Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
OppieStoep: Lyntjie Jaars is terug oppie kassie
22 Julie 2021


As daar nou een ding is waarvan Suid-Afrikaners hou, dan is dit ’n goeie storie. Veral as daai storie hulle uit die maag kan laat kraai van lag – nee, kyk, dan het jy ’n wenkombinasie beet!

“Soos ’n afvalpot wat op ’n buitevuur prut terwyl roosterkoeke op die kole langsaan gebraai word en die reuk smaaklik die lug vul met ’n oom wat op ’n kissie sit en kitaar speel terwyl die volk gesellig sit en kuier – dis mos pure lekkerte dié!”

Dít is hoe Lyntjie Jaars (41), die nuwe mede-aanbieder van OppieStoep die nuwe seisoen van dié reeks beskryf. Vir die vyfde seisoen van OppieStoep, wat op 3 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) afgeskop het, skuif dié lekker vrou in een van die aanbiederstoele saam met Pietman Geldenhuys voor die kameras in.

Die reeks spog met ’n nuwe stel asook storievertellers wat vir die eerste keer deel van die program is. Lyntjie, ’n trotse Namakwalander, wat die laaste paar jaar as radio- en TV-aanbieder, seremoniemeester en motiveringspreker gewerk het, ken van ’n storie vertel en sy ken ook van xhoulag (lag)!

“My senuwees was kant en klaar, daai tjent! Ek moes letterlik myself herinner om asem te haal en ek moes konstant my voete teen die grond hou anders sou die mense seker kon sien hoe ek ene bewerasies was! Maar dan moet ek bysê: Pieta was my rots en wanneer ek voel my nerwe wil die oorhand kry, dan kyk ek net vir hom,” vertel Lyntjie vanuit haar huis in Bellville in die Kaap.

Hoewel Lyntjie ons nou vermaak as TV-aanbieder, het sy nooit gedink sy sou op die kassie beland nie. “Jong, destyds, as kind en jong mens daar op Springbok het ek altyd daarvan gedroom om ’n scientist of ’n dokter te word. Sommer albei hier op ’n slag! Ek was lief daarvoor om met dinge te eksperimenteer en mense te dokter. En ek was lief vir leer en skool, so dit het vir my na ’n puik plan gelyk.” Lyntjie het egter gou besef sy sal maar van windrigting moet verander.

“Ek het te veel gepraat vir daai professies. Toe wou ek weer ’n dominee, onderwyser en ’n prokureur word. Jong, ek het groot gedroom – een professie was net te min om op staatmaak.

Toe sê Mamma eendag vir my: ‘My kind, soos jy mos nou lewe, sal jy die gemeente tot by die bar lei en onderwyser kan jy ookie wees nie, want daarvoor is jy nog nie op die regte pad nie. En prokureur glad nie, want ek sal darem nou nie staan en kyk hoe jy lieg nie!’ Jong, toe moet ek die besigheid herkou en herdink.” Lyntjie het uiteindelik IT gaan studeer – ’n beroep waarin sy nooit gewerk het nie.

“Ek het toe opgeëindig as beroepsbemarker en dis hoe ek begin reis en uit my tuisdorp beweeg het.” Nadat sy deur die land getoer het as beroepsbemarker het Lyntjie by ’n kerk op Worcester begin werk en daarna as motiveringspreker en radioaanbieder by Namakwaland se plaaslike radiostasie NFM. Dis ook gedurende haar tyd by NFM dat die TV-program KLOP! haar uitgenooi het om ’n gas te wees op dié program. “En dit is toe waar alles begin het.

Ná die onderhoud met Klop! het ek sommer toe vir hulle ’n veldaanbieder geword en toe begin die TV-ding. Die mense by Klop! is regtig ongelooflike mense wat my ondersteun en die pad gewys het. Ek leer nog elke keer so baie by hulle. Dis egte mense-mense daai!”

