Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
'n Nuwe begin vir Vinette
30 Oktober 2019


Toe die Afrikaanse sepie 7de Laan byna 19 jaar gelede vir die eerste keer op 4 April 2000 op SABC2 begin wys, was sý daar.

En van dag een af het Charmaine Beukes (later Meintjies) almal se harte gesteel. Charmaine, gespeel deur Vinette Ebrahim, was die moederhen van die Laan; die een by wie almal kom afpak het, die een wat in almal se vreugde gedeel het, maar ook die een wat jou streng aangespreek het indien dit nodig was. Haar skouers en hart het altyd plek gehad vir nóg een en nóg een . . .

Die sepie het aanvanklik net twee keer ’n week gewys, maar is later vyf dae per week uitgesaai met ’n omnibus op Sondae.

In April vanjaar het statistieke van die Broadcast Research Council of South Africa (BRCSA) gewys naas Muvhango, was 7de Laan met 2,58 miljoen kykers die program op SABC2 wat die meeste gekyk word. Dit was dus natuurlik dat Kuier Vinette se lewe en loopbaan gevolg het toe ons tien jaar gelede ons mense se stories begin vertel het. Daar het amper nie ’n jaar verbygegaan dat Vinette nié op die voorblad was nie.

Kuier-lesers kon eenvoudig nie genoeg kry van hierdie vrou en haar wyshede nie. Kuier kon vir hulle ’n manier skep om met haar as Vinette en nie as Charmaine nie, te laat connect. En oor die jare het ons Vinette leer ken as iemand wat net mens, net vrou is. Ons het haar ook leer ken as iemand wat altyd opreg belangstel in ander en hoe dit met hulle gaan.

Ons het haar leer ken as ’n ma wat haar kinders met alles in haar sal beskerm, maar wat weet wanneer om hulle die vryheid te gee om hul eie lesse in die lewe te leer, maar daar te wees wanneer hulle haar nodig het. Ons het haar leer ken as ’n dogter wat elke dag wat sy nog het met haar bejaarde ma, die 90-jarige antie Millicent, koester.

Ons het haar leer ken as iemand wat nie haar mond sal hou wanneer sy onregverdigheid of rassisme teëkom nie. Dít kon ons sien uit posts op haar sosiale media. Maar bowenal het ons ook haar leer ken as iemand wat broos kan word wanneer die lewe sy klappe uitdeel, maar dat sy altyd kies om die Here se hand te vat, op te staan en aan te gaan.

Ek het besluit ek kan nie beige bly nie! Ek was al gesê, ‘stay in your lane’, maar ek wil out there en colourful wees (soos Iris Apfel)!

Verlaat die laan

Soos wat sy nou op 62 ’n nuwe hoofstuk in haar lewe moes begin skryf toe 7de Laan op 18 Julie vanjaar in ’n persverklaring aankondig dat die Laan se Charmaine Meintjies-karakter gaan groet. Só ook dié van haar identiese kwaadstoker-tweelingsuster, Vivian, ’n rol wat Vinette ook vertolk het.

Die skok was groot vir ons hier by Kuier en ook onder aanhangers. Luidens 7de Laan se persverklaring was dít die rede hoekom haar karakter hulle verlaat: “Charmaine se karakter is diep geanker in familiewaardes, vriendskap en om in diens te wees van ander.

Haar persoonlike en familie-dinamika, uitdagings en familiekwessies het Suid-Afrikaners vir die afgelope 19 jaar vermaak. Die tyd het egter vir haar gekom om met grasie die tuig neer te lê.” Dit sê verder “alle potensiële stories rondom Charmaine en Vivian is uitgeput”.

Haar laaste toneel is op 24 Oktober uitgesaai. Die volgende gedagtes wat dadelik opgekom het, is “wat nou vir Vinette?” Sy is nie meer vandag se kind nie en akteurs werk op ’n kontrakbasis. Boonop is dit ’n kompeterende bedryf waarin die werk nie altyd volop is nie.

En waar ons met Vinette in ons Kaapse studio gesels, hou sy nie terug oor die emosionele wipplank wat sy gery het toe sy uitvind sy het nie meer werk nie.

