Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ma begrawe drie kinders ná mekaar
19 Augustus 2021


Daar is absoluut niks erger vir ’n ouer as om ’n kind aan die dood af te staan nie. Absoluut niks kan meer verwoestend wees as om die kind te begrawe aan wie jy geboorte geskenk het nie.

Dis ’n diep seer waarvoor geen ouer hulle kan voorberei nie, maar dit kan gebeur en dan moet ’n ouer die seer, wrede werklikheid trotseer van ’n wêreld sonder hul kind . . .

Selina Toll (59) van Mosselbaai in die Wes-Kaap ken ongelukkig dié diepsnydende seer alte goed. Sy het in die bestek van net twee jaar drie van haar vier kinders aan die dood afgestaan en vir haar is die verlies “onbeskryflik” en “onmenslik”. In 2019 het Selina haar dogter Jenine Januarie (27), aan kanker verloor.

Jenine het vir jare teen dié siekte geveg, maar het in April 2019 haar stryd teen die groot K verloor. Twee jaar later op 19 Junie 2021 moes Selina wéér by ’n oop graf staan – dié keer was dit haar oudste dogter, Carlin (31), wat gesterf het weens diabetes.

Maar die dood was nog nie klaar met Selina nie. Terwyl sy nog getreur het oor die verlies van haar twee dogters, het sy op die aand van Carlin se begrafnis ook skielik haar oudste seun, Wilton Januarie (21), aan die dood afgestaan toe hy beroof en vermoor is.

Selina Toll is ontroosbaar ná haar kinders se sterftes.

Sterf kort ná mekaar

Dít het Selina se moederhart aan skerwe laat spat. Drie van haar kinders is voor hul tyd dood en net hul leë beddens en foto’s in die voorkamer het agtergebly as ’n stille getuienis van die kinders wat voorheen hul huis gevul het. Haar seun se dood twee maande gelede was letterlik die laaste strooi wat Selina laat knak het, want kort ná sy dood het sy ’n beroerte gehad.

Hoewel sy liggaamlik goed aansterk, sukkel sy steeds om te praat en is haar hart steeds gebroke en nou is dit net haar jongste, Nevan (18), wat haar staande hou. Selina onthou die dag toe sy haar eerste kind verloor het asof dit gister was. Dit was in April 2019. Selina sê haar dogter was ’n hele paar jaar siek voor sy uiteindelik haar stryd teen kanker verloor het. “Jenine was my stil kind.

Van al my kinders was sy die een wat die minste gepraat het, maar sy was baie lief vir dans. Wanneer die ander sou praat, het sy gedans,” vertel Selina laggend. Terwyl Jenine siek was, het haar ma haar versorg. “Dit was soms uitputtend, maar nooit het dit vir my te veel gevoel nie. Sy het lank baklei teen die siekte, maar uiteindelik was die pyn te veel vir haar.’

Selina sug diep voor sy erken dat hoewel sy haarself voorberei het op haar kind se afsterwe, is dit vir geen ouer maklik om ’n kind te begrawe nie. “Die dood is iets waaraan ’n mens nie gewoond kan raak nie en wanneer jy geboorte gee aan jou kind dink jy nie dat jy self daai kind weer terug aan die Liewe Vader moet gee nie. Ek het die dood sien kom en ek glo tog ons het dit voel kom, maar toe dit aan ons deur klop, was ons nie gereed daarvoor nie.”

Dit is ook haar oudste dogter, Carlin, wat Selina baie gehelp het ná Jenine se afsterwe. Wanneer sy van Carlin praat, hoor ’n mens onmiddellik die heimwee in Selina se stem wanneer sy saggies sê: “Weet jy, daai kind van my het my met alles gehelp. Sy was my regterhand en het alles vir my gedoen in die huis. Selfs toe haar sussie sterf, het sy my ondersteun en gehelp om deur die seer te kom.”

Twee jaar ná Jenine se dood, moes Selina haar regmaak om ’n tweede kind aan die dood af te staan. Haar geliefde Carlin het op 6 Junie 2021 gesterf. “Ai jinne, my hart was nooit gereed vir Carlin om te gaan nie. Ja, ek het geweet sy het diabetes, maar dit was nooit ’n geval van lewe en dood nie. Sy het ook nalatig geraak daarmee en het nie meer maandeliks haar medikasie gaan haal nie. En toe sterf sy aan suikersiekte. Ek het vir dae net gehuil oor my kind. Sy was my staatmaker . . .”

