Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Lewensdrama: Kapenaar soek hulp uit Dubai
26 November 2020


'n Nuwe baba in die huis is gewoonlik ’n magical tyd. Dit is ’n tyd waar ’n gesin se bande saamgesnoer word in liefde vir die nuwe pienkvoet. Maar vir een gesin het hierdie kosbare tyd in ’n nagmerrie ontaard – en dit in ’n vreemde land, in ’n vreemde taal, duisende kilometers weg van hul mense ....

Op 21 September het Luwayne Bouwers (36) met die trots wat net ’n nuwe pa kan hê, op sosiale media aangekondig dat hy en sy vrou, Crystal (37), ’n nuwe babadogtertjie ryker geword het. Die inskrywing het die pragtigste foto van pa en sy nuwe dogtertjie bevat met die volgende woorde: “Thank you God for blessing my family again. Welcome to the world Alaïa Bellamy Bouwers.”

Die paartjie het ook twee ouer kinders, Giana (7) en Mila (3). Dié geluk was egter van korte duur, want slegs twee weke ná hul bondeltjie vreugde se geboorte, het Crystal ’n beroerte gehad. Luwayne vertel hy sou nooit kon voorspel dat sy vrou slegs twee weke later haarself in ’n koma sou bevind nie.

Wat dinge nog erger maak, is dat die gesin, oorspronklik van Kaapstad, tans in Dubai bly – ongeveer 6 401 km ver weg van hul geboorteland. Kan jy jou indink om so ’n uitdagende stryd alleen, met drie kinders, te voer sonder jou familie in die nabyheid? Uit desperaatheid en hopeloosheid het Luwayne, ’n DJ, op 26 Oktober in ’n emosiebelaaide video op sosiale media by sy aanhangers gepleit om hom te help om sy siek vrou en gesin Suid-Afrika toe te bring.

Crystal benodig rehabilitasie wat sy by ’n bekende hospitaal in Kaapstad sal ontvang. Die Bouwers benodig egter ongeveer R500 000 om die gesin terug huis toe te bring. Hulle is nou ’n desperate stryd gewikkel om geld in te samel deur middel van ’n aanlyn event genaamd “Bring the Bouwers Back”, in samewerking met ander DJ’s sowel as met ’n BackaBuddy-veldtog. Die situasie waarin die Bouwers-gesin hulself bevind, voel soos ’n nare droom waarin hulle vasgevang is.

Dit was op 5 Oktober toe hul lewe ’n onverwagse draai gevat het. Slegs twee weke ná hul baba se geboorte, het Crystal ’n brain haemorrhage opgedoen. ’n Aar het in Crystal se kop gebars, wat van haar breinweefsel beskadig en ’n beroerte veroorsaak het. Sedert dié beroerte was Crystal in ’n koma en die regterkant van haar liggaam is verlam. ’n Brain haemorrhage, of liewer bloeding op die brein, is ’n noodtoestand waar ’n gebarste aar bloeding in die brein veroorsaak.

Volgens Mayo Clinic se webtuiste, www.mayoclinic.org, is hoë bloeddruk en trauma twee hoofoorsake van die toestand. Simptome kan wissel afhangende van die ligging van die bloeding in die brein, maar kan gevoelloosheid of swakheid in ’n deel van die gesig, probleme met spraak of om te loop, insluit. Noodbehandeling word benodig vir serebrale bloeding.

Dit behels gewoonlik medikasie en noukeurige monitering in ’n waakeenheid. In seldsame gevalle kan chirurgie nodig wees om druk rondom die brein te verlig.

Hy en Crystal op hul troudag.

Begin van hel

Vanuit hul huis in Dubai maak Luwayne verskoning dat hy so lank gevat het om op Kuier se navraag te reageer. Die man het tans sy hande vol met sy drie kinders, wat hy sedert sy vrou se beroerte alleen moet versorg. Met heimwee herroep hy die dae voor Crystal se beroerte. “Ons is baie geheg aan mekaar en natuurlik was ons baie opgewonde oor die nuwe toevoeging tot ons gesin. ’n Nuwe baba is altyd die begin van iets nuut, iets goed.” Luwayne sê hul dag-tot-dag lewe in Dubai was redelik normaal.

