Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lees in lockdown: Jong vrou begin besigheid
15 April 2021


Toe dit voel of die mure haar begin druk gedurende hard lockdown verlede jaar, het Maryam Adams (21) haar toevlug in die wêreld van boeke gevind. En kort voor lank het dié Kapenaar besef min dinge verskaf soveel plesier en nostalgie as die blaaie van ’n boek tussen jou vingers. Maryam se liefde vir boeke en die ontvlugting wat dit haar bied, het vinnig gegroei tot haar eie aanlyn boekwinkel, The Bookstore Baby.

Dié boekwinkel, wat tans operasioneel is op Instagram (@thebookstorebaby), het vinnig aanklank gevind by gebruikers. Binne weke het haar kliëntebasis gegroei van vriende en familie tot meer as ’n duisend ander regoor Suid-Afrika! Nie net hou Maryam van lees nie, maar sy is tans besig om haar BA Hons-graad in joernalistiek aan Universiteit Stellenbosch te verwerf. “Ek is al van kleins af versot op boeke – ek het alles gelees wat ek kon kry.

Boeke het die manier om jou na ’n wêreld te vat wat jy nie eens geweet het bestaan nie. Daar is net iets omtrent ’n boek wat eindelose plesier kan verskaf en vir die leser soveel vreugde kan bied.” Sy lag voor sy sê min dinge is vir haar so lekker soos ’n boek in haar hand. “Ja, tye het verander en tegnologie maak al hoe meer vordering, maar ’n e-boek bied net nie dieselfde vreugde nie. Wanneer jy ’n boek lees, neem jy elke bladsy volledig in. Dit lees ook net lekkerder!” meen sy.

Maar Maryam weet jy kan tegnologie tot jou voordeel gebruik omdat jy soveel mense op een slag kan bereik. Dis hoekom The Bookstore Baby ’n platform bied waar mense boeke van goeie gehalte kan koop. “Ek soek, versamel en lees die boeke, wat elke week opgelaai word noukeurig voor ek dit plaas om verkoop te word.” Dié aspirante joernalis vertel toe die wêreld in lockdown gegaan het, was daar bitter min waarmee sy haar tyd kon verwyl. Maryam het haar toe tot haar boekrak gewend vir vermaak. Escapism at its finest.

Maryam post die boeke wat te koop is op haar Instagram-blad.

“Wat vir my so besonders was gedurende daardie tyd, was dat ek vir jare nie tyd gehad (of gemaak het) om ’n boek op te tel en te lees nie. ’n Mens raak so vinnig verlore in die gejaag van die lewe en vergeet van dinge wat eens op ’n tyd vir jou belangrik was.” Een vir een het sy deur haar boeke begin lees wat toe al stof begin vergader het.

“Ek het soos blits deur al daardie boeke gegaan en dit het my laat besef hoe baie ek dit gemis het en hoe lief ek steeds daarvoor is. Dit het ook veroorsaak dat ek elke keer ’n nuwe eksemplaar van boeke op my lys wou koop, maar ek het bitter vinnig besef dat dit nie ’n finansieel volhoubare manier van lees gaan wees nie.”

Gehalte vir geld

Maryam het na tweedehandse boekwinkels begin soek. “Ek het verskillende tweedehandse boekwinkels in Kaapstad besoek en was verbaas om die tweedehandse eksemplare van al die boeke wat ek gesoek het, in ’n goeie toestand en teen sulke bekostigbare pryse, te vind. The Bookstore Baby het begin as ’n manier om van my gunstelingboeke te deel en om my (boek-) ‘verslawing’ te laat voortleef.”

Hoe meer boeke Maryam begin oplaai het, hoe meer mense het belanggestel om ook kopieë van die boeke te koop en dis toe dit in ’n volwaardige besigheid ontaard het.

“Ek dink dit is die seleksie van die boeke wat ek oplaai wat ’n baie groot rol speel in die sukses van die boekwinkel. Ek is baie bewus van watter boeke ek koop, ek lees baie en doen vooraf navorsing. Ek koop boeke wat ek weet mense soek en belangstel om te lees. By die aankoop van boeke hou ek rekening met die kwaliteit en die toestand van die boek om ’n aspek van goeie gehalte te handhaaf.”

