Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
KuierCoach: spreek só leë beloftes aan
10 Junie 2021

Leë beloftes kan groot moeilikheid in verhoudings veroorsaak. Volg dié raad om  verandering te bring. 

VRAAG

Coach, ek is nou al vir 10 jaar getroud, maar ek voel soms om op te gee. My man maak net leë beloftes. Dit was eers klein dingetjies soos hy sal later iets doen en dan doen hy dit nooit nie. Nou is dit groot goed en nog baie ander dinge wat my as vrou en ons kinders so teleurstel. Hoe deal ’n mens met leë beloftes in jou verhoudings?

ANTWOORD

As jy nou terugkyk, was daar seker rooi vlaggies vroeër in die verhouding. Ons kies soms om die waarskuwingstekens vroeg in ’n verhouding te ignoreer omdat ons nie die persoon wil verloor of die verhouding wil versuur nie. Die waarheid is, mense is wie hulle is en ons kan hulle selde, indien ooit, verander. Ons kan hulle dalk wel emosioneel manipuleer, soos dae lange stilswye en koue oorlog om ons sin te kry, maar die bevrediging is min as dit nie van hulle kant af kom nie. Die werklike langtermynverandering is nie ons wil nie, maar hul eie keuse en wilskrag om te verander en toksiese gedragspatrone te breek. Jy weet teen hierdie tyd wie jou maat is en wie hy nie is nie. Waartoe hy in staat is en wat ver bo sy vuurmaak plek is.

Hier is wenke om konflik te verminder en om meer krag aan sy woord te gee:

• Sit saam en dink aan oplossings eerder as om eise te stel.

• Gesels rustig. Kalmte voorkom groot kommunikasieprobleme.

• Vra eerder as om opdragte te gee. Vra ook hoe julle die situasie gaan benader.

• Besluit saam op ’n sperdatum vir die taak.

• As dit dringend is en jy nie seker is of jou maat oor die vaardigheid beskik nie, kry professionele dienste in as julle dit kan bekostig.

• Neem jou maat se vaardighede en be-skikbaarheid in ag. Doen wat jy moet om dit wat jy wil hê, te laat gebeur. Kry byvoorbeeld kwotasies vir professionele hulp om die werk klaar te maak.

• Bemagtig jouself. As ons onsself bemagtig met vaardighede en kennis is ons minder afhanklik van ander, dus is daar minder ruimte vir teleurstellings. Elke aksie het ’n reaksie. Laat jou maat self die nagevolge dra.

Ons onderhou dikwels ons geliefdes se swak gewoontes en gedrag teenoor ons. Niemand kan jou behandel soos wat jy nie wil behandel wees nie. As jy gedurig alles uit jou maat of kinders se hande neem, kan dit vir jou netso moeilik wees om voet neer te sit en op te hou om hul toksiese gedrag te bemagtig. Jy sal ’n les oor en oor leer totdat jy dit geleer het en die siklus breek.

As jy die siklus wil breek, moet jy ook jou aandeel daarin identifiseer en erken aan jouself. As ons weet waar ons swakheid as onderhouers van hul ongewenste gedrag lê, kan ons terugstaan en hulle die kans gee om sterker te groei. Die byvoeging of wegneem aan die een kant van die skaal balanseer outomaties die ander kant.

Vra jouself af:

• Is daar ’n gedeelte van my wat dit geniet om hom aanmekaar te herinner en te laat skuldig voel wanneer hy iets vergeet het? As dit wel so is, is dit ’n giftige patroon. Gaan kyk na jul spesifieke patroon.

• Wat doen jy of wat doen jy nie wat sy slegte gedrag bemagtig?

• Laat gaan jy dinge in jou huishouding nadat ’n belofte verbreek is en laat jy dat hy sy eie kastaiings uit die vuur krap? Indien jy ingryp, vir wie probeer jy beskerm? Vir hom? Jouself? Op die lange duur onderhou jou gedrag sy slegte gewoonte.

Moenie op jou man staatmaak vir al die “manlike” take nie. Ons is lankal verby die tyd van seksistiese rolverdeling. Is dit iets wat hy móét doen of is dit iets wat jy ook kan doen? Skep ’n gesamentlike bankrekening vir huistakies waarvan daar ’n aftrekorder by elkeen is en kry ’n nutsman. Moenie op jou man staatmaak om die geld weg te sit nie. Wees betrokke en spaar saam. Leer om minder afhanklik en meer interafhanklik te wees.

Die beste weergawe van jou gaan beslis nie rondsit en wag dat iemand altyd iets namens jou moet doen nie, maar jy gaan ook nie toelaat dat iemand jou as minder behandel nie.

Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier  |  Raad  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.