Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ondersoek: Wat broei in die okkulte in Suid-Afrika?
29 April 2021


Nie vir sensitiewe lesers nie.


Suid-Afrika is ’n baie diverse land bekend as “die reënboognasie” en danksy ons Grondwet geniet almal se taal, kultuur en geloof beskerming. Maar al waarborg ons wetgewing vryheid van geloof, haal ’n gruwelike misdaad wat met die okkulte verbind word, elke nou en dan die nuus en laat almal regop sit.

Baie flieks is ook al oor dié soort ding gemaak, maar ons besef nie aldag dat dit ook hier, sommer reg onder ons neuse, aangaan terwyl ons salig onbewus is nie.

Min Suid-Afrikaners weet ook die SAPD het ’n okkulte-misdaadeenheid wat sulke sake ondersoek. En al raak die meeste van ons net van die kwessie bewus wanneer dit die nuus haal, is dit al vir amper 40 jaar elke dag deel van brig. Attie Lamprecht (53), nasionale hoof van dié spesialiseenheid, se lewe. Dié eenheid is ook baie besiger as wat mense dink en hulle moet sake prioritiseer.

Misdade teen kinders en geweldmisdaadsake kry voorkeur. ’n Mens kan dus nie help om te wonder hoekom sulke sake dan nie meer gereeld op die lappe kom nie. “Ons hou dit onder die radar. Ons moet. Dit raak chaoties as daar te veel media-aandag is. Ons vind ook baie mense word aangevuur deur hierdie soort aandag en dít is nie in belang van die speurder, die getuies of die slagoffers nie,” verduidelik Attie.

Hy was eintlik verstom dat hy toestemming gekry het om met Kuier te praat, want hul werk vind gewoonlik onder die radar plaas. “Ons probeer die media dodge sover ons kan!” lag Attie. Kriminele gedrag wat stem uit geloofsoortuigings, of dit nou die okkulte, heksery (witchcraft), satanisme, mistisisme (mysticism), toorkuns of die isoteriese is, word gewoonlik gekenmerk deur ’n sekere modus operandi, soos rituele.

“Baie van dié misdade word in die geheim gepleeg, so jy het gewoonlik kennis daarvan nodig om ’n saak op te los. Dis die eenheid se mandaat om sulke sake te ondersoek en okkulte-verwante misdade te voorkom,” verduidelik Attie. Hulle stel ook nie sommer enigeen in dié eenheid aan nie. Daar is ’n streng keuringsproses.

“Ons werk met ervare, nugter-denkende speurders wat baie spesifieke opleiding ontvang. Hulle mag nie ’n obsessie hê met die bonatuurlike nie. Nuuskierige speurders word ook summier gediskwalifiseer. Ons speurders moet emosioneel en geestelik stabiel wees en ’n goeie na-uurse ondersteuningsnetwerk hê. Workaholics of ouens wat ander probleme het . . . Dit gaan opvang met hulle,” sê Attie.

Van die beskuldigdes in die opspraakwek-kende Krugersdorp-moordsaak, Zak Valentine, Le Roux Steyn, Marinda Steyn, Cecilia Steyn (in rooi baadjie) en Marcel Steyn, tydens hofverrigtinge in 2018.

SA se Ghostbusters

Die eenheid is so ervare en belese dat hulle al oorsese polisiemagte, insluitend Scotland Yard, leiding en raad gegee het oor die okkulte. “Eintlik kies die okkultemisdaadeenheid jóú. Dit is ’n verskriklike eensame plek om te werk, want jou kollegas verstaan baie selde waarmee jy besig is. Ons is nou maar die Ghostbusters en die X-files, die toordokter-jagters . . . Noem maar op!” lag Attie.

Volgens hom hoef ’n mens nie gelowig te wees om aan die eenheid te behoort nie, maar dit help beslis. Jy hoef ook nie in bose magte te glo nie, maar die kanse is baie goed dat jy wel sal ná jou eerste saak.

“Op ’n persoonlike vlak glo ek in die bestaan van die demoniese wêreld en die mense wat die okkulte beoefen, glo ook daarin. So, jy kan nie hierdie tipe ondersoek sonder die beskerming van Christus doen nie. Ek dink dit sal jou vernietig.” Attie vertel hulle het sedert die ontstaan van die eenheid al baie speurders verloor.

’n Grusame toneel waarop Attie en sy span afgekom het.

“Baie gooi vinnig handdoek in, partykeer sommer ná die eerste ondersoek weens angsversteurings of post-traumatiese stres, want van die tonele is net . . . Ek wil dit nie eens inkleur nie. Die realiteit is, ons sien dinge wat mense nie eens weet bestaan nie.” Volgens Attie, is daar vir hom in dié wêreld van geestelike chaos, net een kompas van wat reg of verkeerd is. En dit is sy verhouding met Christus, “want sonder Hom sou dit lankal tickets gewees het”. Hy vertel op gru-tonele kan jy nie help om te wonder hoe sulke dinge gebeur nie.

