Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Liefde oorwin: Verhoudings oor geloofsgrense
29 April 2021


Afstandsverhoudings is deesdae makliker met die internet. Eintlik is die hele samelewing deesdae meer ontvanklik vir alle tipe ver-houdings wat vroeër taboe was of skeef aangekyk is.

Tog bly verskillende geloofsoortuigings in ’n verhouding ’n taai tameletjie om aan te kou vir enige verliefde paartjie wat bereid is om só ’n verhouding te maak werk. Maar is liefde ooit genoeg as ’n swaargewigkwessie soos godsdiensverskille sy spiere in ’n verhouding bult?

Volgens Juanita de la Harpe, ’n opvoedkundige sielkundige van Jacobsbaai in die Wes-Kaap, hang alles af van individu tot individu. “Paartjies moet altyd onthou wat hulle aanvanklik na mekaar aangetrek het. Dit is amper die belangrikste van alles.”

Vir Anthea (47) en Mahdi Mosaval (55) van Lansdowne in die Kaap is daar altyd ’n grys area om mee te werk as daar verskillende gelowe in ’n verhouding is. “Daar is ook altyd ’n antwoord,” sê hulle. Anthea is ’n Christen en Mahdi ’n Mos-lem. Hulle is al saam sedert Anthea 17 jaar oud was en vandag is hulle al 23 jaar getroud.

“Ek het in die Anglikaanse Kerk grootgeword. My familie het nie regtig ’n probleem gehad nie. My my ma was dalk ’n bietjie bang ek gaan oor na die Islam-geloof, maar ek het haar verseker ek sou nie,” vertel Anthea. Later is twee seuns, Mika-eel (20) en Ismail (17), gebore en hulle het die Islam-geloof aangeneem. Volgens Mahdi het hulle destyds ’n wonderlike imam by die Claremont-moskee gekry om hulle in die eg te verbind.

“Mense is deesdae meer oop vir verandering, al is dit nie noodwendig wat ons geleer is nie. Ek het destyds gehoor daar is bepalings vir wat in intergelowige huwelike toegelaat word, al is dit nie wyd en syd verkondig nie. Ek het navorsing gaan doen, want ek het te veel gesien hoe mense hul geloof opgee en dan in niks glo nie. Ek wou nie hê Anthea moes ’n slagoffer wees nie en ek wou ook nie ’n bespotting van God maak nie,” vertel Mahdi.

“Die betrokke imam het ons laat verstaan dis oukei, terwyl baie ander gesê het dit kan nooit gebeur nie. Hy het selfs vir haar (Anthea) gesê sy kan ’n predikant kry om ons ook te trou, as sy wou,” deel Mahdi. Tog sê Anthea: “Die uitgebreide familie aan Mahdi se kant was ’n bietjie moeiliker, maar hulle het ná ’n jaar of twee daaroor gekom.

“Albei gelowe preek respek vir jou medemens. As jy dit beoefen, wen jy. Ons wou mekaar hê en ons wou hê die verhouding moes werk, daarom het ons respek en kommunikasie eerste gestel,” sê sy.

As jy van die begin oopkop daaroor is en bly, sal die verhouding wen. Dit hang ook af van wat jou persepsie van God is.

Respekteer geloof

Volgens dié paartjie beoefen hulle gedeelde godsdienstige aktiwiteite. Tydens Ramadan vas Anthea saam met haar man en kinders. “As ’n ma moet jy jou kinders wys dat jy respek het vir hul geloof. Ons sal byvoorbeeld geen ander kos as halaal in die huis hê nie. Selfs tydens funksies saam met die familie, is alles altyd halaal,” sê Anthea.

Mahdi voeg by dat hy ook sy kant moet bring. Op Goeie Vrydag sal hy en die kinders vis saam met Anthea eet. Ons maak ook geskenke onder die Kersboom oop. “Aan die einde van die dag is ons almal mense van die Boek, ons aanbid dieselfde God,” sê Mahdi. Hy meen voorts dit gaan oor die eenheid as paartjie. “Ons het mekaar op gelyke grond ontmoet. Sy het meer van my geloof geleer en die mites oorbrug,” sê Mahdi.