“Ons is maar soos enige ander gesin. Die enigste verskil is dalk net dat ek deur die dag na die kinders kyk terwyl Crystal as ’n SEO-bestuurder in die korporatiewe wêreld gewerk het. In die aande het ons twee rolle uitgeruil en dan het sy weer na die kinders gekyk en ek het gaan werk.”

Luwayne is ’n DJ by verskeie nagklubs en vermaaklikheidsplekke in Dubai. Dit is ’n baie emosionele Luwayne wat vertel dat Crystal twee dae voor haar beroerte erge hoofpyne gehad het. “Dit was kommerwekkend dat die pyn in haar kop so erg was en ná twee dae kon ek nie anders as om haar hospitaal toe te jaag toe die pyn al erger geword het nie.”

Volgens Luwayne was die pyn onuithoudbaar en hulle het vir Crystal na die noodeenheid gejaag. Met hul aankoms by die hospitaal is Crystal onmiddellik opgeneem. “Daar is verskeie toetse geneem en daar is bevind dat sy bloeding op die brein opgedoen het.” Crystal het nie lank ná hul aankoms by die hospitaal nie in ’n koma verval.

Volgens Luwayne probeer die dokters steeds vasstel wat presies gelei het tot sy vrou se toestand. Die paartjie se drie kinders, Giana, Mila en Alaïa, het sedert 5 Oktober nog nooit weer hul ma gesien nie. Luwayne vertel tranerig dat hy elke dag verbaas is hoe goed die kinders hul ma se afwesigheid hanteer. “Al logiese ding waaraan ek kan dink, is out of sight out of mind. Hulle is gelukkig en kom goed oor die weg en dit gee my hoop om aan te hou veg.”

Die gedagte aan sy kinders herinner Luwayne ook aan toe hy ’n paar weke gelede vir Alaïa vir haar maand-inspuiting moes neem by dieselfde hospitaal waar Crystal tans opgeneem is. “Almal by die hospitaal ken ons by nou al en hulle weet van ons situasie. Toe ek Alaïa moes neem vir haar inspuiting, is ek ingelig dat ons medies dit nie gaan dek nie.”

Hy vertel voorts dat hy ná die besoek na die toonbank gegaan het om die fooi te gaan betaal. “Die vrou agter die toonbank het toe gesê dat ek nie nodig het om dit te betaal nie. Dit was reeds gedek en dis toe dat ek besef het ’n Groter Persoon kyk uit vir ons. God sal sorg dat ons deur die donker tyd kom.”

En dan raak hy weer bewoë, want hoewel hy en Alaïa by dieselfde hospitaal as Crystal was, het hulle haar nie besoek nie. “Sy was slegs twee vloere bo ons. Ek kon dit nog nie oor my hart kry om die kinders na haar te neem nie. Ek wil nie hê hulle moet hul ma in só ’n toestand sien nie. Die gedagte dat ons daar was en haar nie kon sien nie, het my hart in stukkies gebreek. Dit het my hele wese uitmekaargeskeur.”

Luwayne en hul maand oue babadogter, Alaïa.

Die gesin se hele lewe is omvergegooi en volgens Luwayne is dit ook hoekom hy besluit het om hulp te vra. “Dit is en was ’n baie intense en moeilike tyd. Met my wat moes juggle om na die kinders te kyk en ook vir Crystal te gaan besoek by die hospitaal – alles het net vir my te veel geraak en daardie aand wat ek die video opgeneem het, was alles net te oorweldigend. Ek kon dit nie meer alleen doen nie en ek het besef al probeer ek hoe hard, sou ek dit nooit kon doen sonder enige help nie. Ek wil regtig net my gesin huis toe bring. Dis my hart se grootste begeerte.”