Selina bly vir ’n rukkie stil en probeer haar emosies onder beheer kry. Dan gaan die bedroefde ma voort: “Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n goeie nagrus ingekry het nie. Wanneer ek saans in my bed lê, oorweldig die seer my. Dit raak dan vir my te veel. Dit voel soms ek kan nie asemhaal nie so erg is die pyn. Dit is amper asof ek bang is om my oë toe te maak, want wanneer ek my oë toemaak sien ek hulle . . .”

Selina wys foto’s van haar oorlede kinders.

Seer en vrae vreet

Die antie se stem breek en sê dis veral Wilton se dood op net 21 wat haar platgeslaan het. “Tot op ’n mate kon ek my ietwat voorberei op my twee dogters se sterftes, want hulle was siek. Ek het gesien hoe hulle verswak en ek kon hulle darem bystaan in hul laaste oomblikke, maar my seun,” sy kan die trane nie meer keer nie. Ook die feit dat Wilton dood is op die dag van sy suster Carlin se begrafnis, het Selina nóg harder geslaan.

“Kan jy jou indink hoe dit voel as jy nog probeer vrede maak daarmee dat jy pas een van jou kinders onder die grond gesit het, dan word jy geroep om te sê jou ander kind is besig om in die straat dood te bloei? Dis ’n onbeskryflike seer wat niemand verdien nie.” Volgens Selina het haar seun in die straat geloop toe hy deur ’n groep mans genader is.

“Hulle het hom beroof. Ek kan regtig nie sê waarom hulle hom gesteek het nie – dalk wou hy nie sy besittings en geld aan hulle gee nie. Ek weet nie hoekom hulle my kind moes doodsteek nie. Hulle kon hom maar net gelos het en die goed gevat het. Dit was nie sy lewe werd nie. Hoekom?” Volgens Selina is die vermeende oortreders aanvanklik in hegtenis geneem, maar weer vrygelaat.

“Daar was geen bewyse om hulle aan te kla en aan te hou nie. En hoewel daar mense in die straat was wat die voorval sien gebeur het, wil niemand vorendag kom nie. Die mense is ook maar bang, so al wat daar eintlik is, is die stories wat loop en dit sal nie kan staan in die hof nie.” Wilton is na bewering twee keer gesteek – in die sy en in die nek. Die trane begin weer loop.

“Ek wil net weet hoekom hulle my kind doodgemaak het – hulle weet deur watter seer ons reeds is. Hulle het dan saam met hom grootgeraak hier in Mosselbaai se strate. Hoekom sal hulle ons weer deur dieselfde pyn sit en die keer soveel erger? Dit is mos nie reg wat hulle gedoen het nie, man!” Willem Toll (66), Selina se man en haar kinders se pa, vertroos saggies sy vrou en fluister gerusstellend: “Dis oukei, my vrou”. Hy erken die seer vreet hom ook dag ná dag op.

Willem sê hy het nie net drie van sy kinders verloor nie, maar ook ’n gedeelte van sy vrou. “Sy is nie meer dieselfde mens as wat sy voorheen was nie. Sy slaap nie in die aande nie en baie dae praat sy nie eers nie. Ons mag nie eers die kinders se name noem nie.” Maar ook Willem sukkel om sy kinders se dood te verwerk. Hy dink ’n rukkie diep en sê die verlange is baie groot.

“Party dae loop ek verby hul kamers en dan is daar net leë beddens. Dis ’n bitter seer dié. Jy kan nie meer grappies en los geselsies aanknoop met jou kinders nie, want hulle is nie meer daar nie. Vir my is dit ’n pa se ergste nagmerrie, want jyself het so baie seer dat jy nie eers regtig weet hoe om jou vrou te vertroos nie.”

Willem sê al wat hulle kan doen, is om na God te kyk vir die nodige krag en versterking. “Die Here dra ons en ek weet nie waar ons sou wees as dit nie vir die genade van die Here was nie. Hy was ons anker in die donker tye. Een ding wat ek wel kan sê, is dat ’n mens nie meer dieselfde mens is ná soveel seer nie. Jy is anders – stiller en leër.”

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en Hyrone Levendal

Meer oor:  Kuier  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.