En dat sy haar werkfamilie nie meer elke dag gaan sien nie. Maar terselfdertyd is sy die toonbeeld van kalmte van ’n ervare en wyse vrou wat absoluut gereed is vir wat die lewe én bedryf haar volgende kan bied.

Die 98-jarige Iris Apfel is Vinette se inspirasie.

Vinette se sin vir mode was ook nog altyd soveel anders as Charmaine s’n en vir hierdie fotosessie wou sy pret hê en speel met looks geïnspireer deur onder andere die Amerikaanse sakevrou, binnenshuise versierder en mode-ikoon Iris Apfel (98).

Iris se styl is bold en kleurvol. Want dis presies hoe Vinette haar lewe wil nou wil leef – in kleur! “Ek het besluit ek kan nie beige bly nie! Ek was al gesê, ‘stay in your lane’, maar ek wil out there en colourful wees! Ingrid Irma Jones (van Tussen Ons-faam op kykNET&kie) is my stylikoon. Ek love haar sense of freedom in haar styl.”

En toe dit haar tyd is om voor die kamera in die kleurvolste skeppings in te skuif, het Vinette soveel pret gehad, veral toe sy met haar

verskillende brille en sonbrille ook kon speel. Sy verklap sy versamel sonbrille en het sowat 18 paar sonbrille en hoe goedkoper hoe beter, want dan voel sy nie so sleg as sy dit per ongeluk laat breek nie.

Ons kan egter nie hierdie onderhoud doen sonder om oor haar tyd op 7de Laan te gesels of hoe sy daar weg is nie. Vinette begin deur te sê hoewel Suid-Afrika dalk geskok is dat haar karakter die Laan verlaat, “kom dit al ’n lang pad aan”.

Sy wil nie in diepte ingaan nie, maar sê wel: “Daar was ’n lang aanloop van gebeure en ek het aangevoel iets gaan gebeur. Maar om te sê daar is nie meer storielyne nie, het my hardop laat lag. Dis die flouste verskoning ooit. Kry dan ander skrywers!”

Maar, sê Vinette, sy het besef dit gaan oor iets anders. “Ek is nie iemand wat stilbly nie. Hulle (vervaardigers) het my gevra om nie meer op Facebook kommentaar te lewer nie, maar ek het gesê dis in my private hoedanigheid. Ek vloek ook nie en praat nie lelik van ander mense of 7de Laan nie.” En ja, as iemand iets rassisties sê, gaan sy iets sê, want sy voel dis ons almal se verantwoordelik om te help om positief by te dra tot die samelewing.

Sepiefamilie

Maar dan sprei ’n glimlag oor haar gesig wanneer sy sê haar eerste 15 jaar by 7de Laan was haar gelukkigste. Vinette sê sy sal altyd haar tyd met die Meintjies-familie onthou toe almal nog daar was. Sy vertel sy en Zane Meas, wat die rol van haar man, Neville Meintjies, gespeel het, het baie geskerts en dit was van haar beste tye op stel.

Die storielyn toe sy deel was van ’n tronkbende was ook vir haar lekker. Met oë wat sag raak, sê sy wanneer sy aan Ingrid Paulus (Vanessa), Hildegardt Whites (Bonita), Christo Davids (voorheen Errol) en Theodore Jantjies (Xander) dink, raak sy bewoë. (Theodore het ook intussen 7de Laan verlaat om nuwe uitdagings aan te pak.) “Ek mis hulle verskriklik . . . En ook die mense wat aan my hare en grimering gewerk het. Ek mis hulle en dit maak my regtig hartseer. Dis 19 jaar van my lewe wat net skielik weg is . . .”

Dis asof dit Vinette opnuut tref dat sy hierdie mense nie meer elke dag sien nie en die emosies sit vlak. In ’n sagte stem vertel sy van haar laaste toneel en dis asof sy teruggaan in tyd wanneer sy dit herroep: “Met my laaste toneel het almal na die vloer gekom – van die crew tot die produksiemense en tea lady en hulle het vir my hande geklap. They clap you off the floor so to speak – dis tradisie. En in my speech het ek gesê, ‘wees seker van jouself en moenie bang wees om jou sê te sê nie’.”

