Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Mimi Mahlasela praat die eerste keer oor depressie
15 April 2021


Hou die blink kant bo. Dís die masker wat baie mense, veral diegene in die vermaakbedryf, dag ná dag vir die wêreld ophou. Dit verg dat jy met die grootste glimlag in die publiek verskyn, al skreeu die binnekamers van jou hart om hulp.

Ons het vir Nobuhle Mimi Mahlasela (38) in die ikoniese SABC2-sepie 7de Laan leer ken as die borrelende en altyd-reg-om-te help-vasvatter Aggie Ngwenya (nou Meintjies).

Sy woeker al vir 14 jaar op die stel van 7de Laan en het talle Suid-Afrikaners se harte gesteel met haar kenmerkende uitlating aan haar mede-karakter Paula van der Lecq, destyds gespeel deur Diaan Lawrenson, “Dis jou skuld as ek nooit in die hemel gaan beland nie!”

Dit is egter wanneer jy ’n bietjie dieper kyk en die versteekte seer in Mimi se oë raaksien dat jy besef ’n mens weet nooit regtig wat in ander se koppe en harte aangaan nie. Dís ’n realiteit wat veral vroeër die jaar die vermaakbedryf soos ’n emmer yskoue water getref het toe die Paarlse akteur Ceagan Arendse (34) sy stryd teen depressie verloor en selfdood gekies het.

In ’n operhartige en eksklusiewe onderhoud met Kuier vertel Mimi sy gaan nie meer die blink kant bo hou nie – tot hier toe en nie ’n enkele tree verder nie. Sy wil mense inlaat in haar hartskamers. Sy glo vas dit is juis wanneer jy ophou om voor te gee dat die genesing begin en jy tot jou volle self kan kom.

Vanuit 7de Laan se kantore in Johannesburg vertel Mimi dis tyd om haar waarheid te deel en bevryding te vind en sodoende dalk iemand aan te raak en hulle aan te moedig om ook hul masker af te haal. Nie net was Mimi as ’n kind fisies mishandel nie, maar sy het ook twee keer in haar lewe probeer selfmoord pleeg.

Met die intrapslag staan Mimi reg met ’n grappie en daar is amper geen teken van die innerlike stryd wat sy voer teen ’n onsigbare, tog afbrekende vyand nie. Daai vyand is depressie waarmee Mimi al vir jare in ’n stryd gewikkel is. Dit is ook ’n bewys dat ’n mens regtig nooit weet waardeur iemand anders gaan nie, want hoewel hulle lag, steek die hartseer soos ’n dolk in hul harte vas.

Mishandel as kind

Mimi is in Soweto gebore en het in Alexandra in Johannesburg grootgeraak. Sy sê die eerste paar jaar van haar bestaan op aarde wens sy geen jongeling toe nie. “My pa was ’n alkoholis en elke keer as hy dronk was, sou daar altyd ’n baklei en stry in die huis ontstaan. Hy het my ma fisies mishandel. Domestic violence was aan die orde van die dag in ons huishouding.”

En net daar raak dié vrou, wat net ’n paar minute gelede nog gelag het, bewoë terwyl die onthou soos ’n yskoue rilling langs haar ruggraat afloop. “Ons het oorkant ’n skool gebly en my ma het daar ook ’n kamertjie gehuur. Daar was dae dat ons komberse en kussings daarheen sou neem omdat ons geweet het my pa gaan dronk huis toe kom. Wanneer die skellery en slanery later begin het, het ons oor die pad na die skool geloop en daar skuiling gaan soek vir die nag.”

Sy vra verskoning vir die trane wat onverwags uit haar oë ontsnap. “Daar was die een dag, ek was seker so sewe of agt, en dinge was weer deurmekaar in die huis. My pa het dronk by die huis gekom en met my ma begin baklei. Ek het water in die ketel gekook en hom daarmee gegooi sodat hy kon ophou. Ek kon dit nie meer hanteer nie. Alles was te veel vir my. Ek moes my ma beskerm.”

Mimi het haar pa met die water gegooi. “Hy het my met die vuis geslaan tot ek begin bloei het. Ek sien nog in my geestesoog hoe ek my hand na my neus toe bring en dit sopnat was van die bloed. My hande en klere was vol bloed. Dit was die laaste strooi. My ma het ons sakke gepak en die twee van ons het Alexandra toe getrek.” Mimi en haar ma het na haar ouma getrek en daar nuwe huisvesting en hoop gevind. Die trane maak plek vir ’n glimlag.

