Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mans en GBV: Wat jy jou dogter moet leer
19 Augustus 2021


'n Derde van meisiekinders in Suid-Afrika ervaar een of ander vorm van geweld, dikwels van iemand wat hulle ken. Bogenoemde is ’n stelling wat koue rillings teen menige ouer se ruggraat afstuur, want gegewe die land se statistieke oor geslagsgebaseerde geweld (GBV) vrees jy as ma nie net vir jou eie lewe nie, maar soveel meer vir dié van jou kind.

Geweld teen kinders is steeds ’n kritieke uitdaging wat die Suid-Afrikaanse samelewing in die gesig staar, ondanks intensiewe pogings om hierdie euwel hok te slaan. Die nalatenskap van geweld en uiterste ongelykheid uit die verlede word vererger deur hoë armoede en werkloosheid in die hede.

Geweld woed voort

Statistieke het lankal bewys dat geweld teen kinders ’n euwel is wat onverpoos in ons gemeenskappe woed. Ouers sit dus met die verantwoordelikheid om hul kinders op te voed oor dié gevare, maar hoe kan jy as ouer keer dat jou meisiekind bang is vir mans gegewe GBV in SA of moet hulle juis bang (of bedag op die gevare) wees?

Meagan Geswindt (28), ’n advokaat van Blackheath in die noordelike voorstede van Kaapstad en ’n ma van ’n agtjarige meisie, sê hoewel sy nie haar kind wil leer om bang te wees vir mans nie, leer sy haar wel om bedag te wees.

“Dit is moeilik om ’n 8-jarige te leer om nie bang te wees vir iemand wat soveel groter en sterker as sy is nie. Ek dink die ander opsie is om seker te maak dat sy slimmer is. Ek wil seker maak sy weet waarna sy moet kyk en hoe om te reageer om uit ’n moontlike lewensbedreigende situasie te kom.”

Dié mammie sê haar grootste vrees vir haar dogter is verkragting en ontvoering. “Dit is vir my een van die mees indringende vorms van aanranding op enige mens. En die feit dat dit van letterlik enigeen kan kom, is wat my die meeste bang maak.” Sy sê as ’n ouer in ons gemeenskappe hoor ons elke dag van bendegeweld en skietery soveel so dat dit ’n norm geword het.

“Wat ook nou ’n norm geword het, is die vrees wat in elke ouer ontstaan wanneer hulle hul meisiekind skool toe stuur. Elke dag as my dogter die huis verlaat, vrees ek dat sy ook deel van statistiek gaan word.” Meagan sê sy het nog nie begin met selfverdedigingslesse nie, maar dit is beslis iets wat sy oorweeg vir haar en haar dogtertjie.

Ons moet ons kinders leer omdat dit (GBV) ’n werklikheid is. Hulle moet weet dat die wêreld wreed is daarbuite.

“Intussen leer ek haar dinge soos om nooit alleen buite die skoolterrein te wag nie. Moet nie met vreemdelinge praat nie, skree wanneer iemand aan jou raak en dit is onvanpas en laat jou ongemaklik voel. Maak nie saak wie dit is nie. Dit is vir my belangrik dat sy sal reageer en nie vries wanneer sy haar in die tipe situasies sal bevind nie, maar belangriker nog is om die situasies heeltemal te vermy, indien moontlik.” Die Verenigde Nasies se Unicef, wat die regte van kinders beskerm, sê GBV is ’n noodgeval in Suid-Afrika.

“’n Derde van meisiekinders ervaar een of ander vorm van geweld. Terwyl jong seuns ook slagoffers van alle vorme van geweld is, is daar skokkende vlakke van geweld, veral seksuele geweld, insluitend verkragting, wat teen meisies en jong vroue gepleeg word.” Tydens die Covid-19-inperkings het sommige huise enklawes geword van wreedheid, verkragting en geweld.

Sodoende was vroue en meisies vasgekeer met abusive familielede en slagoffers het nêrens heen gehad om om die geweld aan te meld of te ontsnap nie. Gedurende ’n inligtingsessie vroeër vanjaar het Amnesty International verskeie regsversperrings vir slagoffers en oorlewendes van geslagsgeweld regoor Suider-Afrika geïdentifiseer.

