Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KuierCares: Onnie bring hulde aan haar man
18 Februarie 2021


Donovan Carl Liedeman was haar Kaalkop, haar Bokka, vertel sy gebroke weduwee, Verna. Hy is op 8 November 1970 as die oudste van twee kinders op die Kaapse sendingdorpie Mamre gebore en het op 22 Junie 2020, vyf maande voor sy 50ste verjaardag sy stryd teen Covid-19 verloor.

Vir Verna is Carl se dood nog onwerklik, maar sy sal altyd die mooi herinneringe van hul lewe saam koester – veral die begindae toe hulle jare gelede op ’n bus ontmoet het. “Met die eerste oogkontak het ek geweet hierdie man is spesiaal. Ons eerste date was op Gansekraal by ’n partytjie waar hy my die eerste keer gesoen het en van daardie dag af was daar net skoenlappers in my maag,” vertel Verna.

Wat Donovan vir Verna so spesiaal gemaak het, was dat hy nooit gehuiwer het om Jared, haar tweejarige seuntjie uit ’n vorige verhouding, te aanvaar nie en Donovan het belowe om hom aan te neem as sy eie.

Lieflike lewe saam

Donovan en Verna het vir vyf jaar uitgegaan tot hy net op ’n dag gevra het: “Sal jy met my trou?” Hy het nog dieselfde dag gaan ouers vra en dié twee het op 5 Oktober 1996 in die huwelik getree.

’n Goeie opvoeding was vir Donovan baie belangrik en hy het in 1998 aan die seunskool Spes Bona gematrikuleer. Daarna het hy sy graad in marketing management aan die Kaapse Technikon verwerf. Intussen het Verna en Donovan nog ’n seun, Carl, ryker geword en hul lewe saam gebou. Verna vertel Donovan was ’n man wat sy kinders en vrou eerste gestel het.

Hy het geglo dat hulle as paartjie elke aand langs die tafel sit en die dag se gebeure met mekaar deel. Hy het ook geglo ’n man moet in kontak bly. “Hy het my elke dag so ongeveer drie keer geskakel of geWhats-App net om te vra wat ek maak,” vertel Verna. “Ek het hom Bokka genoem en my troetelnaam was Bok. Hy het my soos ’n queen behandel en nie eens my pa kon hard praat met my nie.

“Maar moenie ’n fout maak nie, hy was lief vir sy whisky en kon die familie laat lag het as hy Kersdag al voor die tyd gesê het wie ook al gaan bid vir die kos, moet asseblief vinnig bid, want hy is bitter honger.” Donovan was ook bereid om vir sy gesin op te offer en het ’n werksaanbod in Mosambiek vir vier jaar aanvaar om vir sy twee seuns die beste opvoeding moontlik te gee.

Jared, Verna, Donovan en Carl.
Jared, Verna, Donovan en Carl.

En dit was alles die moeite werd, want vandag het die oudste ’n graad in musiek en werk tans in Berlyn. Die jongste volg in sy pa se voetspore en gaan na verwagting in April sy BCom-graad verwerf. Verlede jaar was een van uiterste be-proewing vir die Liedeman-familie. Donovan se ma het teen breinkanker geveg en volgens Verna kon sy sien hoe Donovan tydens sy ma se siekte al hoe stiller raak en kontak met die familie begin vermy. Sy het haar stryd in Junie verlede jaar verloor.

Verna kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat Donovan toe reeds self reeds siek was terwyl sy ma op haar sterfbed gelê het nie, want die naweek van 30 Mei het hy ’n ligte verkoue ontwikkel en op Sondag 1 Junie het hy effens koors gehad. “Ek het hom gesmeek om hospitaal toe te gaan, maar hy het net gesê: ‘Bok, ek’s fine, moenie stress nie’ .”

Daardie Maandagoggend het hy nog soos gewoonlik opgestaan vir werk en oudergewoonte vir haar koffie kamer toe gebring en haar gesoengroet om totsiens te sê. Later daardie oggend het hy egter gebel om te hoor of sy saam met hom die Covid-19-toets wou gaan doen, want hy het gesê hy voel steeds nie lekker nie. Verna het onmiddellik haar hoof by Mamre Primêr waar sy graad 1 onderrig ingelig en toestemming gevra waarna hulle die toets gaan doen het.

