Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Loopbaan: Verpleegsters in kindersorg styg uit
12 November 2020


As daar een ding is waaroor almal kan saamstem, is dit dat gesondheidswerkers helde in die voorste linies van die Covid-19-pandemie is. Hoewel hul onbaatsugtige werk nie altyd in die kollig was nie, is hierdie twee pediatriese intensiewesorgeenheidverpleegkundiges (PICU) van die superhelde wat agter die skuifdeure baklei vir elke baba of kind met lewensbedreigende siektetoestande se reg om te lewe.

Terselfdertyd moet hulle ook die bekommerde ouers se gemoedere sus en die steunpilaar wees in emosionele tye. Jo-Anne Applegate (49) en Phumeza Nkasana (31) is albei PICU-verpleegkundiges wat elk hul eie roete gevolg het om vandag as top-verpleegsters in hoogs aangeskrewe hospitale in en rondom Kaapstad te werk. Jo-Anne, van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, werk die afgelope 11 jaar by die Rooi Kruis-kinderhospitaal se intensiewesorgeenheid en neonatale hoësorgeenheid.

Phumeza is sedert 2017 op haar pos by die pediatriese intensiewesorgeenheid van Netcare Christiaan Barnard Memorial-hospitaal en woon in Kaapstad. Dié hardwerkende vroue het elk twee dogters – Jo-Anne s’n is 22 en 27 jaar oud en Phumeza het ’n kleintjie van vier jaar en ’n baba van agt maande.

Phumeza Nkasana werk by Christiaan Barnard Memorial-hospitaal.

Kwalifikasies

Die vriendelike Jo-Anne is van Goedverwacht naby Piketberg en al meer as 30 jaar in die verplegingbedryf, waarvan 25 jaar hoofsaaklik aan kindersorg gewy is. Sy het op 19 as ’n verplegingsassistent in die pediatriese afdeling by die destydse Conradie-hospitaal begin werk. Heelwat later het sy haar vierjaar-B.Cur.-graadkursus aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gedoen, asook haar spesialisasie in kritieke sorg vir kinderverpleging-diploma by Universiteit van Kaapstad afgelê.

Jo-Anne hou nooit op studeer nie en al die jare se ondervinding met kinders help haar om die skoene van mentorverpleegkundige vol te staan. Boonop is sy in 2018 as die verpleegster van die jaar by Rooi Kruis-kinderhospitaal gekroon en deel sy al haar kennis met haar span, want soos sy sê “kennis is niks werd, as jy dit vir jouself hou nie”. “Ek is net lief vir kinders,” deel sy.

“As kind het verpleegsters – die wyse hoe hulle aangetrek en hulle in die gemeenskap gedra het – ’n indruk op my gemaak.” Phumeza was ’n ywerige student wat in 2007 haar graadkwalifikasies by die Universiteit van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) voltooi het. Later sou sy haar kritiese sorg vir kinderverpleging by die Universiteit van Kaapstad verwerf en haar praktiese ondervinding voltooi om haar droom om ’n spesialisverpleegster te wees, te verwesenlik.

Sy het ook verlede jaar ’n ses-maande-kardiovaskulêre-verpleegkundekursus deur Netcare Education klaargemaak, waar sy as een van die top-studente uitgesonder is. “Ek wou net kinders help om beter te word. Hulle kom na dié spesialiseenhede, want hulle is baie siek, maar as hulle ontslaan word, is daardie gevoel van genoegdoening groot,” sê Phumeza. Maar hoe voel dit in hierdie verpleegsters se werkomgewings? Soos jy deur die Rooi Kruis se pediatriese intensiewesorgeenheid stap, is daar ’n steriele stilte wat heers en skuifdeure wat oop- en toemaak.

Die gange is meer kleurvol as ’n normale saal, totdat jy by die kamers kom met duur instrumentasie, pype en monitors wat soos ’n seekat se tentakels in alle rigtings groei. Verpleegsters staan om die beddens of broeikaste van siek kinders of babas. “Look at the monitor” is die bekende frase wat hulle in hierdie eenhede glo gebruik. Hulle hou die kleingoed met ’n fyn oog dop.

“Die Rooi Kruis is die trauma-eenheid vir pediatriese sorg in die Wes-Kaap. Ons hanteer die erge gevalle waar ’n verskeidenheid traumagevalle by een pasiënt gediagnoseer is,” sê Jo-Anne. “As jy soms dink pasiënte gaan dit nie maak nie, dan stap hulle hier uit. Ons het op die oomblik meer as 104 verpleegkundiges in die intensiewe-sorgeenheid. Daar is 22 beddens en agt in die neonatale eenheid (’n eenheid vir pasgebore babas met lewensbedreigende toestande jonger as 28 dae) altyd gereed.”

