Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Liefde blom: Klein bruid en bruidegom trou regtig
27 Mei 2021


Dalk het dit maar altyd in die sterre geskryf gestaan, dié liefde tussen Mishka en Conroy Witbooi. Dit klink beslis só . . . Hul storie begin op 19 Desember 1996 toe hulle as driejariges die klein bruid en bruidegom by Mishka se niggie Lee-Anne Christians en David Simon se troue op hul grootwordplek, Saron, was. Sy, ’n popmooi meisiekind met ligblonde hare en blou oë in haar spierwit trou-tabberd.

Hy, alte handsome met sy skrefies-oë in sy wit hemp en swart troupakkie. Fast forward 25 jaar tot 10 April 2021, en daar sweer daai einste twee, nou 28-jariges, trou aan mekaar op die plaas De Tuin buite Saron. En die predikant? Die einste David, by wie se troue hulle destyds die kamma-bruidspaar was!

Bestem vir mekaar

Blote toeval? Nee, sê hulle, God het dit só bestuur. Maar Conroy het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat hy daai blondekoppie al donkiejare “dik smaak” nie. Hulle was immers ook by dieselfde crèche en vanaf graad 1 tot 7 in dieselfde klas. Hy het dus oorgenoeg tyd gehad om haar sommer behoorlik uit te check. Maar, dit was so hittete of Conroy het destyds nie eens langs haar gestaan nie, vertel Mishka, nou hoogswanger met die twee se eersteling wat binnekort haar opwagting maak.

“Eintlik sou iemand anders die klein bruidegom wees, maar op die nippertjie het dinge anders uitgedraai, toe kies Lee-Anne haar jeugmaat Gerald se driejarige klonkie as mini-bruidegom.’’ Mishka was al sedert tweejarige ouderdom gereeld deel van familielede se troues, vertel sy. “Seker oor ek destyds so poppierig gelyk het.’’

Die twee onthou nie veel van daai dag in 1996 nie – maar Conroy vertel hy was omtrent dapper en gehoorsaam, terwyl Mishka ’n tjankbalie was. Die twee bars uit van die lag.

“En op van die troufoto’s sit ek oopmond en slaap. En ja, ek onthou ek was baie stout,’’ erken sy. “Op die trouvideo sien jy hoe Conroy alleen instap by die onthaalsaal, ek was bad luck en my ma, Elizabeth, moes my by die deur kom haal.’’ “Het jy nie daai dag ook oor ’n kaasbroodjie gehuil nie?’’ terg Conroy, ’n produksiebeplanner by ’n vrugtelekker-fabriek tussen Saron en Gouda.

“Ja, einste,’’ beaam sy. “Ek weet regtig nie hoekom nie. Ek onthou ek was ná daai troue weer gekies as iemand se klein bruid en ek het glo ewe parmantig gesê: ‘Ek gaan nie weer trou nie, ek het dan klaar ’n man’ .’’

Hulle was die klein bruid en bruidegom by ’n troue 25 jaar gelede.

Die troupaar van 25 jaar gelede is nou albei predikante, dié dat David hulle toe op die ou end in die huwelik bevestig het. En nou is hulle super-opgewonde om einde Junie hul eie klein Mecah te verwelkom. Die swangerskap was nie juis beplan nie. “Ek het sleg begin voel en op 5 November verlede jaar ’n toets gedoen wat my vermoedens bevestig het. Connie was regtig bly toe ek die nuus oordra, maar eintlik ook half-kwaad omdat hy wou by wees wanneer ek die toets doen,’’ vertel Mishka.

“Shame, ek hou saans die arme man uit die slaap, want elke keer as ek opstaan, spring hy orent, en wil dan weet of als oukei is. Ons kan regtig nie meer wag nie.’’ Mishka gaan haal weer die storie oor Conroy wat haar van daai jare al met skaapoë aankyk. “Hy smaak my al sy hele lewe lank. Dit baat nie eens hy stry nie.’’ Hulle lag lekker. Maar, dis nie dat hy skaam is nie, dis hoe dit was en steeds is, voeg Conroy by.

“Ek onthou hoe ek kleintyd saans in die bad vir my jonger boetie, Wilmar, gesê het Mishka is my trouvrou.’’ Oukei, dan moet sy ook maar vandag ietsie erken . . . “Ons skoolmaats het altyd gesê Connie smaak my, dan sê ek kastig ek wil hom nie hê nie,’’ vertel Mishka nou die stuk.

