Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Loopbaan: Word só ’n geestelike leier
1 April 2021


Predikant. Pastoor. Priester. As daar nou een amp is wat algemeen as ’n roeping beskou word, is dit dié van ’n geestelike leier. Dat jy diep gelowig moet wees om hierdie pad te volg, spreek vanself.

En hoewel fly-by-nights deesdae gereeld die nuus haal oor die uitbuiting van goedgelowige gemeentelede, kan predikante oor denominasies heen getuig dit verg jare lange studie en groot toewyding om amptelik in dié beroep te staan. Ook dat dit eintlik ’n paar beroepe in een is en veel wyer strek as om die Woord te bedien. Huisbesoek, hospitaalbesoek, gemeenskapsdiens, sielkundige beradi

ng en ondersteuning maak ’n groot deel daarvan uit. belangrike diens Die kerk van die toekoms gaan waarskynlik meer digitaal werk, onder meer wat eredienste en vergaderings betref, meen Doris Viljoen van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sakeskool. Maar as daar een ding is wat Covid-19 en lockdown uitgelig het, is dit dat mense baie meer persoonlike aandag benodig, het sy in ’n onderhoud op die radiostasie RSG gesê.

“Lockdown het baie mense alleen laat voel en die kerk het ’n geweldige groot werk om uit te reik en mense in hul persoonlike hoedanigheid te laat voel dat hulle belangrik is.”

Vader Theo April (38) van die Paarl Katolieke Kerk stem saam. “Mense kan nie altyd al hul probleme met sielkundiges uitsorteer nie,” sê hy. Hulle vind dit makliker om met predikante te praat.

En binne die mens is daar die soeke na baie meer as dit wat net menslik of sielkundig is.” Vader Theo het hom vir 10 jaar in die korporatiewe wêreld bevind voordat hy hom as priester bekwaam het. Dink hy terug, besef hy dit was nodig om daardie ondervinding op te doen, soos ’n goeie vriend aanbeveel het. “Dit het baie voordele om self te sien wat die lewe daar buite behels voordat jy die bediening betree. As God jou roep, antwoord jy, maak nie saak hoe lank dit vat nie.”

Strenger dissipline word van Katolieke priesters as van predikante in die meeste ander denominasies vereis. ’n Lewe van selibaatheid moet onder meer aanvaar word om vryelik te kan dien. En priesters lewe in eenvoud, hoewel daar in al hul behoeftes voorsien word. Dis belangrik dat jy ’n intieme verhouding met Christus moet hê, beklemtoon Vader Theo.

“Jy moet Hom wíl volg. ’n Katolieke priester is ’n spieëlbeeld van Jesus se lewe. En jy móét naasteliefde hê. Jou bediening is tussen die mense soos Jesus tussen die mense gewandel het. Die kern van die roeping van die Katolieke priester is liefde. Sonder liefde is dit nie ’n roeping nie, maar ’n beroep.”

Roeping om te help

Proponent Rachel Linderoth van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), wat verlede jaar haar teologie-studie aan die US voltooi het, het ook eers ’n ander pad geloop. Wat haar van die meeste ander proponente onderskei wat wag om na ’n gemeente beroep te word, is dat sy reeds 47 jaar oud is. Dié getroude Paarliet en ma van drie het in 1994 begin teologie studeer, maar dinge het nie uitgewerk soos sy gehoop het nie.

Hoewel sy daarna gelukkig was in haar werk by onderskeidelik ’n hospitaal en ’n munisipaliteit, was die vervulling nie daar nie. Daarom dat sy toe weer besluit het om haar roeping op te neem. In 2016 het sy weer met haar teologiestudie begin. Sy glo vas predikante se rol is ver van uitgedien, maar ook dat dit nie net gaan oor dit wat tussen die kerk se mure gebeur nie.

“Ons moet die gemeen-skappe daar buite ook bereik. Ons is almal kinders van God, maar die baie verskille tussen mense hou ons op ’n afstand.” En hier verwys sy nie net na rasverskille nie, maar na almal wat in die breë sin uitgesluit voel, soos armes en die Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender en Intersex (LGBTI)-gemeenskap. Eenheid kan egter nie geskied sonder geregtigheid nie, sê sy passievol. “Ons moet verantwoordelikheid neem vir ons dade. Die dag wat ons sê ons is jammer, sal ons die hand van versoening kan uitsteek.” Rachel het in pastorale berading gespesialiseer, spesifiek met betrekking tot gendergebaseerde geweld.

