Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nuwe skooljaar: Nog baie vrae, onsekerheid
21 Januarie 2021

Op onderwysgebied was dit ’n rowwe 2020. En dit lyk nie of 2021 minder uitdagend gaan wees nie – nie met ’n tweede vlaag Covid-19, die aanbreek van die nuwe jaar met meer as 1 600 sterftes landwyd onder opvoeders en groot onsekerheid oor wat die nuwe skooljaar gaan inhou nie.

Die hoop wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in Desember uitgespreek het dat leerders vanjaar veel meer tyd in die klas sal deurbring as gedurende 2020, lyk al hoe meer of dit gaan beskaam. Hoewel die departement van basiese onderwys teen druktyd vol vertroue was dat alles in plek is sodat onderwysers op 25 Januarie kan terugkeer skool toe, en die leerders twee dae later, is daar baie mense wat glo dat die skole eers later gaan open – of glad nie.

Skole of provinsies kon wel self besluit of hulle vroeër wil oopmaak in die lig van die kurrikulum-herstelprogram wat aangekondig is om verlede jaar se verlore onderrig en leer in te haal.

Verloor baie onnies

Prof. Michael le Cordeur, oudskoolhoof en -kringbestuurder wat nou aan die opvoedkundefakulteit van die Universiteit Stellenbosch verbonde is, klink mismoedig wanneer hy gevra word oor die 2021-skooljaar.

Die afgelope twaalf dae is hy elke liewe dag gebel oor nóg ’n bekende in onderwyskringe wat weens Covid-19 dood is. “Ons lewe in vrees en paniek,” sê hy. “Die emosionele effek daarvan op die onderwysers, op ons almal, is reusagtig. Ek dink nie die skole sal kan begin nie. Daar is te veel mense dood.”

“Ons verloor onderwysers met baie jare se ondervinding,” sê Elijah Mahlangu, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement. “Provinsies werk hard om plaasvervangers aan te stel uit die databasis van gekwalifiseerde, werklose onderwysers.”

Teen 28 Desember verlede jaar het 56 onderwysers in die Wes-Kaap beswyk, wat volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), 0,18% van die onderwyskorps in dié provinsie verteenwoordig. “Nege ander personeellede sowel as agt wat by distrikskantore of die WKOD-hoofkantoor in diens was, het ongelukkig ook hul lewe verloor. Kontrak- en instaanonderwysers sal uithelp totdat die onderwysposte permanent gevul word. Waar ’n hoof oorlede is, sal ’n waarnemende hoof aangestel word totdat die pos geadverteer en gevul is,” sê sy.

Die WKOD het sy kommer uitgespreek oor die toename in infeksies en die impak daarvan op personeel en leerders. Nog ’n uitdaging is dat skole leerdergetalle verminder ten einde sosiale afstand te handhaaf, wat ’n negatiewe uitwerking op toelatings kan hê,” voeg Bronagh by. “Ons het ook mos nou die bus verpas met die entstof,” sê Michael.

“Net 10% of minder gaan dit kry, wat beteken ons kan selfs ’n derde of vierde vlaag verwag. Dit beteken Covid-19 gaan waarskynlik die res van die jaar met ons wees. En dat dit weer ’n abnormale onderwysjaar gaan wees.” Omtrent al wat in hierdie stadium seker is, is dat die onderwys nooit weer dieselfde gaan wees nie. En dat die digitale pad waartoe die virus skole wêreldwyd gedwing het, waarskynlik hier is om te bly.

In die nuwe normaal moes opvoeders noodgedwonge inval by ander maniere van skoolgee, soos lesse wat vooraf opgeneem of uitgedruk word, aanlyn klasse, onderrigmateriaal wat aanlyn beskikbaar gestel word en klasse via televisie en radio in veral die armer gemeenskappe. Te midde van al die onsekerheid wat met Covid-19 gepaardgaan, word personeelvergaderings nou aanlyn gehou en het platforms soos Zoom, die Wolkskool, Google Messaging, Microsoft Teams en WhatsApp onderwysers se beste vriende geword.

Daarmee saam besef ouers toenemend dat hulle vir slimfone, skootrekenaars of tablette, WiFi, data en die nodige sagtewareprogramme vir hul kinders sal moet begroot as hulle nie agtergelaat wil word nie. Die onnie in die nuwe normaal lyk egter nog lank nie dieselfde in alle skole nie. Weens die reusegaping tussen ryk en arm, is daar ’n groot verskil in die wyse waarop skole in gegoede en minder gegoede omgewings met tegnologiese hulpmiddels omgaan ondanks dapper pogings deur onderwysers en hoofde om die mas op te kom.

