Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Wat ouer ma’s kan verwag
18 Februarie 2021

Baie vroue bou weens finansiële redes eers in hul twintigs en dertigs aan ’n loopbaan en die begin van ’n gesin word dan eers later vir hulle ’n prioriteit. Danksy die mediese wetenskap is dit deesdae vir baie van hulle moontlik om in hul laat dertigs en veertigs suksesvolle swangerskappe te hê, al is die risiko vir komplikasies hoër. Sommige moet dalk vir fertiliteitsbehandeling gaan as hulle baie lank gewag het om kinders te hê.

Die grootste uitdagings vir ouer ma’s is in die eerste plek dat sy haar prioriteite moet verander. Kinders verg meer aanpassing vir ouer ma’s wat gewoond is aan ’n sekere lewensstyl en manier van doen. Sy sal dalk ’n goeie pos moet opgee omdat dit te veel van haar tyd in beslag neem. Sy sal ook haar aandag en energie moet toespits op haar swangerskap en die grootmaak van haar kinders.

Dit kan ’n groot aanpassing wees en haar dalk laat voel asof sy haar onafhanklikheid moet opgee omdat sy dan finansieel op haar man aangewese is nadat sy vir jare haar eie geld verdien het.

As ’n vrou haar beroep geniet het en haar vervulling vantevore daarin gevind het, is dit raadsaam om dalk nie heeltemal haar werk op te gee nie, maar dalk van die huis af te werk of ’n besigheid te begin van die huis af. Só sal sy natuurlik dan haar tyd kan balanseer tussen haar werk en haar gesin.

Sy sal dalk ekstra hulp by die huis nodig hê, maar sal dan meer kan deel in die grootmaakproses van haar kinders. Sy sal egter op albei gebiede moet compromise aangesien tyd en energie nie onbeperk is nie. Dit sal ook beteken sy moet dalk haar tyd en energie beter beplan en balanseer as wat sy haar fokus net op haar werk of net op haar kinders toespits, want met ouderdom kom daar ook sekere kwale wat ’n risiko vir haar gesondheid kan wees.

Ouer ma’s raak makliker uitgeput, is fisies stadiger en het meer rus nodig as ’n jong ma met baie energie. Gelukkig kan dié ma’s danksy ’n finan-sieel sterker posisie gewoonlik ’n au pair of huishulp bekostig. Ouer ma’s het gewoonlik meer lewenservaring en is dus ook geneig om meer geduldig te wees met hul kinders.

Ouer ma’s is geneig om meer geduldig te wees.

Navorsing bewys ouer ma’s se kinders sukkel minder met gedrags-, sosiale en emosionele probleme danksy ouer vroue se vermoë om haar rol as ouer meer positief te ervaar en dit meer te waardeer. As ’n vrou ’n suksesvolle beroepsvrou was in haar vroeër jare en dan later trou en kinders kry, sal sy moontlik ook rustiger wees omdat sy voel sy het bereik wat sy wou bereik en kan nou haar aandag ten volle daarop fokus om tyd met haar kinders te spandeer. Daar is waarskynlik nie soveel finan-siële druk soos op jonger ma’s wat so gou moontlik terug werk toe moet gaan nie. Daar is dalk geld vir onbeplande uitgawes en die kostes wat ’n gesin vereis, byvoorbeeld om kinders te laat studeer.

Ouer pare se verhoudings is gewoonlik sterker en meer stabiel en danksy hul langer tyd bymekaar en meer volwasse uitkyk op die lewe, kan hulle mekaar beter ondersteun wanneer moeilike tye of krisisse met die kinders opduik. Met die wysheid van die grysheid en meer lewenservaring en volwassenheid word kinders grootmaak met minder drama, meer kennis en kalmte benader.

Daar is ook komplikasies: Aan die ander kant is die generasie-gaping soveel groter en kan dit moeilik wees vir ouers en kinders om tred te hou met wat aan die orde van die dag is.

Nog ’n komplikasie van ’n ouer ma wees, is dat sy dalk terselfdertyd na haar ouers en haar kinders moet omsien. Dit kom so algemeen voor dat daar ’n spesiale naam vir hierdie fenomeen is, naamlik die “toebroodjie-generasie”. Dít kan ’n ma in hierdie generasie se lewe baie meer kompliseer. Sy is besiger, en dié taak is fisies, finansieel en emosioneel veeleisend.

Daar moet ook vir meer hulp betaal word. Jonger ma’s kan hul kinders by hul jonger oumas en oupas aflaai – terwyl dit nie moontlik is vir ouer ma’s wie se ouers self hulpbehoewend raak en nie meer vir kindertjies kan sorg nie.

Gelukkig is ’n wyser, ouer ma meer bekwaam om so ’n moeilike en veeleisende situasie te hanteer. ’n Ouer ma se lewe is meer gekompliseerd, maar sy kan ook beter voorbereid wees vir die veeleisende taak van kinders grootmaak as ’n jonger, meer onervare ma. Hoe dit ook al sy, jou kind is altyd ’n voorreg waarna ’n ma van enige ouderdom kan uitsien.

As jy ’n life coach se hulp nodig het, besoek gerus Michelle se webwerf by www.salifecoaching.co.za of stuur ’n e-pos na michelle@salifecoaching.co.za.
Meer oor:  Kuiercoach  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.