Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Minimum loon: Talle dalk hul werk kwyt oor styging
1 April 2021


Vanaf 1 Maart 2021 is Suid-Afrika se minimum loon van R20,76 per uur verhoog tot R21,69 per uur. Plaaswerkers is ook nou geregtig hierop, terwyl huiswerkers ten minste R19,09 per uur moet verdien (op vanaf R15,57). Dit beteken ’n styging van ongeveer R450 per maand vir huiswerkers en sowat R350 vir plaaswerkers.

Hierdie loon sluit nie toelae vir vervoer, toerusting, kos, bonusse, geskenke, tips of verblyf in nie. ’n Mens sou dink dat hierdie nuus blyd- skap en verligting sou bring, maar dit wil-wil lyk asof dit moontlik die teenoorgestelde impak gaan hê. Hoewel dit maar na ’n paar sente klink, het dit ’n groot impak op veral die landbou- en toerisme- en gasvryheidbedryf en gevolglik hul werknemers.

“Nee wat, jong. As jy nou ’n werk het, moet jy maar klou, al verdien jy peanuts, want daar staan drie in ’n ry met hul hoed in die hand, gereed om in te spring en jou werk te vat as jy kla,” verduidelik Arnoldus Pieters (52), ’n plaaswerker van Grabouw in die Wes-Kaap.

“Kyk hier, nè, moenie my verkeerd ver-staan nie. Ek verdien amper boggerol en dis harde werk – heeldag so in die son, in die lande. Dit voel soms soos stank vir dank. Ek sukkel om voor te bly. Maar ek is dankbaar vir ’n dak oor my kop en iets innie maag. Baie van my vrinne het hul jobs verloor laasjaar. Dis hoekom ek sê, klou, sal ek klou, al word ek nie op die oomblik vol betaal nie.”

Vat enige werk

Juliana Masiso (40), ’n skoonmaker van Kaapstad, verduidelik sy vat enige werk, maak nie saak hoe ongeskik die mense is, hoe ver sy moet reis, hoe hard sy moet werk of wat sy betaal word nie. “Geld is geld, en ’n mens moet eet. Partykeer spandeer ek meer as die helfte van my geld op transport en werk van vroegdag tot laat. Maar ek doen dit, want wat kan ek anders doen?”

Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers is tans ongeveer 32%. Dit beteken net meer as 15 miljoen mense het werk – dit was laas in 2013 so min. Meer as 11 miljoen mense sukkel steeds om ’n joppie te kry. Netwerk24 berig nagenoeg 89 000 huiswerkers (insluitend skoonmakers, kinderoppassers en tuinwerkers) en 75 000 plaaswerkers was in 2020 hul werk kwyt en volgens ’n Agri SA-peiling reken tot 80% van boere dat hulle weens die nuwe minimum loon nóg werkers sal moet aflê, van wie die meeste seisoenale werkers sal wees.

As jy nou ’n werk het, moet jy maar klou, al verdien jy peanuts, want daar staan drie in ’n ry met hul hoed in die hand, gereed om in te spring en jou werk te vat as jy kla.

Dit is nou as alles goed gaan en die land nie weer teen Mei op vlak 3-inperkings geplaas gaan word as gevolg van die derde vlaag Covid-19-infeksies soos voorspel word nie. Jan Truter van Labourwise.co.za meen die impak van die nuwe loon sal afhang van die bedryf. “Hoewel Covid-19 ’n harde hou uitgedeel het aan die meeste besighede, is party in ’n beter posisie as ander om die nuwe lone te kan bekostig.

Byvoorbeeld, die hospitaliteit-sektor is baie harder getref as die kleinhandelaars.” Jan verduidelik verder die landbousektor is weer hard getref vir ander redes. “ ’n Minimum loon vir plaaswerkers is die eerste keer in Desember 2002 ingestel. Toe die nasionale minimum loon van R20 per uur in 2019 ingestel is, was plaaswerkers se loon steeds R18 per uur.

Een rede hiervoor, was dat die skielike toename in hierdie loon waarskynlik tot grootskaalse afleggings sou lei. Boere sou gemotiveerd word om te meganiseer, eerder as om handearbeid te gebruik.

Die idee was egter altyd om hierdie gap tussen die plaasloon en die nasionale loon toe te maak. Die besluit is geneem om dit vanaf Maart hierdie jaar heeltemal toe te maak. Die gevolg is dat plaaswerkers se lone met 16% gestyg het. Huiswerkers s’n is selfs hoër, met 18%.” Volgens Jan lyk dit dalk na ’n aardige styging, maar ’n mens moet onthou dit is op ’n minimale bedrag.