“As jy ’n oopgespalkte kinderlykie sien wat opgekerf en toegevou is in ’n doek van boosheid, kan jy nie die vrae keer nie. ’n Mens kom ook agter die skuldiges het dikwels ’n noue verhouding met ’n bonatuurlike entiteit wat net bloed soek . . . En dis dan wanneer ek kan skuil in Sy heilige teenwoordigheid. Dis ook soms nodig om te breek en vir die Here te vra ‘hoekom?’

Dan voel ek hoe die Heilige Gees my weer optel en sterk maak om die skuldiges aan te keer, want ons kan eenvoudig nie hierdie mense laat wegkom nie.” Attie sê dis baie belangrik dat sy speur-ders die wet ken, want aan die einde van die dag is dit jou bewyse wat tel. “Jou ge- loofsoortuigings is dus irrelevant, want ons werk net met bewyse wat ons voor die hof kan plaas. Maar die geloof waarin daai verdagte geglo het, help natuurlik om die motief te bepaal as jy verstaan hoe daai wêreld werk.”

Geen verskil in hof

Volgens Andre Kirsten, ’n kriminele prokureur van Kaapstad met jare se ondervinding as staatsaanklaer, is daar in die hof nie ’n verskil tussen okkultesake en gewone misdryf nie. “As iemand wat by okkulte betrokke is, byvoorbeeld moord pleeg, is die daad die misdryf en nie die okkulte-betrokkenheid nie. Maar, laasgenoemde kan in ’n mate verswarende omstandighede wees.”

Jy hoef dus nie in die hof te bewys iemand is deel van ’n kultus nie, net hoe en hoekom hulle die misdryf gepleeg het,” sê Andre. Wanneer dit kom by die okkulte, bly goed soos moord, kindermishandeling en bedrog teen die wet, maar daar is ook wette teen vloeke. Volgens Attie mag jy nie ’n vloek van enige aard teen iemand uitspreek nie.

Volgens hom kry hulle gereeld te doen met vloeke wat veronderstel is om skade te veroorsaak – met ander woorde waar swart magte (black magic) gebruik word om dit uit te voer. In sulke gevalle word die kliënt sowel as die beoefenaar (van die okkulte) aangekla kragtens die wet op onderdrukking van heksery.

Ingevolge ons Grondwet mag jy enige geloof aktief uitleef, mits jy nie die land se wette oortree nie. “Maar ons sit ook met onetiese sangomas wat muti maak vir misdadigers wat ernstige geweldsmisdaad pleeg en glo deur die gebruik van die muti kan hulle die wet vryspring of onsigbaar word vir die polisie. Sulke sangomas breek verskeie wette, want die gebruik van menslike weefsel in medisyne is ook teen die wet.

Polisie-honde het al geweier om sommige tonele te betree so erg was dit. Die hond steek vas, al sy hare staan regop en sy stert is tussen sy bene.

Dit hou dikwels verband met die moord van onskuldige kinders. Mense moet besef dat orgaantjies geoes word terwyl die kind nog lewe,” verduidelik Attie met ’n stem wat saggies breek. “Daar is ook goeie sangomas, maar baie is oneties en doen regtig baie lelike goeters, veral met menslike weefsel.”

In ’n onlangse saak het ’n vrou wat nie kon swanger word nie, ’n sangoma besoek vir hulp. “Hy het die weefsel van ’n jong mensie in haar ingewerk en sy het swanger geword.” Volgens Attie weet sulke “kliënte” gewoonlik nie wat hul “behandeling” alles behels nie en is daarom nie werklik toerekeningsvatbaar nie. “Jy arresteer die sangoma, maar hulle is gewoonlik nie die een wat die moord (van die jong mensie) pleeg of die liggaamsdele oes nie.”

Volgens Attie probeer baie verdagtes die okkulte betrek om speurders te intimideer. “Dis ook hoekom besluit is om ’n gespesialiseerde eenheid op die been te bring wat nie gaan skrik vir intimidasie nie.” Die eenheid probeer allermins om spoke oral op te jaag en die belangrikste is om, volgens Attie, die geloofspraktyk van die oortreder te probeer verstaan. As ’n satanis byvoorbeeld ’n moord pleeg, kyk die eenheid na wat die verdagte aangevuur het. As hulle steeds die daad sou pleeg ongeag dit waarin hulle glo, dan is dit nie werklik ’n okkultiese misdaad nie. Só het die media onlangs die opspraakwekkende

Krugersdorp-moorde” met die okkulte verbind. In die saak het ’n groep van ses vriende tussen 2012 en 2016 elf mense gewetenloos vermoor. Cecilia Steyn, die meesterbrein agter die misdade en die leier van die kultus Electus per Deus, het beide satanisme en Christenskap gebruik om by haar planne in te pas. Sy het ook dikwels na haarself verwys as die “bruid van Satan”.

