Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nuwe liefde: Vertel só jou kind van julle twee
10 Junie 2021


Vir lank ná die einde van jou verhouding was jou hart aan skerwe en al wat jy elke dag kon doen, was om te probeer survive. Dan ontmoet jy weer iemand wat jou oë laat blink en jou maag laat draai van opgewondenheid en jy is weer reg om die lewe vierkantig in die oë te kyk met iemand nuuts aan jou sy.

Maar hoe vertel jy jou kinders van dié spesiale mens in jou lewe? Egskeidings of die verbrokkeling van verhoudings is nooit maklik vir enigeen nie, veral nie wanneer daar kinders betrokke is nie. Dít kan die kinders onder meer onseker laat voel.

Maar kenners en ouers is dit eens – kommunikasie is noodsaaklik om die kinders se gevoelens reg te bestuur, sowel as die moontlike “Baby Momma”- of “Baby Daddy”-drama wat daarmee saam kan kom.

Dra die nuus oor

Bernard Prins (42), ’n pa van die Paarl buite Kaapstad, vertel dit was glad nie ’n maklike taak om sy kinders aan sy nuwe meisie voor te stel nie. Dit was en is glo steeds ’n “nagmerrie”. “Ek het altyd ’n baie goeie verhouding met beide my dogters gehad. Die dag toe hul ma hulle egter sonder my toestemming vertel van my nuwe meisie, was die begin van ’n ellelange lys van drama.”

Volgens Bernard het sy kinders, nou 15 en 17 jaar oud, aanvanklik die egskeiding goed hanteer. “Ons was eintlik verras dat hulle die nuus so goed hanteer, maar sowat twee jaar ná die egskeiding het alles afwaarts gegaan. Die kinders het rebels begin optree wanneer hulle by my kom kuier het en daar was ’n alewige backchat. Ek het hulle eendag sit gemaak en gevra wat die eintlike probleem is.”

Dis toe dat dié pa moes hoor dat hy glo die kinders se ma “vervang” het. “Hul ma het aan hulle vertel dat ek in ’n verhouding is met ’n nuwe vrou en dit was die waarheid, maar ek het niemand en niks vervang nie. Jy kan mos nie iets vervang wat nie daar is nie. Ons was dan toe al meer as drie jaar geskei! Ek het hulle toe ’n paar maande later aan my meisie voorgestel.”

Die kinders het nie sy meisie goed ontvang nie. “Hulle sê hulle gaan nie kies tussen haar en hul ma nie. Hulle het die gedagte in hul kop dat hulle ’n keuse moet maak. Dit veroorsaak soveel onenigheid en ek wens net die ma van my kinders wil hulle ophou opmaak sodat ons almal in liefde en vrede kan saamleef.” Volgens Family Education se webtuiste www.familyeducation.com is dit belangrik vir ouers om hulself voor te berei vir aanvanklike teenkanting van kinders wanneer ’n nuwe partner in jou lewe kom.

“Die kinders gaan agterkom dat jy in ’n nuwe verhouding is met iemand nog voor jy gereed gaan wees om die partye aan mekaar voor te stel. Ouer kinders sal die moeilikste aanpas by iemand nuuts, waar jonger kinders meer aanpasbaar is.”

Dié opvoedkundige webtuiste raai ouers aan om nie haastig te wees nie. “Gee almal genoeg tyd om aan mekaar gewoond te raak en indien jy bedenkinge het, moet jy na jou ouerlike intuïsie luister en die beste besluit maak vir jou en jou kinders. Dit is wel jou kans op ’n nuwe en gelukkige lewe, maar indien belangrike aspekte ontbreek of jy voel angstig om die een in jou kinders se spasie toe te laat, moet jy liewer laat gaan. Moenie settle net omdat jy eensaam is nie. Dit kan ten koste van jou kinders wees.”

Baie kinders sukkel ook met verwarring oor wat van hulle verwag word in hierdie nuwe verhouding.

Saafia February (39), ’n ma van drie van Montana in die Kaap, moes ’n paar maande gelede haar nuwe partner aan haar kinders voorstel ná sy van hul pa geskei is. “Ek en my man is sowat twee jaar gelede van bed en tafel geskei en ek het uit ons gesamentlike huis getrek. Die kinders het tot tyd en wyl daar gebly omdat die afstand na waar ek tans bly, hul roetine ’n bietjie moeilik sou maak. Ek wou hulle nie nóg meer ontwrig nie, veral omdat hulle reeds hul ouers se egskeiding moes hanteer.”