Juanita sê gewoonlik kom daar komplikasies wanneer die kinders kom. Voor die kinders het julle as volwassenes meer ruimte om te doen wat julle wil. “Maar daar is altyd lig aan die einde van die tonnel en tyd bring wysheid. Sodra individue leer om mekaar nie te veroordeel nie en genoeg ruimte te laat vir die ander individu, sal dit werk. As jy van die begin oopkop daaroor is en bly, sal die verhouding wen. Dit hang ook af van wat jou persepsie van God is. Is dit konserwatief of sien jy God multi-dimensioneel,” meen Juanita.

Haar ander advies is: Die belangrikste riglyne is om mekaar te aanvaar; te weet een is nie meer belangrik as die ander in ’n verhouding nie; stem saam om te verskil, dis oukei; wees oopkop selfs oor die dinge wat jou sal seermaak; en moenie die onbekende vrees nie. “Hoe sterker jy is in jou geloof, hoe meer standvastig is jy en kan jy ander gelowe ondersoek en navors sonder om bedreig te voel. As jy twyfel, kan konflik dalk ontstaan.”

Tracey (41) en Irfaan Rawoot, (42) is al 24 jaar saam waarvan 14 jaar as getroude paartjie. Hulle moes eers wegtrek van familie in Wynberg, Kaapstad, na Killarney, Johannesburg, om regtig hul “Bollywood-liefdesverhaal” uit te leef. “Ek kom uit ’n diepgelowige familie met sterk Christelike beginsels, waar die kerk die fondasie van ons gesin was. Irfaan kom weer uit ’n stoere Indiese Moslem-familie wat regtig hul kultuur geleef het. Toe ons mekaar ontmoet, was dit liefde met die eerste oogopslag,” vertel Tracey.

Maar toe hulle besluit hulle wou saam wees, het nie een van hul families dit aanvaar nie. “Ek was hartgebroke en het selfs vir ses maande Kanada toe gegaan om my kop skoon te kry. Ons het geensins kontak gehad nie en alle briewe of kommunikasie is deur die familie onderskep. Toe ek terugkom, het ek geweet ek wíl saam met hom wees,” vertel Tracey.

Sy en Irfaan het hul verhouding vir ’n jaar van hul families weggesteek. “In Kaapstad het dit vir my gevoel of daar baie druk is om van godsdiens te verander. Maar ek kon en wou eenvoudig nie. Ek het besluit om sy godsdiens te bestudeer en wou alles leer wat ek kon,” sê Tracey. Hul verhouding het regtig eers geblom toe hulle Johannesburg toe getrek het.

“Toe het ons geen inmenging gehad nie en was dit ’n ware verhouding. Ons het nie meer baklei oor goed wat ander vir ons wou hê nie en kon nader aan mekaar groei. Só het ons meer van mekaar se gelowe geleer en ons eie pad gevind,” sê Tracey.

Hul troue

Die troue wat in 2006 plaasgevind het, het sy eie uitdagings gehad. Hulle het ’n Moslem-seremonie gehad. Die paartjie het na die Konstitusionele Hof gegaan om ’n imam te kry wat hulle kon trou. Die nikah was by sy ouers se huis, die hele familie was daar, ook die vroue. “Ek het aangedring om by my eie troue te wees en gedeelde geloftes af te lê. Later het ons ook ’n Christelike seremonie in ’n kerk gehad,” sê Tracey.

Met tyd het dinge makliker geword, voeg sy by. “Ek en hy is op dieselfde spirituele bladsy; hy het meer van my lewe geleer en ek van syne om ons wêreld te skep, waarmee die families ook gelukkig is. As ons volgens ons eie agenda geleef het, sou dit nie gewerk het nie. As jy nie saam groei nie, gaan dit ’n probleem wees. Bou jul pad, sluit die geraas uit,” deel Tracey.

Die verhoudingskrywer Riya Pandey van die aanlyn inspirasiegroep Medium skryf op hul webtuiste: “Mense is almal mense. Die meeste mense regoor die wêreld, maak nie saak van watter geloof nie, verstaan die gevoel en sentiment rondom ’n god of geloof en het respek daarvoor.

“Dis nie nodig om mense te verander om by jou geloof aan te pas nie. Dis makliker om eerder meer van hul geloof te leer en sterk in jou eie te wees. Hoe meer jy ander wil verander, hoe meer konflik kan daar wees. Onthou, ons is eers mense voor ons gelowig is. Om menslikheid uit te leef, is die heel belangrikste.”

Meer oor:  Verhoudings  |  Kuier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.