Al ses is in 2019 skuldig bevind. Cecilia is tot 13 keer lewenslank plus 155 jaar gevonnis. Net sy is skuldig bevind aan ál elf moorde omdat sy die baasbrein was. Haar medebeskuldigdes se strawwe het gewissel van sewe tot elf lewensvonnisse plus tronkstraf van tussen 93 en 295 jaar. Daar was ook ’n ma, dogter en seun, Marinda, Marcel en Le Roux Steyn, onder die skuldiges.

Attie meen daar is egter ’n onnodige ophef gemaak oor die rol wat die okkulte in dié misdrywe gespeel het, omdat geld en bedrog, en nie hul geloof nie, die werklike motief was agter hul misdrywe. In ’n onderhoud verlede jaar met Lester Kiewit van die radiostasie CapeTalk het Riaan Swiegelaar, mede-stigter van die SA Satanic Church in Kaapstad, gesê satanisme is moontlik die mees misverstane geloof in Suid-Afrika. Hy meen lede van die geloof glo nie in Satan nie. Hulle offer ook nie diere nie en is nie teen Christenskap gekant nie.

Volgens hom het hulle dienste, doen (sataniese) bybelstudie en gemeenskapsdiens (vroueregte en diere se welstand is prioriteite). Riaan sê satanisme word dikwels verwar met duiwelaanbidding. “Ons erken nie eens die wese waarna mense verwys as die duiwel nie. Ons sien Satan as die teenstander van religieuse tirannie.”

Attie sê sy eenheid maak ’n punt daarvan om okkultiese misdade as die laaste moontlike motief te oorweeg. sake wat uitstaan Volgens Attie is daar baie ander sake wat vir hom uitstaan.

“Ek ontduik eintlik altyd hierdie vraag, want ek glo dis nie goed om vas te klou aan jou sake nie.” Hy sê as hy kon, sou hy sy herinneringe uitwis die dag as hy uit die polisiediens tree, maar sy vrou is bang dat hy haar dan ook nie gaan onthou nie, erken hy grappig. “Polisie-honde het al geweier om sommige tonele te betree so erg was dit. Die hond steek vas, al sy hare staan regop en sy stert is tussen sy bene . . .”

Een van die mees bisarre rituele wat Attie al teëgekom het, was ’n saak van kannibalisme in Estcourt, KwaZulu-Natal. ’n Man het by die polisiestasie ingestap met ’n mens se hand en voet en gesê hy is nou moeg daarvoor om mensvleis te eet. Hy het die polisie gewys waar die ander liggaamsdele versteek was en hulle na ’n huis gevat waar daar ’n skottel met ore, ’n kakebeen en skouers, asook ’n emmer vol ingewande was. ’n Dubbelmoord in sy begindae staan ook vir Attie uit.

“Die verdagte het heeltemal kop verloor en letterlik probeer om met sy kop in ’n muur vas te hardloop om weg te kom. Volgens hom was daar massiewe, skitterende engele weerskante van die speurders en die demoniese magte binne-in hom het gesidder van vrees en wou net vlug.” In ’n ander saak in Venda is ’n vloek geplaas oor ’n klein meisie. “Sy het aan klippe geboorte gegee. Dis onverklaarbaar . . . Ja,” sug Attie.

“Daar was geen mediese verduideliking nie en ook nie tekens van geforseerde penetrasie nie, maar die klippe het uitgekom asof dit uit die geboortekanaal kom.” Volgens Attie was daar geen diere in die klein village waar dié voorval plaasgevind het nie.

“Nie eens voëls het daaroor gevlieg nie. Die diere wou nie naby aan die bose magte gekom het nie . . .” Nog ’n saak wat met die okkulte verband gehou het, was die moord van die 15-jarige Lee Adams van Ravensmead, naby Bellville in die Kaap, waaroor Kuier berig het.

Aljar Swartz het in die hof beken dat hy Lee in 2013 onthoof het omdat hy sy kop aan ’n sangoma wou verkoop. Ná die moord het hy Lee se kop in hul tuin begrawe. Lee se lyk is later by ’n skool gevind. Aljar Swartz is in 2016 tot 22 jaar tronkstraf gevonnis. Attie se eenheid het ook onlangs die saak van Mandy van Reenen (44) ondersoek wat ná ’n urelange soektog in ’n hangkas in die Strand gevind is.