’n Gedeelte uit die verklaring lui: “Dit sluit in ’n gebrek aan vertroue in die strafregstelsel en sekondêre trauma wat slagoffers en oorlewendes dikwels onder die owerhede, waaronder die polisie, en gesondheidsdienste ly wanneer hulle probeer om sake aan te meld.” Volgens die organisasie het dié hindernisse tydens die Covid-19-pandemie skerp toegeneem.

“In Suid-Afrika was daar byvoorbeeld openbare verontwaardiging oor die institusionele versuim om reg te laat geskied aan vroue en meisies wat slagoffers en oorlewendes van geslagsgeweld is, alhoewel die land se gesinsgeweldwet van 1998 uitdruklik bepaal dat slagoffers kriminele klagtes kan indien teen oortreders.”

Bohemia Hoffmeester-Jumatt (35), ’n joernalis en ma van drie meisies van Kraaifontein, werk daagliks met geslagsgebaseerde geweld en sê haar ergste vrees is dat sy en haar kinders ook eendag ’n slagoffer gaan word. “Jy moet konstant worry oor jou kinders se whereabouts en of hulle veilig is daar waar hulle is. Of hulle nou by familie of vriende gaan kuier.”

Bohemia sê dis veral angswekkend veral in vandag se tye waar kinders glad nie eens veilig is by hul eie familie soos ooms, pa’s óf neefs nie. “Ek leer my kinders elke dag om uit te praat wanneer iets hulle pla of ongemaklik laat voel. Wat skoolgaan betref, is daar selfs die vrees dat iemand een van my kinders langs die pad gaan steel of weglok. Dit is ’n versmorende vrees. Ons moet ons kinders leer omdat dit ’n werklikheid is. Hulle moet weet dat die wêreld wreed is daarbuite.”

Voed kinders op

Celeste Rushby, parenting coach en arbeidsterapeut by Munchkins Parenting, sê in plaas van kinders net opvoed oor GBV moet ouers ook daarop fokus om meisies hul waarde as mens te leer, te werk aan hul selfvertroue en leer hoe om gesonde grense in hul eie lewens vas te stel, asook om die grense van ander te respekteer. “Hulle moet ’n gevoel van behoort en onvoorwaardelike liefde van hul gesin voel, sodat hulle nie die behoefte voel om aanvaarding en toebehorens op die verkeerde plekke te vind nie.”

Volgens Celeste moet meisies bewus gemaak word van die GBV-statistieke in ons land, maar sy beklemtoon dat hulle nooit vir mans bang gemaak word nie. “’n Dogter se eerste rolmodel is haar pa en sy sal kyk hoe hy haar ma behandel en sy sal dit as die norm sien van hoe vroue behandel moet word. Sorg dus dat dit ’n gesonde rolmodel vir haar is.” Sy deel die volgende wenke met ouers wat dalk gevaarligte sien flikker met betrekking tot ’n situasie of hul dogter se veiligheid.

“Probeer vasstel wat fout is. Spandeer tyd met die kind deur aktiwiteite te doen waarvoor sy lief is. Bou ’n verhouding gedurende die aktiwiteite en maak van hierdie ontspanne ruimtes ’n tyd om stories te deel en te praat oor die dinge in die lewe. Deel jy as ma ook jou persoonlike ervarings. Moenie te veel reageer nie. Bly kalm, luister en vra slegs vrae. As jou kind nie vir jou oopmaak nie, sal dit help om ’n derde party te betrek, soos ’n skoolberader of sielkundige.”

Celeste sê ook ouers moet onthou dat dit van uiterste belang is om altyd ’n oop lyn van kommunikasie tussen hulle en hul kinders te hou. “Vertel vir hulle stories van toe jy ’n kind was of oor mense wat deur moeilike dinge soos GBV moes gaan. Hierdie lyn van openhartige kommunikasie sal jou help om te bepaal wanneer daar risikofaktore is wat die kind die slagoffer kan maak van geslagsgeweld.”

Dit is duidelik dat voorkoming beter is as genesing. Meisies moet bedag gemaak word oor die gevare wat nie daarbuite is nie, maar tog ook in die huis. Leer jou kind dat “nee” ’n volle sin is en indien iets haar ongemaklik laat voel, moet sy altyd die vrymoedigheid het om teenoor jou as ouer te kan oopmaak.

Meer oor:  Kuier  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.