Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kuier-tydskrif
Ouma se seer: Jong ma en kind vermoor by lodge
18 Februarie 2021


Kaal uitgetrek, vasgebind, verwurg en vir dood agterlaat. Dit was die lot van die jong ma Chantelle Ash (20) wie se naakte lyk op 14 Januarie vanjaar by ’n lodge in Limpopo aangetref is.

Dié jong vrou se hande was met cable ties agter haar rug vasgebind en sy is vermoedelik verwurg. Wat die tragedie erger maak, is dat Chantelle se nege maande oue babadogtertjie, Tasneem, saam met haar vermoor is. Die baba se lyk is in die holte van haar ma se arm gevind.

Neesham Mohammed Nashir (29), die kind se pa en Chantelle se man, is in verband met die moord in hegtenis geneem. Die egpaar en hul baba het op 12 Januarie by ’n lodge in Limpopo ingeboek met die voorneme om die volgende dag weer te vertrek.

’n Grys voertuig het hulle afgelaai. Chantelle en haar kind is egter nooit weer lewendig gesien nie en hul lyke is onder raaiselagtige omstandighede in hul kamer aangetref. Neesham is ure ná hierdie gru-vonds gearresteer. Kol. Moatshe Mgoepe, ’n polisiewoordvoerder, het die arrestasie bevestig en gesê die polisie was teen druktyd nog op soek na die bestuurder van die grys motor.

“Die drie het ’n kamer gehuur en sou die daaropvolgende dag weer die lodge verlaat. Die volgende dag het personeel gaan ondersoek instel en op die lyke afgekom.” Niemand kon meer geskok wees as Annie Ash (53), Chantelle se ma en Tasneem se ouma, nie. Chantelle was haar enigste dogter en Tasneem haar enigste kleinkind.

Twee lyke gevind

Chantelle en Neesham het sowat twee maande gelede getrou nadat hulle in ’n vyf jaar lange verhouding was. En pleks van haar dogter se droom kerktroue saam met haar te beplan, moes Annie langs die oop graf van haar dogter en kleinkind staan. Vanuit haar huis in Pretoria vertel ’n hartseer Annie dat sy steeds nie hul dood kan aanvaar nie.

Sy erken ook dat sy nooit sou dink dat haar dogter (na bewering) aan die hand van die “liefde van haar lewe” sou sterf nie. Annie onthou sy het die oggend van 14 Januarie ’n WhatsApp-boodskap van Neesham gekry. Sy moet vir ’n rukkie eers asemhaal om haar snikke onder beheer te kry.

Chantelle en Tasneem

“Hy het ’n boodskap gestuur en gesê: ‘Mamma, I am sending you this message to say goodbye. I am going back to my country.’ Hy het nog ’n foto van sy paspoort ook aan my gestuur.” Neesham is oorspronklik van Bangladesh.

Volgens Annie het sy te lank gevat om die boodskap te beantwoord en dis toe Neesham haar bel om totsiens te sê. “Ek het hom nog sterkte toegewens en gesê dis fine. Ek het ook gesê hy moet veilig wees, na homself kyk en my laat weet wanneer hy daar uitkom. Ek het niks vermoed nie.“

Nie lank ná Neesham se oproep nie, het Annie se foon wéér gelui. “Dit was die polisie. Hulle het gesê daar is twee lyke by ’n lodge gevind en dis vermoedelik my kinders. Ek het by die Here gepleit dat dit nie my kinders moet wees nie. Dat die polisie ’n fout gemaak het. Ek was rasend, histeries . . .”

Rou snikke skeur weer deur dié ma se liggaam. Sy vou albei haar hande oor haar gesig in ’n poging om die trane te keer en vra saggies om verskoning. Dan sê Annie skielik: “Dit is ’n nagmerrie waaruit ek nie kan wakker word nie. Ek is gebreek en weet nie hoe om die seer te hanteer nie.”

Dit is asof die gedagte dat sy haar dogter en kleindogter op een slag verloor het, Annie meteens weer tref en sy begin onophoudelik huil. Haar ergste vrese is bewaarheid toe sy in Limpopo aankom. “Ek het onmiddellik vir klein parraboud (Tasneem) uitgeken. Ek kon my kind egter nie dadelik herken nie. Sy was opgeswel en het soos ’n man gelyk. Alles was geswel, ’n mens kon nie eers haar borste onderskei van die res van haar liggaam nie. Ek weet nie wat het hy aan my kind gedoen nie. Geen ma verdien om haar kind só te sien nie.”

