Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lee-Ann van Rooi is reg vir die jaar!
7 Januarie 2020


Dis ’n nuwe jaar vol nuwe dinge en uitdagings. Vir die bekende Kaapse aktrise Lee-Ann van Rooi (48) is dit die jaar waarin sy haar eie waarheid gaan uitleef.

“My ma sê altyd ek is te ordentlik, dat ek net moet sê wat ek wil hê en klaar . . . So 2021 is daardie jaar!”

Lee-Ann kon amper nie wag vir 2021 nie. “Die jaar2020 was baie rof, hoor. Dit het lekker begin, maar van die lockdown af was dit maar taamlik hectic,” erken sy. “Ek is maar ’n mense-mens en hou van mense. Ek hou van chat, oor en weer kuier met my vriende en ek is mal oor my familie. So, dit was vir my baie hartseer. Babas is gebore in my familie. Ek is ’n antie vir ’n derde, vierde keer en ek kon hulle nog nie vashou of op my skoot sit nie oor Covid.

“’n Mens moet so versigtig wees vir alles. En ek is bang. My anxiety levels . . . Want my ma bly saam met ons en sy is oor 70, so dit was maar baie rof.”

Aanvalle maak seer

Iets wat ook vir haar erg was, was haar rol in Suidooster, wat al ten einde geloop het. Lee-Ann het hier teen die tweede helfte van verlede jaar die rol van Farah vertolk, wat later AB (Cedwyn Joel) se tweede vrou ingevolge die Moslem-geloof geword het. Uiteraard het dit beteken dat Mymoena (gespeel deur Jill Levenberg) se hart in stukke gebreek was. Wat dit erger gemaak het, was dat Farah slinks was.

Hierdie storielyn het soos ’n bom op sosiale media ontplof en ná elke episode waarin Farah was, het mense hul sê gesê. Daar was mense wat persoonlik geraak het en nie die mens Lee-Ann en die fiktiewe Farah-karakter kon onderskei nie. “Hulle werk nogal teen ’n strawwe pas, maar ek het my werk daar regtig geniet, al was ek ’n aaklige karakter.”

Sy vertel egter kykers het nogal sterk opinies gehad oor Farah. “Hulle was baie ongelukkig oor my karakter en dit het ’n bietjie diep seergemaak. Ek het gedink miskien sal mense ’n bietjie meer kophou en besef dis nie ek nie. Maar dit het nie gebeur nie.” Lee-Ann het nooit gedink sy sal haarself werklik steur aan sulke goed nie.

“Maar oor ’n lang tyd, en as dit aanhoudend is . . . Ek was baie bang vir my familie, want mense het my gedreig op sosiale media. En alles is nou oop in die openbaar – goed soos waar ek bly, waar ek is. Ek het ’n meisiekind wat 12 jaar oud is, en dan is daar my ma. Ek het gedink ek kan vir myself sorg, maar wat van hulle,” vertel sy openhartig. “Sê nou maar . . . Want dit vat net een maltrap om crazy te wees. Maar dit lig darem nou ’n bietjie op.”

Maar wat hierdie hoofstuk in haar loopbaan weereens onderstreep het, is watter ongelooflike en talentvolle aktrise Lee-Ann is. Sy bring ’n egtheid in haar karakters uit wat hulle laat voel soos mense wat jy ken of nie wil ken nie. Dink maar aan haar rol as Maggie in Sara se Geheim, wat ’n mens netso warm onder die kraag gemaak het. En wie sal ooit vir Rochelle van Fishy Fêshuns vergeet, al het dit soveel jare gelede op TV gewys? Haar vertolking daarvan bly ’n mens by. Maar terug na die hede, was 2020 beslis ’n jaar waarin Lee-Ann al haar insecurities stip in die gesig moes staar.

“Die goed van, is ek genoeg? Die vrees van alleen-wees met Covid. Issues van rejection – dat mense nie van jou hou nie. Hoekom is mense nou sleg en hoekom reageer hulle só teenoor my? Ek moes deur dit loop. Ek moes my vrese confront, eerlik wees daaroor en deurdruk.”