“So, vir mense wat huiswerkers het, is dit nie ’n vreeslike groot toename nie. Maar, in die landbousektor, waar lone ’n baie groot deel van die uitgawes is, gaan die impak baie harder gevoel word en ’n mens sal maar moet kyk watter impak dit gaan hê op werksaamhede.”

“Dis nou maar ongelukkig een maal só. Hoe hoër hulle (die regering) die minimum loon maak, hoe meer mense gaan hul werk verloor. Dis nie omdat ek suinig is, of iets nie, dis omdat ek dit doodeenvoudig net nie kan bekostig nie. Dit laat my al hoe meer lus kry om van almal ontslae te raak en net masjiene te gebruik. Dis goedkoper en eenvoudiger op die langtermyn. Maar ek gee om vir my mense en gaan probeer aanhou solank ek kan,” verduidelik ’n boer van die Wes-Kaap wat verkies om anoniem te bly.

Onbekostigbaar

Landbou-organisasies voel werkgewers kan nie hierdie stygings absorbeer nie, en as hulle probeer, kan dit weer beteken kospryse moet ook styg. Volgens onlangse data vanaf die Household Affordability Index, jaag basiese kos-items Suid-Afrikaanse huishoudings tans R2 194 per maand uit die sak. Dit sluit huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte uit wat sowat R700 beloop.

En soos die petrolprys styg, raak dinge net al hoe duurder. Christo van der Rheede van Agri SA sê werkloosheid is die grootste dryfveer van armoede en die regering moet alles in hul vermoë doen om soveel moontlik mense in staat te stel om werk te kry en nie andersom nie. Die klem moet op werkskepping wees, en om eenvoudig die lone te verhoog, gaan nie nuwe werk skep of armoede verlig nie.

Ook die hospitaliteitsektor, wat reeds hard getref is deur die pandemie, moet nou meer opdok vir lone – 7,9% meer tot R18,25 vir kelners. Vir die werkgewers is dit ’n groot toename, maar kelners self sal slegs 26c per uur meer verdien – dit is, volgens Stephen Hickmore van www.hospitality.co.za agt Chappies of ’n eier per dag ekstra, ’n ekstra brood of ’n koekie seep per week.

Die probleem is dat talle kelners tien teen een hul werk00 gaan verloor as gevolg van daardie 26c per uur. Marisa Pauw (42) van Pretoria, voel, hoewel op ’n kleiner skaal, dieselfde as die boer. “Weet jy, ek het verlede jaar ’n 20% pay cut gevat. Ek het my skoonmaker deur die hele lockdown betaal al het sy nie kom werk nie en ek moes self skoonmaak, van die huis af werk en kinders homeschool. Maar ek het dit gedoen, want ek gee vir haar om. Maar ek het eenvoudig net nie R450 per maand ekstra om haar te betaal nie. En ek het verlede jaar geleer ek kan alles self doen, so ek oorweeg dit sterk om haar maar te laat gaan, want die lewe het net te duur geraak.” Volgens Jan word hierdie minimum lone egter nie uit die lug gegryp nie.

“Daar is ’n Employment Conditions Commission wat bestaan uit verteenwoordigers van besigheid, arbeid, gemeenskappe sowel as ’n paneel onafhanklike kenners. Hierdie kommissie maak voorstelle aan die minister van arbeid en indiensneming.”

Ongelukkig, volgens Jan, is dit waar dat ’n werk met ’n lae loon, is beter as geen werk en geen loon en as die minimum loon te hoog is, sal dit lei tot talle afleggings. Aan die ander kant, as die minimum te laag is, kry mense te swaar. Êrens moet ’n balans getref word tussen werksekerheid en ’n behoorlike loon, maar dit lyk nie of Suid-Afrika vinnig hier gaan uitkom nie.

Wat as jy nie die minimum loon ontvang nie?

Jan raai jou aan om die departement van arbeid en indiensneming te nader.

’n Inspekteur kan dan ’n nakomingsbevel uitreik. As jou werkgewer steeds nie saamspeel nie, kan die Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration (CCMA) ’n arbitrasie toeken teen die werkgewer.

Bo en behalwe hierdie, kan die indiensnemingshof ’n boete oplê van drie keer die waarde van die onderbetaling of drie keer die werknemer se maandelikse loon.

* Foto’s: Gallo Images/ Getty Images

* Bykomende bronne: https://bit.ly/3ljXtzP; https://bit.ly/38Jf2oa en https://bit.ly/3vtxlqX

Meer oor:  Kuier  |  Arbeidswette  |  Minimum Loon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.