“Maar, dit was nie waar nie. Dalk wou ek net hard-to-get speel. Hy het altyd kom kuier by ’n vriend wat oorkant my ouerhuis gebly het, dan sit hulle op die muur. Dan soek ek kastig ’n verskoning om winkel toe te gaan, net sodat ek daar kan verbyloop. Daai tyd het ek hom mos nie meer elke dag gesien nie, want ons was by verskillende hoërskole.’’

Sjoe, dit het hy nooit geweet nie. Conroy kyk verbaas na haar. ’n Ruk daarna het die twee vir mekaar bemoedigende SMS’e begin stuur. “Hy het elke liewe aand vir my ’n boodskap gestuur. Dan vra ek my ma vir ’n mooie wat ek weer kon terugstuur,’’ sê Mishka. “So teen graad 9 het die chats begin doodloop. Die lewe gebeur mos maar, dalk het hy ogies begin maak vir ander meisies.’’

Paaie kruis weer

Toe ruk tragedie hulle op ’n manier weer na mekaar terug in 2010. “My broer, Byron (24), het in ’n motorfietsongeluk gesterf, Conroy het weer boodskappe begin stuur en selfs ’n paar keer kom kuier. Eers het die geselsies by koeitjies en kalfies gebly tot Junie 2013. “Ons het by die kanaal gaan staan, dis ’n uithangspot waar die jong mense gewoonlik kuier,’’ vertel sy.

Eintlik het Conroy heimlik met haar niggie planne gemaak sodat sy daar kon wees. “Ek het net gedink – hier is my kans nou.’’ Toe is die koeël deur die kerk. “Toe gee ek hom maar ’n ou soentjie,’’ vertel Mishka laggend. Hy glimlag van oor tot oor. “Ek het nog met die terugstap huis toe vir my neef gesê: Jy sal nie glo wat vanaand gebeur het nie. Ek het haar gesoen en almal weet hoe lank ek vir daai soen gewag het.’’

Van daar het die liefde geblom, in 2017 het hulle saam ingetrek. “Dit was maar ’n klein tweeslaapkamerplekkie in iemand se jaart – en ons het als so saam-saam van niks af opgebou,’’ sê Mishka. “Dit maak ’n mens sterker. Dit het ons geleer om beter te kommunikeer.’’ Albei is pynlik bewus van stukkende verhoudings. “Beide ons ouers is geskei, maar dis iets wat nie vir ons ooit ’n opsie is nie. Ons wil nooit ons kind deur so iets sit nie,’’ sê Mishka vasbeslote.

Die hofknapie by Mishka en Conroy se troue.

“Hy respekteer my en laat my soos die mooiste vrou in die wêreld voel. Ek was nog my hele lewe lank mollig, maar Connie het my nooit laat voel ek moet vir enigiemand terugstaan nie. Op skool was ek skaam oor my gewig en het gedink ek is nie mooi nie.’’ Sy bring die mooiste in hom uit, sê Conroy. “Ons kan ure lank gesels, want ons is mekaar te grootste pelle. Dis hoe dit hoort.’’

Hy het tot ná Valentynsdag gewag en haar op 16 Februarie 2020 gevra om te trou. “Ek is ’n sportman, en speel rugby. Ek onthou ek het my knie beseer. Toe vra ek haar daai Sondagmiddag by ons huis in die kamer. Ek het die ring op my bors gesit, want ek kon nie juis beweeg of kniel nie.’’ Mishka vertel verder. “Hy het aan my getik en toe ek omdraai, lê hy daar met die boksie op sy bors. Ek het dit nie verwag nie.

Ek het gevra: ‘Regtig?’ Want, ek was kwaad oor ek nie blomme op Valentynsdag gekry het nie, maar hy wou dit doen wanneer ek dit die minste sou verwag.’’ Hulle onthou daai pragtige troudag op die plaas De Tuin in April vanjaar. “En toe Uncle David ons trou, het hy daai troufoto’s vir die mense gewys en vertel van my stoutgeit op daai dag van hul troue,’’ sê Mishka.

“Ek het net gehuil toe my pa, Colin, my die eerste keer in my rok sien.’’ Daar was nie ’n klein bruid en bruidegom by hul troue nie, maar wel konfetti-girls en ’n hofknapie. Haar sus, Melonese, was strooimeisie, en Conroy se boetie, Wilmar, sy strooijonker. “Ek het altyd gesê die Here gaan ’n goeie man op my pad sit, en kyk dis nogal die einste een wat ek desjare gedink het my man is,’’ sê Mishka.

Dis toe werklikwaar op die ou end ’n voltooide sirkel vir 25 jaar gelede se blonde blouoog-tjankbalie en haar dapper klein bruidegom.

* Haidee is ’n RSG-omroeper en -regisseur.

Meer oor:  Kuier  |  Liefdesverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.