“Weet jy, dis eers toe ons daarheen verhuis dat ek geluk as ’n kind ervaar het. Daar was ’n soort geluk en liefde in die huis wat ek nie voorheen geken het nie. ’n Samesyn wat jou gevul het met soveel vreugde. Daar was altyd iets om te eet – al was dit kool en pap. Ons het nie geken van sonder kos gaan slaap nie. Daar was vrede en sielsvreugde. Die vroue in my lewe – my ouma, antie en ma het altyd gesorg dat ons kry wat ons nodig gehad het.”

Ook Mimi se neefs en niggies het in dié huis gebly. “Hulle is soos my broers en susters. Die huis was altyd vol. Dit was ook verfrissend om my ma so gelukkig te sien – om te sien hoe sy lag en haarself is sonder om te vrees dat iemand haar gaan slaan. Ek is geseënd dat ek daardie tipe geluk en liefde kon ervaar.” Met opregte dankbaarheid sê sy haar neefs en niggies is deel van haar dryfkrag. “Ons is baie geheg aan mekaar en party dae weet ek nie hoe ek sou oorleef sonder hulle nie. Hulle maak my lewe beter, voller.”

Vermaak haar passie

Sy lag voor sy onthou wanneer die vermaakgogga haar gebyt het. “Ek het Saterdae klasse bygewoon en daar is ons blootgestel aan drama. Ek het toe ’n rol losgeslaan as ’n onderwyser. My ma het vir my ’n nuwe rok gekoop vir die play en alles – ek het seker na alles behalwe ’n ordent-like skoolonnie gelyk, maar my hart was vol. Ek het ’n rol gehad om te speel!”

Volgens Mimi het sy toe die aand van die play deur die gordyne geloer om te sien hoe vol die saal was. “Dit was in daai oomblik dat ek besef het dis waar ek hoort. Op ’n verhoog waar mense na my kan kyk. Dit is daai gevoel van die adrenalien, die afwagting, die mense wat nuuskierig na die verhoog kyk om te sien wat jy gaan optower. Magical.”

Daarna het sy by die skool se dramaklub aangesluit en verskeie opvoerings gedoen. Mimi kom uit ’n generasie vroue-onderwysers – haar ouma, ma en tannie. Natuurlik was hulle aanvanklik nie baie beïndruk met haar wat nie ook ’n onderwyser wou word nie. “Ná skool het ek vir hulle gesê ek gaan toerisme swot, maar dat ek eers ’n gap jaar gaan vat om my voete te vind.”

Sy het skelm aansoek gedoen vir haar dramastudies by die Tshwane Universiteit van Tegnologie. “Lo and behold, ek is aanvaar om my nasionale diploma by hulle te voltooi en ek het nie een keer teruggekyk nie. Selfs my ma-hulle het dit begin aanvaar.”

Terwyl sy nog ’n student was, het die werk stadig, maar seker begin inkom. “Die eerste gig wat ek gekry het, was vir ’n Absa-advertensie. Dis daai mense wat praat in die banke terwyl jy daar sit en wag om gehelp te word. Ek het die dag gegaan vir ’n oudisie en die volgende dag het hulle gebel om te sê ek moet kom. Daai geld het ek gevat en met my niggies gaan shopping!” verklap Mimi.

Mimi het gedurende dié tyd ’n callback van 7de Laan gehad. “Dit was daai tyd met die mampoer-storielyn van Aggie en Maria. Hulle het my ’n kontrak van drie maande aangebied en ek het dit gevat. Ná drie maande moes ek toe maar weer na werk begin soek om kos op die tafel te sit.” Sy het kinderteater begin doen en ook in malls met kostuums geparadeer.

Mimi as Aggie in 7de Laan.

“Dit is eintlik so snaaks, want ek het elke keer 7de Laan se kantore gebel en elke keer het die foon net gelui of dit was beset. Ek wou net ’n rol as ’n ekstra hê. Dit is nie maklik om ’n actor te wees nie. Jy kan maande en soms selfs jare sonder ’n werk gaan.” Sy glo egter die feit dat 7de Laan destyds nooit hul foon opgetel het nie, was God se manier om te sê sy verdien meer as om net ’n ekstra te wees.

“En ’n paar maande later bel hulle my om terug te kom. Dié keer in ’n permanente rol. Dit was Aggie se beurt om haar plek in te neem voor die kameras en ek was meer as gereed daarvoor!” Mimi se oë blink wanneer sy praat oor haar karakter.

“Ons is dieselfde, maar tog so anders. Sy vind die positiewe in elke en enige situasie. Aggie is een wat die lig sien waar daar donkerte is en wanneer iets haar pla, is dit iets waaroor sy sal praat. Sy sal nie worstel met dit in haar binneste nie en dis weer iets wat ek doen.” ’n Strak trek is sigbaar op haar gesig. Vir Mimi was survival mode nog altyd die go to.