Groot gaping

Só was Curro, die grootste privaatskoolgroep in die land, reeds vóór Covid-19 ver gevorder wat digitalisering betref, wat beteken dat hy die ontwrigting tot die minimum kon beperk.

Toe lockdown afgekondig is, kon vooraf opgeneemde inhoud, video’s en take met gemak met leerders gedeel word. Baie Curro-skole het in daardie stadium ook reeds toegang gehad tot addisionele digitale leerplatforms soos ITSI Pro, miEbooks en die Snapplify Reader, terwyl handleidings vir afstandsonderrig gestroom of afgelaai kon word.

Daarbenewens was ’n oproepsentrum deurentyd beskikbaar om te help met tegniese probleme. In Mei verlede jaar het Curro boonop sy eerste aanlyn skool – in dié stadium vir graad 4 tot 9 – bekendgestel. Dit beteken dat ’n Curro-onderwyser met elke les teenwoordig is, wat die druk verminder op ouers wat tydens lockdown tuis skielik ook die rol van opvoeder moes vervul.

In skerp teenstelling hiermee kon ’n skool soos Garden Route Primêr in Aslapark, Mosselbaai in die Wes-Kaap, met die lockdown verlede jaar digitaalgewys nie veel meer doen as om van WhatsApp gebruik te maak nie. En steeds kon hulle nie al die ouers en kinders bereik nie, sê Gen Rothman, wat vir die graad 5’s tot graad 7’s klas gee en ook kurrikulumkoördineerder by hul skool is.

“Hier woon die armstes van die armes. Ons ouers het nie fasiliteite soos rekenaars, tablette en selfs slimfone om aanlyn te gaan nie.” Die skool het wel ’n rekenaarlokaal en hotspot, asook agt klasse met ’n dataprojektor en interaktiewe witbord, maar tydens die harde lockdown kon dit nie gebruik word nie – soos met so baie ander skole ook die geval was. Die oplossing waarmee vorendag gekom is, was ’n walk-through.

“Die WKOD het leerplan-werk vir die onderwysers opgestel met aanlyn verwysings vir aktiwiteite. Die onderwysers het dit dan afgelaai en afdrukke daarvan gemaak,” verduidelik sy. Op Vrydae kon ouers of kinders die huiswerkpakkie by die skool gaan afhaal sodat daardie week se werk tuis gedoen kon word. Dit moes die volgende Vrydag ingehandig word wanneer die volgende pakkie gereed sou wees. Om die woord hieroor te versprei, is die skoolvoedingsprojek bykomend tot WhatsApp ingespan.

“Wanneer die kinders hul kossies kom haal het, het ons sommer gevra dat hulle vir die kinders in hul straat sê dat huiswerkpakkette uitgedeel word,” vertel Gen. Elke graad het ’n WhatsApp-groep en video clips is ook uitgestuur na daardie WhatsApp-nommers wat wel op die skool se lys is. ’n Gebrek aan data was egter deurentyd ’n probleem – ’n refrein wat deurgaans by onderwysers gehoor word. Daar was ook ander struikelblokke. Hoewel die meeste van die ouers tuis met die huiswerk probeer help het, was die harde werklikheid dat baie nie op hoogte van die kurrikulum is nie.

“Veral die wiskunde is vir hulle Grieks,” sê Gen, wat met die leerders se terugkeer skool toe gevind het dat die werk maar weer oorgedoen moes word. “Ons kinders leer nie by hulleself nie en het baie ondersteuning en leiding nodig.”

Wat volgens haar wel goed gewerk het – en in die eindeksamen gesien kon word – was om die kinders op grond van hul vermoë in drie groepe te verdeel nadat hulle in fases teruggekeer het skool toe. Op hierdie manier kon hulle meer hulp gee waar dit nodig was en is die vinniger kinders nie teruggehou nie. In ’n stadium was daar sprake dat tablette met handboeke op aan die kinders gegee sou word, maar dit het nooit gerealiseer nie, sê sy. “Ek sou bly wees as ons daai weg kan vat.

As die regering ook net met ’n selfoonnetwerk kan onderhandel om vir die kinders gratis data te gee – soos die Universiteit Stellenbosch met lockdown vir sy studente gedoen het – sal dit wonderlik wees. Ons kinders word deur armoede gekniehalter.”

Ons lewe in vrees en paniek. Die emosionele effek daarvan op die onderwysers, op ons almal, is reusagtig.

Volgens Elijah sal die private sektor aan boord moet kom met breëband-dienste in elke uithoek van die land sodat alle skole aanlyn kan gaan. “Die telekommunikasie-maatskappye sal hier hul kant moet bring.” Hoewel baie onderwysers in diep waters vaar om by te hou met digitale onderwys, is daar ook diegene wat dit verwelkom.