“Toe ons by die huis kom ná die toets, het hy onmiddellik gaan lê en ek het vir hom iets gaan maak om te eet. Hy het net gepik aan sy kos en toe weet ek onmiddellik hy is werklik siek, want hy het nooit sy kos gemors nie. Teen vyfuur het ek gesê: ‘Genoeg is genoeg, nou vat ek jou na Blaauwberg Netcare toe’.

Hy het opgestaan en sonder enige teenstand in die motor geklim. Net voor ek wou ry, sê hy hy het iets vergeet en hy gaan toe na ons seun en sê vir hom dat hy hom liefhet en vra hom om te belowe dat hy na my sal kyk.

By Blaauwberg gekom, het ek my man gesoen en vir ongeveer twee uur buite in die motor gesit toe ’n verpleegster vir my kom sê: ‘Mev. Liedeman u man word in die ICU opgeneem.’ My hart het in duie gestort, want dis die eerste keer dat Donovan in ons getroude lewe van 24 jaar in die hospitaal beland het. Nooit het ek gedink dat ek hom nooit weer sou sien nie.”

Verloor hom

Die volgende dag het Verna gebel en tot haar skok is sy meegedeel dat Donovan op ’n ventilasiestelsel geplaas is. Die aand het die dokter haar gebel en gesê dat haar man baie siek is en dat sy haar moet voorberei.

“Ek was buite myself, maar het steeds bly hoop. Ek het aanhoudend gebid. In hierdie tydperk het ek, my seun en sy verloofde ook positief getoets en Donovan se ma is ook oorlede. Dit was hel vir my en my kinders.”

Op 19 Junie het Verna die bietjie goeie nuus gekry dat Donovan weer op sy eie asemhaal. Sy het gedink die ergste is verby en dat haar gebede beantwoord is, maar toe sy die Maandagoggend 22 Junie bel om te hoor hoe dit gaan, het haar wêreld weer in duie gestort, want toe kry sy slegte nuus. Donovan is terug op die ventilator.

En tien-uur die aand kry sy die oproep met die nuus wat sy nooit in haar lewe wou hoor nie: “Sorry Mrs. Liedeman, your husband did not make it”. Verder onthou Verna niks. Sy moes alles eers verwerk. Die feit dat sy hom nie kon sien nie, nie eens by sy begrafnis nie en dít los maar ’n aaklige smaak in haar mond. En sy was kwaad vir God omdat sy nou alleen is en omdat Hy nie haar gebede verhoor het nie en sommer ook vir haar oudste seun wat weens lockdown nie sy pa se begrafnis kon bywoon nie – vir alles.

Maar sy het tot die slotsom gekom dat dit Donovan se tyd was en soos haar seun Carl sê: “Dad was just needed in a higher place”. Verna het intussen vir God om vergifnis gevra. Sy mis haar man, maar hou vas aan al hul mooi herinneringe.


BRING HULDE AAN JOU GELIEFDE MET JUL STORIE

Covid-19 het sonder waarskuwing soveel van ons geliefdes van ons weggeruk en gesorg dat baie van ons nie behoorlik kon groet of van hulle afskeid kon neem nie.

Ongelukkig sal daar nooit genoeg plek wees om al die slagoffers se stories te vertel nie en hoe kies ’n mens tussen al die hartseer verhale?

Met hierdie nuwe insetsel van KuierCares wil ons dus aan Kuier-lesers die geleentheid gee om hulde te bring aan geliefdes wat hulle weens die virus aan die dood afgestaan het.

Met hierdie lewensverhale wil ons hulle onthou en dankie sê vir alles wat hulle in die mense rondom hulle se lewens beteken het sodat die virus nie hul enigste nagedagtenis is nie.

Daarom doen ons ook ’n skenking ter waarde van R1 000 in hul naam aan ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse om iewers ’n klein verskil te maak. Verna Liedeman skenk namens Donovan skryfbehoeftes ter waarde van R1 000 vir Mamre Primêr aan te koop.

• E-pos jou storie van ongeveer 800 – 1 000 woorde na kuier@kuier.co.za met KuierCares in die onderwerpveld. Sluit minstens vyf foto’s van hoë gehalte in om vir plasing oorweeg te word.

Meer oor:  Kuier  |  Kuier Cares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.