Netcare Christiaan Barnard Memorial-hospitaal se pediatriese intensiewesorg-eenheid op die negende vloer is effens kleiner, maar die werklading netso druk. “Vir my is die adrenalien ook ’n dryfveer,” sê Phumeza. “Jy werk met kinders wat hartoperasies gehad het, met asemhalingsprobleme sit of self ingewandprobleme ervaar of stuiptrekkings kry. Jy moet hulle stabiliseer, monitor en die heeltyd gereed wees vir enigiets wat kom of ’n toestand wat kan verander. “Dis ’n totale holistiese aanslag, jy moet van alles bewus wees, want baie kinders kan dieselfde toestande hê, maar anders reageer,” meen sy.

Jo-Anne voeg by dat dokters, verpleegkundiges en ’n span deskundiges saamwerk as een multidissiplinêre span. “Verpleging vorm een kritieke deel van die stelsel. Ons moet almal se bydraes in die verplegingsprogram inpas. Ons moet die hele tyd evalueer of die kind beter raak. Jy is eintlik die mondstuk vir die siek kind wat self nie kan praat nie. Jy is ook die dokter se oë.”

Sy noem dat dié hospitaal deesdae “ongelukkig” meer skietvoorvalle van kinders opneem. “Dis die hartseer realiteit waarmee ons op die Kaapse Vlakte leef. Soms sien jy die pasiënt met ’n lewensbedreigende toestand en jy is sommer kwaad oor sekere goed, maar hou dit binne. Dan sny jy af, want jy is nie daar om te oordeel nie, jy moet dadelik toetree, diagnoseer en versorg.

Hanteer die seer

“As ons ’n kind verloor, dan kom ons verpleegkundiges bymekaar om te gesels. Ons ontlaai só en dis ons beskermingsmeganisme. In 2012 het ek sommer twee pasiënte op een aand verloor. Dit het my emosioneel uitgeput en dit het gevoel of ek nie die aand gaan maak nie. Hulle skuif my toe net na ’n ander bedspasie. As jy by die bedspasie is, is daar nie tyd vir trane nie.

Of daar is trane, maar jy werk steeds.” Phumzela se benadering is: “Ek sonder nie regtig voorvalle uit nie. As pasiënte inkom, is dít my fokus, die hier en die nou. Die situasies is nie dieselfde, maar die versorging is al wat nodig is. Ek doen wat ek moet doen. En ná die tyd gesels ek om te ontlaai.” En hoe hanteer hulle die ouers? Vir Phumeza is goeie verpleging vir die ouers en kinders belangrik.

“Ek is ’n ma van twee en weet hoe dit moet voel as dit jou kind in die bed is. Jy moet empatie hê en baie tyd met hulle spandeer. Jy moet met die ouers gesels, hulle op die hoogte hou en hul vertroue wen. Hulle moet heeltyd weet wat die toestand van die kind is,” sê sy. Albei verpleegsters vertel dis ’n bittersoet beroep, jy is daar as iemand geboorte gee en daar is vreugde.

Maar as ’n kind sterf, is daar hartseer. Twaalf uur klink lank, maar dis glo nie lank vir die verpleegsters wat heeltyd moet bontstaan nie. Dié twee dinamiese vroue se werkstyd begin soggens om 06:45 en Phumzela gee die skof om 18:45 oor. Omdat Jo-Anne ’n mentor is, kan sy 16:00 huis toe gaan. Albei is dit eens: Jy moet ’n passie vir die werk hê, maak seker jy doen dit nie vir die geld nie, en die pasiënt kom altyd eerste.

Die studieroete

Volgens Minette Coetzee, ’n buitengewone professor en direkteur by Universiteit van Kaapstad (UK) se departement van pediatrie en kindergesondheid, is die UK tans die enigste instansie in die land waar verpleegkundiges kan spesialiseer in pediatrie in kritiekesorgverpleegkunde. Die salaris vir ’n pediatriese intensiewesorgeenheidverpleegkundige is ongeveer R400 000 per jaar.

Vereistes:

• Matriek en dan ’n voorgraadse program van vier jaar aan een van die verskeie departemente van verpleegkunde in Suid-Afrika.

• Gaan kyk gerus by www.sanc.co.za onder “Educational Institutions” om te sien waar jy kan swot en of hul studieprogramme en die opvoedingsinstansie geakkrediteer is. Skakel ook 012 420 1000 vir meer inligting.

• Alle verpleegkundiges moet by die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad (SAVR) geregistreer wees.

Die SAVR is die regulerende liggaam vir opleiding en standaarde in die verpleegbedryf. Prof. Coetzee voeg by:

• Die kandidaat moet twee jaar ondervinding met kinders hê. Een van die twee jaar is in ’n pediatriese intensiewesorgeenheid.

• Boonop moet die verpleegkundige ’n jaar se voltydse of twee jaar deeltydse nagraadse diploma aan die Universiteit van Kaapstad doen en dan registreer as ’n pediatriese intensiewesorgeenheidverpleegkundige.

Besoek ook https://dmylogi.ru/loopbane-en-opvoeding/40800-hoe-om-n-pediatriese-verpleegster-te-wees.html.

Meer oor:  Kuier  |  Loopbaan  |  Verpleging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.