“Die laaste paar jaar het dit ook na die LGBTI-gemeenskap uitgebrei. Families se hande is basies afgekap as so iets gebeur omdat hulle nie berading saam met die slagoffer kry nie. Ek sou graag dié pad saam met families wou loop.”

Hoewel predikantwees ’n hoogs bevredigende beroep kan wees, is uitbranding ’n werklikheid omdat leraars basies te alle tye beskikbaar moet wees. Gemeentelede besef nie altyd predikante het self ook ondersteuning nodig nie, sê Brian Goliath, ’n privaat maatskaplike werker van Wellington in die Wes-Kaap.

Persoonlik dien hy as klankbord vir enkele predikantvriende wanneer dinge te oorweldigend raak, hoewel hy maar te goed besef dat daar tye is wat hulle eerder na ’n professionele persoon soos ’n sielkundige moet uitreik. “My vriende het basies eenmansake. Net die omvang van hul gemeentes is reeds ’n groot stressor,” sê hy. “Dis ’n geval van: Waar begin ek en waar eindig ek?”

Word ’n predikant

Die opleidingsvereistes wissel na gelang van die kerk en denominasie. Net vier Suid-Afrikaanse universiteite het egter deesdae ’n volwaardige teologiefakulteit wat graadkursusse aanbied, met verskillende kombinasies van kerklike vennote wat daar opleiding ontvang.

Die Universiteit Stellenbosch het tans die meeste kerkvennote en lei Protestantse jeugwerkers en bedieningskandidate op vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK); Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Suider-Afrika; Verenigende Presbiteriaanse Kerk in Suider-Afrika (UPCSA); Anglikaanse Kerk van Suidelike Afrika (ACSA); Volkskerk; en Verenigde Evangelies-Lutherse Kerk in Suider-Afrika (UELCSA). Bedieningskandidate van die kerkvennote voltooi die vierjarige BDiv-program.

Die VGK vereis bykomend daartoe die MDiv-program (een jaar), terwyl NGK-kandidate die MDiv-program asook die Nagraadse Diploma in Teologie in Christelike Bediening (een jaar) moet voltooi. Vennootskerke kan aanvullende, eie kerklike opleiding vereis. Beraders, jeug-, diens- en ander gemeenskapswerkers kan ’n BTh-graad oor drie jaar doen of in jeugwerk spesialiseer.

Studeer hiér

Universiteite met ’n teologiefakulteit is:

1. Universiteit Stellenbosch: 021 808 3255; e-pos mariekeb@sun.ac.za; of besoek www.sun.ac.za/teologie.

2. Universiteit van Pretoria: 012 420 4053; e-pos cathy.sandis@up.ac.za; of besoek www.up.ac.za/faculty-of-theology-and-religion.

3. Universiteit van die Vrystaat: 051 401 2786; e-pos theology@ufs.co.za; of besoek www.ufs.ac.za/theology.

4. Noordwes-Universiteit: Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika: 012 644 0490; e-pos studentservices@afm-ags.org; Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika: 018 299 1847; e-pos antoinett.moerdyk@nwu.ac.za; of besoek theology.nwu.ac.za.

Priesters in die Katolieke Kerk kan in SA op twee maniere opgelei word:

1. Bisdomlike priesters:

Oriënteringsjaar by die St. Francis Xavier Seminary in Kaapstad (021 697 1420, e-pos sfx.seminary@gmail.com; facebook.com/St.FrancisXavierSeminary- CapeTown).

Daarna sewe jaar by die St. John Vianney Seminary in Pretoria (012 460 2039; info@sjv.ac.za; sjv.ac.za/students). ’n Driejaar-filosofiegraad word gevolg deur ’n teologiegraad, wat ’n sesmaande-tydperk insluit waarin pastorale werk gedoen word.

2. Priesters aan godsdienstige ordes soos die Jesuïete en die Franciskane:

Opleiding by die St. Joseph Theological Institute in Hilton, KwaZulu-Natal (087 353 8940). ’n Filosofiegraad (drie jaar) is verpligtend, maar verdere vereistes kan van orde tot orde verskil

Meer oor:  Kuier  |  Loopbaan  |  Priesters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.