“Ek het gekies om alles wat traumaties en problematies is, uit te blok en aan te beweeg sonder om dit aan te spreek. En dit is iets wat binne my gegroei het. Dit het gegroei tot depressie en angs.” Sy vertel sy het altyd die donkerte binne haar gevoel, maar het eers drie maande gelede hulp daarvoor gesoek.

“Ek het twee keer selfmoord probeer pleeg omdat ek nie gedink het ek is goed genoeg nie. Ek het nie geweet wat fout is met my nie en wanneer ek nou daaraan terugdink, kan ek dit steeds nie kleinkry hoekom ek só oor myself gevoel het nie. My familie het my sekerlik nog nooit só laat voel nie.”

Mimi straal op haar reis na genesing.

Nie net in jou kop nie

Mimi sê ons gemeenskappe moet ophou om mental illness af te maak as iets wat net in iemand se kop is. “Daar is die stigma in ons gemeenskappe dat dit in jou kop is. Hulle verwys sommer na jou as mal ook. Dit is ’n taboe onderwerp, iets waaroor jy moet swyg, want wat gaan die antie in pad sê. Dit is waar die probleem lê, dit is iets waaroor ons móét praat. Hoe meer ons daaroor praat, hoe meer maak ons ons mense bewus daarvan. Dit is nie nodig om skaam en ashamed te voel net omdat jy met iets in jou binneste worstel nie.”

Sy raak emosioneel voor sy vertel hoe uitputtend dit is om in die publiek met die grootste glimlag rond te loop en in die binnekamers van jou huis met die grootste hartseer te sukkel. “Wanneer daardie huis se deur agter jou toegaan, oorval die hartseer jou. Dan is jy vasgevang met jou eie demons, jou seer en die trane . . .”

Mimi deel vir die eerste keer in ’n onderhoud dat sy hulp gaan soek het omdat sy besef het sy het dit nodig en dat sy nie meer die seer op haar eie kon hanteer nie. “Dit is ’n reeks goed wat my oor die afgrond gedryf het – my childhood trauma, die verbrokkeling van my jare lange verhouding, my biologiese horlosie wat aanloop en met dié dat ek nog nie kinders het nie. Dit was vir my te veel. Ek kon nie meer nie.”

Sowat drie maande gelede het Mimi sielkundige hulp gaan soek. “Ek was moeg van alleen sukkel. Moeg van voorgee dat alles oukei is. Ek weet ek kan nie die pad alleen en sonder hulp loop nie. Dit was tyd vir my om myself weer te vind. Te vind wat vir my gelukkig, hartseer, kalm en kwaad maak. Ek is dit aan myself verskuldig.”

Dan sê sy skielik: “Ek was moeg van hartseer wees, moeg van huil. Ook moeg van skaam wees. Wat ek ook besef het, is dat om vir terapie te gaan ’n belegging is in jouself. ’n Belegging in jou geestelike gesondheid en toekoms. Ek het geleer om my mind te herprogrammeer en alles wat ek geken en voorheen gedoen het, was verkeerd en dis nou tyd om nuwe en beter gewoontes aan te leer. Dis nooit te laat nie.”

En hoe hanteer sy sosialemedia-boelies se kommentaar veral oor haar gewig? “Destyds het ek nie eens na die kommentaar gekyk nie omdat ek toe nog in survival mode was – blok uit en vergeet. Nou is dit anders en om eerlik te wees, soms pla dit my. Dis nie meer ’n geval van uitblok nie, nee, ek moet dit in die gesig staar en prosesseer. Ek kan nie die verantwoordelikheid vat van wat ander mense dink en sê nie, maar ek vat verantwoordelikheid vir hoe dit my gaan affekteer.”

Dis die terapie wat Mimi se selfvertroue ’n hupstoot gegee het. “Ek het huiswerk van my terapeut gekry en dit is die daily affirmations wat my deur menige moeilike dag dra. I am loveable, worthy and important. I am enough. Dit is die punt waar ek nou is – deur myself te help het ek ook uitgevind dat ek genoeg is. Niemand is perfek nie en ook dié storm sal verbygaan.”

’n Glimlag pluk aan Mimi se mondhoeke en met ’n rustigheid in haar stem sê sy: “Die eerste stap om jouself te genees, is om vir hulp te vra. Die tweede een is om hulp te aanvaar. Ek is al verby albei fases. Dinge kan net beter raak hiervandaan!”

* Foto’s: Phillip Rabie Photography en verskaf

* Hare: Jabu Mayisela (Instagram: @jabuhairsolutions)

* Grimering: Michelle Scherpers/KOHL Make Up Academy Pretoria

* Klere: Shirley Masonda (Instagram: @coolsheli), Elelwani Raphadana en Mimi se eie

Meer oor:  Kuier  |  Mimi Mahlasela  |  7De Laan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.