Saafia het ná haar egskeiding by haar nuwe partner ingetrek. “My kinders het eers net kom kuier en ek het niks vir hulle gesê nie. Aanvanklik was dit vir my vreemd, want ek was nie skaam of iets nie. Toe ek haar egter uiteindelik voorstel as my partner het hul reaksie my heel van spoor afgegooi.” Saafia se kinders het die verhouding met ope arms verwelkom.

“Hulle was nie eens geskok dat ek met ’n vrou in ’n verhouding is nie. Al wat hulle wou weet, is of die nuus in dié day and age veronderstel is om skokkend te wees. Ek het gedink hulle sou die verhouding teenstaan, maar dit was asof hulle die lewe reeds te goed ken vir hul ouderdom.”

Haar kinders is 16, 12 en 8. Sy vertel haar kinders was eintlik net bly om haar vir ’n slag weer gelukkig te sien. “Vir hulle het dit nie saak gemaak of dit ’n man of vrou is nie – die feit dat ek gelukkig is, was vir hulle meer as genoeg. Al vraag wat hulle letterlik gevra het, was: ‘Is jy gelukkig, Mammie? Dis al waaroor ons omgee. Jy was vir ’n lang tyd nie gelukkig nie’. So volwasse.”

Aan ander ouers het Saafia die volgende raad: “Praat met jou kinders oor jou nuwe partner voor hulle vra. Kinders ken die lewe en verstaan verandering. Ek dink hulle pas beter aan as volwassenes.”

Professionele hulp

Louis Venter, ’n verhoudingsterapeut van Johannesburg, sê wanneer ouers die gesprek aanpak, is dit belangrik om te onthou elke kind en situasie is anders. “Die beste opsie is altyd om jou unieke situasie met iemand professioneel te bespreek om dinge te vergemaklik. In dié geval is die beste opsie ’n kindersielkundige wat jou as ouer kan help om die kind se vrese en begeertes te verstaan.”

Volgens Louis kan kinders sukkel met vrese van verwerping, verwaarlosing of verlating (abandonment). “Party kinders sal dalk voel hulle moet kies tussen ouers. Daar kan ook gevrees word om die ruimte met ander kinders te deel. Baie kinders sukkel ook met verwarring oor wat van hulle verwag word in hierdie nuwe verhouding.”

Stel kinders gerus

Louis stel voor ouers pak so gou moontlik die belangrike gesprek aan. “Sodra ’n kind oud genoeg is om die omvang van die situasie te verstaan, is dit baie belangrik om oop en eerlik te wees. Verseker ook jou kind gedurende dié gesprekke jy het hulle lief en niks sal verander nie. Pak ook die onderwerp reguit aan en sê dit beteken nie hulle sal jou as ouer verloor nie.”

Hy sê voorts kinders het veiligheid en consistency nodig. Dit is hoekom dit belangrik is om slegs die gesprek aan te pak indien ouers in ’n ernstige verhouding met iemand is. “Moenie kinders elke ses maande aan iemand nuuts voorstel nie. Om iemand nuuts te ontmoet en dan ’n verhouding met die een te bou, is ’n baie stresvolle en emosionele taak vir die kind,” verduidelik Louis.

“Moenie al jou partners aan jou kinders voorstel nie. Stel hulle slegs voor indien dit ernstig en langtermyn is. Moet ook nie aanneem dat hulle sommer net moet aanvaar dat daar iemand nuut by julle gaan intrek nie. Moenie dit vermy om met hulle oor hul vrese en bekommernisse te praat nie. Kommunikasie, veral in dié gevalle, is noodsaaklik.”

Hy voeg ten slotte by ouers vergeet soms dis nie net ’n egskeiding of verbrokkeling van ’n verhouding wat kinders kan traumatiseer nie. Dis die voorstel aan ’n vreemdeling, met wie hulle nou ’n verhouding moet bou wat die kind kan traumatiseer, want hulle het nie daarvoor gevra nie. Wees daarom eerlik met jou kind en verseker hom of haar dat hul veiligheid en welstand altyd jou eerste prioriteit is!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.