Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Nuwe TV-kletsprogram met vyf sterk vroue
27 Junie 2018


Dis ’n weeklikse saamkuier, saampraat en saamlag met vyf dinamiese vroue, elk in eie reg bekend in die mediabedryf.

Elkeen van dié vroue kom uit verskillende agtergronde en het hul eie idees en opinies, so ’n mens kan verwag dat vonke van tyd tot tyd behoorlik gaan spat!

Zelda la Grange was vir 19 jaar aan oudpresident Nelson Mandela se sy en die bestuurder van sy privaat kantoor tot en met sy dood. Sy dien tans as die beskermvrou van die First for Women-fonds, nie-uitvoerende direkteur van die nie-winsgewende organisasie, Healing Hands. Sy is ook die koördineerder van Bikers for Mandela Day. Zelda se memoir, Good Morning, Mr Mandela, is in 2014 gepubliseer en was ’n topverkoper in Suid-Afrika en Brasilie¨. Die boek is reeds in tien tale vertaal en word tans verwerk vir die silwerskerm.

Die sprankelende radio- en TV-aanbieder Tracey Lange kruip sommer diep in mense se harte met haar aansteeklike lag. Tracey, beskryf haarself as spontaan, lief vir mense en iemand wat op haar voete kan dink. Sy was ’n aanbieder van M-Net se Dancing with the Stars SA, is ook ’n aanbieder op Bravo!, ’n kykNET-leefstylprogram en ’n omroeper op KFM.

Sakevrou en redakteur, Ingrid Jones, is die stigter en besturende direkteur van Mikateko Media. Ingrid beskryf haarself as ’n dromer en iemand wat van avontuur hou en ook dis geen toeval dat sy in Dramastraat woon nie. Sy ondersteun graag sake wat haar na aan die hart lê soos die bevegting van geweld teen vroue en kinders en uiterse armoede. Haar superpower is om blitsvinnig agter te kom as mense besig is om nonsens te praat. Volgens haar het haar taalonderwysers die grootste invloed op haar lewe gehad omdat dié haar selfvertroue gegee het om haar stem dik te maak.

SUKSES WINK

Success Lekabe is die jongste in die groep, maar haar fluweelstem sal jou ore in ses tale – Tswana (haar moedertaal), Engels, Afrikaans, Sotho, Zulu en ’n bietjie Xhosa – streel. Sy vermaak luisteraars daagliks tussen 13:00 en 15:00 op Bok Radio en is al sedert 2012 ’n bekende stem op die radiogolwe. Success klink self verbaas oor die pad wat die lewe sover met haar gestap het en vertel skertsend dat sy eintlik net wou netbal speel. Sy het in ’n stadium selfs vir die Proteas as verdediger uitgedraf. Success sê sy glo daar lê baie krag in ’n mens se naam en daar is al verskeie see¨ninge oor haar uitgespreek, net deur haar naam te sê.

Ons eie redakteur, Kay Karriem, is baie opgewonde, maar ook baie senuweeagtig oor die nuwe program. “Julle, my nerves is klaar! Ek is seker ek gaan iets simpels aanvang, maar toe die geleentheid oor my pad kom, kon ek nie nee sê nie,” sê sy. Kay sê as daar vyf dinge is waarsonder sy nie in die winter kan klaarkom nie, is dit mielie-en-boontjiesop, Vicks, kaneel, Corenza C en die KuierCombo.

Skakel in vir Tussen Ons vanaf Donderdag 5 Julie om 20:00 op kykNET&kie (kanaal 145 op DStv) vir lekker vermaak.


* Foto: Robert A Hamblin

Meer oor:  Kyknet  |  Kuier  |  Zelda La Grange  |  Tracey Lange
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.