Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Kuiercoach: Woorde dra krag
29 Oktober 2020

Sê jy net wat jy wil of bedoel jy eintlik dit wat jy sê?

Gebruik jy jou woorde met wysheid of sommer net om die stilte te vul? Praat jy sonder om te dink of spreek jy elke woord bewustelik en met intensie uit? Ons omskryf ons emosies met woorde.

Ons gee ons planne te kenne deur woorde. Ons doen erkentenisse en bekentenisse met woorde. ’n Kyk en die atmosfeer kan swaar gelaai wees met emosies en ongesêde woorde.

Maar niks kom by die bekentenis as woorde soos “ek het jou lief” uiteindelik deurbreek nie. Vroue sal maande, selfs jare, in denial leef van ’n man wat rondslaap of ’n buite-egtelike kind het. Maar voordat sy nie die erkenning in woorde van hom gekry het nie, kies sy om te lewe met ’n onderdrukte leuen. Hý is al te veel bewus hiervan en met die stilte manipuleer hy haar.

Woorde is belangrik. Veral jou eie woorde en wat jy vir jouself sê en hoe jy jouself motiveer in teenstelling met hoe ander jou met hul woorde of ’n tekort daaraan aan die neus rondlei. Ons woorde is soos sade. Sade wat jy kies en plant en sade waarvan jy die vrugte gaan pluk. Watter sade plant jy? As ons al gehoor het van mense wat profeteer, is ons gretig om hul woord te aanvaar.

Maar wat is dit wat jy elke dag oor jou eie lewe profeteer en bevestig? In so baie gelykenisse van die Bybel sê Jesus pertinent: “Jou geloof het jou gered”. Jy glo in die woorde wat ’n vreemdeling oor jou uitspreek, maar jy het nie geloof in jou eie woorde nie? Wat jy sê en profeteer jy oor jouself? Geloof is geloof. Woorde is belangrik en die geloof daarin kan jou maak of breek.

Hoe praat jy met jouself in jou kop? Is jy motiverend of afbrekend? En wanneer jy jou oë toemaak en nog fyner luister, wie se stem is dit wat jy eintlik hoor?

Watter outoriteit het die grootste spasie en mag in jou kop? Jou ma? Jou pa? Ander mense? Of dalk jyself? Kan jy objektief daarna kyk wanneer iemand ’n negatiewe opinie of stelling oor jou uitspreek? Kan jy dit verwerp en jou eie volume harder draai? Of laat jy toe dat ander die sade saai wat jy môre moet maai? Watter stem glo jy? Joune of hulle s’n?

Wat is dit wat jy oor jou eie lewe profeteer en bevestig?

Wie se sade plant en gee jy water? Jy kry wat jy vra – óf jy dit nou wil hê óf nie. Die Bybel sê vra en vir jou sal gegee word. Jy doen ’n bewustelike gebed, maar jy vergeet van jou onbewustelike uitlatings wat dan jou geloof weerspreek. Jy bid: “Here help my asseblief om vir my gesin te sorg.” Dan sê jy vir jou kollega: “Met hierdie rug sal ek nie meer lank kan werk nie.”

Jy bid: “Here beskerm my werk” en sê dan vir jou vriend om jou manhaftigheid te kenne te gee: “Hulle kan hul werk druk, ek is nie verleë nie.” Jy bid vir ’n finansiële meevaller, maar sê so graag: “Ek wen nooit iets nie”.

As ’n medevervaardiger van jou realiteit gebruik jy grootliks woorde – hetsy verbaal of nie-verbaal – om jou te help om eers die struktuur en dan die droom te bou. As jy weet dit wat jy môre wil hê, sal onmiddellik daar wees, wat is dit wat jy dan sal sê? En hoe sal jy dit sê? Twyfel en negatiewe woorde kanselleer gebede. Ons moet leer om ons sinne en woorde te herstruktureer op ’n manier wat jou persoonlike krag bevorder. “Mense maak my kwaad” is ’n stelling. ’n Bevestiging. Sonder enige tydraam daaraan verbonde.

Met ander woorde elke dag, enige tyd. Jy neem eienaarskap van daardie stelling en dit word deel van jou identiteit. Hoe moet jy dan reageer op mense wat jou omkrap? Deur steeds as jou beste self in die scenario op te daag. Ongeag of hulle as hul beste self opdaag of nie. As mense jou gevoelens met woorde kan manipuleer, kan hul aksies jou manipuleer.

Draai om, stap weg, balanseer en hervat. Die Bybel sê met jou tong kan jy jou lewe seën of vervloek. Jy kan nie neerslag spreek en oorwinning behaal nie. Die vyand wat ons aanval, is nie altyd iemand anders nie. ’n Beperkte geloof in jouself en negatiewe selfpraatjies is groter struikelblokke as enige eksterne opinie. Staan op vir jouself.

Moenie mense se stekies wat as grappies verdoesel word, aflag nie. Vra reguit wat hulle bedoel of wees eerlik en sê jy hou nie van hul stelling of van daai noemnaam nie. Mense moet verantwoordelikheid vat vir hul woorde, want dit dra krag. Skryf jou wense en drome neer, spreek dit uit. Om jou woorde neer te skryf, is die eerste stap om dit wat jy wil hê, tasbaar in ons aardse realiteit te maak.

Sydene Cloete is ’n geregistreerde selfbeeldafrigter en persoonlike stilis op Stellenbosch. Sy is ’n gewilde motiveringspreker en eienaar van Out of the Closet wat op die bemagtiging van vroue fokus.
Meer oor:  Wat Die Hart Van Vol Is  |  Kuier  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.