Om die geld in te samel om sy gesin terug Kaapstad toe te bring, het Luwayne besluit om die hulp van verskeie DJ’s in te roep om ’n live stream event aanlyn te hou. “Met die event beoog ons om genoeg kaartjies te verkoop om alle koste te dek.”

Die live stream event vind op 22 November plaas. Die teikenbedrag is R500 000. Dit sluit in die koste van hul vlugte, die mediese vervoer terug na hul tuisland vir Crystal sowel as die koste om haar rehabilitasie in Kaapstad te begin. Tot dusver is daar ongeveer R350 000 ingesamel deur middel van kaartjieverkope, skenkings en ook die Backabuddy-veldtog wat Luwayne op die been gebring het. “Die opbrengs van die kaartjieverkope gaan ons geweldig help om die teikenbedrag te haal. Ek is dankbaar teenoor al die kunstenaars wat ingestem het om deel te wees van die show.”

Die kaartjies word teen R50 per kaartjie verkoop en in sy aanvanklike video (waarin hy by mense pleit om ’n skenking te maak) het Luwayne verduidelik wanneer slegs 10 000 mense almal ’n bydrae van R50 maak deur ’n kaartjie te koop, kan die Bouwers-gesin hul reis na genesing begin. Luwayne se hart loop oor van dankbaarheid teenoor diegene wat reeds ’n bydrae gelewer het.

“Ons het al meer as die helfte van die teikenbedrag en ek glo dat ons binnekort die teiken gaan bereik. Die ondersteuning wat ons as gesin ontvang het, is ongelooflik en my beker loop oor.” Dit is ’n dankbare en nederige Luwayne wat sê die ondersteuning van mense wêreldwyd laat hom stom. “Ek is so humbled deur al die gebede, boodskappe, oproepe, ondersteuning en donasies van mense wyd en syd en spesifiek die DJ community in Suid-Afrika. Ek het voorwaar soveel acts of kindness gedurende dié tyd ervaar. Dit laat my weer glo in die mensdom en glo in die feit dat God sy hand oor my en my gesin hou.”

Hy sê hy put sy krag uit dié ondersteuning, maar veral ook van sy dogtertjies. “Die kinders motiveer my op so baie maniere en ek dink nie eens hulle verstaan die omvang daarvan nie. My geloof en gebede is ook iets wat my geanker en sterk hou gedurende dié tyd. Wanneer ’n mens op jou knieë bly, sal daar ’n uitweg kom. Dan is daar die feit dat Crystal vordering maak wat my laat glo en meer vasberade maak om my gesin huis toe te neem.”

Hy en Crystal in gelukkiger dae.

Sterk aan

Volgens Luwayne is Crystal se een oog tans oop en weet sy wanneer hy haar besoek. “As ek haar besoek, beweeg sy haar linkerhand in acknowledgement. Ek glo sy maak elke dag al hoe meer vordering en ek is hoopvol dat sy ten volle sal herstel.”

Vir Crystal om haar healing journey te begin, moet sy rehabilitasie en physical therapy ondergaan – aldus die dringendheid om haar terug na SA te bring. Die verduideliking agter Crystal se een oog is dat dit blyk of die linkerkant van haar liggaam reageer aldus die bewing van die linkerhand, linkervoet en ook haar linkeroog. Gelukkig het die Bouwers-gesin mediese versekering in Dubai en dit dek alle koste verbonde aan Crystal se huidige hospitaalversorging.

“Die mediese personeel hier is ongelooflik. Ons word ook bygestaan met ’n paar praktiese daaglikse dinge deur ’n paar vriende wat ons in Dubai het.” Luwayne het ook reeds kontak gemaak met die Suid-Afrikaanse ambassade in Dubai sowel as Gift of the Givers om te hoor of hulle ook hulp kan verleen. Hy is tans besig met gesprekke met mediese personeel in Kaapstad om die nodige planne te bewerkstellig om Crystal veilig huis toe te bring en daarna vir haar sorg en behandeling. Hierdie besonderhede word egter nog deurgewerk en afgehandel.

