Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Jy het áltyd ’n keuse
26 November 2020

Een van ons grootste geskenke in die lewe is keuses. Dis die geskenk van vrye wil. Die ego is lui en kies meestal die maklikste uitweg . . . Die alternatiewe keuse wat op die lange duur die beste resultate gaan bring, is nie altyd die maklikste om te maak nie, want dit roep jou gewoonlik tot verantwoording.

Wat ons nie in ag neem nie, is dat verkeerde korttermynkeuses pynlike langtermyngevolge kan hê, wat tot nog meer en moeiliker verkeerde keuses kan lei. Mense is so geneig om te sê: “Ek het nie ’n keuse gehad nie”. Dis altyd dit óf dat. As dit nie die een nie, dan is dit die ander.

Dis ’n keuse. Die antwoord moet eerder wees: “Ek het nie ’n maklike keuse gehad nie.” ’n Goeie maatstaf vir jou keuses is om ekologiese (verhouding van lewende organismes tot hul omgewing) besluite te maak. Keuses wat die beste uitkoms, nie net jouself nie, maar ook alles en almal rondom jou verseker. As iemand sê hulle het nie ’n keuse gehad nie en jy vra vrae wat laterale denke ontlok, vind hulle dikwels hulle het ’n keuse gehad. Die antwoorde is in die vrae.

Vrae soos:

Wat sou gebeur as jy dit nie gedoen het nie? Wat kon jy anders doen? Wie baat hierby? Is dit reg? Gaan iemand seerkry? Gaan ek of ander hieronder lei? Is dit regverdig? Is dit die regte ding om te doen? Kan ek deursigtig hieroor wees?

Is dit wettig? Wat is die moontlike voor- en nadele? Hoe gaan dit myself en die mense vir wie ek die liefste is, affekteer? Is daar ’n ander manier om die situasie te hanteer?

Het ek alle opsies oorweeg?

Ons aanvaar nie altyd verantwoordelikheid vir ons keuses nie. Só maklik gee ons ons persoonlike krag weg. Jy laat iemand toe om besluite namens jou te maak. Jy laat mense toe om bo-oor jou te praat.

Hoe respekteer jy ander se keuses?

As lewensmaats en kinders verkeerde keuses maak, probeer ons dit soms toe- smeer eerder as om die vernedering in die gesig te staar. As jy mense altyd red van verkeerde keuses se gevolge, ontneem jy hulle van die wonderlike geskenke van verantwoording en lewenslesse. Jy ontneem hulle die aktivering van laterale denke en persoonlike groei.

Jy ontneem jouself van die persoonlike groei om teleurstelling te oorkom en hoe om ander se lewenspaaie en -lesse te respekteer. Respekteer jy jou kinders se keuses binne perke? Wat hulle geniet en gelukkig maak? Wat hulle wil studeer? As hulle stiltetyd en privaatheid nodig het? Respekteer jy jou maat se keuses?

Ons aanvaar nie altyd verantwoordelikheid vir ons keuses nie.

Dat hy of sy nie daarvan hou dat jy elke naweek mense oornooi nie en net soms ’n rustige aand met wil deurbring? Of dat hy of sy meer sosiaal is as jy en soms wil uitgaan? Ander se keuses is nie altyd vir ons maklik om te aanvaar nie. Tog moet ons dit respekteer, want dis hul lewenspad, -lesse en keuses. Al is dit nie wat ons wil hê nie.

’n Romantiese belang kan byvoorbeeld terugtrek en dinge beëindig omdat hulle oorval word met vrees, hulle sien of voel hulle is meer toegewyd tot die verhouding of omdat die pad vorentoe nie vir hulle helder is nie. Terseldertyd is jý is dalk nie gereed vir opbreek nie, maar jy moet steeds hul keuse respekteer.

Mense kan in vrees toekomstige scenario’s skep wat dalk nooit tot vervulling sal kom nie. Vir jou is hul vrees ongeldig, vir hulle is dit ’n vretende werklikheid. Die alternatief kan hóé duidelik vir jou wees, tog diep in jou weet jy, dat hulle die regte besluit vir húlle gemaak het. Om hulle te vra om te bly omdat dit vir jou emosioneel en andersins gemaklik sou wees, sal nie hulle lewenspad en -les respekteer nie.

Aanvaar en beweeg aan. Moet jouself ook nie verwyt oor keuses nie. Jy weerhou jouself om aan te beweeg en keer seëninge. Ons maak elke dag bewustelike besluite wat ons lewens beïnvloed.

Jy het ’n keuse:

• Watter boeke jy lees. Watter kennis is dit wat jy wil opdoen?

• Watter TV-programme jy wil kyk. Watter emosionele snellers is dit wat jy aktiveer?

• Hoe jy jou liggaam behandel.

• Watter gesprekke jy voer en watter energie jy in jou omgewing toelaat.

• Om beter finansiële besluite te maak. Keuses is nie altyd maklik en voor die hand liggend nie, maar ons maak die beste besluite met die kennis en ondervinding wat ons het. Waar jy is op jy lewenspad, is waar jy moet wees. Kruispad of reguitpad, dis dáár waar jy die nodige lesse bymekaarmaak vir jou reis. Dít is die merk vir jou pad vorentoe.

Sydene Cloete is ’n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is ’n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out of the Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus.
Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.