Só verpak sy haar boeke.

Sy verduidelik entoesiasties voort dat die versameling meestal bestaan uit kontemporêre fiksie, poësie en klassieke kunstenaars. “Op my page vind jy die werk van skrywers soos Margaret Atwood, Chinua Achebe, Haruki Murakami, Virginia Woolf, ensovoorts. Ek plaas gereeld ook literatuur deur Suid-Afrikaanse skrywers.” Maryam verpak elke boek self en sit ’n oulike nota by.

“Dit is net meer persoonlik en ek dink dit heg soveel meer waarde aan die produk.” Elke aflewering is noukeurig toegedraai met bruinpapier, met ’n blommetjie by en ’n oulike handgeskrewe nota. “Dit is ’n persoonlike interaksie tussen my en elke kliënt wat gebruik maak van ons dienste.” Maryam doen weeklikse aankope om die aanbod van boeke vars te hou en ondersteun winkels soos die Help The Rural Child.

Dis ’n liefdadigheidsorganisasie wat fondse insamel om die verskillende projekte te ondersteun wat Goedgedacht Trust saam met die plattelandse kinders en hul gesinne in en om die Swartland-omgewing (Wes-Kaap) bedryf. Sy koop ook boeke van mense wat hul boekrakke wil leegmaak en sy ontvang donasies van familie en vriende.

Volgens Maryam is tweedehandse en “thrifting”-winkels en pages baie gewild onder die jonger generasie. “Ek dink ons generasie het meer bewus geword van die verbruikersmark en het dus besef dat dit ’n ekonomiese noodsaaklikheid is om tweedehandse items te koop. Dit is meer volhoubaar en kostedoeltreffend.” En wat maak haar boekwinkel anders as die res? “Die feit dat dit aanlyn is, maak dit klaar anders. Deur die boekwinkel op ’n aanlyn platform te hê, is die boeke meer toegankliker vir mense regoor Suid-Afrika. Ander faktore sluit in die keuse van boeke, die gehalte, bekostigbaarheid en volhoubaarheidselement daarvan.”

Maak ’n wins

Haar boeke is almal tweedehands en sy verkoop dit vir gemiddeld tussen R50 en R200. Sy vertel sy maak genoeg geld uit haar boekverkope om nog meer boeke aan te koop en ook ’n wins daaruit te maak.

“Dit is hoekom ek self na boeke gaan soek om seker te maak dat ek bekostigbare kwaliteitboeke kan aankoop en dit weer dan teen ’n wins kan verkoop om die besigheid te groei.” Maryam lag voor sy sê dat sy lankal tred verloor het oor hoeveel boeke sy al gelees het. “Ek het aanvanklik meer as 50 boeke gelees voor ek dit begin verkoop het.”

Sy het tot dusver al meer as 1 000 boeke verkoop. Dié vrou vertel sy leer steeds elke dag nuwe lesse oor besigheid, maar dat sy die olifant stukkie vir stukkie eet. “Party dae gaan beter as ander, maar dit wil nie sê jy moet opgee wanneer dinge nie goed gaan nie. Vind uit waar jou vaardighede lê, waarin jy goed is en bou daarop. Werk ook aan jou minder goeie areas – brei jou kennis uit, leer van ander.”

Vind uit waar jou vaardighede lê, waarin jy goed is en bou daarop.

Maryam sê sy moedig graag ander mense aan om hul eie besigheid te begin wanneer hulle hul passie gevind het. “Is dit maklik? Natuurlik nie. Dit is aanvanklik baie skrikwekkend, maar wie nie waag nie, wen nie. ’n Goeie idee, deursettingsvermoë en die nodige harde werk daarby kan vir jou baie ver in die lewe neem.”

Dan sê sy optimisties: “Onthou ook net om getrou te bly aan jouself en om te doen waarvoor jy lief is. Ek is baie dankbaar vir familie, vriende en The Bookstore Baby-gemeenskap. Die voortdurende ondersteuning en aanmoediging dryf my om die boekwinkel aan te hou groei.”

Maryam se storie van sukses is weereens ’n bewys van wie nie waag nie, wen nie!

Meer oor:  Inspirasie  |  Kuier  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.