Dit is ’n belangrike nalatenskap vir Vinette om te los – vir ons almal om te besef jou opinie tel en jy jouself moet laat geld, anders gaan almal oor jou loop. “In watter eeu leef ons? Mag ons nie meer vrae vra nie? Ek is deur daai in die 1970’s en 1980’s. Ek het gedog ons het geveg om mens te wees. Dalk is ek old school, maar ek het geleer die werk spreek vanself, maar deesdae gaan dit alles oor ‘the brand’, ” sê sy vurig.

Maar selfs al het Vinette aangevoel ’n ding was aan die kom, was dit steeds nie maklik om so gou te moet aanvaar haar tyd as Charmaine Meintjies is werklik verby nie. Dit het ook so vinnig gebeur dat sy self nie eens tyd gehad het om haar geliefdes in te lig nie. Hulle het op sosiale media uitgevind, sê Vinette. En kort nadat sy nie meer werk by 7de Laan gehad het nie, het Vinette ook paniekerig geraak, want sy het, net soos ons, rekeninge om te betaal. Sy is glad nie ’n spandabelrige mens nie, maar moes haar sente selfs meer as vantevore twee keer omdraai.

“Ek het steeds ’n bond om te betaal en my eerste gedagtes (kort nadat ek kennis gekry het by die werk) was dat ek my huis sal moet verkoop en Kaap toe trek. Ek het drie honde en twee katte om voor te sorg, en my partner, Ivan D. Lucas, is werkloos.” Dit was egter toe sy self nie meer antwoorde of oplossings gehad het nie dat Vinette geweet het net die Here weet wat hiervandaan in haar lewe gaan gebeur. “Te midde van al die paniek, het daar toe skielik ’n kalmte oor my gekom en ek het die Here gevra, ‘hoe nou?’ ’n Mens is maar só – jy roep na die Here wanneer dit swaar gaan.”

Deure gaan oop

Die tronktonele en tonele saam met die Meintjies-gesin was van Vinette se gunstelinge in 7de Laan.

Maar wyse mense sê altyd die Here weet wat Hy doen, want die nuus was skaars uit dat haar karakter in 7de Laan uitgeskryf is, toe begin haar foon lui soos mense haar vir werk nader. ’n Dankbare glimlag helder Vinette se gesig op, want aan haar (tydelike) donker wolkie was daar beslis ’n silwer randjie.

Die Here het begin deurkom vir haar. “ ’n Vriend van my het gesê as die mens ’n deur in jou gesig toemaak, maak die Here vyf vensters na die hemel toe oop. Mense het net gewag vir my om los te kom, want toe ek weer sien, is werk opgeline vir volgende jaar. Daar is twee movies opgeline; op 7 November begin ek by Binnelanders vir ses weke en daar is ’n reeks wat ook gaan gebeur en ek is genader vir teater ook. Daar is my vyf vensters na die hemel wat oop is!” voeg Vinette opgewonde by.

Al is sy 62, moet sy werk, sê Vinette. Nie net om vir haarself te sorg nie, maar omdat toneelspel so deel van haar is. Sy sal dit bly doen “vir solank as wat my brein nog werk”. En met dié dat sy meer tyd en vryheid het, kan sy kies wat sy wil doen. Sy spandeer soveel tyd met haar ma as wat sy kan. “Dit het vir my baie belangrik geword om tyd met my ma te spandeer, want ek weet nie of sy môre nog daar gaan wees nie. Sy is baie vergeetagtig en ek is bang ek daag eendag by haar op en sy weet nie wie ek is nie.

Maar ons lag nog baie, al is daar goed wat sy vergeet het.” Op ’n ligter noot, lag Vinette alte lekker wanneer sy byvoeg dat “slaap deesdae my maatjie is” en dat sy dink sy aandele in Netflix het soos wat sy programme kyk. “Ek is ook besig om te skryf, maar daar is dae wat ek besluit ek is nie meer lus nie. Ek is ook stadig maar seker besig om my huis reg te maak. Ons maak tans die dak reg,” vertel sy oor hoe haar dae deesdae lyk. Met alles wat gebeur het tot nou, kyk Vinette ook terug op die afgelope 19 jaar en sê Charmaine het haar doel gedien; nou is dit verby, maar dat die wêreld nou oopstaan vir Vinette . . .

Meer oor:  Kuier  |  Vinette Ebrahim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.