Julian Jansen het in Rapport berig die polisie het byna vyf uur lank sonder sukses die betrokke huis (ook die hangkas) gefynkam om haar te vind. Die speurders het toe gebid en vir ’n vierde keer in die kas gaan kyk. Dié keer het hulle haar angstig en natgesweet daarin gekry. Sy is op die plek gearresteer vir die ontvoering van ’n seuntjie in 2015. Sy is aangekla vir ontvoering en brandstigting.

Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Op sy beurt waarsku dominee Peter Cornelius van Claremont Baptist in Kaapstad veral Christene is outomaties betrokke by “die geveg teen ’n onsigbare owerheid wat net wil steel, moor en vernietig”.

Volgens hom word ons gedurig versoek en getoets deur demoniese wesens, of ons nou bewus is daarvan of nie. “Dis nie soos ’n Hollywood-fliek nie en dit gebeur nie sommer so dramaties soos byvoorbeeld in die fliek The Exorcist nie, maar dit gebeur steeds baie. Of jy nou daaraan glo of nie, hierdie demone en hul boosheid en valshede is heeltyd aan die werk en poog om wanorde en chaos te skep.” gevaarligte As dominee besef hy wanneer hierdie magte aan die werk is, staan iets of iemand God teen.

Verder flikker gevaarligte by hom as iemand buitensporige of skandalige gedrag of maniërismes vertoon of ’n obsessie het met iets, veral iets boos. Onderdrukking of verdrukking is ook gewoonlik ’n teken. Partykeer is dit ooglopend dat iemand besig is met die bose wanneer hulle dit blatant vir jou sê of wanneer iets so onnatuurlik gebeur, dat jy dit nie kan betwyfel nie, soos byvoorbeeld bonatuurlike krag, paroksismes (hewige aanvalle van byvoorbeeld emosies), self-vernietiging, persoonlikheidsafwykings en die hoor van stemme.

Ds. Cornelius verduidelik mense raak betrokke by die okkult vir verskeie redes van onkundige nuuskierigheid tot die gevaarlike en algemene smagting na mag. “Baie mense het egter seer en glo hulle is ’n onreg aangedoen. Die seer en kwaad lei tot ’n soeke na mag om wraak te pleeg (vir hulle, geregtigheid), wat in teenstelling is met ’n God wat ons vra om te vergewe.

Partykeer praat ons pyn harder as ons roeping.” Mense wat gemarginaliseerd is of op die rante van die ekonomie lewe, het die meeste risiko om deur die okkulte ingetrek te word. “Dit geskied gewoonlik deur verwysings, maar met die moderne era maak die internet en populêre media dit meer toeganklik en het ook betrokkenheid by okkulte meer aanvaarbaar gemaak.”

Volgens hom is die rede hoekom lede van die okkult moor en misdaad pleeg, dieselfde as diegene wat nie daaraan behoort nie – omdat dit in hul belang is om dit te doen. “Hoe dieper en donkerder ’n mens egter in die okkult ingaan, kan ’n kombinasie van belangstelling, inisiasie (om deel te word van die groep moet jy ’n donker daad pleeg) of toename in mag deur offerande, redes wees.

Attie sê hoewel hy al moedeloos, raadop, sielsmoeg en uitgeput was, weet hy die Here het hierdie beroep vir hom bestem. As mens is Attie nie judgerag nie en hy moedig ander aan om ook lief te wees vir hul medemens. Hy het vriende van alle gelowe, onder wie pagans en wiccans, en hy ken selfs sataniste. Hoewel hul geloofs-oortuigings nooit sal ooreenstem nie, dink Attie nie hulle is noodwendig slegte mense nie.

Vir hom is dit ook belangrik dat mense nie die bonatuurlike ontken nie. “Die geestesdimensie is eg, maar jy moet versigtig wees waarmee jy jouself besig hou en watter denke jy toelaat.” En as jy jou besig hou met okkultiese misdade of die bonatuurlike gebruik om ander skade te berokken, sal Attie en sy eenheid kom vir jou . . .

Tekens dat ’n geliefde dalk by die okkult betrokke is volgens ds. Cornelius:

• Vreugde en vrede word vervang deur woede.

• Donker verskuiwings in gemoedstoestand en persoonlikheid.

• Okkultiese tekens en simbole begin vertoon word.

• Okkultiese taalgebruik raak meer algemeen.

• Nuwe vriende met dieselfde belangstellings.

• Kleredrag verander, gewoonlik na ’n alternatiewe styl.

• Vermaak (flieks en musiek) word gekarakteriseer deur chaos, pyn en wanorde.

• Tattoos van okkultiese simbole of donker beelde.

* Foto’s: Gallo Images/Getty Images en verskaf

* Bykomende bronne: mg.co.za; iol.co.za; citizen.co.za; netwerk24.com

Meer oor:  Kuier  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.