Lee-Ann vertel sy gaan probeer om hierdie tipe goed in 2020 agter te laat. “Dit kom maar nog op, maar dis elke keer ’n besluit. Dis hectic om dit agter te los, hoor, want dis eintlik ’n definiërende karaktereienskap en op hierdie ouderdom moet ek nou gaan sê ‘hang on, dis eintlik ’n insecurity. Stop dit! Reverse, reverse! Ek gaan jou net hier los!’, ” lag sy. “Maar dan, môre, oormôre kom dit weer op. En dan moet ek weer na daai ding kyk en weer die besluit maak. Dis maar elke dag, elke week se werk – sielswerk wat jy moet doen. Jy moet diep binne-in jouself kyk om seker te maak jy kry nie weer jouself onder nie.”

Dankbaar vir baie

Tog is daar baie dinge waarvoor sy dankbaar is. “Ek is dankbaar dat liefde weer kom klop het. Kyk, as ’n mens oor 40 is dan dink jy nou natuurlik: ‘Oukei, ek is nou orraait met myself. Ek is orraait om aan te beweeg. Ek het ’n huis, ’n kind, ’n kar, ek geniet my werk . . . Dis alles fine en ek is baie blessed’. ”

Maar Ricardo Arendse, iemand uit haar verlede het aan die einde van 2019 heeltemal onverwags haar voete onder haar uitgeslaan. Ricardo is ’n bekroonde TV-skrywer en digter. “Dis ’n ou tjommie van lank gelede. Iets het gebeur en dis net so wonderlik! En nou is daai wonderlike man in my lewe en ek is dankbaar vir hom en vir wat hy vir my beteken en vir wat hy in my lewe doen. Dis amper soos ’n new lease on life. En nuwe, verskillende en opwindende planne wat gemaak word, want daar is nou iemand anders, iemand met sy eie drome, ek het my drome en nou droom ons saam. Dis fun en exciting!” Sy vertel die verhouding was nog baie nuut aan die begin van lockdown.

“Een van my vriendinne het vir my gesê: ‘Kykie, girl, as jy lockdown kan survive, dan is hy ’n keeper!’ ” In 2020 het Lee-Ann ook weer opnuut waardering gevind vir die lewe. “Ek is so diep dankbaar vir my lewe, vir my gesondheid, vir my ma, my kind en my familie se gesondheid. Daar was so baie mense wat in 2020 geval het. Ook groot mense in die bedryf. Jy hoor amper elke week van iemand wat goodbye vir hierdie lewe moes gesê het. So ek is net so dankbaar dat ek niemand in my onmiddellike familie verloor het nie en dat die wat siek was, beter is.”

Sy hoop ook die wêreld gaan aanhou om elke jaar vakansie te hou vir ’n hele maand lank en net weer onthou wat werklik belangrik is. “Ons dink, oukei, dié is belangrik, daai is belangrik en ek moet dit doen en ek moet dat doen, maar aan die einde van die dag is dit regtig so belangrik? ’n Mens kan nie al die goed saam met jou vat as jy die dag hier klaar is nie. Wat is eintlik belangrik? Om te lééf! Gesondheid. Om gelukkig te wees met die mense vir wie jy lief is, wie vir jou lief is, om jou. En as daar net geld is vir ’n snytjie brood in die oggend, dan is dit oukei, want ten minste het julle nog mekaar.”

Lee-Ann van Rooi
Lee-Ann bly dankbaar en embrace die lewe.

Haar fokus vir 2021

In 2021 gaan Lee-Ann juis fokus op dit wat vir haar belangrik is en probeer om meer “nee” te sê. “Dit gaan oor om eerlik te wees met jouself, dink ek. Ek vat altyd ander mense se probleme aan en probeer help. En dis nie noodwendig goed vir onsself nie.” Lee-Ann is tans besig met ’n hele aantal nuwe projekte waaroor sy vreeslik opgewonde is.

“Man, gewoonlik vat ek dinge soos dit kom, maar daar is baie lekker goed hierdie jaar. Ek het begin online klasgee met UCT, maar ook op my eie, vir verskillende studente en mense wat baie graag wil act. En ek is eintlik baie goed! Ek het nie besef nie . . .” lag sy verbaas.

Sy verduidelik om klasse te kan gee, moet jy weet waarvan jy praat. “Ek moes maar diep binne-in my gaan om uit te vind, oukei, dís hoe dit werk. Dís wat ek doen, en hoekom.” Tydens lockdown was hierdie klasse (via Zoom en Teams) Lee-Ann se brood en botter. Sy het ook baie skryfwerk gedoen. Sy is onder meer besig om ’n fliek te skryf en werk ook aan ander projekte saam met Ricardo.

