Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Liefde blom: Ou getroudes vier 7 dekades saam
26 November 2020


Geeneen van hul nege kinders, negentien kleinkinders en veertien agterkleinkinders het al ooit gehoor dat hulle hul stemme vir mekaar verhef nie.

Trouens, hul huis in die Kaap dien as ’n liefdevolle en veilige hawe vir elke liewe een van hulle. Maar dis nie net familie wat na Dora (93) en Benjamin Freeman (91) opkyk nie.

Al was hulle op 25 November vanjaar reeds sewe dekades lank getroud, kom mense steeds vir advies na hulle toe. Dora kom eerste die sitkamer van hul huis in Scottsville, Kraaifontein, binne vir die onderhoud wat een van hul kinders as ’n anniversary-present vir hulle gereël het. Sy lyk stylvol in ’n roomkleurige uitrusting, bypassende wyerandhoed, pêrels, handsakkie en goue skoene.

’n Rukkie later sluit Benjamin by haar aan, self die toonbeeld van netheid in ’n donker broek en baadjie, blinkgepoetste skoene en gestreepte das. Dit word gou duidelik dat albei hoogs gelowig is en ’n gróót hart vir hul medemens het. Maar daar is ook iets meer: ’n Wedersydse deernis en respek.

Benjamin, Dora en familielede op haar 90ste verjaardag.

Veilige hawe vir almal

Toe hy en Dora hul sestigste huweliksherdenking gevier het, wou heelparty jong mense weet of hy hulle sal trou, vertel Benjamin, wat ná sy aftrede in 1978 as fabriekswerker by Monatic jare lank in die bediening gestaan het. En nou is dit al weer tien jaar later. “Die sakke sout was baie,” mymer Benjamin.

“En die foute wat ek begaan het, is te veel om te tel. This lady,” sê hy en wys na sy vrou wat rustig met haar hande gevou op die rusbank sit … “As ek nie vir Ma gehad het nie, sou ek dit nooit gemaak het nie. Sy is my companion. Sy is my greatest friend. Maar above all, she is my wife.” Dora glimlag net. “Hy kan baie goed orde handhaaf en leiding neem,” sê sy ooglopend trots wanneer sy oor haar man se beste eienskappe gepols word. “En ons beginsels is dieselfde.”

Wanneer hulle later vir ’n foto langs mekaar plaasneem, neem Benjamin Dora se hand styf in syne. Oor die liefde het hul uitgebreide familie baie by hulle geleer. “As enigiemand van ons in die nood is, weet ons hier is altyd plek waar ons ons kop kan kom neersit,” vertel Lorna (69), hul oudste kind en een van ses familielede wat tans by hulle woon. “Ek kon nie vir beter ouers gevra het nie,” sê Evangeline (55), wat in 1968 as die jongste kind aangeneem is.

“My pa en ma is álmal se ma en pa – vir ons as kinders, vir óns kinders en vir die agterkleinkinders. Van ons is getroud en bly op ander plekke, maar as mense vra waar ons bly, is hierdie ons adres.” Nog nooit, ooit het sy hulle hoor baklei nie, voeg Tamara, ’n kleinkind, by. “Ja, as daar iets is wat uitgesels moet word, dan vat hulle dit kamer toe behind closed doors,” beaam Lorna.

“As hulle daar uitkom, staan hulle soos een saam en praat hulle uit een mond.” liefde en leed Hy en Dora, wat tot op 70 as domestic gewerk het, het mekaar destyds raakgesien toe hulle albei in kore gesing het, vertel Benjamin, wat die meeste praatwerk doen omdat Dora se gehoor deesdae effe lol. “Dit was in 1950 in Vasco Akkers. Sy was 23 en ek was 21.”

Op 11 Julie 1950 het hulle onder die groot horlosie op die Kaapse stasie ontmoet – daardie bekende bymekaarkomplek van soveel verliefde paartjies – voordat hulle na haar inslaap-werksplek in Seepunt is vir hul eerste amptelike date. Vier maande later, op 25 November 1950, het hulle in Vasco in die NG Kerk in die huwelik getree. Het hulle ooit gedink dat hulle dit sou maak tot by hul sewentigste huweliksherdenking? “Sy het darem net een keer vir ’n egskeiding gevra,” sê Benjamin doodeerlik.