Een van hulle is Ashleigh Taljaard, ’n graad 2-onderwyser aan Laerskool Van Reede in Oudtshoorn in die Wes-Kaap, wat sedert die uitbreek van Covid-19 vir die eerste keer digitaal gegaan het. “Tydens lockdown het ons deur middel van voice notes en video’s via Whats-App lesse aangebied,” vertel sy. Dit was moontlik omdat daar in die meeste van hul huishoudings darem minstens een persoon met ’n selfoon is, hoewel databe-skikbaarheid tog ’n kopseer was.

Sy self het ook video’s gemaak waarin sy aan kinders verduidelik het hoe om die dag se werk te doen. Terug in die klaskamer het Ashleigh haar op PowerPoint en video’s begin toespits. Onder meer moes die kinders geleer word hoe om maskers te dra, hande te was en by die toilet uit te kom. “Ek vind dat ek op hierdie manier baie makliker tot hulle deurdring as wanneer ek net voor die klas staan en praat en op die bord skryf. Dit maak die lewe net soveel makliker omdat als deesdae elektronies is,” sê sy.

Dat leerders afwisselend ’n dag by die huis en ’n dag by die skool was, sien sy in ’n positiewe lig omdat die kinders op hierdie wyse meer individuele aandag kan kry. Hoewel Ashleigh in haar twintigs is, het die oorgang na digitale onderwys nie natuurlik gekom nie, sê sy reguit. Sy moes aanvanklik heelwat hulp vra en het ook baie webinars oor aanlyn onderrig van ORT South Africa en ClassDojo bygewoon om haar op die regte pad te help. Daarbenewens moes sy gereeld haar ouer kollegas help wat minder gekonfyt in hierdie tipe onderwys is.

As die regering ook net met ’n selfoonnetwerk kan onderhandel om vir die kinders gratis data te gee, sal dit wonderlik wees. Ons kinders word deur armoede gekniehalter.
Gen Rothman

Die pad vorentoe

Digitale onderwys is sonder twyfel die manier van die toekoms, sê Debra Jeffery, adjunk-prinsipaal van Hoërskool Sao Bras in Mosselbaai, wat ook grootliks die Whats-App-pad geloop het. “Daar word mos al ’n geruime gepraat van die Vierde Industriële Revolusie. Ek dink dit was net ’n kwessie van tyd voor ons regtig baie ernstiger daaraan aandag sou gee en ten volle in die rigting van tegnologiese onderrig sou beweeg. Covid-19 het ons net gedwing om dit vinniger te doen.”

Maar juis omdat dit so skielik op almal afgekom het, glo sy die meeste leerders is benadeel. “Ons mense is mos maar nie so bevoorreg om internet of toerusting soos rekenaars by die huis te hê nie.

“Ons het 1 200 kinders in die skool en kon onmoontlik data aan almal voorsien. Weens die lockdown kon ouers ook nie uitgaan en planne probeer maak om data te kry nie. Kinders moes maar die data gebruik wat hulle tot hul beskikking gehad het. Van die kinders het op hul eie by die Wolkskool aangesluit vir aanlyn lesse, terwyl baie oor die televisie of radio lesse gevolg het.”

Dié skool kon ná die harde lockdown darem ’n bietjie data spesifiek aan matrikulante voorsien nadat verskillende instansies om hulp genader is. Die onderwysers self het op tegnologiese gebied baie gebaat by kursusse van die WKOD-geaffilieerde Cape Teaching and Leadership Institute, sê Debra, terwyl die skool op sy beurt verrykingskursusse aanbied.

Michael gaan so ver om te voorspel dat die onderwysprogam vir 2021 presies dieselfde pad gaan volg as in 2020. En dat aanlyn klasse, in die groter geheel gesien, bykans geen positiewe impak gaan hê nie omdat die regering volgens hom nie sy werk gedoen het nie en die meeste skole daarom nie toegang daartoe het nie.

Almal het gehoop 2021 gaan beter wees en dat die impak op veral leerders, onderwysers en die nuwe akademiese jaar minimaal sal wees, maar met die tweede vlaag Covid-19, weet ons eenvoudig nie. Wat wel duidelik is, is dat die onderwysstelsel soos wat almal hom ken, waar-skynlik nooit weer dieselfde gaan wees nie. ’n Mens kan net hoop dat leerders in minder bevoorregte skole op ’n manier sal kan bybly . . .

Meer oor:  Kuier  |  Aktueel  |  Skooljaar  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.