“Dis amazing – die goeie goed wat uit hierdie rowwe jaar gekom het.” Sy sien ook uit daarna om die nuwe normaal wat ontstaan het as gevolg van corona, aan te gryp. “ ’n Mens moet maar, net om aan die gang te bly. Ek sien eintlik baie uit daarna. Ek is nie iemand wat stres oor change nie. Ek embrace verandering. Ek sien uit na 2021 en wat dit nog alles gaan bring, want ons kan nie aangaan soos ons aangegaan het nie.” Sy verduidelik die feeste en teaterproduksies wat sy gewoonlik gedoen het, hang nou alles. Niemand is seker wat gaan gebeur nie en niks kan bevestig word nie as gevolg van die pandemie. “Ons weet eenvoudig nie wat Covid gaan doen nie. Oorsee is dit nou al die derde of vierde golf. Lyk vir my ons gaan nou maar net moet leer swem,” terg sy. Lee-Ann verklap sy is nie eintlik iemand wat nuwejaarsvoornemens maak nie.

“Ek is eintlik ’n slegte mens as dit by dit kom. Sommer die tweede dag, tweede Nuwejaar al, moet ek met myself raas en sê: ‘Ek het belowe ek gaan nie chocolate eet nie en hier sit en vriet ek dan nou ’n groot Lunch Bar,” lag sy. Wat wel vir haar belangrik is, is om aan die begin van die jaar af te sonder en tyd saam met God te spandeer.

“Dan gaan ek baie diep binne-in en ek bid, oor alles wat was en alles wat kom. Dis amper soos stock take vir my – kom ons vat dit nou as die einde van een ding en die begin van iets nuuts.” Sy voeg by vir haar is tyd eintlik relatief. “Van die een jaar na die volgende – dit bestaan nie eintlik nie. Maar iets wat eintlik al voor Covid begin het, is dat ek heilig begin raak het oor my tyd, veral my tyd wat ek met die Here spandeer. Ek het geleer hoe om na Hom te luister en hoe om op Hom te wag vir ’n antwoord al kom dit nie altyd onmiddellik nie. Maar as dit gebeur, wee’ jy, dis wow! En dan kan jy niks anders doen of sê as dit wat Hy wil hê nie. Dit skep ’n tipe vrede, liefde en tevredenheid wat ’n mens nie in woorde kan beskryf nie.”

Lee-Ann se Nuwejaarsboodskap vir Kuier-lesers is dat mense asseblief veilig moet wees, vir hulself en ook vir ander, en in hulle waarheid staan. “Weet jy, om by daai waarheid uit te kom, ’n mens leer baie gou. Maar om in daai waarheid te staan, dis ’n baie moeilike ding, want society sê gedurig vir jou jy mag nie dit doen nie of jy moet dat doen. Hoekom sê jy dit of hoekom sê jy daai?”

Vir haar is dit belangrik om in jou eie waarheid te staan, nie in iemand anders s’n nie. “Dit is die moeilikste én die maklikste ding om te doen. Die moeilikste van al hierdie ander goed van buite en al jou eie insecurities. Maar as jy die waarheid vertel en as jy in jou waarheid staan, wat kan mense doen? Hulle kan net ‘nee’ sê, of dalk nou baie kwaad vir jou wees en vir jou slegsê.

Maar as jy volhou in jou waarheid, sal hulle later kalmeer. Die oomblikke waar ek dit gedoen het, het mense altyd weer terug na my toe gekom en erken hulle verstaan nou, en is dankbaar vir my. Jy moet ook nederig genoeg wees om jammer te sê as jy ontsteld raak oor ander se waarheid, veral vir diegene vir wie jy lief is.” Dan sluit sy af: “Wanneer jy eers in jou eie waarheid begin staan, maak alles soveel meer sin en daarom is dit dan die maklikste ding om te doen. Dít is immers waarvoor jy gemaak is.”

* Foto’s: Courtney & Radcliff Roelse photography

* Grimering: Kyra Loubser

* Stilering: Gillian Stringer

Meer oor:  Lee-Ann Van Rooi  |  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.