“Dit was aan die begin toe ek gefaal en aan wyn verslaaf geraak het.” Dora het wyn gehaat, voeg hy by. Sy het grootgeword in die Independent Order of True Templars, wat doerie tyd teen die dopstelsel geveg het. Maar hy het eers later gehoor dat sy so raadop met sy drinkery was dat sy daaraan gedink het om te skei toe hulle oudste kind net ’n paar maande oud was. Sy is selfs na ’n magistraat toe, wat haar onverwags oor haar man uitgevra het.

“Hy het gesê hy gee haar ses maande. As haar man dan nog nie verander het nie, sal hy hulle skei.” Later daardie jaar hét dinge verander, sê Benjamin sag. “By ons was daar in daai tyd jong manne wat die evangelie verkondig het soos ek dit nog nooit gehad of gehoor het nie.” En Dora het gereël dat hulle na hul huis toe kom.

“Die oggend het sy vir my gesê die mense kom hou vanaand biduur, kom tog asseblief reguit en nugter huis toe.” Toe hy letterlik daar ingedra en op sy kooi neergegooi word ná ’n kantienbesoek, het Dora doodeenvoudig sy gesig gewas, sy baadjie aangetrek en hom uit die kamertjie gesleep. “Daardie aand,” sê Benjamin, “vra die liturg ons almal: ‘Waar gaan jy vir die ewigheid?’ En dis of die Here se vinger op my rus. Daai aand … Die huwelik het sewentig jaar gehou because of that. Toe ons tot bekering kom, toe gaan ons oë oop.”

Dit beteken egter nie dat daar nie meer uitdagings was nie. Hulle het selfs ’n draai in die plakkerskamp Louw se Bos in Elsiesrivier gemaak voordat hulle omstandighede verbeter het. In 1972 het die egpaar Kraaifontein toe getrek, waar hulle nou nog woon. Benjamin se oupa was ’n swart Amerikaner, lê Dora hul geskiedenis uit.

“Hy was vrygekoop van slavery. Dis hoekom sy van Freeman is. My geslag is weer Khoi. My nooiensvan is De Bruyn en my pa was ’n karretjieman.” Sy was net 13 jaar oud toe moet sy al agter kinders begin kyk, vertel Dora. “Dit was die apartheidsjare – jy is nie langer as standerd ses in die skool gehou nie.”

Die egpaar op Benjamin se 70ste verjaardag.

Raad

Benjamin self het net standerd twee (graad vier) geslaag, maar toe sy paaie met dié van die Assemblies of God kruis, het ’n onderwyser sy potensiaal raakgesien en hom privaat onderrig. In 1962 het Benjamin die kans gekry om vir drie jaar deeltyds aan die Chaldo Full Gospel Bible Institute in Wynberg te studeer.

Uiteindelik het hy voltyds in die bediening gestaan by agtereenvolgens die Assemblies of God, die Galilean Gospel Mission Church en die Peoples’ Mission Church in Delft, wat hy gestig het. Twee jaar gelede is hy as biskop in laasgenoemde ingehuldig. As hulle enige raad kon gee aan jong mense, wat sou dit wees? “Die vernaamste is om die Here in jou lewe toe te pas. En dan om gelerentheid te kry,” sê Dora.

“Ons het baie huwelike bevestig,” sê Benjamin. “Ek gebruik dikwels Psalm 23:6 – Ek sal in die huis van die Here bly tot in lengte van dae. Ondervinding het ons geleer wanneer jy nalatig word teenoor die huis van die Here, gaan jou lewe af. Die Bybel is ’n leermeestersboek. Baie mense is in die kerk, maar hul lewe verbeter nie omdat hulle nie die raad volg wat die Bybel gee nie.”

Liefde is die sterkste band wat ’n mens kan hê, vervolg hy. “Maar liefde vra respek. Lankmoedigheid. Vertroue. Daarsonder beteken jou liefde niks.” Die laaste ruk het hy daaroor nagedink of hy die afgelope 70 jaar met dieselfde vrou oor sou wou gehad het as hy geweet het wat oor sy pad sou kom. Net een antwoord het by hom opgekom: “Ja, ’n honderd-en-een keer ja.”

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.