“Gesprekke is reeds aan die gang en hopelik kan ons binnekort alles finaliseer vir ons terugkoms.” Op 8 November het Crystal ’n operasie aan haar brein ondergaan. “Dit was ’n klein operasie aan die regterkant van haar brein – die kant wat tans verlam is. Haar neurochirurg het ’n ventriculoperitoneal shunt (VP shunt) op haar brein uitgevoer. Dit is ’n toestel wat van die kop na die buik lei. Die toestel sal help om die drukking op haar brein te verlig as gevolg van oortollige serebrospinale vloeistof.”

Die operasie was ’n sukses en die dokters is hoopvol vir nog vordering in Crystal se herstelproses. Sy is stadig, maar seker besig om uit die koma te ontwaak. Sy reageer al hoe meer met die linkerkant van haar liggaam. Volgens Luwayne reageer sy nou ook op haar naam en probeer glimlag. Hoewel Luwayne ook vasklou aan hoop, moet hy erken die hele situasie het sy emosionele welstand beïnvloed.

“Dit is nie maklik nie, ek gaan nie lieg nie, maar ek is positief en ek bly hoopvol dat ons situasie binnekort gaan verander en dat ek binnekort my gesin huis toe kan neem. Party dae is moeiliker en meer overwhelming as ander omdat daar soveel aspekte betrokke is in die reëlings om my gesin huis toe te neem. Ek moet egter sterk staan en deurdruk.”

Crystal en Luwayne saam met Giana op hul troudag.

Ondersteuning

Boodskappe van hoop en ondersteuning stroom in vir die Bouwers-gesin op sosiale media. Pierre Steytler, ’n voormalige kollega van Crystal, kon nie glo toe hy die nuus hoor nie. “Ek het vir ’n paar jaar met Crystal gewerk en het sulke mooi herinneringe van haar. As ’n pa van twee kinders kan ek myself nie indink om só ’n situasie deur te gaan en te hanteer nie. Om nie eens te praat om in ’n vreemde land te sit met ’n pasgebore baba nie. Dit moet ongelooflik moeilik wees en ek is verskriklik jammer dat julle hierdeur moet gaan.”

Virginia Geland, ’n familielid van die Bouwers-gesin wat in Kaapstad woon, het haar seer oor die voorval uitgespreek. “Woorde kan nie verduidelik hoeveel seer ons saam met julle ervaar nie, Lu-wayne, maar ons bly positief en hoopvol dat jy, Crystal en jul dogters hierdeur gaan kom. God loop langs jou op die moeilike pad.”

Die kinders motiveer my op so baie maniere. My geloof en gebede is ook iets wat my geanker en sterk hou gedurende dié tyd.

Dan sê Luwayne dankbaar: “Crystal toon soveel krag en vordering ná haar operasie. Aan al ons vriende, familie, dokters, verpleërs en mense regoor die wêreld wil ek net sê dat julle ondersteuning vir ons die wêreld beteken. Ek het so baie ongelooflike stories ontvang van ander stroke-slagoffers en dit gee my hoop vir die toekoms. Woorde ontgaan my – ek is dankbaar vir julle groothartigheid. Die dag wanneer ek en my gesin in Kaapstad land, gaan ek langs daai vliegtuig op my knieë wees en vir elkeen van julle dankie sê in gebed omdat julle jul harte oopgemaak het vir my en my gesin.”

En die feit dat die Bouwers-gesin amper hul teikenbedrag ingesamel het, is net weereens ’n bewys dat wanneer ’n mens kragte saamspan, jy soveel meer kan vermag as wanneer jy alleen staan. Ons kan net hoop en vertrou dat die Bouwers-gesin teen Kersfees tuis sal wees . . .

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.