeste van die tyd maar out of it.” Sy sidder nou nog as sy dink aan die gevare wat sy en haar ongebore baba in die gesig moes staar. “Ek weet glad nie hoe ek die virus gekry het nie. Ek bly saam met my man, Victor, sy ma en sy broer en nie een van hulle was siek nie.” Hoewel haar herstel pynlik en lank was, is klein Rose gelukkig ’n bietjie vroeg, ’n bietjie klein, maar blakend gesond in Desember gebore.

Hoe is die proses nou?

Dr. Kim Sonntag, ’n Kaapse ginekoloog, verduidelik ’n swanger vrou se top-prioriteit is om alles in haar vermoë te doen om ’n Covid-19-infeksie te voorkom. Oor die algemeen is swanger vroue meer vatbaar vir infeksies. Swanger vroue se immuunstelsels verander tydens swangerskap, wat hulle veral meer kwesbaar maak vir respiratoriese (asemhaling-) siektes.

“Effense Covid-19-simptome wat swanger vroue ervaar, behoort nie ’n impak op hul swangerskap te hê nie. Maar ernstige simptome wat suurstof en hospitaalsorg vereis, kan ’n miskraam of voortydige kraam tot gevolg hê. Sosiale afstand, maskers en handhigiëne bly die sleutels. Maar probeer om sosiale interaksie tot ’n minimum te hou. Hoewel daar enkele gevalle aangemeld is van pasgebore babas wat positief getoets het, is dit baie seldsaam. Bygesê, babas word nie vreeslik siek indien hulle wel die virus kry nie”, sê dr. Sonntag.

Ernstige Covid-19- simptome wat suurstof en hospitaalsorg vereis, kan ’n miskraam of voortydige kraam tot gevolg hê.

Ingrid Groenewald, ’n midwife van Port Elizabeth vertel baie swanger vroue ervaar tans meer angs as gevolg van die pandemie. “Dit is baie belangrik om ook na die geestesgesondheid van die mammie om te sien. Verder is dit belangrik om jou vitamiene getrou te drink om jou immuunstelsel op te bou en jou liggaam deur die swangerskap te help.”

Dit is ook belangrik om steeds jou kliniek of dokter te besoek om seker te maak jy en jou baba bly gesond. Wanneer dit kom by jou hospitaaltas, is al wat jy in hierdie tyd bo-in moet gooi, jou masker en sanitiser, raai dr. Sonntag aan.

Verder herinner Ingrid jy gaan heel moontlik alleen wees, sonder besoekers, tot jy en jou baba ontslaan is. So maak seker jy pak jou selfoon en charger en selfs ’n laptop in as jy kan, sodat jy steeds met die buitewêreld kan kommunikeer. Pak ook ’n paar goed in om jou besig te hou soos ’n boek, tydskrifte of breiwerk en ’n paar ekstra snacks.

Dr. Sonntag verduidelik hoewel elke hospitaal sy eie regulasies het, vereis die meeste hospitale ’n Covid-19-toets van beide die pasiënt en die partner voor jy opgeneem word. Geen besoekers word toegelaat nie en pasiënte moet in hul eie kamers bly. “As gevolg van die Covid-toets word induksies meer gereeld gedoen aangesien die toets twee tot drie dae voor kraamdag gedoen moet word om die resultate betyds te kry.

Die partner word gewoonlik vir die kraamproses en ’n paar ure daarna toegelaat mits hulle ’n negatiewe Covid-toets het. Die vrou sal gewoonlik dieselfde aantal dae in die hospitaal bly as pre-pandemie,” sê Ingrid. Vir ’n natuurlike geboorte bly vroue gemiddeld drie dae in die hospitaal en vir ’n keiser vier dae. Indien jy wel Covid-19 opdoen het, is dit volgens dr. Sonntag veilig om jouself te behandel met parasetamol en vitamien C en D.

“Die baba sal nie tydens die swangerskap Covid-19 kry nie en jy kan selfs borsvoed as jy positief is.” En anders as wat mense dalk dink, voel baie kenners die voordele van borsmelk (al het die ma positief getoets vir Covid-19) oorskry by verre die moontlike risiko’s en mammas word steeds aangemoedig om minstens vir die eerste ses maande net te borsvoed. Maar aangesien die virus deur respiratoriese druppeltjies oorgedra word, is dit belangrik dat jy jou hande was voor jy borsvoed en ’n masker dra terwyl jy dit doen.

Entstof

Om in te ent of nie is tans ’n groot vraag op baie mense se lippe, maar veral swanger vroue wonder hieroor soos nuus oor die eerste entstowwe op Suid-Afrikaanse bodem aan die lig kom. Maar met so baie dinge in die pandemie, is daar geen maklike antwoorde nie.

Beide dr. Sonntag en Ingrid voel die entstof is veilig vir swanger vroue omdat dit nie die “lewendige” virus bevat soos sommige ander entstowwe nie. “Daar is geen studies oor die impak van Covid-19-entstowwe op swanger vroue nie, maar die mediese wêreld glo dit is veilig, veral as die swanger vroue in ’n hoë-risiko-groep val, byvoorbeeld ’n gesondheidswerker, of komorbiditeite het,” voeg Ingrid by.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het egter onlangs gesê die gebruik van die Covid-19-entstof vir swanger vroue moet beperk word tot meer data beskikbaar is. Die Centre for Disease Control in Amerika stel op hul beurt voor swanger vroue weeg die voordele van die entstof op teen die moontlike risiko’s.

Volgens hulle sal die voor- en nadele verskil van vrou tot vrou en hulle stel voor jy bespreek dit met jou dokter voordat jy ’n finale besluit maak om die entstof te neem of nie. ’n Ma is nou maar altyd iemand wat haar oor alles bekommer, maar ontspan. Haal asem. Dra jou masker. Hou jou afstand. Was jou hande en geniet hierdie interessante en spesiale tyd!

En hoe dit ook al sy, die “Covid-” of “corona”-babas” gaan ’n unieke klomp wees met ’n interessante storie oor hoe hulle eerste ontmoeting met die wêreld was. Hier by Kuier kan ons ook net hardop wonder of daar al ’n paar 2020- en 2021-babas is wat “Covida” of “Coronia” heet . . .

Meer oor:  Gesondheid  |  Kuier  |  Pandemie  |  Kraam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.