Weer oppie kassie

Lyntjie vertel dis nou vir haar ’n voorreg om in daardie stoel op OppieStoep te sit en na stories te luister, uit die maag te lag in Afrikaans en om deel van hierdie hartsprojek te wees. “Veral nou terwyl gemoedere swaar is en om te weet ons bring verligting op ’n lekker manier sonder om ligsinnig te wees. En dis regtig ’n groot vreugde en seëning om deel van hierdie span te wees.

Ek het van die eerste oomblik tuis gevoel.” En wat wil sy aan kykers oordra met haar manier van aanbieding? “Man, dat dit lekker is om te lag! Ons vergeet deesdae maklik om te lag omdat dinge so moeilik gaan, so ek hoop ek bring ’n bietjie lig, liefde en gelag in mense se voorhuise. Lag is mos soos ’n snoesige kombers, dit omvou jou en maak jou warm. Nou ja toe – dit is wat ons met dié seisoen van OppieStoep wil bereik.” Volgens Lyntjie kan kykers uitsien na ’n magdom briljante storievertellers en net pure gelag!

“Ons almal is tans so gefokus op die pandemie en met volle reg, maar die pandemie bied ons tog ook die geleentheid om te besef ons is nog hier en ons kan nog lag en ons het nog baie om voor dankbaar te wees.

Vir daai halfuur kan ons weer die warmte van lag, kuier en gesels in ons huise verwelkom. So baie kere mis ons die juweel in die sagte fluweelkissie omdat ons dink dis nie waardevol nie, maar wanneer ons eers die besigheid bekyk, dan is dit ’n duur saak en ’n diep mooi saak. Nou dié sal wees soos daai juweel in daai kissie – jy wil dit nie mis nie! Dis ’n kosbare program met juwele soos min.”

Swaarkry

Hoewel dinge nou klopdisselboom gaan, moet Lyntjie erken dat dinge nie altyd maklik was nie, veral nie die afgelope jaar nie. “Onthou, voor dié jop was daar nie ’n jop nie. Dit was maar droog, my suster. Dié werksgeleentheid het regtig gekom op ’n tyd toe ek dit die nodigste gehad het. Ek is dankbaar dat ek die geleentheid kon kry om ons mense te verteenwoordig, maar ook om gedurende die moeilike tye te kan werk.”

Lyntjie delf dieper en sê daar was gedurende die afgelope jaar oomblikke waar daar nie eens iets was om te eet nie en selfs oomblikke wat sy oorweeg het om terug te trek Namakwaland toe. “Dan dink ek weer, maar ek kan nie nou op ou dag op Mamma se nek loop lê nie. Sien jy daai waar ’n blikkie vis met tamatiesous proe soos salmon en ’n blikkie baked beans soos kos met lekker vleis in, maar dis eintlik net baked beans? Nou dis hoe dit met my gegaan het. Die Woord van die Here sê egter dié wie met trane saai, sal met gejubel maai!”

Lag is mos soos ’n snoesige kombers, dit omvou jou en maak jou warm. Nou ja toe – dit is wat ons met dié seisoen van OppieStoep wil bereik.

’n Glimlag pluk aan haar mondhoeke en die trane blink in haar oë terwyl sy vertel dat die ondersteuning van familie en vriende en die Woord van die Here haar deur dié moeilike tye gedra het. “Mamma het vir my omtrent gehelp sover as wat sy kan. En dan was daar die vriende wat sommer sou bel en my oornooi vir ’n bord kos omdat hulle geweet het daar was nie.

Ook diegene wat sommer met eiers en groceries hier aangestap gekom het. Dan ook die wie ’n boodskappie gestuur het om net te hoor of ek nog asemhaal. Die ondersteuning en liefde van mense is eerlikwaar iets wat jou deur menige storm kan dra. Wanneer jy die dag swak is, is daar die engele om jou vlerke te wees.”

Dan sê Lyntjie terwyl sy aan haar Vannie-Kaap-Dala-hoedjie pluk: “Dala what you must, masekin. Al chaise jy nie nou waarvoor jy lus het nie – chaise sal jy chaise. Kap jy net aan. Beter dinge is op pad! Soos God vir Moses ’n weg gemaak het by die Rooisee, sal Hy ’n weg maak vir jou en vir my. Byt vas!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.