Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Klim só jou opdraandes
1 April 2021

Daar is ’n koortjie wat sê “al gaan dit opdraand of afdraand, biddend voor die Here moet ons bly”. Die Woord sê ook die Here help dié wat hulself help. Wat beteken dit dan as ons kyk na ons lewe?

Wanneer jy ’n groot vraag vra oor ’n probleem of iets waarmee jy sukkel, moet jy nie ’n groot antwoord soek nie. Jy moet vertrou en weet die antwoorde kom opgebreek in kleiner gebeurtenisse.

Wanneer dit in kleiner porsies kom wat ons makliker kan inneem, verwerk en toepas, groei ons meer en is die lewenslesse uiteindelik groter en kragtiger. Vergelyk jou pad na waarheid en groei met die roete van Johannesburg na Kaapstad. Jy kan nie een groot sprong gee vanaf jou beginpunt tot by jou bestemming nie. Dis kilometer vir kilometer en dorp vir dorp met natuurtonele en ander motoriste langs die pad.

Die ander motoriste is elkeen op pad na hul eie bestemming. Jy weet nie hoe haastig, emosioneel of moeg hulle agter daai stuurwiel is nie. Hoewel jy bewus is van hulle, rus die verantwoordelikheid om veilig by jou bestemming te kom, steeds op jou. Met goeie geselskap, ’n goed versorgde voertuig en goeie beplanning, is die reis amper lekkerder en ewe waardevol as die bestemming. Hoe respekteer ons ander se lewensreis en hul wense? Almal van ons is op die aarde vir persoonlike groei en lewenslesse.

Elkeen wil hê hul wense moet in ag geneem word en hul wil moet geskied. Gee ek in tot jou wil ten koste van my eie? Wie is dan selfsugtig hier? Ek, omdat ek wil maak soos ek wil of jy, omdat jy wil hê ek moet aan jou wense voldoen ten koste van myself? Die antwoord is aanvaarding en respek. Respekteer my wense, respekteer my persoonlike grenslyne.

Respekteer my lewensreis en die feit dat ek besluite maak wat die beste is vir my. Aanvaar dat ons nie dieselfde lesse het om te leer nie en dus verskil ons roetes en hoe ons die pad aanpak. Is dit nodig dat alles altyd opdraand moet wees? Dat ons so hard teen alles moet baklei? Die oorlewingsdrang in ons almal trigger daai instink om te baklei.

Sorg vir jou geestesgesondheid net soos jy sorg vir jou fisiese gesondheid.

Dink wat kan gebeur as ons net die stuurwiel in die pad hou en alles oorgee aan God. Jy doen net wat jy moet om binne jou baan vorentoe te beweeg. As ons regtig oorgee sodat Sy wil geskied soos ons in die Onse Vader vra, sal lewensmoegheid nog die siel so vroeg oorval? Dalk sal ons begin lewe met ’n siels-tevredenheid wat die verstand te bowe gaan.

En as ons bid en regtig die uitkoms aan God oorlaat en ophou om die gebed terug te vat, kan die lewensles wees dat jy geduld en vertroue moet leer. Om alewig stroom-op te swem, put jou fisies, emosioneel en geestelik uit. As alles te moeilik is en môre te ver lyk, dan doen jy net wat jy kan in die oomblik om te oorleef.

Was daai eerste bondel wasgoed, was die bietjie skottelgoed, pak die eerste rak in die kas reg. Hoe gering ook al, dit is jóú oorwinning van die dag en jy hoef aan niemand te verduidelik hoekom jou liggaam en gees nie vandag kan en meer wíl doen nie. Gee elke dag ’n tree vorentoe. Sorg vir jou geestesgesondheid net soos jy sorg vir jou fisiese gesondheid.

Hou die volgende in gedagte:

• Skryf neer hoe jy sou voel as dinge anders was. Ervaar dit, sien dit, voel dit.

• Jy kan nie op die probleem fokus en terselfdertyd oop en ontvanklik wees vir die oplossing nie.

• Jy kan nie probleme oplos met dieselfde gesindheid waarmee dit geskep is nie.

• Moenie vasklou aan die les, rigtingaanwyser of pitstop nie. Weet wanneer om te aanvaar en te laat gaan.

• Pas dié asemhalingtegnieke toe. Asem in: 1, 2, 3, 4. Hou: 1, 2, 3, 4. Uit: 1, 2, 3, 4. Rus: 1, 2, 3, 4. Herhaal. As jou kop ligter en skoner is, sal die angs minder wees en die oplossing meer voor die hand liggend en haalbaar lyk.

• Laat gaan van alles wat nie goed voel nie. Die lig oorwin altyd die donker. As jy moeg word om teen die storm te baklei, onthou net: die storm word ook moeg.

Soek jy hulp?
As die lewe jou ’n paar klappe gegee het, stuur ’n WhatsApp na 0607840589 met die woord Coach, gevolg deur jou probleem.
Sydene Cloete is ’n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is ’n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out of the Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus.
Meer oor:  Kuiercoach  |  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.