Volgens Annie is Chantelle se kaal liggaam tussen die bed en muur by die lodge gekry met haar hande agter haar rug vasgebind. Klein Tasneem se handjies was ook vasgebind. Die lyke was na bewering toegegooi met ’n kombers. ’n Personeellid by die lodge het glo die gru-vonds gemaak.

“Wie doen dit aan ’n jong vrou en haar nege maande oue baba? Hoe kry jy dit oor jou hart om hulle seer te maak? Wat dryf jou daartoe?” wil Annie hartseer weet. Sy erken dat Chantelle nie altyd ’n maklike kind was nie en dit is hoekom sy destyds die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle in Limpopo se hulp ingeroep het. Dit is ook op dié dorp waar Chantelle vir Neesham ontmoet het toe sy by sy winkel in Modimolle inkopies gaan doen het.

“Het ek hom aanvanklik aanvaar? Nee, maar my kind was baie lief vir hom en deur haar liefde vir hom het ook my liefde vir hom gegroei.” Chantelle se swangerskap het Annie aanvanklik geskok omdat sy toe maar net 19 was. “Maar toe daai baba gebore word, was sy my sonstraalkind. Ag my ou liewe parraboudjie!” ’n Glimlag pluk aan Annie se mondhoeke. “Ek het hulle twee nie baie gesien nie, maar ons het gereeld video calls gehad. Ek sou dan aan Tasneem sê: ‘Hallo, ouma se parraboudjie’ en dan sou sy die allerlieflikste grrrrr-baba-geluidjies maak. Hoekom moes hulle gaan?”

Die verdagte, Neesham Nashir.
Laaste gesprek

Annie onthou haar laaste gesprek met Chantelle, ’n paar dae voor haar afsterwe. “Dit was oor WhatsApp. Sy het vertel dat sy en Neesham probleme het. Ek het vir haar ’n foto gestuur wat sê ‘Jesus het jou lief en ek ook’. Ons het nie weer gepraat nie. Ek het nog daardie Donderdag (14 Januarie) ook vir haar ’n boodskap gestuur. Ek het toe nie geweet my kind is reeds vermoor nie . . .”

Die laaste wat Annie vir Chantelle en Tasneem gesien het, was net ná Kersfees. “Hulle was so gelukkig en het vir my ’n geskenkie gebring. Ek wens ek het in daai oomblikke geweet dis die laaste keer dat ek my kind sou sien. Ek sou hulle by my gehou het. Daardie oomblikke koester ek in my hartskamers.” Annie pleit by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om nie borgtog aan die verdagte toe te staan nie.

“Hulle (NVG) moet nou dapper, vreesloos en konsekwent wees in die hantering en straf van misdadigers.” Chantelle en Tasneem is op 19 Januarie in Pretoria ter ruste gelê. “Chantelle se broer, Wayne, vat ook haar dood baie swaar. Die een wie dit aan hulle gedoen het, moet boet. Dit gaan hulle nie terugbring nie, maar dit sal ’n klein troos wees.”

Kenners verduidelik

Die moord van ’n vrou deur haar intieme maat, staan in die sielkunde bekend as femicide en die moord van ’n kind deur ’n ouer as filicide. Dis belangrik om te beklemtoon dat Neesham nog net ’n verdagte is, maar volgens kenners pleeg mense wat emosioneel afgestomp is en trauma uit hul verlede saamdra, gewoonlik sulke dade.

Chantelle se broer, Wayne, ondersteun vir Annie.

Prof. Shanaaz Matthews, direkteur van The Children’s Institute by die Universiteit van Kaapstad en een van die voorste navorsers van femicide, sê in die verslag “The epidemiology of child homicides in South Africa” daar is bevind dat mans wat kindermishandeling en ander trauma met dwelmmisbruik en onbillike waardes in die kinderjare ervaar het, meer geneig is om gewelddadig teenoor hul intieme lewensmaat en kinders te wees. Hulle is gewoonlik emosioneel afgestomp.

André Kirsten, ’n Kaapse regskenner, sê wat misdrywe aanbetref, is misda-digers baie funksioneel. “Byvoorbeeld by die vasbind van hande is dit gewoonlik om die slagoffer te restrict en ook die verwurging is baie persoonlik en ’n tydsame doodmaakproses. Dit is iemand wat (moontlik) versteurd is wat dié tipe misdrywe pleeg – iemand wat geen meegevoel vir ander het nie. ’n Narsistiese individu.”

Meer oor:  Kuier  |  Misdaad  |  Ware Lewensdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.